DKD-saak: Regstelaksie moet reggestel word

Die departement van korrektiewe dienste (DKD)-saak het die kwessie van “regstellende aksie” nou duidelik op die spits gedryf. Dit het my laat dink aan die besoek wat ‘n afvaardiging van Solidariteit ‘n paar jaar gelede aan Amerika gebring het. Regstellende aksie is ‘n omstrede saak in Amerika en die langtermyn-neiging is om dit af te water, in sommige state uit te faseer of om die maatstaf vanaf ras na sosiaal-ekonomiese status te verander.Regstelaksie

Ons was destyds verras oor die positiewe ontvangs wat Solidariteit se balansbenadering gekry het. Volgens hierdie benadering moet die ongelykhede in die land aangespreek word sonder om terselfdertyd nuwe ongelykhede en nuwe vorme van onbillike diskriminasie te skep. Ons het ook daarop klem gelê dat ons ‘n insetbenadering steun, omdat die uitsetbenadering bloot op ‘n kwotastelsel neerkom. Dit is onregverdige diskriminasie, omdat die kwotas nie verband hou met die beskikbare swartmense nie.

Daar is natuurlik ‘n groot verskil tussen Amerika en Suid-Afrika. In Amerika is regstellende aksie ‘n meganisme vir die beskerming van minderhede, en word sowat 15% van die bevolking vir bevoordeling geteiken. In Suid-Afrika word dit gebruik om die meerderheid op te hef. Dit beteken dat net sowat 10% wit werkende mense die bevoordeling van 90% van die bevolking moet absorbeer.

Die Suid-Afrikaanse Grondwet waarborg gelykheid, maar maak voorsiening vir regstellende aksie. Hierdie botsende bepalings het miskien baie redelik gelyk tydens die aanvaarding van die Grondwet. Maar die definisie van gelykheid het dramaties verander saam met die grondverskuiwing in die politieke magsbalans ná die 1994-verkiesing.

Verteenwoordigendheid

Om gestalte te gee aan die gelykheidsbepaling in die Grondwet, is gelykheid in die Wet op Gelyke Indiensneming omskryf as verteenwoordigendheid, gemeet aan gelyke uitkomste in die vorm van rasseverteenwoordiging. Daar is ‘n groot verskil tussen die gelykheid in die Grondwet en gelykheid in die Wet op Gelyke Indiensneming, wat wesenlik regstellende aksie behels. Gelykheid in die Grondwet beteken gelyke geleenthede, gelykheid in die regstellende-aksie-wet beteken gelyke rasse-uitkomste. Dit het alles verander.

Die groot beswaar teen die Suid-Afrikaanse model van regstellende aksie gaan juis oor die kwessie van verteenwoordigendheid. As die personeelsamestelling van alle instellings die bevolkingsverhouding moet weerspieël om gelykheid te bereik, is die noodwendige gevolg dat alle instellings onder swart en waarskynlik ANC-beheer sal moet wees, met Engels as voertaal.

Dit is taamlik maklik om regstellende aksie tot voordeel van ‘n minderheid toe te pas in ‘n groeiende ekonomie waar meer geleenthede vir almal geskep word. Dit is heeltemal ‘n ander saak om regstellende aksie toe te pas in ‘n trae arbeidsmark tot voordeel van die groot meerderheid van die bevolking. Daarom is die groot risiko dat regstellende aksie daartoe kan lei dat 80% wit mense daardeur benadeel kan word, terwyl hoogstens 10% van swart mense daardeur bevoordeel sal word, en die res met onvervulde verwagtinge gaan bly sit.

Propagandawoord

Dis te verstane dat die regering ná 1994 regstellende aksie wou gebruik om ongelykhede reg te stel. Die probleem is dat daar onder die vaandel van regstelling ‘n hele arsenaal praktyke ingespan word wat wissel van die noodsaaklike tot die onaanvaarbare. Daar is begrip vir die verbetering van onderwys en opleiding, en dat daar bykomende geleenthede aan jong swartmense gegee word. Die probleem is dat die term “regstellende aksie” homself regverdig, en so inderwaarheid ‘n propagandawoord is wat nou totaal misbruik word.

Regstelling hoef mos nie ‘n zero-som te wees, waar bevoordeling van een groep net kan geskied deur ‘n ander groep terselfdertyd te benadeel nie. Waarom moet die Suid-Afrikaanse model van regstellende aksie die enigste metode wees om die geldige doelwitte van swart opheffing te bereik? Waarom moet jong wit mense wat nooit deur apartheid bevoordeel is nie, nou benadeel word? Waarom moet ‘n nuwe geslag swart mense wat nooit benadeel is nie, nou bevoordeel word? Hoe kan gevalle van ooglopend onbillike diskriminasie geregverdig word deur dit net regstelling te noem? Waarom is daar in die buiteland selfs onder linkses begrip vir Solidariteit se balansbenadering, terwyl Cosatu se Vavi dit as bewys van rassisme sien?

Politieke mag

‘n Deel van die antwoord is dat regstellende aksie ‘n gewilde politieke slagkreet is om mense polities te mobiliseer. Al weet hulle dat die massa nie deur regstel-aksie bevoordeel word nie, dien die armoede van die massas as regverdiging vir die voortsetting van die rasgegronde bevoordeling van die elite.

Dis juis in Amerika ook ‘n kenmerk van regstellende aksie: dit bevoordeel gewoonlik diegene wat reeds beter daaraan toe is. Dit is hoekom daar na ander oplossings gekyk word soos vinniger ekonomiese groei, grootskaalse opleiding en nuwe ekonomiese modelle.

Solidariteit onderskryf die grondwetlike beginsels oor gelykheid en regstelling van ongelykhede, en glo dat Suid-Afrikaanse wetgewing en die toepassing van regstellende aksie moet voldoen aan die internasionale reg om te verhoed dat dit ontaard in permanente rassediskriminasie.

In die praktyk is ons land egter lankal verby die punt van regstelling, en is ons nou besig met ‘n rassetelling of omgekeerde Apartheid. Dít is die kern van die DKD-hofsaak.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae