Dlamini se bedankingsbrief gee blik op ANC-skeuringe

Bathabile Dlamini. Foto: GCIS/Flickr

Deur Anton Meijer

Die voormalige minister van maatskaplike ontwikkeling, Bathabile Dlamini, het geen begeerte om voor te hou dat die ANC verenig is nie.

Die minister, wat berug is vir haar hantering van die maatskaplike toelae-krisis, asook haar uitsprake oor ANC lede se small nyana-geraamtes in die kas, het in haar bedankingsbrief gewys dat faksiegevegte in die ANC steeds woed.

Sy is ’n stoere ondersteuner van Nkosazana Dlamini-Zuma, en beweer nou daar is ’n veldtog teen diegene wat in die Dlamini-Zuma kamp is.

Sy beweer ook dat die gades van ANC-hoës voordeel getrek het uit Cash Paymaster Services (CPS) se aanstelling as diensverskaffer vir die Suid Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Ontwikkeling.

Splinternuwe bewerings van korrupsie, wat die tafel dek vir verdere twis en tweespalt in die ANC. Dit te midde van pogings deur die Ramaphosa kamp om die illusie van ’n verenigde ANC te versterk.

Waarom sal sy wil voorgee dat die ANC verenig is? Sy is uitgeskuif uit haar kabinetspos, van haar status gestroop, en nou vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gegooi vir moontlike vervolging.

Sy beweer sy is die sondebok gemaak vir al die ander ANC kaders se strooptogte.

Nou sleep sy die idee van ’n verenigde ANC saam met haar af.

Ook maar goed so.

’n ANC-faksiestryd wat agter die skerms gevoer word, is vir niemand voordelig nie.

Die onlangse uitsprake deur Ace Magashule oor die Reserwebank is maar net deel van hierdie interne ANC-armdruk, en dit was die Suid Afrikaanse ekonomie, en normale Suid-Afrikaners wat daaronder gelei het.

Dlamini se bewerings in haar bedankingsbrief is bloot ’n bevestiging van dit wat ons lank reeds weet. Die ANC is vrot en verdeeld. Dit is ook ’n bewys dat die skeidslyne veel dieper lê as bloot antikorrupsiekaders teenoor Zuma-lojaliste:

Dis ’n stryd tussen die champagne-sosialiste, en die klipharde kommuniste.

Dis ’n stryd tussen slim steel, en onbeskaamd steel.

Dlamini is nie seker waar sy in hierdie stryd staan nie. Sy weet nie eers of dit Dinsdag of Dingaansdag is nie, maar in haar onkunde het sy die sluier gelig van ’n sogenaamde verenigde ANC.

Dié wat versigtig optimisties was en ’n sweempie van hoop gehad het dat Cyril Ramaphosa dalk weer nuwe lewe in die ANC kan blaas, kan nou duidelik sien dat verandering net ’n fantasie gaan bly.

Die staatskapers is dalk uitgeskuif, maar dis bloot die staatskapers wat te gierig was en toe uitgevang is. Die res van die ANC, hul gades en hul sakevennote, gaan ongedeerd voort met hul strooptog, soos bevestig deur Dlamini.

Dit maak nie saak watter faksie as wenner uit die stryd om die ANC se siel gaan tree nie, Suid-Afrika gaan die grootste verloorder wees.

Dlamini se galbraak het ons net herinner met watter ANC-monsters ons hier te doen het; een wat die ekonomie stelselmatig wil vernietig; die ander een wat nie skroom om dit met opset en groot skouspelagtigheid te doen nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

ne ·

Die deler is net so goed soos die steler! Al die kaders is betrokke.

Dries du Toit ·

Die diefstal gaan nog lekker voort. Die belasting betaler word nou direk beroof by SARS. Miljarde BTW terug betalings aan klein besighede word net nie gedoen nie. Mooi beloftes deur Kieswetter en Kingon gaan nie gebeur nie

ADT ·

Ja Zille sal moet begin met haar belasting boikot. Sars het my besigheid reeds klaar verwoes. Ek kan in elk geval nie meer belasting betaal nie

pinkie ·

Net ‘n gedagte te deel: As die ANC nie meer die land “lei” nie, wie en wat is die volgende party wat aan bewind gaan kom. Die rooi span?

Dirk ·

Toemaar Bathabile, ek weet dit is nie jou skuld nie, maar wel die skuld van jou kommunistiese hanteerders wat jou nie meer nodig ag nie en jou dalk ook vir die wolwe gaan gooi. Hoe dit ookal sy, jy het destyds jou keuse gemaak en nou gaan jy net soos Winnie op jou oudag met haat en verwyt sit teenoor jou eie organisasie wie jy n leeftyd voor opgeoffer het!

Ep ·

Hulle kan hoeveel keer vinger wys vir mekaar Hulle kan hoeveel keer voor kommissies verskyn NIKS gaan gebeur Daar is hoeveel keer genoem van die gemors wat so skep is daar enige een al gearresteer? Gaan daar iemand wees … NEE wat almal is ewe skuldig Wat het geword van die beloftes wat gemaak is deur CR en sy gespuis is daar al begin? NEE kyk maar gerus watse stakings gaan nou begin …. hoop hulle ruk op na die regerings woonhuise ….

Valkoog ·

Ken die artikelskrywer wraggies nie die verskil tussen gelei en gely nie??

Smirre ·

Maar toe die blatante gestelery aangehou het onder die zupta regime ou bathabile toe was dit definetief ‘n “United ANC”, soos in “United in corruption”….of hoe ?

Naaldwerk ·

Ek het al in 2003 toevallig gehoor van duur uitrustings vir meer as een ANC hoe profiel dame wat versteekte kompartemente ingestik moes gehad het vir die dra van wapens. Hierdie uitrustings was gedra op amptelike vergaderings en groot byeenkomste.

Gert van Wierdapark ·

Die wapens hoef nie eers erens ingestik te gewees het nie. Met Kakistokrasie in ons land, verstaan ek nie hoe die VSA se verspieder satelliete nie die “weapons of mass (economic) destruction” betyds waar-geneem het nie! Wyle Sadam draai seker in sy graf om hieroor!!! Dlamini se sterretjie het nooit juis helder geskyn as mini-Ster nie!

Attie. ·

Hier by ons sien ons nou duidelik hoe lyk die stryd op aarde tussen die Lig en die duisternis. Ons kan ongelowig wees en weghardloop Australie toe of ons kan vasskop en glo in die Lig. Ons mag nie op ‘n hopie gaan sit en bevrees raak nie. Ons, die agtergeblewenis moet vinnig begin leer hoe om te oorleef indien alles om jou in duie stort. Ons kan aanvaar die Rand gaan drasties verminder in waarde en noual daarby aanpas. Ons kan sorg dat ons goeie voertuie ry en nie kort kort nuwes koop nie. Versamel items wat weer verkoop kan word soos yskaste, rolle doringdraad, kunsmis, buitebande ens. Gaan sit net en begin dink en moet net nie ophou dink nie. In 1974 wou ek n nuwe middelslag trekker koop maar het gedink sy prys was te hoog. Vandag kos een agterband meer as dubbel wat daai kompleet trekker gekos het. Indien Ons ‘n Zim situasie ingaan dat gaan dinge se pryse dalk jaarliks verdubbel of verdriedubbel. Koop nou die ingevoerde goed want jy weet nie wat dit gaan kos oor ‘n jaar nie. Ek klink pessimisties maar ek weet ons kan net gaan sit en planne maak, dis al wat ons kan doen, behalwe om te glo dat daar wel ‘n toekoms is…ons geloof in Hom wat ons hier geplaas het.

Swartwolf ·

Sy moet net die prop terugdruk in die bottel en stil stil verdwyn.

thinus erasmus ·

Ja daar is voorwaar net een ding wat die ANC gaan troef – Misdaad! Daarom grawe hul in en kom in lyn met die nuwe mag wat SA gaan regeer. Soos gewoonlik gaan ons weer alle rekords verbeter of laat ek myself korrigeer; alle rekords verdelg.
Tegnies gesproke is die enigste ding wat SA kan red ñ “self vernietig knoppie” maar nou ja dis wat ANC in elk geval doen in die lang termyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.