Doen jou ding, al is dit kierie-in-die-hand

Susan Lombaard

Susan Lombaard

“As mens met ʼn kierie aan ʼn konsert deelneem, weet jy jy is óúd.”

Só sê die 91-jarige tant Hannah Giliomee van Bredasdorp hierdie week vir my. Tant Hanna is een van die finaliste in Helpende Hand se Silwerkroon-toekennings, wat bejaardes vereer vir gemeenskapswerk.

As mens kyk na die nuus, was dit ʼn week wat ʼn mens so ʼn bietjie lus laat voel om met ganse te gaan boer iewers in die Europese platteland. Renate Barnard verloor haar nege jaar lange regstellendeaksiestryd teen die SAPD in die grondwetlike hof. Die wysigingswetsontwerp op onteiening word deur die kabinet goedgekeur. Godsdiens in skole is skielik in die spervuur. ʼn Blouligbrigade weier arrogant om nooddienspersoneel toegang tot ʼn noodlottige ongelukstoneel te gee.

Te midde van al dié nuus knyp ek (effens langtand) tyd af om met tien bejaardes landswyd te gesels as deel van die beoordeling vir die Silwerkroon-toekennings. Ek gesels met ooms en tantes regoor die land op plekkies met name waarvan ek nog nie eers gehoor het nie.

Toe Rika van der Merwe (71) 11 jaar gelede die nood in die Christenburg-gemeenskap buite Bethlehem raaksien, het sy net daar haar intrek in die gemeenskap geneem sodat sy enige oomblik van die dag of nag byderhand is om te help waar daar nood is. Sy gee katkisasie, sorg dat siekes hul chroniese medikasie neem, hou elke oggend Bybelstudie vir die inwoners en kook vyf dae per week vir 40 mense. Haar kinders se pleidooie om by hulle in die Kaap se kom bly, val op dowe ore. “Die Here is goed vir my,” sê sy oor en oor.

Ewald Crause (69), Hartenbos se “seevader”, neem kinders op oorlewingskampe langs die see, waartydens hy hulle leer van die skepping en hoe om in die natuur te loorleef. Maar eintlik, sê hy, werk hy aan die seuns tussen 16 en 19 se karakter, en leer hy hulle belangrike waardes wat hulle lewenslank sal vorm. Hy neem ook straatkinders op ʼn dagkursus wat baie van hulle se lewe verander. “God het die natuur gemaak. As ons ver van die natuur af is, is ons ver van God af,” is sy eenvoudige motto.

Magriet Lubbe (66) van ʼn wildsplaas anderkant Brits het eendag toevallig deur die Kwarrieskraal-gemeenskap gery. Die kaalvoetkinders wat sonder warm klere in die winterkoue skool toe gestap het, het haar hart so geraak dat sy pens en pootjies by die gemeenskap betrokke geraak het. Sy voorsien kos, klere en komberse sover sy kan, en het gehelp om vir die skool ʼn rekenaarsentrum in te rig en die hoof se kantoor, biblioteek en badkamers op te gradeer. “Die Here het met my gepraat om betrokke te raak,” sê sy.

Dis maar drie van die bejaardes se stories. Soos ek verder op die lys af bel, begin ʼn ander prentjie van dit wat in ons land aan ‘t gebeur is, vir my duidelik raak. Nie die prentjie wat die nuus vir ons skets nie, maar die prentjie wat geskets word deur mense wat besluit het om ʼn verskil te maak, ongeag die omstandighede.

Elkeen van hulle het gekies om nie net kos of fisieke hulp te gee nie, maar om emosioneel betrokke te raak. Elkeen moes iets opoffer. Elkeen besef dat hulle nie almal kan help nie, maar ʼn groot verskil maak in die lewe van dié wat hulle wel kan help. Elkeen van hulle praat met lof van die mense wat saam met hulle werk, want alleen is sulke werk nie moontlik nie. Nie een van hulle sien velkleur raak nie – as jy honger is, is jy honger. Elkeen vertel stories van wonderwerke wat hulle sien gebeur, en van ʼn Hoër Hand sonder wie hulle diensbaarheid nie moontlik sou wees nie.

Daar is nog duisende van hulle daar buite: die oumas wat koeksisters bak sodat kleinkinders universiteit toe kan gaan; die onderwysers wat fondsinsamelings aanpak om die skool te verf; die jonges wat met tong in die kies-bedelboodskappe om die nek by verkeersligte staan en vir bydraes vra om die kriekettoer te kan meemaak; die werkende ouers wat met groot liefde pleegkinders inneem.

Dit was nog altyd wie ons is, en dis wie ons altyd sal wees. Ek bring hulde aan elkeen – oud of jonk – wat hierdie week van die slegte nuus vergeet en sy eie goeie nuus laat gebeur.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

Nota: Die stories oor die Silwerkroon-finaliste wat hier bespreek is, is gekies sonder enige aanduiding van die wenners van dié toekennings. By die skryf van hierdie redakteursbrief was die finale uitslag van die toekennings nog nie aan enige van die beoordelaars bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Sakkie du Plooy ·

Susan is in die kol oor die honderde “oumense”, met of sonder ‘n kierie, wat oraloor soveel goed aan andermense doen! Dit kan nie gemeet word nie! Ek is maar al te bewus van al die slegte nuus, veral as dit MY MENSE, Blanke Afrikaners, raak. En dan hierdie stories! En ek weet MY MENSE kyk nie met kleurbrille na mense in nood nie. My Ouma en Oupa het so gedoen, my Ma en Pa het so gedoen en ONS doen vandag so – waar mense in nood ons pad kruis, veral kinders, help ons graag. Selfs soms tot ons skade. Talle blanke huishoudings help deur die jar EN vandag nog om vir Miena ‘n ordentlike huis te laat bou in die swart woonbuurt. Talle werkgewers stuur gereeld ietsie saam met Sarah huistoe vir die kinders. En kom Kersfees kry Alina se kinders elkeen ‘n ordentlike Kerspakkie. En in die nuwe jaar kry baie van die skoolkinders skoolbenodigdhede. En dan praat ons nog nie van die vele wat ‘n jongman of jongmeisie se studies op skool en selfs universiteit borg nie.
Dis ONS MENSE die!
Niemand moet met ons mors en reken ons is tweedeklas burgers in ons eie land nie!
Ons weet wat is reg en ons DOEN dit! Oud en jonk.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.