Doen weg met rompslomp wat klein sake dooddruk

(Argieffoto: pixabay)

Die rommelstatus van ons ekonomie is regstreeks die gevolg van onversetlike beleid. Regeringsbesluite word klaarblyklik tans geneem sonder om die lesse van die verlede in ag te neem, en lyk hoegenaamd nie of dit op gesonde verstand berus nie. Die ekonomie het verswak. Om met skadelike beleidsbesluite te volhard, takel ’n ekonomie af, ry produktiewe investering en ekonomiese bedrywighede in die wiele en doen die land se mense onmeetbare skade aan. By al die droewige gevolge van Covid-19 en ons ekonomiese rommelstatus, voeg die regering voortdurend nog ’n klomp regulasies by, pleks daarvan om dit te verminder.

Dis tyd vir ’n ommekeer in beleid; ’n beleid wat die mense se belange hoër ag as die eng belange van politici in regeringsposte en hul meelopers wat gunslone ontvang. ’n Beleid wat uiters positiewe veranderings sal bewerkstellig, sluit die volgende in:

  • Raak ontslae van alle burokratiese rompslomp wat vir entrepreneurs onnodige koste meebring en hulle verhinder om goedere en dienste op die doeltreffendste en koste-effektiefste wyse aan verbruikers te lewer. Wanneer dit gedoen word, het dit ’n vermenigvuldiging van besighede tot gevolg, veral in die arbeidsintensiewe KMO-sektor.
  • Pas arbeidswetgewing aan om werkloses toe te laat om vrywilliglik enige kontrak van hul keuse met werknemers aan te gaan, veral met die eienaars van mikro-ondernemings.
  • Gee aan die armes in ons land, op grond van ’n middeletoets, eienaarskapaandele in staatsondernemings wat van die apartheidsregering oorgeërf is, soos wat met sukses in die Tsjeggiese Republiek gedoen is; gee volle en onbeperkte eienaarskap van munisipale huise aan die inwoners wat dit regmatig bewoon; en gee aan tradisionele gemeenskappe (as gemeenskappe) kaart en transport van die grond waarvan hulle die regmatige eienaars is. Dié tweeledige maatreël sal op sigself ’n katalisator wees vir ekonomiese selfbemagtiging op ’n skaal wat nog nie voorheen gesien is nie. Die maatreël sal op eie houtjie enige twyfelagtige argument tot niet maak wat dit wil regverdig om aan die Grondwet te torring sodat grond sonder vergoeding onteien kan word – iets wat ekonomies gevaarlik sal wees vir die land, veral in die lig daarvan dat die ekonomie ál kleiner krimp.

Die voorgestelde maatreëls sal arm mense regstreeks teiken en hulle van hul armoede bevry op ’n manier wat ekonomiese groei bevorder en die ekonomie in staat stel om optimaal te groei. Om die voorgestelde veranderings te oorweeg, sal dit miskien help as die regering onthou hoe die ekonomiese geskiedenis van die wêreld verloop het. Die Industriële Revolusie, wat die wêreld onomkeerbaar verander het, is deur spesifieke beleidsveranderings aan die gang gesit.

Die grafiek hieronder, gepubliseer deur HumanProgress.org en gebaseer op die werk van wyle professor Angus Maddison, wys hoe die BBP per kapita wêreldwyd eers laat in die 17de eeu vinnig begin styg het. Tot net meer as twee eeue gelede het die meeste mense oral ter wêreld in armoede en ellende geleef. In die laaste dekades van die 18de eeu en die eerste dekades van die 19de eeu het Engeland ’n ingrypende verandering ondergaan, wat later as die Industriële Revolusie – ook die Nywerheidsrevolusie of Nywerheidsomwenteling genoem – bekend sou staan. Dié veranderings was bestem om gebeure in die res van die wêreld, ook in Suid-Afrika, positief te beïnvloed en vir die gemiddelde persoon ’n hoër inkomste en beter lewensomstandighede mee te bring – iets wat in die voorafgaande eeue ondenkbaar was.

Een van die belangrikste veranderings wat tydens die Industriële Revolusie plaasgevind het, so word algemeen aanvaar, is dat die gebruik van masjinerie massaproduksie moontlik gemaak het. Die Opvoedkundige Revolusie wat met die Industriële Revolusie gepaardgegaan en die mense van Engeland hoogs geletterd en gesyferd gemaak en hul tegniese vaardighede verbeter het, is minder bekend. Tegniese ontwikkelings het sommige poste oorbodig gemaak, maar baie ander is weer geskep – op dieselfde manier as wat outydse spreekbuise deur telefone vervang is en rekenaars die plek ingeneem het van rekeningboeke wat skriftelik bygehou is.  In 1951 was 37% van Engeland se ekonomies aktiewe bevolking, meer as ses miljoen mense, geskoolde ambagslui. ’n Verdere 30% was witboordjiewerkers, ’n beduidende toename teenoor vorige tye.

Die Industriële Revolusie word altyd net uitgebeeld as ’n era waarin werkers al hoe swaarder gekry het. Die waarheid is dat diegene wat plaaswerk en huiswerk vaarwel toegeroep het om in die fabrieke te gaan werk, dit gedoen het vir ’n beter inkomste en om hul werk- en lewensomstandighede te verbeter. Op dieselfde manier is die volgehoue verstedeliking van Suid-Afrikaners toe te skryf aan die soeke na beter langtermyngeleenthede vir gesinne as om op plase en in landelike gebiede te woon.

Verandering in Suid-Afrika moet bestaan uit die transformasie van hul omstandighede vir mense wat nie geleenthede gehad het om hul geletterdheid en syfervaardighede te verbeter nie; om dit vir hulle moontlik te maak om vaardighede te verwerf wat hulle in staat sal stel om finansieel na hulself en hul gesinne om te sien en nie van ander afhanklik te wees vir hul welstand nie.

Sou die voorstelle soos in hierdie artikel uiteengesit aanvaar word, sal Suid-Afrika sy eie Ekonomiese Revolusie ondergaan, ’n positiewe transformasie waar elkeen in die land skouer aan die wiel sit om hoër ekonomiese groei en ’n beter lewe vir hulself en elke ander persoon te bewerkstellig. Om te leef en te laat leef, met gelykheid voor die reg vir almal, is die manier om almal deur die bank se samewerking te verkry en die lewe van almal in die land te verbeter.

  • Temba A Nolutshungu is ’n direkteur by die Vryemarkstigting. 

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.