Dominee Sagrys sou vir die rylopers gebid het

ryloop

Foto: Cocoparisienne/Pixabay.com

My gewoonte om rylopers op te laai, het ek by my pa geleer. Op die platteland het daar gereeld mense langs die pad gestap en Pa het selde verbygery. Sy Tswana en die Tswanas se Afrikaans was goed en die gesprekke het heen en weer tussen die tale gegly. Pa het hulle oor alles en nog wat uitgevra, uit belangstelling in mense se lewens. Was daar meer as een passasier in die Kombi, was die jonger een meermale die teiken van ʼn goedige gespot tot vermaak van die ouer saamryers.

Omstandighede is vandag anders en ek laai nie meer goedsmoeds mense op nie, maar dit bly interessant om vreemdelinge se wêreld te betree. ʼn Ruk gelede hou ek stil by twee tronkbewaarders wie se motor gaan staan het. Dit is hul werk om gevangenes te probeer rehabiliteer. “Nee,” sê hulle, “die sukseskoers is baie laag.” Die voorman vertel my wat alles in ʼn gevangenis aangaan. Neerdrukkend. Dit klink of tronkstraf ʼn duur metode is om slegte mense nóg slegter te maak. Dit is seker die rede hoekom dominee Sagrys Grobler op Sannieshof altyd só ernstig vir almal in die tronke gebid het. Ek dink diegene in die gevangenis het net ná die manne op die grens, die eensames en almal in hospitale en inrigtings aan die beurt gekom, maar my ma het destyds gesê ʼn mens moenie te veel in daardie volgorde lees nie; die Here en die dominee is lief vir almal.

ʼn Naweek of wat gelede laai ons twee werknemers van ʼn restaurant op wat laat op ʼn Vrydagaand nog ver moes stap om ʼn taxi te haal. Hulle werk oortyd vir ʼn ekstra geldjie. Hulle kom so tienuur tuis en moet agtuur die volgende oggend weer by die werk inval. Die gaste wat hulle so pas bedien het, ry by hulle verby. Mense laai mekaar nie meer op nie; daar’s te veel misdaad en wantroue. Die twee praat nie veel nie; sê net dat hulle maar bang is om so alleen in die donker te stap. Ek wil nie eers daaraan dink dat my seun en dogter laat in die aand so ver alleen moet stap nie. En om te dink hulle is nog die gelukkiges wat werk het. Almal het dit nie ewe maklik in die lewe nie.

Ons naastes word verstes

Ná ʼn kuier by familielede wat in ʼn aftreeoord woon, ry ek by die hek uit net toe die middagskofwerkers huis toe gaan. Hulle moet byna drie kilometer bushalte toe stap ná ʼn dag se harde werk. Twee van hulle het klein kindertjies wat alleen by die huis bly. Hierdie drie is baie spraaksaam en praat graag. Nee, dit pla hulle nie dat die besoekers nie rygeleenthede gee vir diegene wat hul geliefdes versorg nie. “Die crime, jy weet.” Ek weet, maar dit is hartseer. Is dit nou maar hoe dit is? Mense wat ʼn rukkie vantevore vriendelik met mekaar in ʼn restaurant of ouetehuis gesels het, is ʼn halfuur later vreemdelinge vir mekaar wat bang is jou naaste is jou verste.

Ek laai ʼn Afrikaanse seun op – Erik. Hy’t die skool verlaat voordat hy kon matrikuleer en het ná moeilikheid met sy stiefpa by familie in Vanderbijlpark gaan kuier. Ek vra liewer nie wat gebeur het nie. Hy gaan nou maar weer uitkyk vir werk in Randfontein waar sy ma bly. Nee, hy’t nie opleiding nie. Ek gee hom my kaartjie en sê hy moet beroepstoetse gaan aflê. Ek wonder of Erik gaan bel. Pa sou seker eers by sy aangery het, maar ek is te haastig … miskien omdat ek weet daar’s nie werk in Randfontein nie.

Hendrik is ʼn sekuriteitswag. Hy bly in die “tuisland” sê hy, maar gaan net elke twee weke huis toe. Hy kla oor al die “skelms en diewens” wat mense pla. Hy werk soos alle wagte twaalfuurskofte, en dit neem hom ʼn uur en ʼn half om by sy blyplek te kom. Drie uur per dag heen en weer beteken net nege uur tuis. Hy kan bykans net iets maak om te eet, dan vinnig was om te gaan slaap voordat die kringloop weer begin. Môreoggend om sesuur moet hy weer inval – dag na dag, jaar na jaar. Dit is swaar. “Wage slave”, sou Marx seker gesê het sonder om ʼn oplossing te bied, maar Hendrik is dankbaar oor sy werk; sê die mense is goed vir hom. Hy is besonder goed ingelig; luister radio in die wagte se kamer. Hy is baie teleurgesteld in Zuma; ryg die skandale so op en skud die kop. “Hy maak álmal in die land skelm, mense dink nou hulle kan maak wat Zuma maak,” sê hy. Miskien moes Hendrik liewer in die Uniegebou as in die wagte se kamer gesit het.

Lobola vir my dogter

Ek laai ʼn groepie huiswerkers op. Hulle is sigbaar moeg ná ʼn harde dag. Ek wonder hoekom hul werkgewers hulle nie maar na die bushalte toe neem nie. “My dogter gaan trou,” kondig ek aan. Hulle oe en aa. “Hoeveel lobola kry ʼn mens deesdae,” vra ek speels. Hulle lag heerlik: “Dís net vir swart mense,” praat hulle gelyk. “Nee, maar wit mense kan mos nou ook,” probeer ek weer, maar hulle lag net verder. Lyk my die wet van Transvaal geld nog vir my al is daar nie meer so ʼn plek nie.

ʼn Afrikaanse messelaar leer my ʼn belangrike les: “My werk bly staan,” sê hy en beduie na sy bouwerk. “Die meeste mense kan nie sien wat hulle doen nie, maar ek sal oor baie jare nog vir my kleinkinders kan wys wat ek gebou het.” Ek probeer onthou waar in die Bybel die smeking staan dat die Here die werke van ons hande tog in stand moet hou. Dit is so belangrike stuk in hierdie tye waar soveel van wat opgebou is, verval of tot niet gebrand word. Toe dink ek aan die psalm dat die bouwerk vergeefs is as die Here dit nie bou nie en stuur ʼn skietgebed op.

Só gaan dit in hierdie “wye en droewe land”. Soms bly ons in een land maar leef in verskillende wêrelde. Soms praat ons by mekaar verby. Wat my egter die meeste pla, is dat ons by mekaar verby ry, al het ons redes daarvoor.

Ek wonder wat my pa daarvan sou sê. As dominee Sagrys geweet het wat ek weet, sou hy beslis die rylopers ook in sy lysie ingesluit het – seker net ná die manne op die grens.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Saartjie ·

In ‘Long way down’ (‘n boek deur Charley Boorman en die akteur Ewan McGregor oor hulle reis deur Afrika met motorfietse vanaf die Verenigde Koninkryk tot in Kaapstad), sê Charley Boorman: ‘For every warmongering, power-hungry psychopath there are hundreds of normal people going about their business quietly ensuring that the human race retains some dignity.’ Dankie, Flip.

Marisa ·

Dankie! Dis so moeilik om dit te onthou te midde van al die swartgalligheid, verbitterdgeit, en al die aaklighede wat in ons pragtige land gebeur.

Pierre ·

Flip het ‘n besonderse manier om iets deur te gee, dalk moet hy meer sulke lewenslesse met ons deel.

MCH ·

Dit laat my vreeslik voel na die priester en die Leviet wat die Israeliet wat beroof en vir dood agtergelaat is, verbygestuur het.

Marius ·

Laat my dink aan “‘n Man kom tuis” van Chris Barnard. Mooi!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.