Donald Trump en Suid-Afrika: Gaan sanksies kom?

Donald Trump, president van die VSA, en Cyril Ramaphosa, president van Suid-Afrika. (Argieffoto.)

President Donald Trump het onlangs met sy twiet oor onteienings sonder vergoeding en moorde op boere behoorlik die kat in die duiwehok gelaat. Die regering en die meeste meningsvormers was vererg, AfriForum het dit verwelkom.

In sekere koerante is bespiegel of Trump enige dade op sy aankondiging sou laat volg, en indien wel, wat dit kan wees. Militêre ingryping is natuurlik buite die kwessie en het net ʼn paar naïwelinge opgewonde gemaak wat nie weet hoe buitelandse verhoudinge werk nie. Daar is egter gespekuleer dat president Trump die Agoa-ooreenkoms met Suid-Afrika kan opsê.

Die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) is in 2000 tussen die VSA en meeste Afrikastate suid van die Sahara gepromulgeer. Die ooreenkoms stel dié lande van invoerbelasting op verskeie van hul produkte vry en is bedoel om Afrikastate ʼn beter toegang tot die reuse-VSA-mark te gee, om belegging in Afrika aan te moedig en om sodoende Afrika se ekonomiese ontwikkeling aan te help. Belangrik is dat die voordele net eensydig is, naamlik dat net die Afrikastate die voordele het en dit geen wedersydse vryhandelsooreenkoms is nie. Die hoofdoel is nie handel nie, maar om Afrika tegemoet te kom, aangesien Afrika nie kompeterend op die wêreldmark is nie.

Uitgeskop

Die ooreenkoms is gedryf deur die idealistiese president Bill Clinton, maar is sedertdien weer hernu deur sy opvolgers en geld tans tot 2025. Altesaam 34 lande was aanvanklik lede, later het ander bygekom. Sekere lande het egter hul status verloor weens menseregtevergrype en wanbestuur soos die Demokratiese Republiek van die Kongo, Swaziland en Eritrea. Zimbabwe en Soedan was van die begin af om dié rede uitgesluit. Die maatstaf vir in- of uitsluiting word deur die VSA bepaal en die vordering na ʼn markekonomie, politieke pluralisme, die respek vir privaateiendom en die verwydering van struikelblokke vir beleggings is van die vereistes. Indien Suid-Afrika privaat eiendom dus nie meer respekteer nie deur onteiening sonder vergoeding toe te pas, het die VSA die volste reg en rede om die land uit Agoa te skop.

Tot sover het Trump ná sy twiet niks laat blyk oor verdere aksie nie, maar die feit is dat Suid-Afrika se beoogde grondonteiening en plaasmoorde nou onder die loep is, ook danksy die besoek van AfriForum-leiers aan die VSA en mediapersoonlikhede en -aktiviste wat internasionale aandag op die toedrag van sake in Suid-Afrika vestig.

Ramp

Trump het al bewys dat hy nie net dreig nie, maar ook doen en die Suid-Afrikaanse regering maak ʼn fout om sy twiet sommer net as bespotlik en oningelig te probeer afmaak en te dink dat dit gou vergete sal raak. Mnr. Trump het juis gewys dat hy nie ’n aanhanger van multinasionale verdrae is nie en dit sal opsê as dit teen die belang van die VSA gerig is, soos die Klimaatveranderingsverdrag van Parys en die Kernwapenooreenkoms met Iran. Om Agoa dus op te sê, in tye waar Suid-Afrika ekonomies reeds sukkel (veral weens ʼn swak ekonomiese beleid) sou ʼn ramp vir die land wees. Trouens, dit kan Suid-Afrika se pad na ʼn Derde Wêreldse ekonomie onstuitbaar maak.

Sanksies

Sanksies teen Suid-Afrika sou ʼn herhaling van die geskiedenis wees en ʼn groot verleentheid vir die ANC. Die ekonomiese sanksies van die 1980’s was ingrypend en pynlik vir die land en het bygedra om beleidsveranderings teweeg te bring. Die land was toe egter baie meer gerat om sanksies te weerstaan as nou. Die probleem met sanksies is egter die prys wat die gewone burger, wat dikwels nie met die regeringsbeleid saamstem nie, moet betaal. In die 1980’s het die sanksies tot werksverliese en inflasie gelei en is juis arm swart mense, vir wie die sanksies veronderstel was om te help, die hardste getref. Die opsê van die Agoa-ooreenkoms sal almal tref, in hierdie geval ook diegene vir wie Trump wil opkom, die wit boere en die middelklas, wat die uitwerking van ʼn vallende rand, hoër brandstofpryse, kwynende beleggings en alles wat dit meebring, gaan voel.

Die logika agter sanksies is dat die bevolking weens ekonomiese swaarkry politieke druk op die leierskap plaas en dat, deur verkiesings of opstande, ʼn bewindsverandering bereik word. Sanksies wat die hele land tref, kan egter ook daartoe lei dat die burgery juis saam agter die regering verenig omdat sanksies as ʼn aanval op die land gesien word. Sodoende kan dit die regering selfs meer vasberade maak. In totalitêre lande, waar die bevolking volledig onderdruk word en geen middel tot weerstand het nie, bereik sanksies ook selde hul doel. Die sanksies teen Noord-Korea en Kuba, byvoorbeeld, het tot dusver nog geen beleidsverandering teweeg gebring of die regerings se houvas op die mag verminder nie.

Slim sanksies

’n Beter opsie om die regering te dwing om sy rampspoedige beleid te laat vaar, is geteikende sanksies of slim sanksies. Anders as die gebruiklike ekonomiese sanksies teen ʼn land, wat die gewone mense gewoonlik harder tref as die regeerders (dink maar aan Zimbabwe, Kuba, Venezuela), sal geteikende sanksies diegene tref wat die makers van slegte beleid is.

Geteikende sanksies kan byvoorbeeld net gerig wees op die in- of uitvoer van sekere produkte wat essensieel vir die bewind is, soos ’n verbod op die uitvoer van wapens vir die veiligheidsmagte of van luukse goedere wat vir die elite bedoel is, of ’n verbod op die invoer van olie of konflikdiamante. Dit raak die gewone mense min. Geteikende sanksies kan ook finansieel van aard wees en kan sekere leiers se buitelandse bankrekeninge vries of op hul bates beslag lê, of daar kan ’n verbod op reise na die buiteland geplaas word. Behalwe teen staatsleiers, kan dié soort sanksies ook toegepas word teen persone wat buite die staatlike opset opereer, soos terroriste, dwelmsmokkelaars en ander misdadigers. Die nadeel van die geteikende sanksies is dat dit moeilik is om te implementeer en te monitor en dat dit soms ook die verkeerde persone kan tref.

Voorbeelde

Terwyl sanksies teen ʼn hele land al baie oud is, is geteikende sanksies teen spesifieke leiers die eerste keer in die 1990’s aangewend teen die staatsgreepleiers van Haïti en daarna teen diegene wat vir volksmoorde in die destydse Joegoslawië verantwoordelik was. Ook teen Kim Jong-Il van Noord-Korea, teen Moeammar Ghaddafi van Libië en die militêre junta van Mianmar wat almal hul mense wreed onderdruk (het) is sulke geteikende sanksies toegepas. Die mees onlangse voorbeeld is geteikende sanksies teen Sirië se leierskap.

Malema

As Suid-Afrika dus voortgaan met sy onteienings sonder vergoeding en ʼn harde sosialistiese pad inslaan en daarmee ook buitelandse eiendom in die gedrang bring, of tot rassistiese gemotiveerde geweld oproep, kan die VSA en ander lande geteikende sanksies teen die leierskap en diegene wat vir die toestande verantwoordelik is, toepas. Dit is bekend hoe die swart elite, insluitende diegene soos Julius Malema wat kommunisme preek en kapitalisme leef, aan sekere luukshede verslaaf is. ʼn Lewe sonder duur whisky, luukse motors, ontwerpersklere en buitelandse inkopietogte gaan hulle waarskynlik harder slaan as algehele sanksies, wat in elk geval weer vir die opsweping van die massas misbruik sal word.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
SP

Die verdrukte word die verdrukker!

Rynhardt

Cyril Ramaphosa is nie bekommerd oor sanksies van VSA nie.Mense verstaan nie.SA word al vir jare nie volgens n westerse model geregeer nie.Cyril en kie.glo die afneem van plase gaan land vorentoe neem plus China en Rusland ondersteun hul met geheime transaksies en ooreenkomste!Verder wink die Guptas nog ook om die draai as n verdere oplossing!

Sann

Baie insiggewende inligting, wat veral die kortsigtigheid en totale onbevoegdheid om te regeer, onderstreep.

Jerry

Met of sonder sanksies, ons bevind onsself in n verloorsituasie en dit kan toenemend versleg, alles afhangende van ons versoening en samewerking of weerstand wat bepalend sal wees van watter rigting die ANC sal inslaan. Versoening en samewerking word gesien nie net as oorwinning van die NDR program, maar ook as goeie wil en uitsluiting en strafmaatreels kan dus ingeperk word met die huidige status que wat vir die huidige gehandhaaf kan word. Weerstand word gesien as slegte wil en as n uitdaging wat deur meer intensiewe NDR programme oorkom moet word, maw die aanslag vir verandering, uitsluiting en strafmaatreels… Lees meer »

Reine waarheid

Op die kopslaan… in elke afdeling, “voorbeelde” duidelike beskrywing van die kretieke toestand, waarin hardwerkende eerlike landsburger hom TRAGIES bevind. Laat dié kry, waaarvoor gevra.