Donald Trump en Suid-Afrika: Gaan sanksies kom?

Donald Trump, president van die VSA, en Cyril Ramaphosa, president van Suid-Afrika. (Argieffoto.)

President Donald Trump het onlangs met sy twiet oor onteienings sonder vergoeding en moorde op boere behoorlik die kat in die duiwehok gelaat. Die regering en die meeste meningsvormers was vererg, AfriForum het dit verwelkom.

In sekere koerante is bespiegel of Trump enige dade op sy aankondiging sou laat volg, en indien wel, wat dit kan wees. Militêre ingryping is natuurlik buite die kwessie en het net ʼn paar naïwelinge opgewonde gemaak wat nie weet hoe buitelandse verhoudinge werk nie. Daar is egter gespekuleer dat president Trump die Agoa-ooreenkoms met Suid-Afrika kan opsê.

Die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) is in 2000 tussen die VSA en meeste Afrikastate suid van die Sahara gepromulgeer. Die ooreenkoms stel dié lande van invoerbelasting op verskeie van hul produkte vry en is bedoel om Afrikastate ʼn beter toegang tot die reuse-VSA-mark te gee, om belegging in Afrika aan te moedig en om sodoende Afrika se ekonomiese ontwikkeling aan te help. Belangrik is dat die voordele net eensydig is, naamlik dat net die Afrikastate die voordele het en dit geen wedersydse vryhandelsooreenkoms is nie. Die hoofdoel is nie handel nie, maar om Afrika tegemoet te kom, aangesien Afrika nie kompeterend op die wêreldmark is nie.

Uitgeskop

Die ooreenkoms is gedryf deur die idealistiese president Bill Clinton, maar is sedertdien weer hernu deur sy opvolgers en geld tans tot 2025. Altesaam 34 lande was aanvanklik lede, later het ander bygekom. Sekere lande het egter hul status verloor weens menseregtevergrype en wanbestuur soos die Demokratiese Republiek van die Kongo, Swaziland en Eritrea. Zimbabwe en Soedan was van die begin af om dié rede uitgesluit. Die maatstaf vir in- of uitsluiting word deur die VSA bepaal en die vordering na ʼn markekonomie, politieke pluralisme, die respek vir privaateiendom en die verwydering van struikelblokke vir beleggings is van die vereistes. Indien Suid-Afrika privaat eiendom dus nie meer respekteer nie deur onteiening sonder vergoeding toe te pas, het die VSA die volste reg en rede om die land uit Agoa te skop.

Tot sover het Trump ná sy twiet niks laat blyk oor verdere aksie nie, maar die feit is dat Suid-Afrika se beoogde grondonteiening en plaasmoorde nou onder die loep is, ook danksy die besoek van AfriForum-leiers aan die VSA en mediapersoonlikhede en -aktiviste wat internasionale aandag op die toedrag van sake in Suid-Afrika vestig.

Ramp

Trump het al bewys dat hy nie net dreig nie, maar ook doen en die Suid-Afrikaanse regering maak ʼn fout om sy twiet sommer net as bespotlik en oningelig te probeer afmaak en te dink dat dit gou vergete sal raak. Mnr. Trump het juis gewys dat hy nie ’n aanhanger van multinasionale verdrae is nie en dit sal opsê as dit teen die belang van die VSA gerig is, soos die Klimaatveranderingsverdrag van Parys en die Kernwapenooreenkoms met Iran. Om Agoa dus op te sê, in tye waar Suid-Afrika ekonomies reeds sukkel (veral weens ʼn swak ekonomiese beleid) sou ʼn ramp vir die land wees. Trouens, dit kan Suid-Afrika se pad na ʼn Derde Wêreldse ekonomie onstuitbaar maak.

Sanksies

Sanksies teen Suid-Afrika sou ʼn herhaling van die geskiedenis wees en ʼn groot verleentheid vir die ANC. Die ekonomiese sanksies van die 1980’s was ingrypend en pynlik vir die land en het bygedra om beleidsveranderings teweeg te bring. Die land was toe egter baie meer gerat om sanksies te weerstaan as nou. Die probleem met sanksies is egter die prys wat die gewone burger, wat dikwels nie met die regeringsbeleid saamstem nie, moet betaal. In die 1980’s het die sanksies tot werksverliese en inflasie gelei en is juis arm swart mense, vir wie die sanksies veronderstel was om te help, die hardste getref. Die opsê van die Agoa-ooreenkoms sal almal tref, in hierdie geval ook diegene vir wie Trump wil opkom, die wit boere en die middelklas, wat die uitwerking van ʼn vallende rand, hoër brandstofpryse, kwynende beleggings en alles wat dit meebring, gaan voel.

Die logika agter sanksies is dat die bevolking weens ekonomiese swaarkry politieke druk op die leierskap plaas en dat, deur verkiesings of opstande, ʼn bewindsverandering bereik word. Sanksies wat die hele land tref, kan egter ook daartoe lei dat die burgery juis saam agter die regering verenig omdat sanksies as ʼn aanval op die land gesien word. Sodoende kan dit die regering selfs meer vasberade maak. In totalitêre lande, waar die bevolking volledig onderdruk word en geen middel tot weerstand het nie, bereik sanksies ook selde hul doel. Die sanksies teen Noord-Korea en Kuba, byvoorbeeld, het tot dusver nog geen beleidsverandering teweeg gebring of die regerings se houvas op die mag verminder nie.

Slim sanksies

’n Beter opsie om die regering te dwing om sy rampspoedige beleid te laat vaar, is geteikende sanksies of slim sanksies. Anders as die gebruiklike ekonomiese sanksies teen ʼn land, wat die gewone mense gewoonlik harder tref as die regeerders (dink maar aan Zimbabwe, Kuba, Venezuela), sal geteikende sanksies diegene tref wat die makers van slegte beleid is.

Geteikende sanksies kan byvoorbeeld net gerig wees op die in- of uitvoer van sekere produkte wat essensieel vir die bewind is, soos ’n verbod op die uitvoer van wapens vir die veiligheidsmagte of van luukse goedere wat vir die elite bedoel is, of ’n verbod op die invoer van olie of konflikdiamante. Dit raak die gewone mense min. Geteikende sanksies kan ook finansieel van aard wees en kan sekere leiers se buitelandse bankrekeninge vries of op hul bates beslag lê, of daar kan ’n verbod op reise na die buiteland geplaas word. Behalwe teen staatsleiers, kan dié soort sanksies ook toegepas word teen persone wat buite die staatlike opset opereer, soos terroriste, dwelmsmokkelaars en ander misdadigers. Die nadeel van die geteikende sanksies is dat dit moeilik is om te implementeer en te monitor en dat dit soms ook die verkeerde persone kan tref.

Voorbeelde

Terwyl sanksies teen ʼn hele land al baie oud is, is geteikende sanksies teen spesifieke leiers die eerste keer in die 1990’s aangewend teen die staatsgreepleiers van Haïti en daarna teen diegene wat vir volksmoorde in die destydse Joegoslawië verantwoordelik was. Ook teen Kim Jong-Il van Noord-Korea, teen Moeammar Ghaddafi van Libië en die militêre junta van Mianmar wat almal hul mense wreed onderdruk (het) is sulke geteikende sanksies toegepas. Die mees onlangse voorbeeld is geteikende sanksies teen Sirië se leierskap.

Malema

As Suid-Afrika dus voortgaan met sy onteienings sonder vergoeding en ʼn harde sosialistiese pad inslaan en daarmee ook buitelandse eiendom in die gedrang bring, of tot rassistiese gemotiveerde geweld oproep, kan die VSA en ander lande geteikende sanksies teen die leierskap en diegene wat vir die toestande verantwoordelik is, toepas. Dit is bekend hoe die swart elite, insluitende diegene soos Julius Malema wat kommunisme preek en kapitalisme leef, aan sekere luukshede verslaaf is. ʼn Lewe sonder duur whisky, luukse motors, ontwerpersklere en buitelandse inkopietogte gaan hulle waarskynlik harder slaan as algehele sanksies, wat in elk geval weer vir die opsweping van die massas misbruik sal word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Rynhardt ·

Cyril Ramaphosa is nie bekommerd oor sanksies van VSA nie.Mense verstaan nie.SA word al vir jare nie volgens n westerse model geregeer nie.Cyril en kie.glo die afneem van plase gaan land vorentoe neem plus China en Rusland ondersteun hul met geheime transaksies en ooreenkomste!Verder wink die Guptas nog ook om die draai as n verdere oplossing!

Sann ·

Baie insiggewende inligting, wat veral die kortsigtigheid en totale onbevoegdheid om te regeer, onderstreep.

Jerry ·

Met of sonder sanksies, ons bevind onsself in n verloorsituasie en dit kan toenemend versleg, alles afhangende van ons versoening en samewerking of weerstand wat bepalend sal wees van watter rigting die ANC sal inslaan. Versoening en samewerking word gesien nie net as oorwinning van die NDR program, maar ook as goeie wil en uitsluiting en strafmaatreels kan dus ingeperk word met die huidige status que wat vir die huidige gehandhaaf kan word. Weerstand word gesien as slegte wil en as n uitdaging wat deur meer intensiewe NDR programme oorkom moet word, maw die aanslag vir verandering, uitsluiting en strafmaatreels neem toe en die situasie vir die Afrikaner vererger. Alles hang dus af van die Afrikaner of hy die huidige status que wil handhaaf van wat versoening en samewerking bied en of hy weerstand wil bied wat die situasie waarin die Afrikaner homself bevind noodwendig sal vererger, met of sonder sanksies! In Afrika, en SA is nie n uitsondering nie, lewe die met die politieke mag soos konings en die res oorleef. Kom wat wil, as die ANC verder deur die Afrikaner gedruk word sal hulle nie skroom om voluit te gaan om die kringloop van die NDR te voltooi nie. Nadat die kringloop voltooi is en alles aan die ANC behoort en nadat geen haan meer kraai nie, kan hulle weer begin met vriende maak en met herstelwerk! Die land en mense het nie die Afrikaner nodig nie, die Afrikaner het die land en sy mense nodig!

Hendrik ·

Jerry die meerderheid is in beheer en slaan die kitaar. As die swart meerderheid nie die land kan die regeer nie kan ons regtig niks doen daaraan nie. Indien hulle al die grond het gaan hulle nog steeds nie ‘n sukses maak nie. Die land het die Afrikaner nodig om homself te red. As alle rasgedrewe wetgewing afgeskaf word (132 van hulle) kan ons die land red, anderse kan ons nie . Onthou ons kan nie instansies help as ons nie daar werk nie, al is ons houding nou versoenend of hardegat. Ons kan nie help as ons uitgesluit word deur wetgewing. Jammer…

Reine waarheid ·

Op die kopslaan… in elke afdeling, “voorbeelde” duidelike beskrywing van die kretieke toestand, waarin hardwerkende eerlike landsburger hom TRAGIES bevind. Laat dié kry, waaarvoor gevra.

Celtis Africana ·

Synde dat ons nie onself in n gewildheidskompetisie bevind nie, maar in n oorlewingstryd, hoop ek van harte dat die uiteinde van die buitelandse aktivisme gaan neerkom op strafmaatreëls van een of ander aard.
So kan dit nie aangaan nie. Wat wetgewing ons nie ontneem nie, doen kriminaliteit in oortreffende trap.

Jerry ·

Hendrik jy is reg tov die wetgewing wat ons uitsluit. Hoe meer weerstand ons bied, hoe meer wetgewing en meer intensiewe NDR programme word geimplementeer wat ons verder uitsluit en isoleer! Jy is ook reg volgens ons denkwyse dat die Afrikaner die land kan red. Die punt is dat die ANC nie so dink nie. As die ANC ons nou kon wegwens sou hulle nie twee keer daaroor dink nie! Versoening skep n meer vriendskaplike en verdraagsame omgewing en dwing die ANC om ons te verduur en waarborg ons n plekkie in die son. Hulle sal ons ook nie meer voor die voet kan blameer vir wat verkeerd loop onder hulle swak administrasie nie.

Gatgruip werk nie ·

Ons kan nie die ANC paai nie want hulle sal nooit toegewings maak behalwe as hulle gedwing word nie. Lees hul interne dokumente, hulle werk volgens die magsbelaans. Hulle stel nie belang in versoening nie.

Hendrik ·

Die demokrasie in S.A verhoed dat daar versoenend opgetree kan word. Alle vorige tuislande kan regtig deur die regering ontwikkel word. Hierdie gebiede is gelee in die vrugbaarste hoe reenval streke in die land en kan met ontwikkeling ‘n reuse werkskeppings geleenheid vir die regering wees. NIKS keer hulle om dit te doen nie en hulle kan regtig die Nationale Gesondheidplan ook daar uitrol. Swartes is verreweg die grootste getal gradueerdes in die land a.g. v die demografie van die bevolking. Al wat die swartes doen is om elke aand ESKOM se krag te gebruik om in luuksheid te lewe en daar is waggies nie een gekwalifiseerde onderwyser wat ‘n handboek skryf om vir moedertaalonderrig nie. As jy superryk is ploeg jy terug in jou gemeenskap en nie soos CR en Douw Steyn van Outsurance wat in waglike rykdom lewe en hul mense kripeer om hulle nie.

henk ·

ek sal sanksies verwelkom ……….. ons wittes is al reeds onder sanksies 1. ons mag geen werk he in SA nie 2. Ons grond word gevat 3. ons moet skuldig voel oor iets wat ons nie gedoen het nie 4. ons moet misdadigers toelaat om ons te beroof en vermoor en mag nie terug baklei nie. Nog n biekie meer sanksies mag dalk die regering begin raak

John ·

As die ANC in ‘n hoek gedruk word en veral noudat ons amptelik in ‘n resessie is, gaan hulle, tipies hul styl, vuil baklei wat die rand deur die plafonne gaan laat breek en die dak afbring. Geld uitdeel lyk nogal indrukwekkend veral as dit note reen en munte skitter, maar goue horlosies en diesulkes is redelik oneetbaar en swak tweedehandse verkoopsmiddele… Sjina word nou gelek om Trump teen te staan maar dis ‘n slegte plan. Dink CR hy is die katalisator in wereldfinansies? Die stoompot vol paddas kan ook dalk net in sy gesig ontplof en ons weet watter gemors volg.

Pietman ·

@Jerry. So jy stel voor die paddas lê eerder doodstil in die pot terwyl die water tot kookpunt gebring word.

Nee dankie, meneer! Ek spring eerder uit. “Better to die on your feet than live on your knees”

Erick ·

@Pietman -Spreuke sê dit die beste : ” ‘n Lewende hond is beter as n dooie leeu.”

Bella ·

Nogal net vandag gewonder waneer gaan die twee nou amptelik ontmoet. Dit behoort nogal interresant te wees.

Dewald ·

https://youtu.be/oVruEq-Gupk volg die reeks. Dis n openbaring wat alle mense wat nie in hul geskiedenis glo nie, laat dink. Ek is TROTS AFIKAANS en n afrikaanse boer. My ouers en hul ouers het geveg om n toekoms te verstewig vir hul nageslag. Maar as gevolg van die TV het ons seuns uitgedraai as verfynd en nie meer as n man waar vrouens kan na opkyk en n toekoms sien nie. Pateties.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.