Donald Trump: Geliefd én gehaat

donald trump

Pres. Donald Trump. Foto: AP Photo/Alex Brandon

Almal het ’n mening oor die Amerikaanse president Donald Trump. Hy is nou maar ten ene male ’n kleurryke figuur wat nie wegskram om sy afkeure te deel ondanks sy status as president nie. Hy is geliefd onder sy ondersteuners, meestal konserwatiewe Amerikaners wat hul president en sy kontroversiële uitsprake volmondig ondersteun. Net so word hy geminag en selfs gehaat deur sy vyande: die sogenaamde hoofstroommedia en linkse Amerikaners, wat ’n string glanspersoonlikhede insluit. Dit gaan so ver dat bekende persoonlikhede reeds openlik predik dat ’n sluipmoord op Trump uitgevoer moet word. Ook in Suid-Afrika is mense verdeeld oor Trump. Hoewel ver verwyder van die VSA, ondersteun heelparty (veral Afrikaanse) mense Trump, terwyl ander hom verag.

Baie vyande

Ten spyte van afkeer/haat of bewondering vir die man, moet ons egter eerder gaan kyk na sy rekord as president in die eerste sewe maande van sy regering (Trump het einde Januarie president geword). Volgens meningspeilings, wat ironies genoeg deur Trump se aartsvyand, die TV-nuuskanaal CNN gedoen is, keur slegs 38% van Amerikaners Trump se optredes goed. Komende van CNN moet dit seker met ’n knippie sout geneem word. Nancy Pelosi, ’n leiersfiguur in die Amerikaanse Demokratiese Party, beskuldig Trump van “verbreekte beloftes en mislukte leierskap”.

Trump se uitsprake word deur die media in die VSA en buiteland meestal ontleed en verwerp, en hy word tot vervelens toe deur veral linkses as ’n rassis, vrouehater en homofoob uitgebeeld. Indien Trump ʼn mening uitspreek, word hy byna onmiddellik verguis; as hy nie sterk genoeg sy mening uitspreek nie (soos nou weer met die Charlottesville-voorval) word hy verguis; indien hy sy verkiesingsbeloftes probeer uitvoer, word hy verguis. Dit is dus nie vreemd dat Trump die anti-Trump-media as sy vernaamste vyand beskou nie. Hy is eintlik in ’n heeltydse geveg met dié media betrokke waar albei mekaar se half-waarhede probeer ontbloot. Terselfdertyd gebruik die media enige metode denkbaar om Trump in ’n swak lig te stel, sy uitsprake te bevraagteken, sy aksies as absurd voor te stel, ens.

Dan is daar teenstand teen Trump in sy eie Republikeinse Party. Hoewel die Republikeine sonder Trump se charisma tydens die verkiesings beslis nie die Huis van Verteenwoordigers en Senaat sou beheer nie, is heelwat senior Republikeine ook sy vyande. Trump se pogings om lomp mediese versekering (genoem Obamacare) op te skort, het weens teenstand in sy eie party misluk. Dis ironies omdat die Republikeine al jare lank Obamacare as ’n reusemislukking beskou, maar nie so ver kan kom om dit te skrap nie.

Trump se grootste nemesis hier is John McCain, ’n senator en voormalige presidensiële kandidaat (hy het die 2007-verkiesing teen Barack Obama verloor). McCain het amper ’n obsessie om Trump se pogings tot verandering te stuit en hoewel sy teenstand in sommige gevalle sekerlik meriete het, lyk dit eerder na ’n persoonlike renons in Trump as ’n saak van beginsel.

Prestasies en mislukkings

Indien ons fokus op Trump se prestasies en mislukkings sedert hy as president ingehuldig is, is die toets hier watter van sy verkiesingsbeloftes tot dusver nagekom is. Trump het die volgende beloftes gestand gedoen, of ten minste gedeeltelik gestand gedoen:

  • ’n Immigrasieverbod is geplaas op ses lande wat met terrorisme verbind word. Dit volg ná ’n hooggeregshofstryd wat gedeeltelik in Trump se guns beslis is. Die media het die verbod ’n “Moslemverbod” gedoop en in linkse kringe is dit met verontwaardiging en gewelddadige betogings begroet. Trump wil verder ’n nuwe immigrasiebeleid instel om eerder hoogs geskoolde immigrasie te bevorder in plaas van ’n kwotastelsel vir burgers van meestal ontwikkelende lande.
  • Statistieke gee nie altyd ’n korrekte prentjie nie, maar nietemin dui die syfers dat onwettige immigrasie van Meksiko met 64% in Mei 2017 afgeneem het teenoor 2016 weens grense wat beter beskerm word.
  • ’n Konserwatiewe (Neil Gorsuch) is as hooggeregshofregter aangestel. Dis die hof wat uitsprake oor grondwetlike kwessies in die VSA moet maak. Gorsuch is (voorspelbaar) as gevaarlik en ultra-regs deur die Trump-haters uitgekryt.
  • Trump het ’n klomp presidensiële dekrete onderteken, maar terselfdertyd meer as 800 dekrete en regulasies teruggetrek, soos hy beloof het.
  • Trump het die VSA aan die Paryse Klimaatsverdrag onttrek. Vir die media en linkses was dit een te veel en heelparty het (letterlik) Trump se kop geëis.
  • Heelwat belemmeringe om grootskaalse olie- en gasontginning in die VSA te doen, is deur Trump uit die weg geruim.
  • Die Amerikaanse ekonomie is in ’n fase van groei. Trump kan aanspraak maak dat die Amerikaanse aandele-indeks (die Dow Jones) sedert sy verkiesingsoorwinning die een ná die ander rekord verbeter wat wys op ekonomiese vertroue in Trump. Die dollar het wel effens verswak, maar dit bevoordeel weer Amerikaanse uitvoer. Hoewel dit sekerlik deels die vorige administrasie se nalatenskap is, het werkloosheid afgeneem en indiensneming toegeneem. Ekonomiese groei het toegeneem tot 2,6% (Trump het 3% per jaar beloof).
  • Op internasionale front kan Trump aanspraak maak dat Amerikaanse lugaanvalle teen die Islamitiese Staat (Isis, ook die IS genoem) gelei het tot die ontsetting van stede soos Mosoel (Irak) en Rakka (Sirië). Tans lyk dit of Isis se mag in albei lande erg geknou is.

Daarteenoor is daar heelwat wat Trump nog nie vermag het nie, of selfs mee misluk het:

  • Soos genoem, is Obamacare steeds nie ontbind nie.
  • Beloofde belastinghervorming het nog nie plaasgevind nie.
  • Die beoogde muur aan die grens met Meksiko is nog nie gebou nie. Meksiko weier om enigsins by te dra tot die koste daarvan. Die Amerikaanse parlement is wel besig met ’n proses om $15 miljard daarvoor beskikbaar te stel.
  • Nafta, die handelsooreenkoms met Kanada en Meksiko, is steeds ingestel. Trump het voorheen beloof om óf te onttrek óf nuwe onderhandelinge daaroor te begin.
  • Trump gebruik sy skoonseun, Jared Kushner, en dogter Ivanka, as raadgewers. Dit word deur sommige as nepotisme beskou. Volgens berigte is Trump se missielaanval op Siriese regeringsposisies in April ná Sirië se beweerde chemiese aanval op burgerlikes deur sy skoonseun voorgestel.
  • Trump moes heelwat raadgewers aanstel en weer afdank en daar is duidelik mense binne-in die administrasie wat saamspan om Trump in die verleentheid te bring.
  • Op internasionale gebied het Trump se retoriek oor ’n aanval op Noord-Korea ’n muis gebaar, soos voorspel. Die Sjinese het vinnig ingegryp en sowel Trump as die Noord-Koreaanse Kim Jong-Un oortuig om aansprake oor aanvalle te laat vaar.

Vervolgens is dit duidelik dat Trump dalk nie so sleg gevaar het as wat ons wysgemaak word nie. Uiteindelik (oftewel, “aan die einde van die dag”, om ’n oudrugbyspeler aan te haal) moet Trump beoordeel word op grond van ekonomiese vooruitgang (relatief positief), beskerming van die Amerikaanse staat en sy mense (deels positief) en sy buitelandse beleid (deels positief). Terselfdertyd het die beeld van die VSA en Trump wêreldwyd verswak weens sy uitsprake.

Trump se styl is om deur die gebruik van die sosiale platform, Twitter, belangrike aankondigings te maak. Sommige uitsprake is kontroversieel, ander feitelik verkeerd en soms weerspreek hy homself. Dit is egter eerlik en reguit, wat sy ondersteuners waardeer. Hulle argumenteer dat hy die media se houvas oor nuusberiggewing daardeur ontwrig en sy boodskap direk aan die sosiale media-mal Amerikaners rig. Daarin is meriete, aangesien die hoofstroommedia hom as immoreel of gevaarlik afmaak.

Al weer die Russe

Ten slotte: iets oor Trump en die Russe. Dat Trump en die Russiese president, Wladimir Poetin, ideologies heelwat raakpunte het, is waar. Obama het weke voor hy die Withuis verlaat het, sanksies teen die Russe ingestel en hulle van verkiesingsinmenging beskuldig. Verhoudinge was op ’n laagtepunt. Daar is gevolglik voorspel dat Amerikaans-Russiese verhoudinge kan verbeter onder Trump, wat nie gebeur het nie. Dit is duidelik dat die Demokrate, die media en ander linkses alles in hul vermoë gedoen het om ’n bewese onwaarheid te bevorder, naamlik dat Poetin (of “die Russe”) gehelp het om Trump deur elektroniese manipulering te laat verkies. Nou word Trump se “konneksies” met die Russe ondersoek.

Wat Obama en die Demokrate, met die hulp van veral McCain, reggekry het, is om enige toenadering deur die Trump-administrasie met Poetin/Rusland te verhoed. Sou Trump sanksies teen Rusland ophef of ’n meer positiewe houding teenoor Poetin bevorder, sal die aasvoëls aan die werk spring om uit te wys dat Poetin Trump se poppemeester is. Trump het dus feitlik geen beweegruimte om die meestal onsinnige aansprake van sy opponente oor Rusland teen te gaan nie.

Sedertdien is die een ná die ander onthulling deur die media gedoen om Trump met “die Russe” te verbind. Die doelwit van die linkses/media/Demokrate is eenvoudig: om Trump basies af te dank (in Engels: impeach). Reeds voor Trump se inhuldiging het ultra-linkse aktiviste soos die rolprentmaker Michael Moore aangedui dat afdanking Trump in die gesig staar. Dit is dus ’n bewese strategie om van Trump ontslae te raak.

Dit kan verwag word dat die mediaveldtog teen Trump gaan vererger namate Trump ’n meer konserwatiewe Amerika met ouwêreldse Westerse waardes probeer hervestig. Daarmee saam gaan sy vyande toenemend probeer om van Trump ontslae te raak. Tans byt die meeste Republikeine nie aan die aandrang om Trump te laat afdank nie.

Of die aanklagte sterk genoeg is om werklik die president omver te werp, is te betwyfel. Nietemin hoop die Demokrate om ná die middeltermynverkiesings in 2018 die senaat en/of Huis van Verteenwoordigers te beheer en dan kan hierdie aanslag feller word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Eish ·

Die liberales kan maar doen wat hul wil. Ek is mal oor Trump, veral as ek sien wie nie van hom hou nie.

gatiep ·

Jy is reg mens moet net kyk wie teen hom is dan weet mens sommer wie is ons vyand.
Die klomp Liberale raak nou heel van die pad af.Hulle gaan soos mal goed in die strate aan en lyk my hulle wil vryheid van spraak heeltemal wegvat.
As demokrasie beteken dat net die een kant reg kan wees stel ek nie belang daar in nie en sal dit beveg as ek kan.
Dankie vir die berig.

David Zurnamer ·

Eish, in die kol! Hy is al een wat staan tussen die Nuwe-Wereld Bedeling (NWO) en een wereld regering, maw totale beheer oor die mensdom. As enigiemand dink dis versinsels beter díé wakker word! Mag hy nie net oorleef nie maar seëvier. Seëvier hy, sal die vryewereld en díé wat staan.vir reg en.geregtigheid, op hul knieë wees om dankie te sê.

Bruno Stef ·

Daar is in my boeke groot respek vir tenminste vier Amerikaners( Donald Trump/ Ronald Reagan/ Clint Eastwood en Elvis Presley maar dit is maar wat die meerderheid Senior Afrikaners glo ek kan saamstem.

Rupert Ashford ·

‘n Verfrissende ewewigtige stuk oor Pres Trump. Sonder histerie of “spin”. Welgedaan. ..daar is dalk nog drie sulke berigte in die hele wereldpers te kry…:-)

VanAfrika ·

My gunsteling van die begin af. Hy is nie bang om te se wat gese moet word, verwerp die wat dit verdien en sonder christelike en morele waardes wil lewe. Hy is nie bang om te wys hy is a man van God en dat hy sy kinders so grootgemaak het nie. Nepotisme is vir hom net n woord, hy neem die in diens wat hy weet die werk kan doen. Hy kom die meeste van wat hy se hy sou doen na, gee hom tyd, die ander dinge sal in plek val. Op die stadium werk hy as een man president met die meeste wat hom moet ondersteun maar hom teenstaan, veral in sy eie geledere. Hy is nie n politikus in die ware sin van die woord nie, maar n sakeman wat n kans gevat het en bereid is om die anti-christe aan te vat en reg te maak wat verbrou is en sy mense se werk en land vir hulle terug te gee. Wens hy was my president

David Zurnamer ·

AMEN, VanAfrika! Ek volg en bestudeer al meer dan 7jr die gebeure wat lei tot sy presidensie. Hierdie man is ‘n aanstelling as kneg van God!

Verstom ·

Hy skuld niemand niks, het sy eie campaign befonds etc. Do what you do, do well Donald Trump.!!!!Those who love him, love him for the right reasons. Those who hate him, do so because he is right. hoe lyk dit SA?

Flip Nöthling ·

Mnr Stegmann, en ander kommentators, kan gerus die bronne vir sy stellings gee. Gaan kyk gerus hoe die Amerikaanse media dit doen.

Bittergal ·

CNN het amper nie meer ander nuus as om gal te braak oor Trump nie.

bgj van der westhuizen ·

wel hy is vir sy mense en wil werk skep vir hulle en die regering van suid afrika kan by hom gaan leer

Kom Ons Boks ·

Baie goeie artikel deur Mnr. Stegmann.
Dit lyk in baie gevalle soos die einde van die pad vir President Trump, maar iets is aan die rol in die VSA wat nie vinnig deur die linker-vleuel gestuit sal kan word nie… Meer en meer mense besef nou wat met die uitdrukking “the tyranny of tolerance” mee bedoel word as ooit tevore te danke aan antifa en kie. Miskien stuur dit af op ‘n burgeroorloog soos wat Romney rukkie terug voorspel het, of Amerikaners kom to hul sinne en begin saamwerk om Obama se foute en nalatenskap uit die weg te ruim in plaas van hul standbeelde en ryk geskiedenis.

Piet Snot ·

Die tirannie van die liberalis.
Dit is, JC, die neiging vd gemiddelde liberalis om enigeen wat van hom verskil, histeries te beveg en sonder ophou te ry tot by Oom Daantjie in die kallerhok.

Nugter ·

In SA is kanaal 412 sekerlik die giftigste Trump verguiser.

E ·

Ek weet nie so mooi nie: “Grab them by the £u$$¥” is nie vir my ń baie ‘christelikke’ woord om te gebruik nie. En wie is die ‘anti chris’ as ń enkele persoon nou eintlik? Hoeveel magnate, presidente en organisasies kry hy met net ń paar woorde warm onder die kraag? Hoe onveilig en onseker voel die mense huidiglik in Guam? Noord Korea het al meer geblaf as gebyt, maar gaan hul dalk byt?

Kom Ons Boks ·

Bill Clinton en Zuma het daad by die woord gesit as jy regtig ontstoke wil raak oor ‘n prezzie wat dit heeltemal te ver gevat het.

Kom Ons Boks ·

Ek en jy weet dat die “anti-chris” waarna verwys word eerder amper almal se pel sal wees, nie waar nie? Hoe vereenselwig jy dan die woord met Trump? Ek vermoed jy sien wat jy wil sien.

Ivor ·

Donald Trump was 70 jaar, 7maande en 7 dae oud op sy eerste dag op kantoor in die withuis. Hy het een van sy mees belangrikste beloftes nognie nagekom nie. Dit is om die Amerikaanse Ambasade van TelAviv na Jerusalem te skuif. Volgendae Jaar 2018 is Israel 70 jaar oud. Jerusalem is God se stad. Wanneer Jesus terug kom sal Hy weer na die Olyfberg terug kom. “Vrede” wanneer hulle se “vrede” begin bewe, begin baie bewe… Then sudden destruction. Maranata!! Jesus kom weer. Amen!

martin ·

Pres. Trump se beleid moes kom. Hy is die produk van +-70 jaar se liberalisme wat nou lei tot die aanslag op die wit ras. Ek myself dink die wereld van Trump. Ek lees die linkse tydskrif Time, en alles daarin geskrywe kom iewers weer terug na die demonisering van Trump. Die man moet n vel soos n renoster he, die geaardheid van n spar. As ek hom raad sou kon gee moet hy liewers sy persoonlike gebruik van sosiale media los. Ons volk het n man soos hy hier nodig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.