Donald Trump kan dit weer maak

Pres. Donald Trump. (Foto: Ting Shen, Xinhua)

Die Amerikaanse president, Donald Trump, is besig om homself te posisioneer om weer die Amerikaanse presidensiële verkiesing in 2020 te wen. Dit is ten spyte van die ongekende aanslag van die grootste mediahuise teen hom, die haat van linksgesindes teenoor Trump en natuurlik ook Trump se eie tekortkominge; soos sy ondeurdagte uitsprake en kleingeestigheid.

’n Heksejag teen Trump

Die heksejag deur die media en sy opponente in die Demokratiese Party, het maar ’n muis gebaar ná ’n twee jaar lange ondersoek deur die voormalige FBI-hoof Robert Mueller. Die hele sage was eintlik komies, aangesien Trump se opponente en die mediahuise deurlopend voorspel het dat Trump se dae getel is. Wat egter nie komies is nie, is dat hul aksies amper daartoe gelei het dat ’n “staatsgreep” uitgeoefen word en van Trump ontslae geraak word deur ongegronde bewerings oor een of ander “Russiese samesweringsteorie” wat Trump in 2016 verkies sou kry.

Die linkses se pogings om van Trump ontslae te raak, het helaas nog nie opgehou nie. Ons kan verwag dat hierdie taktiek sal voortduur met die oog daarop om Trump se presidensiële kampanje negatief te beïnvloed. Om die waarheid te sê, die aanklagte teen Trump het wel daarin geslaag om hom op die agtervoet te hou tydens sy bewindstydperk en sy fokus weg te draai van sy verkiesingsbeloftes. Gevolglik sit die VSA nog steeds met poreuse grense en ’n stortvloed van onwettige immigrante – ironies juis weens Trump se sukses om die VSA se ekonomiese groei te verbeter en werkloosheid tot die laagste vlak in dekades af te forseer.

Die Demokrate gaan steeds alles probeer om Trump te verguis. In die proses het die Demokrate hul fokus verloor en in hul pogings om so anti-Trump as moontlik op te tree, kan hulle nie enige van Trump se beleidsrigtings ondersteun nie. Dit sluit in die bekamping van onbeheerde instroming van immigrante van veral Sentraal-Amerika wat as ’n humanitêre ramp eerder as onwettige optrede beskou word. Die Demokrate het dus erg na links beweeg en selfs logiese argumente soos om wette toe te pas, word deur die meerderheid moontlike kandidate vir die 2020-presidentsverkiesing as immoreel beskou. Die Demokrate se kandidate en hul leierskorps het nou basies aanvaar dat alle instromelinge geakkommodeer moet word en nie gearresteer of gedeporteer mag word nie. Terloops, die Demokrate se uitgangspunt is basies dat almal wêreldburgers is, dat almal geslagloos is en almal moet daarna streef om sonder nasionale identiteit (patriotisme) diversiteit te omarm.

Die Demokrate beweeg na links

Ander groot kwessies wat die Demokrate beklemtoon, is dat sosialistiese praktyke soos voedselhulp en gesondheidsorg uitgebrei moet word (ook na die onwettige immigrante). Hul verdere fokus is op klimaatsverandering (waar sommige histeriese Demokrate glo dat die wêreld binne 12 jaar gaan vergaan), grootskaalse persoonlike wapenbeheer (oënskynlik om massaslagtings wat so gereeld in die VSA voorkom, stop te sit) en dat Trump die leier van een of ander rassistiese wit ekstremistiese beweging is.

Trump word byvoorbeeld verantwoordelik gehou vir ’n wit ekstremis se aanval vroeg in Augustus op Spaanssprekendes by ’n Walmart-winkel in El Paso in Texas. Dit is egter simplisties om Trump vir massamoorde te blameer. Die groter onderliggende rede is die sosiale onderbou van die Amerikaners wat die laaste 50 jaar grootliks platgeval het. Die uitmekaarval van gesinne, sosiale uitsluiting, dwelmmisbruik en die afbreek van morele en kulturele waardes deur ’n massamedia wat ’n kultuur van hedonisme aanmoedig, moet eerder geblameer word daarvoor dat baie enkelinge sukkel om hul plek in die samelewing te verstaan of te aanvaar.

Die Demokrate se verkiesingskandidate se ekstreme beleidsrigtings veroorsaak dat hulle nie tans ’n geskikte kandidaat teenoor Trump kan stel nie. Hulle gaan nie juis met hul beleidsrigtings baie Republikeine oortuig om hulle te ondersteun nie en hulle het reeds te ver links beweeg van selfs ’n gematigde linkse soos die voormalige Demokratiese president Barack Obama. Tans plaas die Demokrate hul hoop op ’n erge ekonomiese afswaai – wat hulle op Trump se proteksionistiese ekonomiese beleid, veral sy handelsoorlog met China, sal blameer. Trump se nasionalistiese ekonomiese beleid het egter in ’n groot mate die ekonomiese groei aangemoedig en werkloosheid skerp verlaag. Dit is egter steeds moontlik dat die Demokrate se wens bewaarheid kan word vanweë negatiewe vooruitsigte vir groei wêreldwyd.

Trumpisme nou die doktrine

Wat wel waar is, is dat Trump sy eie party, die Republikeine, in ’n groot mate met sy eie nasionalistiese doktrine, kom ons noem dit Trumpisme, gekaap het. Waar die Republikeine se leierskorps in 2016 erg teen sy benoeming gekant was, het Trump, veral in die 2018-verkiesings, daarin geslaag om meer konserwatiewe kandidate verkies te kry in die kongres. Die pro-Trump regse Republikeine het nou grootliks beheer oorgeneem in die party en vorm ’n sterk steunbasis vir Trump. Daar is deesdae bitter min kritiek teenoor Trump uit die Republikeinse kamp, al word hy in sekere kringe sekerlik steeds verag. Volgens meningspeilings is Trump tans agter Demokratiese kandidate soos Joe Biden, die voormalige visepresident onder Obama. Nietemin het Trump ’n ongekende gewildheid (van ongeveer 90%) onder Republikeine. Onder Demokrate is sy steun minder as 10%.

Dit veroorsaak dat Trump self die grootste verdelende faktor tussen konserwatiewe en linkse, progressiewe Amerikaners geword het. Daar word reeds onder sommige Amerikaanse kenners geglo dat dít die saadjie saai vir ’n nuwe burgeroorlog in die afsienbare toekoms.

Ten spyte van Biden se positiewe meningspeilings, lyk die Demokrate se presidentskandidate maar effens aan die vaal kant en het nie genoeg skietgoed om Trump aan te vat nie. Behalwe Biden, is daar Bernie Sanders, wie se erg sosialistiese sienings wel gewild is onder jonger Demokrate, maar nie deur baie ander Amerikaners gedeel word nie. Verder is die twee ander voorlopers, vrouekandidate Elizabeth Warren en Kamala Harris, beide goeie kandidate, maar hul sterk ondersteuning vir onwettige immigrante se regte en hul oorbeklemtoning van identiteitspolitiek maak hul tans minder suksesvol.

Trump het reeds lankal begin met sy verkiesingsaanslag. Hy spreek gereeld massavergaderings oor die hele VSA toe, en veral in Amerikaanse deelstate wat hy voorheen net-net teen die Demokrate gewen of net-net verloor het. Sy boodskappe is duidelik en hy het ’n gawe om ’n gehoor op loop te neem, wat sy gewildheid net verder gaan versterk.

Demografiese lotgevalle

Trump se grootste probleem lê natuurlik in demografiese skuiwe in die VSA: wit mense in die VSA word elke jaar as persentasie van die bevolking verminder. Dit is die gevolg van grootskaalse immigrasie vanaf Meksiko en Sentraal-Amerika wat reeds ’n voormalige “veilige” Republikeinse deelstaat soos Kalifornië lankal laat Demokraat draai het. Dieselfde is nou besig om te gebeur in deelstate wat ’n groot invloed op die verkiesing het, soos Arizona, Florida en nou ook selfs Texas. Trump sal dus die media se aanslag oor sy “rassisme” moet teenwerk om meer ondersteuning van swart en Spaanssprekende Amerikaners te kry (hy het in 2016 onderskeidelik 8% en 29% van hierdie groepe se steun gekry). Hy sal ook sy steun onder wit mense moet verhoog (hy het in 2016 58% steun gekry) om die Demokrate uit die Withuis te hou. Die swart Amerikaners en die “nuwe” Spaanssprekende Amerikaners is meer geneig om die Demokrate te steun, reeds vanweë hul identiteitspolitiek en beloftes van die uitbreiding van sosiale hulpprogramme.

Sensuur deur sosiale media

’n Verdere probleem vir Trump is dat die sosiale media beheer word deur anti-Trump en prolinkse tegnologiemaatskappye. Hierdie maatskappye is maar net te bewus daarvan dat sosiale media in 2016 die deur oopgemaak het vir die verspreiding van alternatiewe idees oor die stand van landsake. Dit het konserwatiewes en regses die basis gebied om hul idees oor sosiale platforms soos YouTube, Twitter en Facebook te versprei wat indirek Trump se oorwinning verseker het.

Tans is die groot tegnologiemaatskappye besig om hierdie regse- en konserwatiewe standpunte te sensuur en word heelwat bekende sosialemediapersoonlikhede – wat honderdduisende en selfs miljoene ondersteuners het – se sosiale platforms eenvoudig toegemaak, sonder dat hulle oënskynlik enige reëls oortree. Hierdie manipulasie het net een doel voor oë: om te keer dat Trump herkies word. As sodanig is die groter prentjie dat dié maatskappye vrye spraak só sensuur en hul impak op die verkiesing groter gaan wees as wat enige sogenaamde Russiese sameswering ooit kon wees.

Soos in die verlede, is alles teen Trump gedraai: die massa en sosiale media, die linkses se uitsprake, meningspeilings en demografie. Maar Trump is ’n unieke politieke verskynsel. Ten spyte van sy growwe uitlatings en ooglopende kleingeestige beledigings, is hy basies die enigste persoon wat die Republikeine weer kan laat wen. Dit sluit nie net die presidensie in nie, maar ook al die setels in die huis van verteenwoordigers en 34 van die 100 setels in die senaat. Hoewel baie kan gebeur tot November 2020, is Donald Trump op koers om die Withuis vir nog vier jaar te beset.

Dit moet ’n afskuwelike vooruitsig vir sy linkse teenstanders wees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Hendrik ferreira ·

Hy is die beste leier wat die VSA nog gehad het,en hy gaan die wêreld weer in die regte rigting draai.

Gert van Wierdapark ·

Blah-blah-blah!!! Of dit nou ‘n Republikein of Demokraat is wat die president is, die kitaar word Geslaan deur die geldmag en die “Council on Foreign Relations”!

Rubber ·

Eerder Trump as Warren. Die anti semitiese haters onder die Demokrate is wat eintlik maar insypelaars is, behoort toegesluit te word. Demokrate haat Amerika so ek is bevrees hulle sal met sosialisme Amerika binne ‘n paar jaar verander in ‘n hool soos die ANC met SA gedoen het.

Thea Bothma ·

Sterkte mnr Trump, Die beste wat VSA opgelewer het , ons leiers kan by hom gaan leer
Sy mense kom eerste, en HY lees sy Bybel

Jerry ·

My opinie is dat Trump se grootste teenstander nie van links gaan kom nie, dit gaan van binne die republikeinse party iemand met integriteit wees wat op die regte tyd gaan opstaan en vir Trump opponeer vir die leierskap!

Judge Dredd ·

Ja, want die Demokrate het al lankal nie meer mense met integriteit.

Therese van Schalkwyk ·

Uitstekende opsomming van die stand van sake in hierdie stadium!
As gróót Trump-ondersteuner, omdat hy die laaste hoop vir ‘n sterk Westerse beskawing is, hoop ek vir ‘n tweede termyn. As hy dit nié maak nie, verdien die VSA en die res van sy knaende kritici ‘n vaal, kreperende sosialistiese toekoms. Dit is natuurlik almal, behalwe die stinkryk boonste lagie “globaliste”.

Human ·

As die Westerse beskawing se laaste hoop Tantrum Trump is, dan is daar`n groot skroef los met die beskawing en is daar nie hoop. Trump is die grootste oorsaak, dat die VSA besig is om sy leiers posisie in die Wêreld ekonomie en politiek te verloor. ‘Make America Great’ definitief nie met Trump nie en om te dink en te propageer, dat Trump die alfa en omega, van `n sterk Westerse beskawing is, is bloot fopnuus of in sy woorde ‘fake news.’

Pieter ·

Human,
Trompie is die beste ding wat nog ooit met die VSA gebeur het en liberale gegorrel gaan dit nie maklik verander nie.

Human ·

Pieter, die liberales mag gorrel, aldus jou, maar tenminste kan hulle vir hulself dink en nie net alles te glo wat Trump aan hulle opdis as die waarheid, volgens Trump.

Human ·

Die groot skares wat Trump in Amerika trek se ooreenkoms, behalwe die kleur, met die skares van `n sekere politieke party in Suid-Afrika maak `n mens bekommerd oor hulle eenogige sienswyse van wat reg of verkeerd is. Trump, nog vier jaar in die Withuis, moet `n afskuwelike gedagte vir enige normaal denkende mens wees.

Sarie ·

Amerika het nog nie weer ‘n oorlog begin nie en sy ekonomie is nog goed op dreef en so ook die werkloosheidsyfer onder al die groepe. So miskien vertrou die Amerikaners hom eerder as die jillende demokrate met gee plan nie.

Patricia ·

Trump is die beste by verre en gee om vir sy land en sy mense. Punt

Merkur ·

Dankie vir die uitstekende opsomming van die nuutste ontwikkelinge in Amerika.
Trump se „kleingeestigheid“ interpreteer ek dikwels as strategie. Hoe kan ´n mens ook andersins nog met die globaliste en hul „gutmensch“ meelopers praat?
Die saad vir ´n burgeroorlog is voor Trump se tyd geplant en Joe Biden vind ek in baie opsigte def kleingeestig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.