Donald Trump speel sy troewe

Donald-Trump

Donald Trump. Foto: Gage Skidmore/Commons.wikimedia.org

As Suid-Afrikaners het ons gewoond geraak aan ’n feitlik eenpartystaat met vervelige en voorspelbare verkiesings. Hoe regerings ook al droogmaak, hulle word nie uitgestem nie. Eers het ons vir 46 jaar die Nasionale Party aan die bewind gehad, waarna laasgenoemde geabdikeer het en die ANC nou al vir 21 jaar moeiteloos verkiesings inryg.

Dit maak Amerikaanse presidentsverkiesings darem baie interessanter. Die feit dat die president direk verkies word en dat slegs twee partye (Demokrate en Republikeine) se kandidate kans het om president te word, is nogal iets anders. Hierdie presidentsverkiesings gaan gepaard met miljarde dollars om die (grootliks) oningeligte publiek se stemme te probeer wen, skandale wat presidentskandidate uit die wedloop neem en baie persoonlike aanvalle teen opponente.

Die interessantste aspek is egter dat die twee groot partye elkeen sy eie binneverkiesings hou om hul kandidaat aan te wys. Dis amper soos ’n verkiesing binne-in ’n verkiesing. Hoewel die presidentsverkiesing eers in November 2016 (oor 11 maande) plaasvind, is die kandidate in hierdie binneverkiesings reeds besig om mekaar aan te vat dat die spoeg spat. Die Demokrate het ’n saaier stryd en dit lyk of die Clinton-dinastie gaan voortleef as Hillary Clinton die presidentskandidaat word.

Aan die Republikeinse kant is die proses besonder interessant, veral omdat die voorloper Donald Trump is. Trump is ’n biljoenêr wat ’n sakeryk opgebou het. Self roem hy daarop dat hy 10 miljard Amerikaanse dollar sterk is (ongeveer R140 miljard)! Hy is egter meer bekend vanweë sy voormalige optrede by ’n realiteit-TV-program oor entrepreneurskap, The Apprentice, sy flambojante persoonlikheid en natuurlik sy onverskrokke maar soms buffelagtige styl. In ’n Suid-Afrikaanse konteks kan sy styl amper met wyle Louis Luyt vergelyk word, wat as sakeman, rugby-administrateur en later politikus groot impak gemaak het.

Wat Trump veral anders as ander kandidate maak, is sy absolute politieke inkorrektheid. Politici is gewoonlik vreeslik polities korrek, maar nie Trump nie. Hy skroom nie om die Meksikane wat oor die VSA se grense stroom te wil terugstuur Meksiko toe nie, wil op Moslems in die VSA spioeneer, verpes toenemende regte vir onwettige immigrante en het selfs Jode gestereotipeer. Oor Suid-Afrika het hy ook al sy mond uitgespoel. Eers het hy regter Thokozile Masipa as ’n “moroon” bestempel tydens haar uitspraak oor die Oscar Pistorius-hofsaak omdat sy (volgens Trump) nie eens haar eie bevindings ordentlik kon voorlees nie en Pistorius net vyf jaar tronkstraf gegee het. Daarna het hy Suid-Afrika as ’n “totale en gevaarlike gemors” beskryf, blykbaar verwysend na beurtkrag, misdaad, aanvalle op buitelanders en ’n reeks politieke flaters deur pres. Zuma.

Trump se kandidatuur is eers as ’n groot grap beskou. Die nuusmedia het sy uitsprake aan die groot klok probeer hang en hom probeer diskrediteer deur hom voor te stel as ’n idioot en ’n hanswors. Selfs oneindige persoonlike opmerkings is oor sy haarstyl gemaak. Hy is openlik uitgelag en dit is voorspel dat hy vinnig gewildheid gaan verloor en uitsak. Dit wil egter blyk of Trump toe meer troewe het as wat aanvanklik gedink is.

Ten eerste gebruik hy sy eie fortuin om sy verkiesingsveldtog te finansier; hy is dus nie afhanklik van groot skenkers en sakelui om die verkiesing te veg nie. Hy kan sê net wat hy wil en praat waaroor hy wil. Geen ander noemenswaardige Amerikaanse politikus het hierdie luukse in die moderne era gehad nie. Hy is onbeskaamd konserwatief en staan Christelike en konserwatiewe ouwêreldse waardes voor.  Sy verkiesingslagspreuk is ook baie nasionalisties, “Make America Great Again”.

Trump se gewildheid sedert sy toetrede tot die presidensiële verkiesing bly hoog, ten spyte van sy uitsprake. Hy word dus nou nie meer beskou as ’n nar wat bietjie vermaak verskaf voor die verkiesing nie, maar het ontpop as ’n ernstige aanspraakmaker op die Republikeinse kandidatuur as president.

Die groot toets sal wees tydens die sogenaamde voorverkiesings, ’n reeks stemme deur partyverteenwoordigers en lede vanaf Februarie tot Julie 2016. Hierdie voorverkiesings bepaal die presidentskandidaat vir die partye. Hoewel Trump tans die publiek se gunsteling is, kan sy kandidatuur in hierdie verkiesings skade ly. Republikeinse partylede kan eerder ’n meer gematigde kandidaat verkies omdat hulle glo so ’n kandidaat sal ’n beter kans hê om Clinton of ’n ander Demokraat uit te daag.

Die groot invloed van die media het voorheen veroorsaak dat kandidate wat hulle sentreer tussen die linkse en konserwatiewe strome in die VSA die beste kans het om te wen. Daar is net te veel minderheidsgroepe en belange wat ’n linkse of konserwatiewe kandidaat se kandidatuur kan benadeel.

Hoe dit ook al sy, Trump bly ’n gewilde en populistiese kandidaat te wees. Sy grootste opponente tans het probleme om as sterk kandidate te ontwikkel. Ben Carson, die swart neurochirurg, is bietjie vervelig en … swart. Die meer konserwatiewe Republikeine sal nie sommer ’n “tweede Obama” aanwys as kandidaat nie. Jeb Bush, ’n voormalige goewerneur en die volgende Bush wat die kroon wil dra, se naam en beginselloosheid diskrediteer hom. Hy probeer egter die politieke middelgrond beset wat hom meer verkiesbaar kan maak in die toekoms. Die ander  drie sterkste kandidate tans is ’n vrou (Carli Fiorina) en twee Latyns-Amerikaners (Marco Rubio en Ted Cruz). Al drie is gewild, maar bloot die vroue- en Latynse etikette kan hul kandidatuur knou aangesien die Republikeine nog altyd wit mans as hul kandidaat aangewys het.

Ondanks sy pro-Amerikaanse en konserwatiewe uitgangspunte, politieke inkorrektheid, arrogansie en die media se aanvalle op hom, bly Trump dus ’n gunstelingkandidaat. As Trump wel die Republikeinse kandidaat word, sal hy egter moeilik Clinton of ’n ander Demokraat klop. Die demografie van die Amerikaners het dramaties verander die afgelope 20 jaar en veral die Latyns-Amerikaanse en/of swart minderheidsgroepe moet ’n kandidaat ondersteun om sy verkiesing te verseker. Trump is tans baie ver van enige noemenswaardige steun van hierdie groepe.

Wat ook al gebeur, Trump het reeds naam gemaak en sy benadering en uitsprake mag dalk lank nadat hy nie meer op die politieke verhoog is nie, steeds weerklank vind.

Ons kan uitsien na ’n lekker opwindende verkiesingsveldtog in die VSA in 2016.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Ben ☺☺☺ ·

Wel hy heet nie twak gepraat oor ZA nie. Oor Hillary weet ek nie – hy weet dalk iets van haar wat min mense weet, wat hy bere vir laaste. Ek wil hom oornooi om ZA ook te kom regmaak !

Genis ·

Trump se rol is net om Clinton beter te laat lyk. Hy beplan nie om president te word nie en sal ook nie president word nie.

Bruno Stef ·

Ek persoonlik hou van Trump hy het n goeie besigheidsbrein wat hy tot voordeel van Amerika kan aanbied.Sy parmantige houding en uitgesprokenheid is net die regte medisyne wat die slapsakke met hulle Liberale houdings in die bek kan ruk en laat my dink aan die beste Amerikaanse President tot dusver wat gesag kon afdwing Ronald Reagan.

Loeis ·

Hierdie laat mens dink aan iets wat mens dikwels in Suid-Afrika hoor, naamlik dat mense die wens uitspreek dat daar hier net twee groot partye was. Mens wonder onwillekeurig waarom. Sal daardie mense dieselfde deuntjie fluit as hulle bv tussen ouens soos Zuma en Malema moes kies? Sommer ‘n gedagte.

Wat die Amerikaners aanbetref het ons gesien hoe die vorige Republikeinse president, Bush, die VSA eintlik taamlik in die skande en in ‘n oorlog gesleep het (ons wag steeds vir hulle om Sadam se Wapens van Massa Vernietiging te ontdek). Hoewel Obama nie nog ‘n cowboy is nie, het Amerikaanse staatskuld taamlik onder lg toegeneem. Daar is geen maklike antwoordde nie.

Wat Trump oor Suid-Afrika te se het, tot nou, ten minste, is die waarheid.

Frans ·

Die inval in Irak was hopeloos te laat.Satelietfotos het lank voor die tyd getoon hoe konvooi na konvooi na naburige state reis en dit is dus geen wonder dat die Amerikaners niks kon vind nie.
Saddam Hussein was ‘n diktator maar beslis nie dom genoeg om verdoemende getuienis agter te laat nie en is die die Amerikaners en ander wat verleë en met leë hande terug huistoe is en ‘n vakuum agter gelaat het na hul onttrekking wat spedig deur ekstremiste
gevul is.

Jan Karsten ·

Ek woon tans in die VSA. Die populariteits syfers met Fiorina as 2de plek is nie waar nie. Sy het iets soos 4% op vanoggend se landswye telling. Trump met 37% Cruz 16% en Carson 17% is die naaste, ‘n hele 20 punte agter Trump. Trump se grootste voordeel en gewildheid is dat hy NIE POLITIES KORREK is nie en dit maak van hom die voorloper. Hy is ‘n besigheidsman en nie ‘n beroeps politikus nie. Trump vat die probleme in VSA raak, obama die swakste president wat VSA nog gehad het, geen grens beheer nie ens., noem maar op. Onwettiges wat die Amerikaanse publiek se geld opvreet met “welfare” waartoe hulle nie bydra nie, maar obama gee net en voer net islamiete (moslems) by die hope in. Bou sy eie moslem weermag op, onder die voorwendsel van vroue en kinders. 95% wat inkom is tussen 18-26 jarige mans. Ontwapening van Amerikaners, gelukkig is hulle nie so slapgat soos balnkes in SA wat maar net bly toegee nie. As obama burgers wil ontwapen, moet hy sy eie beskermingsmag van 26 ook ontwapen en elke boef op die strate. Ek kan nog b aie se, genoeg vir nou. TRUMP VIR PRESIDENT 2016.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.