Dood van Koningin Elizabeth II: ʼn Afrikaner-perspektief

Koningin Elizabeth II (Foto: Paul Edwards/AFP)

Die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal beskryf ʼn rojalis as “ʼn aanhanger van die monargie; koningsgesinde”. In die ure sedert die dood van koningin Elizabeth II van Brittanje sien ʼn mens op sosiale media die verskillende lofbetuigings van staatshoofde, bekendes en politici van regoor die wêreld. Brittanje is in rou en net so is daar baie rojaliste regoor die wêreld wat hartseer is.

Sonder om by die lofbetuigings by te voeg, is dit ongetwyfeld so dat koningin Elizabeth II die een konstante baken was in ʼn wêreld wat deurlopend verander. In die meeste van ons se leeftyd was sy maar net altyd daar. Dit is inderdaad die einde van ʼn era. Sy verdien die eer en respek wat tans aan haar toegedig word.

Oor haar dood en haar nalatenskap sal nog baie gesê word. Dat sy waardigheid uitgestraal het, is verseker waar en dat sy die vergestalting is van ʼn ryk tradisie wat wyd gerespekteer word, is nog meer so. Opmerklik is ook die eer en hulde op sosiale media van soveel Afrikaanse mense. In ongekende afwesigheid is die verwysing na die geskiedenis wat ons voorsate onder die Britse ryk deurgemaak het. Daarom dan die vraag. Vind Afrikaners aanklank by haar en wat sy verteenwoordig as rojaliste, of is daar iets anders?

Bes moontlik verteenwoordig koningin Elizabeth iets waarmee Afrikaners wel identifiseer en dit is respek vir tradisie. Tradisie het sy oorsprong in die Latynse wortels van die woord “tradere”, wat volgens die HAT ‘oorhandig’ beteken en dan word tradisie soos volg verklaar: “Eerstens: Die oordra van geslag aan geslag, mondelings of in geskrif, van geestelike besittings en kultuurgoedere; tweedens: Die navolging van vaste, oorgelewerde gebruike, menings, gevoelens, beginsels; en derdens: Gebruike wat binne ʼn groep oorgelewer is. Ons tradisies is te vinde in ons lewenswandel, ons geloofslewe, ons skoolstelsel, universiteite en akademie, filosofie en politiek, militêre en ons burgerlike organisasies en op vele ander terreine. Dit is dus nie verbasend om dan die Britse ooreenkomste te vind nie, wat in die meeste gevalle waarskynlik die oorsprong het in die koloniale verlede van Suid-Afrika, waaronder Afrikaners ook onderworpe was. Die Britse monargie, met al sy foute en skandale in die individue in die koninklike gesin, word nie gesien as verteenwoordigers van Afrikaners nie, maar identifiseer ons wel met die ryk tradisie en die respek waarmee dit gepaard gaan.

Ons voorsate mag van Europese afkoms wees – Frans, Hollands of Duits en Engels – maar ons identifiseer waarskynlik die sterkste met ons Engelse voorsate in ons gebruike en tradisies vandag. Rugby en krieket, spek en eiers en marmelade, so Engels as kom maar dit is deel van ons daaglikse lewenswyse. ʼn Koerantman het eenkeer in ʼn gesprek gesê dat Afrikaners waarskynlik beter is in die uitlewing van Engelse tradisies as die Engelse self.

Daar is ook ʼn ander karaktertrek wat tiperend is van Afrikaners. Die Latynse gesegde: “De mortuis nihil nisi bonum”, word vry vertaal as: “Moenie kwaad spreek van die dooies nie”. Dit kom neer op die normale en basiese ordentlikheid van respek vir die dood en eerbied vir die naastes. Die laaste maande het so ʼn bietjie van die wrewel van sosiale media gesien in die dood van verskeie bekendes, waaronder FW de Klerk.

Natuurlik was leiers van die vorige bedeling ook menslik en het hulle ook foute gehad. Onmiddellik na hulle dood, is dit egter dié gewaande foute waarin mense hulle op sosiale media verlustig het.

Afrikaners is egter meestal grootgemaak met die wete dat as jy niks goeds van iemand ten tyde van sy of haar dood kan sê nie, jy liewer moet stilbly! Dit wil egter voorkom asof daardie basiese respek oor die algemeen ontbreek in die sosiale media van alle kulture regoor die wêreld.

William Gladstone, voormalige Britse premier, het gesê: “Wys vir my die manier waarop ʼn nasie omgee vir die dood, en ek sal met wiskundige akkuraatheid die sagte genade van sy mense, hul respek vir die wette van die land en hul lojaliteit teenoor hoë ideale kan bepaal.”

Ons sal dit in die komende dae en maande sien. Dit is hierin waarin Brittanje en die res van die wêreld getoets sal word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

annie ·

Moenie vir ons dink nie. Ons sit vandag waar ons sit in die grootste skade en skande weens Brittanje se gierigheid en magsbeheptheid. Dit is nie ‘n goddelike opdrag om Britte te aanbid nie. Groot seremonies met praal en prag dien slegs om mense se oë te verblind vir die waarheid. Sulke begrafnisse word deur die Bybel afgekeur. Skotland se afskeidingshoop word nou sommer ook geteiken met hierdie onbeplande ongelukskoot.

Republikein in die Wes Kaap ·

Geleerdes noem Afrikaners se beheptheid met die Kroon die Stockholm Sindroom.

Casper ·

Goed gesê, Jan. Goed geskryf en dis die waarheid. Jy hoef nie van hulle te hou nie, maar die basiese menslike beginsels, is die maatstaf. Ja, daar was die konsentrasie kampe, dit maak nog steeds seer. ‘n Mens moet nooit jou geskiedenis vergeet nie, leer daar uit en moenie dieselfde foute maak nie. Vat jou seer en foute en word ‘n beter mens, Dit is nie vir ons om te oordeel nie. Ons weet wat die probleme van vandag is, dit help nie om dit voor die monargie te gooi nie, dis die probleem; kom ons werk saam aan die oplossing. “Thumper, die hasie in Bambi, het dit so goed gestel; If you can’t say something nice, don’t say nothing at all.”

Dries ·

Die Briite het baie skade aan die mensdom gemaak maar een ding staan soos n paal bo water
Hulle bly darem die top punt van beskawing

Anna-marie ·

Ja die konsentrasie kampe van die Engelse oorlog was baie beskaafd…..

Marthinus W ·

Daar is n paar ander redes ook vir sommige Afrikaners se positiewe houding teenoor die monargie. 1] My oupagrootjie aan moederskant was Alexander Mann, van Arbroath, in Skotland. Baie Skotte is nog steeds Jakobiete wat die Engelse in die naaste loch sal versuip, maar die Windsors het n noue band met Skotland; dis in hul bloed en geskiedenis. En daarom was my ma en ouma “fans” van die Queen en haar ma. 2] In die NG Kerk is ons geleer elke mens is gebore as n profeet, n priester, en n koning, en die Bybel is eintlik n voorstander van die monargie, as mens die woorde en taal analiseer. “Die koninkryk van God”, ens. demokrasie werk nie so lekker daar nie, en Jesus se leringe is al beskryf as kommunisme. 3] Ons kannie in die verlede leef nie, ons moet onsself vernuwe [soos die Bybel voorstel]. (Oor beskaafdheid, sou ek se dat die Russe by verre vandag die beskaafdste volk is.)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.