Dordrecht 400: ’n Mylpaal om te vier

Dordrecht in Nederland in die 1890s. Foto: Commons.wikimedia.org

Deur Ds. Frikkie Mulder

Dit wil voorkom of die onherbergsame en brutale Afrika-kontinent ook Afrikaners se wêreldbeeld en -uitkyk op die lewe so deur die eeu heen gevorm het.

Dis asof ons onnodige tierlantyntjies en frilletjies – waarvoor wyn-in-die-hand croissant-knibbelende-filosowe langs die Seinerivier in Frankryk die wêreld se tyd voor sou hê, nie so lekker aan ons mausers se lope en ossewaens se disselbome, wou hang nie. Dinge moes hier onder, waar die koeël van die Afrika-kontinent-rewolwer uitkom, so effens meer prakties en op die man af gebuig word, dat “my gesin veilig sal wees, die magies vol en die toekoms mooi”. Daarmee saam het ons ook al die ingewikkelde Nederlandse grammatiese komplikasies van “Ik ben” en ander werkwoorduitgange bo-oor die Drommedaris se rand in die Atlanties gegooi om te sink. Om nie eens te praat van soveel nuwe en mooi woorde wat ons hartsklank daar van Tafelberg se kant af al verryk en verdiep het nie: kierie, aitsa, blatjang, piesang, baie, aikôna, doedoe, ensovoorts,

Maar, dit sou histories gesproke ’n geamputeerde waarheid wees, indien dit verswyg sou word dat die groter deel van die Afrikaners se “geestesgoedere”, inderdaad uit die skure en skatkamers van Europa kom. In hierdie stuk wil ek graag oor een van daardie unieke en ryke skatkamers uitwei:

Ons plek van ontdekking en toekomsvorming – wat sonder twyfel diep gedelf is uit die verlede – word gevind aan die einde van ’n amperse burgeroorlog, en dra die tweelettergrepige naam, Dordrecht. Wat presies het in daardie Nederlandse dorpie vier eeue gelede vanaf 1618 tot 1619 gebeur?

Die gedagte is nie om in al die detail van daardie wêreldberoemde sinode in te gaan nie. Redelik min is die Westerling wat nog nie van die alombekende “5 punte van Calvinisme” gehoor het nie. Natuurlik het die sinode daar in Nederland gegaan oor die hele saak van die uitverkiesing, en oor wie die finale sê in sondaars se redding het: Is dit God se keuse van die sondaar, of is dit die sondaar se kies van God wat die eindbepaler van kindwording van die Here, en die ewige lewe vir ’n mens sou beteken?

Gaan lees gerus meer oor hierdie gebeure, wanneer die tyd hom vir so iets voordoen. Maar een absoluut deur-die-eeue pylende karakter stempelende persoonlikheidsorgaan wat in die Afrikaners se voorgeslagte daar oorgeplant is, was dat God die Een is wat besluit wat gebeur in hierdie lewe. Vandaar ook dat wanneer baie Afrikaners vandag nog intens bewus raak van God se teenwoordigheid, hulle nie die volume opstoot soos heelwat van hul Westerse beskawingsgenote oorkant die Atlantiese oseaan nie, maar dat hulle eerder diep peinsend en biddend stil word – in die teenwoordigheid van die allesomvattende en lotsbepalende God van die hemel en aarde.

Verskeie hedendaagse teoloë het al probeer om hierdie skip, waarop soveel gedoopte Afrikaners die avontuursreis van die lewe meemaak – naamlik dat God die een is wat alles omvat en die laaste sê in alles in hierdie lewe het – ’n koersverandering te laat maak. Maar dit is eeu ná eeu elke keer maar weer ’n sug van frustrasie wat daardie impromptu-intellektuele moet uitadem, as gevolg van hul mislukte poging om hierdie kardinale uitgangspunt van Afrikaners enigsins te kon herprogrammeer.

Wat die Afrikaners se Voortrekkergeskiedenis betref, is die Dordtse sinode ook belangrik, omdat dit by daardie sinode besluit is dat daar ’n vertaling uit die Hebreeuse, Aramese en Griekse tale van die Bybel gemaak moes word. Dit is die bekende Statevertaling van die Bybel wat met die Groot Trek gewoonlik voor in die wakis met ’n paar ander kosbaarhede gebêre is.

Sommige mense bespiegel dat oudpresident Paul Kruger se enigste leesstof deur sy lewe heen, die Statevertaling met kantaantekeninge was. Wie sou kon dink dat die invloed van daardie vertaling van die heilige Skrif wat nog uit die Textus Receptus (Oorgelewerde Griekse teks) gedoen is, so ’n groot invloed op die Afrikaners se volkslewe sou hê dat selfs ds. Dirk Postma (die eerste predikant en stigter van die Gereformeerde kerke in Suid-Afrika) asook CJ Langenhoven, eindelik gekant was teen die vertaling van die Bybel in Afrikaans? Tussen hakies, vir die eerste vertaling van die Bybel in Afrikaans is daar juis as gevolg van die sentiment rondom die Statevertaling, besluit om ook die Textus Receptus as grondteks vir die Bybel te gebruik.

Laastens maar nie die minste nie, het die Dordtse sinode ook die sogenaamde Dordtse kerkorde saamgestel. Hierdie kerkorde was veral gemik daarop om die kerk – in teenstelling met die pouslike afdwaling – plat te hou. Geen, maar geen hiërargie nie – Christus bo, en ons onder, onderdanig aan sy Woord alleen.

“Ja, maar ek is nie ’n lidmaat van jou kerk nie,” sê een Afrikaner vir my. Dit is nie my punt nie, want ek skryf hier om jou te nooi om saam met my hierdie ontsettende mylpaal en fondament in gelowige Afrikaners se verlede hierdie jaar te vier. Lank lewe Dordt!

“Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na.” Hebreërs 13:7.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

22 Kommentare

Melt Olckers ·

Hoeveel Afrikaners is nog Gereformeerd? Ek is glad nie, en moet byse dat ek totaal die Formuliere van Eenheid verwerp.
Die Afrikaners het in meeste gevalle totaal van koers veranderd en is glad nie meer Gereformeerd nie. Dit kom duidelik uit in Jean Oosthuizen se boek “Die Opkoms en Ondergang van die NG Kerk”.
Die siening dat die Afrikaner ooit Gereformeerd was is na my insiens die onrealistiese idiaal van die Broeders en het nooit werklik die Afrikaner se godsdienstige opvattings weerspieel nie.

Frikkie Mulder ·

Beste Melt Olckers, jy mag dit interessant vind dat die Afrikaners een van die enigste volkere ter wêreld is, wiese voorouers éérs gereformeerd was, en toe eers daarná as volk “tot stand gekom” het. Vriendelike groete Frikkie Mulder.

Andre du Plessis ·

Dit is vir my regtig ‘n hartseer saak maar ek sal altyd gereformeerd bly….hartseer omdat valse profete soveel valse inligting verkondig. Om gereformeerd te wees beteken nie ek moet formalisties en met oogklappe deur die lewe gaan nie. Ons bly sondige mense en ons het verstand om gesond na veranderinge te kyk en dan met ons geloof hierdie veranderinge te evalueer en die goeie te behou. Dit beteken nie ek moet blindweg met alle sieninge saamgaan nie. Wat vir my ‘n riem onder die hart is, is dat boeke soos “Ek kies steeds die kerk” van Neels Jackson vir baie van ons kerkmense, die “ander sy van denke” opskerp. Sodoende kan verskille dan met liefde bespreek, ge-evalueer en aanvaar of afgekeur word sonder haat teenoor mekaar. Vir my gaan dit nie soseer oor afrikaners nie maar oor almal. Daar is afrikaners steeds met vaste geloof, soos my hugenote voorouers, so ook ander nasies en groepe en sal altyd daar wees. So sal daar ook altyd “broeders” wees wat christene subtiel om die bos wil lei, onder ‘n soortgename “christen” voorgee…… ‘n Soortgename “christen” wat reken my GOD is nutteloos, is nie ‘n ware Christen nie maar ‘n gesant van satan…….

Frikkie Mulder ·

Beste Andre du Plessis,
Dis so mooi om te lees dat jy sê: “…ek sal altyd gereformeerd bly…” Jy verwys ook na jou “Hugenote voorouers” – die du Plessis’. My artikel is veral ‘n poging om ons historiese bewussyn te verdiep en of op te skerp. Wat dít betref plaas ek hier vir jou ‘n skakel na die oorspronklike Franse Hugenote se belydenis:

https://www.ccel.org/ccel/schaff/creeds3.iv.vii.html

Vriendelike groete Frikkie Mulder.

Jerry ·

Die tyd waarin ons lewe het verander en daarmee saam die sienings oor lewe en die kerk. Die kerk moet saam verander na gelang van die mens se vernuwing, behoeftes en herlewing terwyl die boodskap nie mag verander nie. Dit is geen maklike taak nie, want daarvoor het die kerk sterk leiers nodig, iets wat vir te lank al agter wee gelaat was terwyl ander invloede sterker na vore getree het. Die aanslag vanuit charismatiese kerkgroepe en sogenaamde profete het te veel en te vinnig op mense neergedaal en hulle totaal en al oorrompel. Dit gese, sal ek as gelowige Afrikaner die Dortrecht 400 mylpaal saam met jou vier.

Frikkie Mulder ·

Goeiemiddag Jerry. Ek is bly om te hoor dat jy sáám met my hierdie en volgende jaar se 400-jarige herdenking van die Dordtse sinode, vier. Jy sê dat die boodskap “nie mag verander nie”. Dit is presíés waarom ek as gereformeerde christen Dordt herdenk, ómdat die waarheid nie verander nie. Vriendelike groete Frikkie Mulder.

Frikkie Mulder ·

Beste Andre du Plessis,
Dis so mooi om te lees dat jy sê: “…ek sal altyd gereformeerd bly…” Jy verwys ook na jou “Hugenote voorouers” – die du Plessis’. My artikel is veral ‘n poging om ons historiese bewussyn te verdiep en of op te skerp. Wat dít betref plaas ek hier vir jou ‘n skakel na die oorspronklike Franse Hugenote se belydenis:

https://www.ccel.org/ccel/schaff/creeds3.iv.vii.html

Vriendelike groete Frikkie Mulder.

Charles ·

Baie dankie vir die interessante en toeligtende artikel!

Frikkie Mulder ·

Ek is bly jy het dit leersaam gevind Charles. Vriendelike groete Frikkie Mulder.

Francois Mulder ·

Skitterende artikel. ‘n Sterk historiese bewussyn asook nederigheid om nié te dink ons eeu het gearriveer en dat almal 400 jaar gelede onnosel was (sonder ons tegnologie en wetenskap) nie, is ONONTBEERLIK vir ‘n dapper vorentoe-leef!

Werner Brotherton ·

Wat ook so mooi is van die Statevertaling, is dat die kinders destyds leer lees het uit hierdie Bybel. Hoe wonderlik sou dit wees as dit vandag nog so was by die skole? Ja, die ouers het dalk die kinders onderrig met die Groot Trek, tog sou dit mooi wees om te weet my kind leer op skool lees uit die Bybel. (Hier in Vryheid het ons ook ‘n herdenking gehad oor die Dordtse Sinode. Baie mooi geskiedenis)

Therese van Schalkwyk ·

Baie dankie vir hierdie pragtige stuk!
Alles waaroor ds. Mulder hier skryf, het aan Afrikaners, waar hulle hul ookal bevind in die wêreld, ‘n trotse fondament gegee wat vir niks ter wêreld terugstaan nie.

Onlangs die voorreg gehad om Dordrecht te besoek en tot heel bo in die pragtige kerktoring te klim. Taamlik benoud op die smaller as smal kliptrappe en groot verligting om die buitelug in te asem doer bo die stadjie. Die geskiedenis en karakter in daardie imposante gebou is onbeskryflik.

Frikkie Mulder ·

Beste Therese, jy skryf “Onlangs die voorreg gehad om Dordrecht te besoek…” Inderdaad ‘n voorreg, sou ek sê. Die skrywer van hierdie stuk (In Frans: moi), wat hier so “spog” met dáárdie sinode was nog nooit (maar nooit), in die gelyknamige dorp in Nederland nie. Die punt? Gelukkige jy! Vriendelike groete Frikkie Mulder.

Stephan de S ·

Daar is veel opregtheid in die stuk.
Tog klink die skrywer soos n kind wat in Mercedesse groot geword het, as volwassene ook net Mercedes gery het maar nooit die moeite gedoen het om ook Audi s en BMW s te beproef en nou te verklaar: daars net een motor met gehalte, gerief en veral betroubaarheid.
Teologie is nie voertuig nie, die Here self kom daardie eer toe.

Frikkie Mulder ·

Beste Stephan de S,
Ek neem ook jóú opmerking oor my Mercedes ryery van kleins af, as opreg bedoel op. Ek moet jou egter korrigeer deur jou te vertel, dat die Mercedesse en Audi’s en BMW’s waarin ek deur my lewe wel vir tye gery het, nooit kon vergelyk met Elia se vurige koets waarby my soektog uiteindelik toe geëindig het nie – dit is as mens dinge so mag stel. Dit was veral die betroubaarheid, en die gehalte daarvan wat my totaal en al platgeslaan en oorweldig het. Dalk nie heeltemal die gerieflikheid daarvan nie, as jy volg wat ek sê. Jy skryf: “Teologie is nie voertuig nie, die Here self kom daardie eer toe.” Maar die teologie van die Heilige Skrif Stephan, is juis daarop gerig om aan God alléén die eer te laat toe kom. SOLI DEO GLORIA. Vriendelike groete Frikkie Mulder.

Stephan de S ·

Teologie is n menslike uittreksel uit die Skrif. Maar die Vader is kenbaar deur Jesus Christus sonder teologie….dink aan miljoene ongeletterde gelowiges,die vroeë gemeentes deur apostels gestig toe daar nog geen Skrif was nie. Daarby het duisende mense vandag n ewige vebintenis met die Vader sonder enige teologiese konstruksie. Kyk gerus n slag buite u kleinerwordende wêreld, verwysende na die gereformeerde wêreld .

Frikkie Mulder ·

Beste Sephan de S. jy skryf: “…die Vader is kenbaar deur Jesus Christus sonder teologie…” Dat die Vader kenbaar is deur Jesus Christus, is 100% die waarheid. Maar dat Hy kenbaar is sónder die teologie – dus in en deur die natuur of Gees alléén, is ‘n onmoontlikheid. Want ons álmal weet dát daar ‘n God is, maar wie is Hy? Jy praat van die Vader, en Jesus Christus, en dit is rééds teologie – (Theos = God) + (Logos = studie van). Teologie = Die studie van God. Wie is hierdie “Vader”? Sommiges in ons land wat mense van kleur haat, verwys na God net as “Vader”. Is dit ook Hy wat ons aanbid? Party mense glo nie dat Jesus God is nie, maar is dit wie Jesus Christus regtig is? Teologie is dus vir énige ware christen onafwendbaar, want ons geloof in wat God geopenbaar het, het ínhoud. Amper al jóú woorde Stephan, is ‘n “teologiese konstruksie” wat sê “Weg van die Skrif af”. Onthou verder dat die vroeë kerk wel die Tanakh of “Moses en die profete” gehad het. Dit was dus geensins ‘n “tyd toe daar geen Skrif was”, soos jy skryf nie. Jou laaste sin, laat my vermoed dat jy nie my vorige skrywe aan jou verstaan het nie. Die populariteit of onpopulariteit van énige teologie – of dit nou Rooms of dalk Charismaties is, is nie wat waarheid bepaal nie. Die vraag bly eerder: Wat sê God? Daarom Dordt. Vriendelike groete, Frikkie Mulder.

johannes ·

Baie dankie vir die herinnering aan die 400-jarige herdenking.
Om Gereformeerd te wees beteken ‘semper reformanda” — altyd reformerend.
NIE verander en pas aan by die tydsgees en behoeftes van jou tydgenote, weg van Gods Woord af NIE (of erger, verander God se Woord ook in die proses NIE).
Maar: TERUG na die eenvoudige, onfeilbare Waarheid van Gods Woord.
Om Gereformeerd te wees beteken moeilikheid, want die wereld het nie gereformeerdes lief nie… dis vir hulle te ongemaklik om gedurig weer aan die Waarheid herinner te word. Maar hou moed, as ons swak is, is ons sterk (2 Korinth.12:10).
Paulus skryf aan Timoteus:
“Watter vervolginge het ek nie al verdra nie! En die Here het my uit almal verlos. 
En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word. 
Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word. 
Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, 
en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. 
Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 
sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus. 
2 Tim.3:11-17

Ivan Faught ·

Want vanuit jul eie vooroordeel eien jul julself die reg toe, om deur jul rigiede “geloof”, nie uit rede nie, maar uit jul eie selfsugtigheid, julself voor te doen as die GOD in jul kop se werke, sodat jul kan bly roem, dat jul imaginary friend bo alles moet voorkeur kry, terwyl jul julself hoër ag as almal wat durf nie met jul eng “dordtse” leerreëls of heidelbergste kategismus saamstem nie.

Watter maaksel is ooit geskape? Jul Christus Jesus wat jul so voorhou, gebruik jul om julself te verhef en om hom te verhef tot ‘n soort super man. Jul super GOD. Sodat jul kan bly wandel in jul eie vooroordeel wat jul so mildelik bly saai.

Bring jul ‘n beter wêreld daar of jaag jul jul eie selfsug na ten koste van almal rondom jul?

Staak jul vooroordeel dan sal julself voldoen aan jul eie Matt 23:23,

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.