Dr. Amai Mugabe en ander ‘kamerade’

Grace Mugabe. Foto: (Xinhua/Stringer) (zxj)

Sy staan bekend as doktor Amai – dis nou Grace Mugabe, vrou van die Zimbabwiese diktator, pres. Robert Mugabe. Amai, in die plaaslike Shona-taal, beteken moeder. “Moeder” Mugabe het die twyfelagtige eer dat ʼn doktorsgraad aan haar toegeken is in 2014 – deur haar man, wat ook die kanselier van die Universiteit van Zimbabwe is – ná net twee maande “studie” aan die universiteit.

Grace Mugabe ʼn verleentheid

Afgesien daarvan dat dr. Amai skandes gemaak het vroeër vandeesmaand in Suid-Afrika (sy het ʼn Suid-Afrikaanse model wat blykbaar te veel by haar seuns aangelê het in ʼn hotel met ʼn verlengingskoord se elektriese prop aangerand), is sy reeds lank ʼn kontroversiële figuur in Zimbabwe. Sy is bekend vir haar inkopie-uitstappies in die buiteland, en dit word vertel dat sy so ʼn paar jaar terug in Parys se boetieks $120 000 in ʼn enkele dag bestee het. Sy het ook ʼn Britse joernalis in 2009 in Hongkong aangerand wat foto’s van haar inkopie-waansin wou neem. Soos hier in Suid-Afrika, het sy daarna diplomatieke immuniteit ontvang van haar gasheer en daar het niks van gekom nie.

Dr. Amai het ook naam gemaak as een van Zimbabwe se “nuwe” boere – haar melkery, Alpha Omega Dairy, is een van die grootstes in Zimbabwe. Sy het die plase waarop die melkbeeste aangehou word, persoonlik “uitgesoek” nadat sy in 2002 ses pragplase net noord van Harare (tesame ongeveer 6 000 ha) van voormalige wit Zimbabwiërs eenvoudig “oorgeneem” het. In nog ʼn voorval het pres. Mugabe in 2015 sy weermaghoof afgedank – blykbaar omdat dié na mev. Mugabe se agterstewe geloer het tydens ʼn amptelike funksie!

Tog word dr. Amai as ʼn ernstige aanspraakmaker beskou om eendag by haar man as president oor te neem. Sy is tans lid van die regerende ZANU-PF se Politburo, as leier van die party se Vroueliga. Heelwat kenners beskou haar in elk geval as die poppemeester wat die erg bejaarde president (hy is 93) “bestuur”. Hoe dit ook al sy, groot sports wag tussen dr. Amai en ander ZANU-PF-swaargewigte as Mugabe wel eendag lepel in die dak steek.

Diplomatieke immuniteit

Maar terug by Grace Mugabe se diplomatieke immuniteit, wat vinnig ná die voorval in die Johannesburgse hotel deur die SA minister van internasionale betrekkinge, Maite Nkoana-Mashabane, aan die uwe toegeken is as gade van pres. Mugabe, wat die beraad van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) in Pretoria bygewoon het. Uiteraard sal besoekende presidente vanselfsprekend kwytgeskeld word van vervolging indien hulle gedurende ʼn besoek hulle skuldig maak aan ʼn misdaad. Wat wel wollerig is, is of hul gades ook hierdie eer te beurt val.

Gewoonlik word diplomatieke immuniteit verleen aan buitelandse diplomate en hul gesinne wat die land in die gasheerland dien. Indien sulke diplomate hulle wel skuldig maak aan ʼn misdaad, kan hul eie land wel hul diplomatieke immuniteit ter beurt verklaar, wat beteken die diplomaat kan dan aangekla word van die misdaad.

Wat Grace Mugabe se verlening van immuniteit egter vererger, is die feit dat sy immuniteit verkry het ná sy die beweerde misdaad gepleeg het. As sulks is opposisiepartye en ander in Suid-Afrika tereg ongelukkig oor die status wat sy toegeken is. Nkoana-Mashabane het egter aangedui dat sy die immuniteit toegeken het omdat ʼn inhegtenisneming/aanklag enersyds Suid-Afrika in die verleentheid kon bring tydens die aanbieding van die SAOG-beraad. Andersyds kon dit Suid-Afrika-Zimbabwe-betrekkinge skade berokken.

Hier gaan dit oor handelsbetrekkinge. Dat handel tussen Suid-Afrika en Zimbabwe wel van belang is, is waar. Ons kan ook verwag dat pres. Mugabe, teen alle nugtere denke in, geen probleem sal hê om byvoorbeeld alle SA produkte uit Zim te verban nie. Soortgelyke onsinnige besluite wat Zimbabwe ernstige skade berokken, word gereeld deur hom geneem. Wedersydse handel tussen dié twee lande beloop tientalle miljarde rande.

Natuurlik het Zimbabwe feitlik geen ander keuse as om SA produkte in te voer nie. Dis ironies dat buurlande, selfs tydens die bewind van die apartheidsregering, meestal SA produkte aangekoop het ondanks boikotte teen Suid-Afrika. Zimbabwe het beperkte industriële vermoëns om sy eie voedselprodukte te produseer. Soos menige Suid-Afrikaners weet wat al buurlande en ander Afrikalande suid van die ewenaar besoek het, is winkels of markte gewoonlik volgestop met SA produkte. Plaaslike industrieë is gewoon óf te klein, óf lewer produkte van swak gehalte.

Handel en die SAOG

Suid-Afrika bly maar die groot boetie in die SAOG, die streekorganisasie wat politieke en ekonomiese integrasie in Suider-Afrika bevorder. Die organisasie, wat uit 15 lidlande bestaan, sluit ook lande in verder as Suider-Afrika, soos die eilandstaatjies Mauritius en die Seychelle-eilandgroep, asook die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK). Handel tussen die SAOG-lande is natuurlik vir sowel Suid-Afrika as die buurlande onontbeerlik, maar soos enige Suid-Afrikaner wat al graag in- of uitvoer na SAOG-lande onderneem of probeer onderneem het, weet: Dit is ʼn tydsame proses vol rompslomp. Goedere word soms vir dae of weke by grensposte opgehou. Van vrye handel is daar (nog) nie veel sprake nie.

Polities is dit vir Suid-Afrika belangrik dat lidlande in die SAOG-gebied nie in konflik verval nie. Ons het al gesien dat enige konflik gewoonlik tot ʼn toestroming van burgers van die onstabiele land na buurlande en/of Suid-Afrika lei. Die eertydse burgeroorlog in Mosambiek en die politieke onstabiliteit in Zimbabwe het al tot miljoene mense se toestroming na Suid-Afrika gelei.

Die ongenooide toestroming deur burgers van SAOG-lande word moontlik gemaak deur enersyds ʼn gebrek aan politieke wil deur die SA regering om grense te beskerm teen onwettige binnestroming, en andersyds die feit dat SAOG-burgers nie visums nodig het om mekaar se lande te besoek nie. Die besoekers bly dan eenvoudig in Suid-Afrika agter.

Polities is die SAOG maar swak en probeer eerder interne konflik deur konsensus en onderhandeling verhoed. Tans is ʼn groot bekommernis vir die SAOG die kruipende onstabiliteit in die DRK. Dié land moes reeds in 2016 presidensiële verkiesings gehou het, maar pres. Joseph Kabila wil duidelik nie mag prysgee nie en probeer om verkiesings verder uit te stel. Dis net ʼn kwessie van tyd voordat grootskaalse geweld weer in die DRK uitbreek – met vlugtelingkrisisse wat die res van die SAOG-lande in die gesig staar.

“Bevrydingsbewegings” en kamerade

Die SAOG bestaan ook grootliks uit regerings deur voormalige “bevrydingsbewegings”. In watter mate demokrasie werklik bestaan in baie van hierdie state is betwisbaar. Meestal is dit vir die opposisie onmoontlik om deur verkiesings mag oor te neem, enersyds weens regerende partye se beheer van propaganda en andersyds eenvoudig deur verkiesings te manipuleer. Dit is ook noodsaaklik om daarop te let dat hierdie bevrydingsbewegings deur kommunisme aangevuur was en hulle daarom in die meeste gevalle nog (in elk geval teoreties) sosialisties-kommunisties is. Dit sluit in die MPLA in Angola (in beheer sedert 1975), die CCM in Tanzanië (sedert 1964), Frelimo in Mosambiek (sedert 1975), ZANU-PF in Zimbabwe (sedert 1980), Swapo in Namibië (sedert 1990) en die ANC in Suid-Afrika (sedert 1994). Hoewel die lang regeringstydperke in normale omstandighede sekerlik stabiliteit kon bevorder, word korrupsie en magshebsug net groter hoe langer hulle in beheer is. Dit is dus moeilik vir lidstate om hul “kamerade” in ander lande te kritiseer of optrede teen hulle voor te stel.

Terloops, in ander SAOG-lande wat nie gewapende bevrydingsbewegings gehad het nie, word regerings wel gereeld uitgestem. Voorbeelde is Zambië, Malawi, Mauritius en Lesotho. Ironies genoeg het verkiesings in hierdie lande nie noodwendig voordele nie. Die nuwe regerings- of staatshoofde verskil nie veel van hul voorgangers nie en nepotisme, swak regering en korrupsie skiet weer vinnig wortel.

Hoewel Suid-Afrika die sterkste ekonomie van die SAOG-lande het, is daar beslis onderlinge ongemak met Suid-Afrika se houding as “Big Brother” teenoor baie van hierdie state. So het die ANC-regering ná 1994 begin voorskryf aan ander SAOG-lande, maar gou agtergekom dat ander Afrikalande nie van politieke inmenging in hul huishoudelike sake hou nie. Suid-Afrika en Angola sit al vir baie jare hieroor vas nadat oudpresidente Mandela en Mbeki polities daar wou inmeng. Botswana het Suid-Afrika gekritiseer vir sy lakse houding teenoor ʼn diktator soos Mugabe; Madagaskar was nie lus vir SA inmenging in sy sake nie; en Lesotho en Swaziland is gereeld knorrig oor SA inmenging. Zimbabwe het oppervlakkig goeie verhoudinge met Suid-Afrika, maar Mugabe se vergrype het al tot heelwat spanning gelei.

Daar is dus weinig sprake van eenstemmigheid in die SAOG oor politieke en ekonomiese integrasie. Die uiteinde hiervan is uiteraard dat miljoene burgers van SAOG-lande hier by ons ʼn heenkome kom soek. ʼn Mens kan hulle natuurlik nie kwalik neem nie, want die ellende en armoede in sommige van hierdie lande is ongelooflik. Natuurlik kan Suid-Afrika dit nie bekostig om die hele SAOG-bevolking (tans sowat 233 miljoen mense) te huisves nie. Dit geld ook vir ander Afrikane wat instroom. Een van die presidensiële gesalfdes van die ANC, Nkosazana Dlamini-Zuma, het reeds geluide gemaak dat visums vir alle Afrikane afgeskaf moet word – en mag net die daad by die woord voeg as sy moontlik die nuwe president word.

Ondanks die opposisiepartye se teenreaksie sal Suid-Afrika dus maar dr. Amai Mugabe en haar bedorwe seuns se manewales moet sluk – in die belang van solidariteit met die “kamerade” van die bevrydingsbewegings en hul massas “ekonomiese vlugtelinge”.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

John ·

En dan is die Zuma’s en die Mugabe’s ook nog familie… Baie gerieflik. Samewerking in die apartheidsera maak van Zuma en Mogabe verder ook ware bloedbroers… en so van bloed gepraat.. die immer gewilde bloed-diamante… wat baie harder as voorvadergeeste kan praat en klingel as ‘n paar rande in ‘n arm Zoeloe-beeswagtertjje se agtersak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.