Dr. HF Verwoerd: Rots wat geen korrupsie sou duld

dr-hf-verwoerd

Dr. HF Verwoerd. Foto: Wikiwand.com

Deur Dr. Daan Verwoerd

As seun van ʼn bekende, en soms omstrede, openbare figuur word ek soms gevra: Hoe was jou pa as méns, hoe het julle kinders hom in familieverband beleef? Soms meer direk: Was hy werklik so ʼn dogmatiese “man van graniet”soos in die media voorgestel?

My antwoord is nee, hy was in werklikheid ʼn baie toeganklike maar terselfdertyd beginselvaste persoon met ʼn besondere vermoë om leiding te neem deur goed deurdagte beredeneerde debatsvoering. Hy was ʼn ware visioenêr met ʼn besondere visie vir die toekoms van Suid-Afrika as veelvolkige land waar elke volksgroep dieselfde mate van vryheid en selfbeskikking in ʼn eie gebied sou hê sonder dat enige groep ʼn ander sou oorheers. Hy was oortuig daarvan dat dit die enigste manier sou wees om ons geskiedkundige probleme van onderlinge stryd en uitbuiting op te los en het elke geleentheid gebruik om hierdie ideaal te verkondig.

Hy was egter nie net ʼn dromer nie en het die vermoë gehad om sy visie in praktiese stappe te omskep, soms teen groot teenkanting in. Het hy as vader hierdie sienings op sy kinders afgedwing? Mense is gewoonlik verbaas as ek sê dat ons selde tuis politiek gepraat het. My vader het sterk standpunt ingeneem dat ons as kinders ons eie pad moes vind, selfstandig oortuigings moes vorm. Hy was egter altyd beskikbaar om vrae te beantwoord, standpunte te verdedig en selfs te argumenteer.

As vader was hy streng, maar altyd regverdig wanneer ons foute gemaak het, dog steeds onkreukbaar waar beginsels betrokke was. Dit word goed geïllustreer deur ʼn voorval waarby ek betrokke geraak het as jong student aan die UP.

Ek was redelik betrokke by studentepolitiek en in ʼn stadium voorsitter van die UP se Afrikaanse Studentebondtak. Ons kry toe eendag ʼn brief uit die VSA van ʼn student wat sê dat hy belangstel in ons politiek en beplan om ’n besoek aan Suid-Afrika te bring en om verskillende groepe te besoek en hulle standpunte te ondersoek.

Ons beskou dit toe as ʼn gulde geleentheid om ons land te verdedig, nooi hom selfs uit om ʼn paar dae in Sonop, die koshuis waar ek toe ingewoon het, deur te bring. ʼn Paar maande later daag hy op, word met gasvryheid ontvang en rondgeneem, maar stel ons teleur deur ʼn gebrek aan werklike belangstelling en laat ook niks verder van hom hoor nie.

Enkele weke later kry ek ʼn oproep dat ek dringend my vader moet kom sien. Daar hoor ek toe dat die veiligheidspolisie besig is om ʼn saak teen my te ondersoek. Dit blyk toe dat hulle die “vriend” van my op die grens van Botswana betrap het met ʼn gesoekte ANC-aktivis in die kattebak van sy motor, blykbaar nie die eerste keer dat hy iemand oor die grens gesmokkel het nie. Hulle vind toe ook by hom my uitnodigingsbrief wat hy gebruik het om ʼn visum te bekom – alles mooi beplan.

My vader was natuurlik baie ontsteld en die eerste ding wat hy vir my gesê het, was, ek moet mooi verstaan, as ek skuldig is, sal hy nie ʼn vinger verroer om my te help nie en dan sal ek my straf moet uitdien.

Ek moes ʼn verklaring gaan aflê by die veiligheidspolisie en dit verdedig by die minister van buitelandse sake. Gelukkig het almal my verduideliking aanvaar. Eers later het ek verneem dat die Amerikaner ʼn bekende linkse aktivis was en dat die polisie reeds voorheen op sy spoor was.

Vir my was dit ʼn belangrike les om mense nie blindweg te vertrou nie. Belangriker egter, was dit ʼn bevestiging van my vader se onkreukbare veroordeling van enige vorm van korrupsie of bevoordeling.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

40 Kommentare

jongste oudste gewildste
Spook

Dr Vervoerd was seker ( verseker)die beste leier wat die wereld ooit gahad het. Hy het al die probleme wat ons nou het daai jare al raak gesien en wou dit nie laat gebeur nie.As hy nie vermoor was nie sou dinge baie anders gewees het nou,ons sou seker een van die groot wereld magte gewees het wat net sou vooruit streef!

Oupa

Ek wonder of daar óóit weer ‘n leier van Dr Verwoerd se formaat iewers op die aarde sal opstaan. Ons word egter verswelg deur vals profete met vroom beloftes wat die massas met rook en spieëls mislei. En die massas is vas aan die slaap…

JC

Vir almal wat wil luister: ONS AFRIKANERS IS NIE MEER SKAAM VIR ONS VERLEDE NIE. ONS HET GENOEG DAARVAN GEHAD! WAAROM MOES ONS in die eerste plek SKAAM WEES? ONS IS IMMERS DIE GEHARDSTE, VINDINGRYKSTE, VERGEWENDSGESINDE, WYSTE, SLIMSTE EN INNOVERENDSTE VOLK OP AARDE! DAAR IS GEEN GEBREK AAN VOORBEELDE NIE: DR VERWOERD, DR CHRIS BARNARD, DR JAKOB VAN ZYL VAN NASA, AFRIFORUM, AFRIFORUM JEUG, AKADEMIA, AROS EN AL ONS AFRIKAANSE KULTUURINSTELLINGS EN SO KAN EK AANGAAN. GEEN VOLK HET AL DEURGEMAAK WAT ONS MOES EN DAARUIT LEWEND GEKOM EN SOVEEL EN MEER BEHAAL NIE! ONS IS MOEG VIR DIE BESKULDIGINGS,… Lees meer »

Mariana Page

Hy was ‘n man van integriteit. Hy het eenvoudig onmiddellik vertroue ingeboesem. Iemand wie mens kon glo as waarlik eg en eerlik.

Hannes Coetzee

Was Hendrik Verwoerd nie vermoor nie, sou almal in SA (swart en wit) beter af gewees het as nou. Huidiglik is korrupsie in die staat ens. nr1 en hulle sal nie verander nie. Die wêreld het n uitstaande leier verloor.