Drie hoera’s vir Brexit!

Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

Die laaste paar dae se nuus en ontleding is totaal deur Brexit oorheers en met goeie reg. Selfs in Suid-Afrika kan ons eie naeltjiestaar-ontleders en -joernaliste nie uitgepraat raak daaroor nie. Ongelukkig het die “chattering classes” baie geskryf en gepraat, Brexit gekritiseer, min gebalanseerde ontleding aangebied en dan bloot volstaan met “ons weet nie wat gaan gebeur nie”.

Nou ja, daar lê wel ’n klomp onsekerheid voor en dis hoekom die markte en die Europese Unie (EU) aanvanklik negatief gereageer het toe die “verlaat”-veldtog met 52% teenoor die “aanbly”-veldtog se 48% gewen het. Dit is dalk ’n punt wat die aanblyers nie volkome begryp nie: Die meerderheid van die kiesers in Brittanje wil nie meer deel van die EU wees nie. Hulle is siek en sat vir hulle voorskriftelikheid, hooghandigheid en inmenging. En per slot van sake berus die keuse by húlle en nie by hul establishment-heersers nie.

Die idee van die EU het aanvanklik ’n realiteit begin word met Winston Churchill se konsep van ’n verenigde state van Europa in die nadraai van die bloedvergieting en verwoesting van die Tweede Wêreldoorlog. Maar Churchill se idee in 1946 was dat Brittanje eers nie deel van so ’n liggaam sou wees nie en hy het ook ’n meer behoedsame “uniale” benadering gevolg deurdat hy dit as bloot ’n konsulterende organisasie beskou het. Dit het teenoor die meer “federale” benadering van die Europese vasteland gestaan. Laasgenoemde opsie het volledige integrasie en ’n grondwet voorgestaan en dié kamp het by die Kongres van Europa geseëvier.

Baie mense probeer nou Churchill se naam aan die EU van vandag koppel om geldigheid aan dié supranasionale liggaam se bestaan te heg. Maar Churchill sou glad nie tevrede gewees het met dít wat die hedendaagse EU geword het nie. Reeds in 1930 het hy homself soos volg oor Brittanje se rol in só ’n rangskikking uitgelaat: “We see nothing but good and hope in a richer, freer, more contented European commonality. But we have our own dream and our own task. We are with Europe, but not of it. We are linked but not compromised. We are interested and associated but not absorbed.”

Die EU was aanvanklik veronderstel om die vrede tussen Europese state te bewaar en terselfdertyd hul soewereiniteit te respekteer. Maar die konsep van ’n “ever closer union” het eintlik teen die politieke en ekonomiese neigings op die vasteland oor die laaste 50 jaar – en veral sedert die val van Kommunisme – ingedruis. Terwyl Europese state en eintlik die hele Weste al hoe meer outonomie en selfstandigheid aan hul gemeenskappe en streke begin toestaan het, het die EU juis begin om toenemend te sentraliseer. Ek was en is nog steeds nie ten gunste van Skotse onafhanklikheid nie omdat ek dink die Verenigde Koninkryk en veral Skotland beter af saam met mekaar is. Skotland sou die groot verloorder wees indien dit sou afstig en dit het buitendien vandag, danksy vorige afwentelinge van politieke magte, amper soveel selfseggenskap oor hul belangrikste sake dat hulle net sowel ’n aparte land kon wees – minus natuurlik al die enorme en onnodige uitgawes soos ambassades en meer staatsamptenare wat saam met totale onafhanklikheid gaan. Skotland, Noord-Ierland, Vlaandere, die Switserse kantons en die Baskiese streek in Spanje is maar net sommige van die voorbeelde van streke wat heelwat groter outonomie oor die laaste twee dekades binne bestaande state verwerf het. Skotland is selfs ’n referendum in 2014 oor hul staatskap toegestaan deur die Britse regering en dit is eintlik maklik verslaan.

Maar intussen het die EU voortgestoom om vir homself magte toe te eien en sy lidstate se unieke karakter en soewereiniteit af te takel. Enigiets van lidstate se handelsbetrekkinge met die wêreld en die res van die EU asook immigrasie, tot meer alledaagse goed soos die dikte van die glas en die prys van melk wat ingevoer mag word, word deur die EU se burokrate vanuit Brussel gemikrobestuur deur middel van duisende bladsye se troebele regulasies. Dit maak die klein- en mediumgrootte ondernemings ontsaglik seer en verhoed dat lande hul sakesektore en buitelandse beleggers iets beter kan bied. Die groot Britse ondernemings en sake-elite, wat grootliks ten gunste was om aan te bly in die EU, kan groot hoeveelhede geld aan duur regslui afstaan om die regulasies óf te omseil, óf selfs deur beïnvloeding wetgewing in hul guns te kantel. Maar die kleiner ondernemings, wat die lewensbloed van enige land is, kan dit nie bekostig nie en staan amper weerloos teen die EU-burokrasie. Dis hierdie mense wat die EU die rug toegekeer het toe hulle die kans gehad het en die EU het net homself te verkwalik.

Brittanje as een van die EU se invloedrykste lidlande het disproporsioneel baie tot die EU-burokrasie bygedra ten opsigte van ledegelde en bybelastings. Die EU gaan nou daardie geld verloor. Die Britse premier David Cameron was voor sy premierskap en die eerste paar jaar in die tuig baie Euroskepties en het solank voorbrand vir die land se wegstap begin maak. Maar hy het ook mettertyd deel van die regerende, status quo-liewende elite geword en die laaste twee jaar of so ten gunste van aanbly in ’n hervormde EU begin raak. Helaas was die voordele van hierdie hervorming geensins duidelik nie en die gewone mense, ten spyte van ’n hewige media-aanslag om vir “aanbly” te stem, het tereg begin glo die EU kan nie meer hervorm word nie.

Wat betref die waarskuwing dat Skotland en Noord-Ierland nou skielik die hasepad gaan kies uit die Verenigde Koninkryk, kan ek net sê dat dit absurd en op niks meer as blote bespiegeling gegrond is. Net omdat Nicola Sturgeon as die eerste minister van Skotland nog ’n referendum oor Skotse onafhanklikheid wil laat afkondig, beteken geensins dat dit gaan gebeur of dat daar selfs in Skotland weer aptyt vir so iets is nie. Meeste mense in Noord-Ierland wil onteenseglik deel van die VK bly en daar is geen skeidingsdrang daar te bespeur nie. Cameron se opvolger, dalk die verlaat-gesinde Boris Johnson, gaan buitendien nie Skotse onafhanklikheid ’n groot politieke prioriteit maak nie.

Die EU dreig nou ook om Brittanje te straf vir hierdie besluit. Enige organisasie, wat natuurlik sy eie gevestigde belange najaag en wat op dwang en dreigemente staatmaak om lidmaatskap te verseker, is myns insiens nie die moeite werd om in aan te bly nie. Brittanje, die propaganda ten spyt, het nie Europa vaarwel geroep of die vasteland die rug toegekeer nie. Hulle bly deel van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) – wat die werklike vergestalting van ’n vreedsame Europa en gemeenskaplike beveiliging is – en Europa is reeds op ’n stewige politieke, ekonomiese en intellektuele fondament en waardestelsels geskoei. Dit gaan nie verander nie.

Die onstuimigheid gaan weldra oorwaai, Londen gaan steeds die finansiële hoofstad van die wêreld bly, Brittanje bly ’n uiters invloedryke land met wie almal wil handel dryf en gaan nou sy eie (beter) sakereëls maak wat beter is as die benouende regulering deur die EU – en daarmee saam gedy in die proses. Brittanje het al die wêreld oorheers, bestaan al vir eeue en is die vyfde grootste ekonomie op aarde. Dit is slegs deel van die EU vir die laaste 43 jaar en die EU het Brittanje nodig, nes dit Amerika, Rusland en China nodig het. Ek weet dit sal oorleef en die aanvanklike teenwinde trotseer om die “groot” in Groot Brittanje terug te sit. Hierdie is ’n belangrike slag vir die gewone mense en vryheid en dis die EU wat nou sy hande moet begin wring.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

Elizabeth ·

Dankie vir die positiewe blik op die Brexit. Dis presies hoe ek dit ook sien en ek glo die res van Europa is kort op Britanje se hakke… die EU het my baie aan die Toring van Babel laat dink

Thuunda ·

Baie goed gestel en ‘n verligting om te hoor daar is mense wat nie in die histerie van die “establishment” soos George Soros en sy voetsoldate glo nie.

Cilliers ·

Uitstekend beredeneer, gebaseer en geskryf. Dankie aan beide die skrywer en aan Maroela Media vir die plasing – ek hoop ons sien heelwat meer van Eugene!

Bangapies ·

Die massas was deur die simpelste argumente bang probeer praat, die grootste nadele wan Brexit was dat handelsooreenkomste nou nuut onderhandel sal moet word. Wat n swak rede vir binne EU bly… handelsbande kan enige tyd en eintlik baie maklik onderhandel word, dis bloot net ooreenkomste tussen mense en mense doen dit nog al die eeue. Dit word so kompleks voorgedoen deur die powers that be om intimiderend te wees. Ek hoop die ander goeie europese lande volg UK baie spoedig.

Frans C ·

Die Britte het natuurlik die voordeel dat hul hul eie geld eenheid behou het.Daar is 24 lede sover ek kon vasstel wat die Euro as geldeenheid gebruik insluitende Duitsland, Nederland
Frankryk, Spanje, Griekeland en Italië.

Vir die lande gaan dit enorme koste veroorsaak om na hul eie geldeenhede terug te keer en glo ek sal hul nie tevrede wees om die Euro te behou terwyl die wisselkoers deur ander bepaal word. Anders sal ‘n mens moet begin praat van ‘n Nederlandse Euro ens,wat nogal verwarrens kan wees.

Henry ·

Dankie tog aan die heer Brink vir ‘n uitstekende en objektiewe skryfsel oor die Brexit referendum!!!
Sooo vervelig om die gewone ou klakouse se temerasies, draadsittery en beswaardheid te lees, oor ‘n dapper besluit wat ‘n meerderheid kiesers binne ‘n werkende demokrasie geneem het. Burgers wat genoeg geloof en trots in hul volk, staat en instellings se vermoëns het, om sonder die juk van ‘n burokratiese regime in Brussel, hul eie weg op hierdie planeet te vind. Soos wat hulle reeds vir eeue lank gedoen het. Laaaank voor al die ou holrug geryde vangwoorde soos ‘Globalisasie’ deel van die liberale se gorrelende woordeskat geword het. Beide die wat reeds uit die kas gespring het asook die draadsitters wat nog nie so dapper geword het nie.
Hopelik sal die Britte temidde van al die klippe wat in die pad gerol word, vasbyt en opnuut aan die wêreld bewys lewer dat daar steeds geen fout is om ‘n nasionale staat, sonder die remskoen van ‘globaliste’ in Brussel te laat gedy nie. Soos die geskiedenis reeds telkemale bewys het.

Gulsige multinasionale maatskappye ·

Dit is die miljarders wat die groot multinasionale maatskappye besit wat baat daarby dat die hele wereld net een taal en kultuur het, dit is goed vir hul monopolie, en dit sal hulle bly afdruk deur media wat hulle beheer. Daarom sal hulle altyd n bespotting maak van enige vorm van nasionalisme.

Chris du Plessis ·

Selfbeskikking kry nou nuwe momentum en betekenis in die EU. Brexit is niks anders as praktiese uitvoering van die reg van selfbeskikking deur die Britte nie.
Hoe raak dit Afrikaners ? – Afirkaners het ook die reg op selfbeskikking net soos enge ander volk want dit is deel van Internasionale Reg, internasionale menseregte en ook vervat in onderandere Atrikel 1 van die Internasionale Verdrag vir Politieke en Burger Regte, wat ook deur due RSA onderteken is in 1996. Dit lui soos volg:
” All peoples have the right to self-determination. By virtue of that right they freely determine their political status and freely pursue their economic, social and cultural development. ”
Al hoe meer volke (“peoples”) in die EU begin besef dat hulle nie meer vry is om hul poltieke status te bepaal nie of om hul ekonomiese, soisial en kulturele ontwikkeling te bevorder nie agv toenemde immigrate druk en diktatoriale EU leiers.
Die idee van selfbeskikking is immers om in beheer van jou eie regering in jou eie grondgebied te wees , dit is selfs deel van mense regte in internasionale reg.
Afrikaners is ook in n situasie ingedwing waar hulle ekonomies ondermyn word, sosiaal en kulrueel afgetakel word en polities ontmagtig word.
Hoeveel te meer is Afrikaners nie geregtig op hul reg op selfbeskikking nie ?

Selfbeskikking as laaste hoop ·

Chris is reg. Ek dink dit is die oplossing. Ons moet begin om die wiele vinnig aan die rol te kry vir selfbeskikking, want SA is besig om baie hard te val.

Jcwf ·

Wat ‘n twak…

As ‘n krisis uitbreek wil mense ‘n leier sie wat sê: kom ons maak ‘n plan. President Juncker het dit in minute gedoen toe die uitslag bekend geword het. Hy het gesê: jammer, maar ons respekteer dit, nou verwag ons ‘n brief wat ‘n beroep doen op artikel 50 en dan kan ons vinnig gaan bepraat hoe om die Britte op ‘n positiewe manier die unie te laat verlaat.

Antwoord van die Britte wat die krisis veroorsaak het: chaos. Die Labour en Tories beveg nie eers mekaar, maar hulle self en het geen idee hoe om met die chaos om te gaan nie. Hulle wil nie kom praat nie omrede hulle nie weet wat hulle moet sê nie…

Is dit leierskap? En wil hulle regtig die EU kom regstel? Die waarheid is dat die VK baie meer hervormings nodig het as die EU, maar die Britte is te arrogant om dit te kan sien. Hulle dink steeds dat hulle ‘n imperium beheers… Ek is jammer vir hulle. Maar ek is bly dat ons ‘n goeie president het.

Dirk Breytenbach ·

Goeie artikel! Sentralisasie en globalisering was nog nooit ‘n werkbare alternatief nie. Nasionalisme en produktiwiteit gekoppel aan meriete wel.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.