Drie toetse waaraan onderwysstelsel gemeet kan word

skool klaskamer skoolhoof

Argieffoto

Die uitslae van 2019 se matriekeksamen is in kanne en kruike – dis bekendgestel, daar is ‘n eindelose hoeveelheid syfers en menings, en dis genoeg om enigeen te laat met die knaende gevoel dat alles nie pluis is nie. Dít terwyl mens eintlik net wil hê alles moet reg loop en die matrikulante moet die beste moontlike kans op sukses hê.

In hierdie verband is daar veral drie belangrike toetse waaraan die stelsel gemeet kan word om te bepaal of dit na behore funksioneer, die eksaminering op peil is en die matriekstelsel werk. As mens jou tot daardie drie vrae rig, maak die matriekuitslae meer sin as die eindelose gedruis oor statistiese detail.

Die heel beste manier om die matriekuitslae te begryp, is om dit te sien as ‘n massiewe statistiese oefening eerder as die unieke individuele belewing van elke geliefde, maar eiesoortige kind. Die matriekeksamen is ‘n belangrike, goed gevestigde en doelmatige meetinstrument, maar feilbaar – niks meer nie en niks minder nie.

Hier is drie belangrike vrae wat jy in ag moet neem vir die interpretasie van die matriekuitslae:

  1. Is die matriekeksamen op peil?

Hierdie vraag is makliker om te beantwoord in die syferwetenskappe en vaardigheidsvakke as in die geesteswetenskappe, omdat eersgenoemde twee meer presies en objektief is, en laasgenoemde meer subjektief en veranderlik in die aanwending van die basiese vakvaardighede.

So, byvoorbeeld, kan elke wiskundevraestel of rekenkundevraestel basies presies op die peil van die vorige jare wees met grootliks net die getalle wat aangepas word, want die vaardighede is baie metodies spesifiek en elke vereiste handeling het net een korrekte antwoord. Dis ook hoekom punte vir metodiek in sulke vakke dikwels meer weeg as die uiteindelike antwoord.

In die geesteswetenskappe, soos geskiedenis, kan die vraestelle nie in dieselfde mate elke jaar ooreenkom met vorige jare nie, want dit kan lei tot klakkelose herhaling gegrond op memorisering eerder as begrip – sogenaamde papegaaiwerk. Boonop is die punt van uitnemende studie van geesteswetenskappe dikwels juis om te besef dat daar in baie gevalle nie ‘n enkele of enigste korrekte antwoord is nie – en dat oogpunte en antwoorde oor ‘n spesifieke historiese feitestel oor die jare kan verander.

Die antwoord op hierdie vraag is dus in geen land ter wêreld klinkklaar nie. Die peil en statuur van die Suid-Afrikaanse matriekeksamen as akademiese- en meetinstrument is nog nooit deur enige leidende instelling as saakmakend beter of swakker as in die verlede bevind nie. Die kompeterende prestasie van Suid-Afrikaanse oudmatrikulante aan internasionale universiteite is wel ʼn aanduiding van hoë kognitiwiteitstoetsing in die matriekeksamen.

  1. Hoe word die finale matriekpunt saamgestel?

Die hoofdoel van die matriekeksamen as betroubare meetinstrument berus op gestandaardiseerde nasienwerk en gevestigde stelselkonvensie – die stelsel is inherent genormeerd en konserwatief, met min veranderings.

Die finale punt wat leerders in die eindeksamen verwerf, is meermale nie die werklike (rou) punt wat hulle vir die vraestel behaal het nie, maar ʼn punt wat verkry is deur historiese resultate met huidige resultate te vergelyk.

Die leerder se jaarpunt word saam met sy eindeksamenpunt op ‘n prestasiekurwe vir die jaar geplaas. Die betrokke jaar se prestasiekurwe word dan verweef met die prestasiekurwes van die vorige paar jaar as ‘n tipe bewegende teiken.

Só word ‘n verdere vangnet gevoeg (bykomend tot byvoorbeeld die modereringsproses) om te keer dat ‘n vraestel wat onredelik ingewikkeld of onredelik maklik was, ‘n lotsbepalende invloed op die prestasie van die leerder sal hê. Dit is waarom die tipe opspraakwekkende bewerings wat telkemale opduik soos dat “kinders soos vlieë gedruip het” met misnoeë verwerp moet word as dié van oningeligte matrikulante en hul ouers.

Elke jaar word die opwaartse of afwaartse aanpassing van punte as ‘n vreeslike onthulling verpak, asof daar iets fout mee is. Diesulkes toon bloot hul oningeligtheid, want dit is ‘n openlike en doelmatige kernaspek van prestasiestandaardisering

  1. Wat is die ware slaagsyfer?

Een van die nuwer foefies om die matriekuitslae te vervorm tot iets wat dit nooit kan wees of bedoel is om te wees nie, is om te beweer dat die werklike slaagsyfer veel laer is as die amptelike slaagsyfer.

Hierdie taamlik nuttelose oefening berus daarop dat die hoeveelheid leerders wat pas matriek geslaag het, uitgedruk word as ‘n persentasie van die hoeveelheid leerders wat 12 jaar tevore met graad een begin het.

Hierdie drogargument is taamlik nutteloos want dit verloor soveel werklikhede uit die oog. Eerstens is dit nie die doel van enige behoorlike onderwysstelsel in enige land dat elke kind wat met die ekwivalent van graad een begin, uiteindelik die ekwivalent van matriek moet verwerf nie.

Dit is waarom daar baie spesifieke uittreepunte (exit points) in ons (en ander) onderwysstelsels geskep is. Dit sluit in die bereiking van skoolpligtigheidsouderdom of die herhaling van ‘n skooljaar. Dit voel soms asof sommige klakouse bitterlik ontevrede is as ‘n kind druip, maar ewe ontevrede as ‘n niepresterende kind gekondoneer (deurgesit) of outomaties bevorder word.

Een van die uittreepunte uit die akademiese skool is om in die ambagte of vaardigheidsberoepe opgelei te word, wat parallelle opleidingsbane teenoor die laaste drie skooljare insluit. Daardie opsies bied dikwels meer loopbaangerigte en universeel toepaslike toegang tot beroepsekerheid as matriek. Eintlik behoort meer Suid-Afrikaners daardie opleidingsbaan te volg. Diegene wat daardie besluit neem, word egter gebruik om die onderwysstelsel te verdoem eerder as te vier, want in die beperkte mantra van die “ware slaagsyfer” is sulke mense per implikasie mislukkings, terwyl die presiese teenoorgestelde waar is.

Daar is ander redes waarom die uitvalsyfer nie as barometer vir ‘n sogenaamde “ware slaagsyfer” kan dien nie. Dit sluit in onvoorsiene omstandighede soos swangerskappe of ander persoonlike- of familiekwale. Daar is seker mense wie se lewens klopdisselboom, perfek en immer glad verloop, maar die meeste van ons is feilbare sterflinge wat net deur die genade rampspoed vryspring.

Die invloed hiervan op die kind as mees kwesbare vorm van menslikheid, is enorm en word nie deur die verabsoluteerders van die “ware slaagsyfer” verstaan nie. Daar is byvoorbeeld baie kinders in ons ongelyke land met sy hoë voorkoms van armoede wat noodgedwonge moet uitspring om dadelik ‘n werk en ‘n inkomste tot hul gesinne by te dra. Diesulkes moet aangeprys word, maar kragtens die “ware slaagsyfer” is hulle deel van die probleem.

‘n Verdere voorbeeld is kinders in armoedige omstandighede wat albei ouers aan die dood moes afstaan en dan na die beste van hul vermoë die pot aan die kook moet hou vir hul broers en susters. Dit is aangrypend inspirerend, maar die fopargument van die “ware slaagsyfer” trek ‘n streep deur hulle en blameer die onderwysstelsel, hoe stompsinnig die argument ook al mag wees.

In hierdie verband toon die reaksie op die syfers wat pas bekendgemaak is, dat baie Suid-Afrikaners steeds moreel hovaardig vir diesulkes wil preek en veroordeel – asof dit enige doel dien. Swangerskappe of die dood van jou ouers kan ook darem werklik nie op die onderwysstelsel se brood gesmeer word nie, maar die “ware slaagsyfer”-brigade doen dit inherent.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

Een kommentaar

aj ·

Interessante artikel dankie Jan Jan.

Maar is ons kinders van wêreld-gehalte?

Kan die SAners meeding met die Chinese-, Japannese- , Duitse-, Koreaanse skoolverlaters?

Want as jy NIE WÊRELDKLAS is in SA nie … gaan jy nooit werk kry nie.

China se biljoen werkers se produktiwiteit help om hulle land die FABRIEK van hele wêreld te maak.

Watter kans staan ons matrikulante?

Byna ál SA se werkgeleenthede het verskuif na China … want ons verbruikers koop die Chinese produkte.

Chinese werkers word nie kunsmatig “deurgesit” en opgepiep en bederf met BEE en AA nie. Daarom presteer China só goed!

En China se onbeheerde bevolkingsgroei is getem! Dit help om KWALITEIT matrikulante te produseer eerder as KWANTITEIT soos in SA.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.