Drie wanopvattings in die weg van realisme oor Afrikaner-politiek

Drie opvattings wat tans in sekere kringe onder Afrikaners heers, is hieronder ter sprake. Opsommend lui hulle soos volg:

1. Ons (Afrikaners) het in 1994 ons vryheid verloor;
2. die grondwet – as hy net reg toegepas word – verleen aan Afrikaners alles wat ons nodig het; en
3. die Mandela-bewindstydperk, anders as die huidige, was ʼn soort goue era, normatief vir die huidige, en (by implikasie) behoort dit dus herstel te word.

Die eerste opvatting staan teenoor die tweede en die derde, terwyl die tweede en die derde ineenverweef is en mekaar in belangrike opsigte impliseer. Die drie opvattings het egter een ding in gemeen: Al drie is wanopvattings, wat verwarrend en gevolglik nadelig inwerk op Afrikaners se pogings om ons eie situasie realisties te peil en te werk vir ʼn politiek-kultureel gunstiger bedeling.

1. Ons (Afrikaners) het in 1994 ons vryheid verloor

Blank-beheerde en toenemende garnisoenstaat

Vir Afrikaners wat politieke en kulturele vryheid nastreef, beteken hierdie opvatting dat die tydperk voor 1994 as norm dien vir die rigting waarheen Afrikaners nou hulle energie behoort te kanaliseer. Indien ons voor 1994 polities vry was en ons tans na vryheid streef, behoort ons per slot van sake iets van die aard van die era van voor 1994 te herstel.

Die opvatting is sonder enige gronde. Die era voor 1994 het Afrikaners weliswaar in beduidende opsigte tot voordeel gestrek maar dit was nie ʼn tydperk van Afrikaner-vryheid nie. Die beëindiging daarvan kon en het derhalwe ook nie die verlies aan Afrikaner-vryheid meegebring nie.

Die Suid-Afrika van voor 1994 was ʼn blank-oorheerste staat, nie ʼn Afrikanersaat nie. Vanweë demografiese kragte – die toenemende swart meerderheid sonder politieke regte – was hierdie staat illegitiem, en het dit klaarblyklik uitgedien en onvolhoubaar geraak. Weens die massiewe en toenemende gewelddadige druk wat vanuit swart geledere op die staat geplaas is, het dit in ʼn toenemend verhoogde toestand van burgeroorlog verkeer. Dit het noodwendig die karakter van ʼn sekurokratiese garnisoenstaat begin aangeneem, dit wil sê ʼn staat wat nie met die regsreëls bedoel vir ʼn algemeen vreedsame samelewing in stand gehou kan word nie, maar alleen met noodmaatreëls wat deur die weermag en polisie afgedwing is. Die era voor 1994 was gevolglik ʼn groeiend onstabiele orde waar die destydse grondwetlike raamwerk algaande uit pas met die onderliggende sosio-politieke kragte geraak het. Die belangrikste van hierdie kragte was die groeiende swart meerderheid wat toenemend gemoderniseer geraak het en vir wie blanke dominasie totaal onverteerbaar geword het.

Wit selfoorskatting en die mislukking van die ʼn volhoubare wit-oorheerste staat

Generaal Hertzog het kort na uniewording in 1910 reeds ingesien dat blanke oorheersing vanweë die swart getalle-oorwig nie volhoubaar was nie en het gevolglik eerste prioriteit aan die territoriale verdeling van Suid-Afrika gegee. Dit het in 1913 en daarna in 1936 op wetgewing uitgeloop wat territoriale segregasie moes meebring. Verwoerd het die proses in die laat-1950’s voorgesit maar weens die voortydige gewelddadige beëindiging van sy bewind kon hy die proses nie deurvoer nie. Buitendien is dit te betwyfel of sinvolle territoriale segregasie hoegenaamd deurvoerbaar was. By sinvolle of territoriale segregasie bedoel ek die toedeling van genoeg grond aan swartes en die ‘behoud’ van min genoeg grond vir blankes om segregasie verdedigbaar te maak. Die rede waarom dit twyfelagtig is, is dat blankes na alle waarskynlikheid nooit daartoe sou instem om beduidende landstreke aan swartes toe te deel om die beleid van territoriale segregasie legitiem en derhalwe haalbaar te maak nie. Dit sou ten minste die vroegtydige toedeling van sestig, maar eerder nader aan tagtig persent van die land se grondoppervlakte aan swartes vereis het. Blankes het hulle selfs toe dit al baie laat geword het om so beleid deur te voer veral in die sestigerjare eenvoudig te sterk en stewig in die saal geag om dit as noodsaaklik te beskou om soveel grond ‘af te staan.’ Die blanke staat was per slot van sake – so is verkeerdelik geglo – net te sterk ingegrawe om so iets te noodsaak. Blankes het hulle deur hulle goed-funksionerende staat, die gedugte weermag en polisie en die vaardig-bestuurde ekonomie verkeerdelik laat wys maak dat hulle blywend in ʼn oorheersende posisie sou bly. Die eintlike deurslaggewende kragte wat aan die werk was – die toenemende swart getalle en die moderniserende tendens in swart geledere, waarop hierby gewys is, in samehang met die dekolonisasie van Afrika en die wêreldwye veranderde rasse-opvattings – is heeltemal deur blankes onderskat. Hierdie kragte sou weldra die mite van die onaantasbare wit staat vernietig toe dit formeel in 1994 tot ʼn einde gekom het. Dit was nie soseer vanweë FW de Klerk dat die blanke staat tot ʼn einde gekom het nie. Hierdie kragte het reeds lankal die lot van die blanke staat verseël. De Klerk was bloot een van die begeleiers in die finale voltrekking van hierdie einde.

In die lig hiervan was Afrikaners voor 1994 allermins in ʼn toestand van politieke vryheid. Inteendeel, Afrikaners was eerder die hoof (en besonder behendige) administrateurs van ʼn onvolhoubare blank beheerde orde wat in 1910 tot stand gekom het, maar wat na mate die kragte waarna hierbo verwys, stoom opgetel het, nie in stand gehou kon word nie. Afrikaners het vir hulself ʼn klomp voordele in die blank-beheerde staat beding, tot so ʼn mate dat dié staat ʼn Afrikaner-karakter vertoon het. Seker die belangrikste aspek hiervan is dat Afrikaner se kulturele stabiliteit danksy enkelmedium Afrikaanse onderwys bewerkstellig is. Afrikaner-vryheid was egter nie in plek nie. Inteendeel, na mate die kragte vir ʼn onvermydelike swart oorname verstrek het, het Afrikaners se beste belange al hoe meer uit pas met die era van voor 1994 geraak. Derhalwe het ook Afrikaners ʼn belang ontwikkel om die blank-oorheerste grondwetlike politieke orde te beëindig – nie om dit in stand te hou nie. Ook vir Afrikaners het ʼn nuwe grondwetlike orde noodsaaklik geraak, ʼn nuwe orde waarin die Afrikaner-belange wat in die beleerde blanke staat al hoe meer in die gedrang het, beskerm kon word. Sodanige orde, het nog nie tot stand gekom nie. Dit lê nog in die toekoms en dit is waarvoor ons onsself nou moet beywer.

2. Die grondwet – as hy net reg toegepas word – verleen aan Afrikaners alles wat ons nodig het

Die grondwetlike heilsleer…

FW de Klerk het in 1990 die eerste stap gedoen om die onderhandelings vir ʼn nuwe grondwetlike orde aan die gang te kry. Op die keper beskou het hy egter eintlik bloot die laaste stap gedoen waardeur formeel erkenning verleen is aan die kragte vir ʼn swart oorname wat reeds lank aan die werk was. Gevolglik is daar eers ʼn tussentydse en daarna die huidige (1996), dikwels onvanpas daarna verwys as die finale grondwet, onderhandel. Ofskoon die African National Congress (ANC) geregverdig die grondwet as eintlik sy maaksel beskou, het De Klerk homself baie intiem met die grondwet vereenselwig en hou dit tot vandag toe nog voor as die instrument wat al ons belange volledig beskerm. Die Grondwet is in die middel negentigs van die vorige eeu en daarna, trouens juis so besing dat dit in werklikheid in ʼn volskaalse grondwetlike mitologie – ʼn sekulêre heilsleer – ontaard het. Hierdie heilsleer oor die (bykans) volmaaktheid van die grondwet is op twee geloofsoortuigings gebaseer. Eerstens word geleer dat die grondwet soewerein en oppermagtig is. Trouens, dit is so kragtig dat dit die bepalende faktor vir die politiek is en waaraan alles onderhorig is. Die tweede geloofsartikel leer dat die grondwet goed – eintlik volmaak is – aangesien dit ook aan Afrikaners alles waarborg wat ons nodig het. Die grondwet is dus ons ware veilige hoede, ons vaste burg.

…en sy predikers

Die korps van predikers van die grondwetlike mitologie is hoofsaaklik uit ‘n handvol akademici en joernaliste uit sektore van die media saamgestel. Dit is en word egter deur De Klerk self gelei, wat, aangesien hy sy totale politieke erflating van die grondwet afhanklik gestel het en geen keuse het nie as om die grondwetlike heilsleer te bly predik. Die prediking van die heilsleer het met ʼn sterk sensuur teen enige kritiek op die grondwet gepaard gegaan. Hierdie sensuur het Afrikaners vir lank tot nadeel gestrek. Vir solank die mite in stand gehou is, is ʼn ernstige gesprek oor die peiling van die swakheid van die Afrikaner se (grondwetlike) posisie vertraag. Ter wille van De Klerk se politieke aansien en instandhouding van die valse gevoelens van grondwetlike geborgenheid het hierdie openbare sensuur Afrikaners verhoed om tot ʼn begrip te kom van waar die leemtes in die grondwet lê en welke verbeterings aangebring moes word om ons kulturele en politieke posisie te beveilig.

Tog nie so sterk…

In weerwil van volgehoue grondswetlike pryssang en van die gepaardgaande openbare sensuur teen ʼn behoorlike debat oor die grondwet, het die heilsleer intussen vanweë gebrekkige geloofwaardigheid beduidend getaan. Trouens, dit het bykans heeltemal in duie gestort. Ofskoon dit in terme van die uitgangspunte van die regsdogmatiek korrek is om te leer dat die grondwet (in vergelyking met reg buite die grondwet soewerein) en oppermagtig is, is die grondwet in die finale instansie aan politieke kragte veel groter as die grondwet self uitgelewer. Die howe kan uitsprake gee, ook teen die regering, maar in den brede stoom die dominante politieke kragte in weerwil van die grondwet voort en val die grondwet as’t ware by die heersende politieke kragte in, in plaas van die teenoorgestelde soos wat die grondswetlike heilsleer oor die krag van die grondwet ons probeer wysmaak. Daar is weliswaar ʼn geskrewe – gekanoniseerde – grondwet, maar daarbuite, in ooreenstemming met die dominante politieke en dergelike kragte is daar ook die eintlike of die effektiewe grondwet, wat in ʼn mindere of meerdere mate van die geskrewe grondwet (die onderwerp van die heilsleer) verskil. Hierdie eintlike grondwet sluit tans in: die optrede van die ANC as die dominante politieke krag, die homogeniserende werking van die beginsel van verteenwoordigendheid, die veelbesproke nasionaal demokratiese rewolusie, Engelse eentaligheid en die sentralisering van mag. Ook sluit dit in juridiese niemandslande – ruimtes waar die reg en die grondwet gewoon onttrek het na mate korrupsie sistemies raak, geweldsmisdaad op plekke buite beheer is en die reg voor die verval van infrastruktuur retireer. Kort gelede maak prof. Mark Tushnet in ʼn boek oor die (soewereine en oppermagtige) Amerikaanse grondwet die volgende insiggewende stelling oor die bepalende rol van die politiek vir die lotgevalle van die grondwet in die VSA:

What the US constitutional history shows, though, is that understanding the Constitution as it is, requires us to pay relatively little attention to the written constitution, somewhat more attention to the way in which the courts interpret the written constitution and a great deal of attention to the organization of politics by political parties under presidential leadership and to the principles that dominant parties and their presidents articulate.

Hierdie stelling is ewe geldig vir Suid-Afrika: dit is nie soseer die geskrewe grondwet wat bepalend vir die samelewing is nie, maar dikwels juis die teenoorgestelde: dat die kragte en gebeure van die aard wat in die vorige paragraaf genoem is, bepalend vir die konstitusie is. Die grondwet is aan hierdie kragte uitgelewer. Hierdie waarheid dring selfs tot die vroomste (eertydse) predikers van die grondwetlike mitologie deur. Daarom vind ʼn mens ʼn bykans koddige, dog patetiese ommekeer in hulle retoriek. In plaas daarvan om hulle soos tevore in vaste vertroue op die kragtige beskermende grondwet te beroep, doen hulle nou die teenoorgestelde. Hulle roep ons op om die grondwet te verdedig. Nou is dit, anders as tevore, nie meer die kragtige grondwet wat ons beskerm nie, maar die teenoorgestelde: dit is ons wat die grondwet moet verdedig. Die eertydse kragtige beskermer, roep nou na sy voormalige vermeende beskermlinge om hulp.

…en ook nie so goed nie

Maar selfs al was die grondwet nie aan hierdie kragte uitgelewer nie en al is dit tot die letter toegepas, was dit steeds in vele opsigte nadelig vir Afrikaners as ʼn minderheid. Dit is omdat die grondwet in die eerste plek basies vir ʼn unitêr-gesentraliseerde bedeling voorsiening maak sonder enige wetgewende en uitvoerende gesag aan enige minderheid, selfs met betrekking tot die kultureel mees gevoelige sake. Tweedens, maak dit vir geen instellings vir minderhede voorsiening nie, wat meebring dat instellings vanweë die demografiese faktor almal vir die meerderheid ingepalm word en ʼn meerderheidskarakter vertoon. Die grondwet het sodoende (vanuit ʼn minderheidshoek beskou) die weg gebaan na ʼn ondemokratiese en veral homogeniserende stelsel waarin verteenwoordigendheid sy gang kan gaan, asook na effektief amptelike Engelse eentaligheid, die agteruitgang van Afrikaans in die onderwys ensovoorts. Kortom, Afrikaners is ontdoen van aspekte van basiese politieke vryheid en gesag, wat slegs met ʼn verbetering in die grondwetlike orde reggestel kan word. Ons is nie in ʼn bedeling wat al ons belange na behore beskerm nie, inteendeel.

Die ironiese rol van FW de Klerk

De Klerk het met sy bewindsoorname in 1989 besluit om die blanke minderheidsregering finaal op te ruim. Hy was naïef in sy besluit want hy het nie geglo dat hy homself en sy party in die proses sou opoffer nie. Inteendeel, hy is op rekord dat hy oortuig was dat hy spoedig weer die bewind van die ANC sou terugwen. Sonderling werklikheidvreemd, het hy geglo dat swart mense weldra in groot getalle vir hom en sy party sou stem. Hierdie geloof is ʼn tipiese dwaling van ʼn simplistiese liberaal wat nie die ingrypend uiteenlopende aard van identiteite, historiese belewenisse en aspirasies van ewe uiteenlopende nasionalismes begryp en wat glo alle mense is maar eintlik dieselfde. Dis daarom dat De Klerk geglo het dat hy weldra weer in die kussings sou wees. Tog was dit wat ons aan die begin van die negentigs nodig gehad het, juis iemand soos De Klerk: ʼn simplistiese liberaal om, soos gesê, die illegitieme garnisoenstaat te beëindig in die vaste geloof dat hy spoedig daarna weer aan bewind sou wees. Iemand minder naïef en bewus daarvan dat hy sy eie politieke loopbaan sou beëindig en sy party gaan vernietig, sou na alle waarskynlikheid nie kon doen wat De Klerk gedoen het nie. Maar daarmee was de Klerk se rol uitgedien. Die rol wat hy daarna gespeel het, om verlammende en vertragende grondwetlike heilsleer aan ons op te dis, was uiters nadelig. Daarmee het hy meegehelp om ʼn realistiese bestekopname van ons posisie en ʼn behoorlike politieke strategie teen daardie agtergrond in werking te begin stel, met jare vertraag.

De Klerk en sy betreklik verwese span onderhandelaars kon na alle waarskynlikheid veel beter by die onderhandelings presteer het. Nogtans moet De Klerk nie verkwalik word vir die stap wat hy gedoen het om die reeds terminale blanke bewind se einde finaal te verseël nie. Daar was geen ruimte meer vir Afrikanervryheid binne daardie garnisoenstaat nie. Dit moes beëindig word as die noodsaaklike eerste voorwaarde sodat ander Afrikaners kon begin werk vir nuwe vorme van sinvolle Afrikanervryheid anderkant die eertydse blanke minderheidsbewind. Waarvoor De Klerk en sy prediking van die grondswetlike heilsleer wel grondig verwytbaar is, is die skep en instandhou van die valse en verlammende geloof in die grondwet. Die aanduidings is egter sterk dat dié onsin nou finaal uitgespeel en uitgebak is.

3. Die Mandela- bewindstydperk, anders as die huidige, was die goue era, normatief vir die huidige

Die idealisering van die Mandela-era is iets wat onlangs meer begin kop uitsteek het. Mandela word met Malema vergelyk. Mandela was destyds so minsaam, verdraagsaam, sjarmant en beskaafd teenoor Malema wat nou so vyandig, brutaal en onheilspellend is. As ons tog maar net weer iets van die aard van die wonderlike Mandela-era kan herstel, lui die versugting. Laat daar geen twyfel wees nie dat Mandela, anders as Malema, inderdaad die kwaliteite het wat aan hom toegedig word. Inderdaad kan die twee, soos wat AfriForum tans doen, teenoor mekaar gestel word om die agteruitgang in die ANC aan te toon.

Die teenstelling moet egter allermins in die een of ander hunkering na die Mandela-era oorgaan. So ʼn hunkering is ʼn spesie van De Klerk se verhaal oor die kragtige en volmaakte grondwet, wat in 1994 arriveer het. Dit leer ook dat alles eintlik toe in orde was en dat dit net Malema en ʼn klomp ander is wat nou net alles kom beduiwel het. Al wat dus moet gebeur, is dat hierdie partytjiebederwer uit die pad gekry moet word sodat iemand soos Mandela weer die leisels kan oorneem. Dan sal daardie behaaglike Mandela-gevoel met nommer ses op die trui weer terugkeer en dan is alles weer reg want ons het darem nog steeds die wonderlike en alles-bepalende grondwet, nie waar nie?!

Patti Waldmeir het in haar boek, Anatomy of a Miracle: The end of Apartheid and the birth of the New South Africa beskryf hoe Nelson Mandela die een na die ander van sy politieke opponente omgeklits het om uiteindelik die grondwetlike bedeling na die smaak van die ANC te aanvaar. Soms was die omklits met blatante afdreiging – rolling mass action ens. – maar meer male was dit gewoon met sjarme: Mandela-magic. Mandela het die Afrikaners bekoor – gemesmeraais soos wyle Izak de Villiers gesê het. Die Afrikaners het sy totale magsverlies veral danksy die Mandela-sjarme aanvaar en het dit bowendien geniet. Die magteloosheid was lekker – iets waarin jy kon blaak, iets om terdeë te geniet. Ons kon sorgvry wees veral ná die spanning van die tagtigs en die vroeë negentigs. Die ywer wat politieke waaksaamheid en energie sou verg, was nie meer nodig nie. Dis teen hierdie agtergrond wat die huidige gier van die idealisering van die Mandela-era gesien moet word. Dit was op die keper beskou geen wonder-era nie maar ʼn era van sorgvryheid teweeggebring deur selfbedrog, aan die eenkant aangehelp deur die grondwetlike heilsleer en die anderkant deur die Mandela-magic. Die terughunkering na die Mandela-era is ʼn terughunkering na hierdie selfbedrog en die behaaglike sorgvryheid wat daarmee gepaard gaan. Die beswyming van die Mandela-era het ʼn realistiese selfbesinning oor ons situasie verhoed net soos die grondwetlike heilsleer dit gedoen het. Om na die Mandela-era terug te verlang, is om terug te hunker na ʼn era van strelende selfmisleiding en die gepaardgaande weelde van politieke niksdoen – niksdoen omdat die grondwet en Madiba vir alles sal sorg. Ironies genoeg is die huidige aakligheid van Malema in hierdie opsig beter as die minsaamheid van Mandela, want eersgenoemde beklemtoon die noodsaak vir politieke handeling teenoor laasgenoemde wat dit juis, net soos die geloof oor die wonder van die kragtige en goeie grondwet, oorbodig gemaak het.

Slotsom

Die era voor 1994 was nie ʼn tydperk van Afrikaner-vryheid nie, wel van ʼn illegitieme blanke garnisoenstaat. Demografiese en dergelike kragte het die lot van hierdie staat lank voor 1994 reeds finaal beslis. Dit moes finaal tot ʼn einde gebring word, onder andere om ook Afrikaners in staat te stel om te werk vir ʼn bedeling waarin Afrikaner politieke en kulturele vryheid gerealiseer kan word. Hierdie staat is in 1994 beëindig maar die grondwette daarna het allermins vir Afrikaners alles gewaarborg wat ons nodig het nie – nie onder Mandela nie en ook nie nou. Ons moet dit derhalwe allermins as die afsluiting in Suid-Afrika se grondwetlike geskiedenis en die finale woord oor Afrikaners se politieke lot beskou.

Die grondwet en die Mandela-tydvak het ook nie ʼn wonderwêreld ingelui nie. Die tydvak na 1994 was soos ʼn lekker fuifpartytjie met al die nodige hulpmiddels om die vrolikheid regtig hoog op te jaag – al die voggies en wat nog al. Die vog van hierdie partytjie was die grondwetlike heilsleer en die sjarme van die gasheer – die eerste president post 1994. Die partytjie was lank en dit was lekker. Nou en dan het iemand by die partytjie met die dawerende heilsleer ingeloer. Hulle het gesê die heilsleer is vals en dat daar te midde van al die uitgelatenheid moeilikheid is want Afrikaners is magteloos en onbeskermd. Vir die onbeskofte nugterheid was daar egter geen plek in die beswyming van die partytjie nie. Die beswyming moes voortduur. Laat ons dus met rus in ons behaaglike heilslerige betowering! Die ongenooides is spoedig uit die partytjie – en die koerantkolomme – uitgesmyt.

Intussen is die partytjie egter verby en het net ʼn verskriklike babelaas oorgebly – ʼn babelaas wat met ʼn regmaker van nog ʼn dop van die heilsleer of ʼn herinnering aan die gasheer se sjarme verdryf moet word. Helaas, dit gaan nie help nie. Die dag met sy nugterheid het aangebreek. Sy eis waarop Afrikaners toenemend tekens van ʼn konstruktiewe antwoord gee is om energiek en realisties op talle praktiese maniere nuwe strukture te vestig en strategieë in werking te stel waardeur Afrikaners self-verantwoordelik en selfstandig na hulle eie belange begin omsien. Daar is natuurlik groot uitdagings en baie probleme. Laat ons egter finaal die misplaaste opvattings en hunkerings wat hierbo ter sprake is aan die verlede toevertrou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Koos Malan

Koos Malan is professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria. Hy is onder andere die outeur van "Politokrasie – ʼn peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ʼn antwoord daarop" wat pas by die regsuitgewers van die Universiteit van Pretoria verskyn het.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Anoniem ·

Geagte prof Malan,

U vlek met ‘n skalpel die drie wanopvattings oop waarmee Afrikaners hulself dit as’t ware veroorloof om terug te hunker na die partytjie van niksdoen.

Die dwaling van die grondwet-heilsleer word nie alleen uitgewys vir wat dit is nie, maar daar word ook simpatie geskep vir die rede waarom die dwaling tot stand gebring is: die verkrummeling van die onwettige, onsmaaklike en onvry apartheidspolisiestaat.

Ek sien graag uit na replieke deur mnr. Freek Robinson, die media-akoliet van Madiba-Magic en dr. Theo de Jager, voormalige Inligtingsbeampte van oudpresident FW de Klerk, op u artikel. 

Anoniem ·

Daar is twee dinge wat oudpres. FW de Klerk wel goed begryp het:

1) Dat die Apartheidstaat nie volhoubaar was nie en waarvan ‘n onorderlike ineenstorting tot groot skade sou gelei het, wat tot almal se nadeel sou strek.

2) Dat ‘n positiewe toekomsbeeld ‘n voorvereiste vir kollektiewe optrede is.  Die grondwet-heilsleer wat voorgeloop is deur “wigte en teenwigte” het die nodige positewe toekomsbeeld geskep wat Afrikaners oorreed het om die regte ding – die beindiging van die Apartheistaat – te doen.

Die vraag is, indien die grondwet-heilsleer sy bruikbaarheid, toepaslikheid en uitvoerbaarheid as positiewe toekomsbeeld verloor het, waarmee dit vergang gaan word?

Louis du Plessis ·

Koos ~  

1  Sosiale kragte.  Jy bring ‘n kernwaarheid na vore naamlik dat grondwette dieperliggende sosiale kragte weerspieël.  Tereg merk jy op:  “In den brede stoom die dominante politieke kragte in weerwil van die grondwet voort en val die grondwet as’t ware by die heersende politieke kragte in.”   

2  Arbitrêre mag of konstitusionele gesag?  Dat die voorafgaande stelling korrek nie, beteken egter nie dis nodig om die Suid-Afrikaanse grondwet in ‘n slegte lig te stel nie.  Daar is baie van ons wat nog nooit die grondwet as ‘n heilsleer beskou het nie, maar wat dit wel as ‘n werktuig ervaar wat orde in hierdie wanordelike samelewing van ons help handhaaf.  Dit gebeur deur konstitusionalisme en die oppergesag van die reg te verseker, twee kernprodukte van westerse staatkunde.  Die alternatief is samelewings soos in Zimbabwe of Somalië waar hierdie werktuig ontbreek en waar arbritrêre gedrag deur outokrate en terreureiers aan die orde van die dag is.  Een doel van grondwette, nes van ander wette, is tog immers om ‘n raamwerk te skep om burgerlike regte te beskerm. 

3  Die leerproses.  Om te leer om wettig op te tree, is ‘n opvoedingsproses wat in Suid-Afrika nog dekades en langer sal duur.  Maar sonder ‘n grondwet en wette sal dit nooit gebeur nie.  Oor ‘n lang termyn leer ongeletterde massas, met probeer en tref, in talle hofsake en deur konflikte en krisisse, iets wat ek en jy as vanselfsprekend aanvaar, naamlik:  daar is iets soos reëls. 

Met agting

André Alkema ·

Die reënboognasie wat deur de Klerk en sy agente voorgehou is as die oplossing, het soos mis voor die son verdwyn. Dit was ook ‘n ‘positiewe toekomsbeeld’….

Alles in skerwe met die dreigende nasionale demokratiese revolusie op hande en, waar Afrikaners as misdadigers uitgekryt word wat ander mense se goed gesteel het en nou dood gemaak mag word.

Destyds het ons ‘n weermag en ‘n polisiemag gehad.

Wie gaan ons nou beskerm? Die grondwet?

Honderde duisende Afrikaners het dié land vir goed verlaat omdat hulle nie die ‘toekoms’ soos de Klerk kon insien nie.

André Alkema ·

Suid-Afrika is besig om geheel en al te verengels, om by jou uitstekende stuk aan te sluit, Koos.

Volgens die EMIS-verslag van 2007 het 524 993 matriekleerlinge onderrig in Engels ontvang teenoor die 82 589 in Afrikaans. As ‘n mens in ag neem dat Engels slegs die 5de grootste huistaal in Suid-Afrika is met Afrikaans in die 3de plek naas Xhosa en Zoeloe…

Slegs 9 449 matriekleerlinge het daardie jaar in Xhosa klas gekry, en Zoeloes 7 087, Pedi 6 620 en Sotho 2 130! Waarskynlik nog in die voormalige ‘tuislande’.

Verbeel ek my, of het ek koningin Liesbiet sien glimlag?

Fanie ·

Prof Koos,

Dit is ‘n brilante ontleding- wat mens se eie aanvoeling goed verwoord en op ‘n nuwe vlak van bewustheid plaas. Die probleem is net dat hierdie heilige koei nog so spekvet is dat enige kritiek daarteen as regs afgemaak word. Die vraag is wat ons volgens u te doen staan? Soos Lenin gevra het: What must be done now?

Celtis ·

Prof Koos, wat ‘n vars blik inderdaad op ons volkie se eie apatie in hierdie wonderlike land van ons.  VIr te veel van ons is die “paartie tot die laaste” nogsteeds die mikpunt.  Dis tyd om hand aan eie boesem te slaan, soos my oupa sou sê, en self in te spring om dinge te draai.  Niemand anders gaan dit vir ons doen nie, en genade, wat ‘n wonderlike land het ons nie om dit in te doen nie!

Koos Malan ·

Hartlike dank aan diegene wat hierdie bydrae gelees en in die besonder aan diegene wat daarop kommentaar gelewer het. Ek hoop om in toekomstige bydraes op aspekte wat in die kommentaar genoem is, te reageer.

Koos Malan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.