Driehoek-tragedie beklemtoon behoefte aan professionele traumaberading

prof-hayley-walker-williams

Prof. Hayley Walker-Williams medeprofessor in sielkunde by die Skool vir Psigososiale Gesondheid aan die NWU. Foto: Verskaf.

Die land is op Vrydag 1 Februarie 2019 geskok deur die nuus dat ’n loopbrug by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark ineengestort het.

Leerders was besig om die oggend se saalbyeenkoms te verlaat om na hul onderskeie klaskamers te gaan toe die tragedie plaasvind. Drie leerders, Roydon Olckers, Jandré Steyn en Marli Currie, is op die toneel oorlede, met ’n vierde leerder, Marnus Nagel, wat twee dae later in die hospitaal aan sy beserings beswyk het.

Ná die tragedie was die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark een van die organisasies wat ingetree om leerders en hul gesinne met traumaberading te help.

In hierdie meningstuk deel prof. Hayley Walker-Williams, medeprofessor in sielkunde by die Skool vir Psigososiale Gesondheid, haar gedagtes oor die stappe wat ’n professionele traumasielkundige tydens ’n proses van rouberading en ontlonting sal moet volg.

 Trauma – ’n gebeurtenis buite die grens van normaliteit

 Trauma behels ervarings wat ’n persoon se vermoë om iets te hanteer, heeltemal oorweldig. Trauma is die gevolg van ’n negatiewe lewenservaring – soos die noodlottige strukturele ineenstorting by Hoërskool Driehoek.

Die gebeurtenis was onverwags en buite die grens van normaliteit en beheer vir die kinders, personeel, gesinne en gemeenskapslede wat betrokke was. Hierdie gebeurtenis het die betrokkenes oorweldig gelaat, en nie in staat om die omvang van die situasie te begryp of te hanteer nie. So ’n traumatiese gebeurtenis gaan gepaard met ’n verskeidenheid simptome soos skok, ontkenning, woede, verwarring, vrees, rou en hartseer. Ander tipiese reaksies sluit in nagmerries, terugflitse, skrikreaksies (skrik maklik en is angstig), vermydingsgedrag en probleme met konsentrasie.

Stappe om te volg

Die eerste stap is om die oorlewendes van so ’n traumagebeurtenis te help om te besef dat hierdie simptome en reaksies as normaal beskou word, en dat dit ná so ’n onbegryplike gebeurtenis te wagte is. Dit is wat ons die normalisering van traumasimptome noem, waar ons aan oorlewendes verduidelik dat hul simptome nie ’n teken van swakheid is nie, maar ’n normale reaksie op ’n verwoestende, abnormale gebeurtenis.

Die volgende stap behels sielkundige ontlonting. Dit is uiters belangrik ná so ’n traumatiese gebeurtenis om die sielkundige simptome en reaksies te verminder en die ontwikkeling van langtermyn- negatiewe uitkomste, soos posttraumatiese stresversteuring, te voorkom.

Ontlonting as emosionele noodhulp

Ontlonting is ’n vorm van emosionele noodhulp en behels dat ’n persoon met ’n geregistreerde sielkundige of maatskaplike werker gesels oor hulle vlak van blootstelling, sensoriese ervarings en die gedagtes en gevoelens wat met die gebeurtenis verband hou. Dit moet in ’n veilige, geslote genesingsruimte deur ’n toepaslik gekwalifiseerde kundige hanteer word ten einde verdere traumatisering te voorkom.

Hierdie uitpraat en validering is nodig om aan die persoon die geleentheid te gee om die posttraumarealiteit te begin verstaan, en sodoende die ontstellende simptome te begin verdra, aanpassende hanteringsvaardighede aan te leer en ’n gevoel van outonomie te hervestig. ’n Noodsaaklike bestanddeel in hierdie proses is om aan oorlewendes psigo-opleiding te gee, met ander woorde, inligting oor wat om ná die trauma te verwag ten opsigte van hoe hulle sal dink, voel en optree, en – belangriker – hoe om hierdie gedagtes, emosies en reaksies te hanteer.

Ontlonting word gewoonlik binne 24 tot 72 uur ná die trauma gedoen. Die omvang van die trauma sal dan bepaal of langertermyn- psigoterapeutiese tussenkoms nodig is. Dit beteken dat, hoe nader die persoon aan die gebeurtenis of uitwerking van die katastrofiese gebeure was, hoe ernstiger sal hul vlak van sielkundige angs wees. Langertermyn- psigoterapeutiese tussenkoms sal dus nodig wees wanneer die omvang van die blootstelling groter is en die individu se simptome voortgaan om ’n beduidende impak op sy/haar funksionering tuis, by die werk of die skool te hê nadat hy/sy die aanvanklike trauma-ontlonting ontvang het.

Algemene sielkundige behandeling kan die persoon help om die onverstaanbare gebeurtenis te verstaan, en die moeilike emosies, gedagtes en reaksies wat daarmee gepaardgaan in ’n veilige, geslote omgewing toepaslik te ervaar en te reguleer. Dit help die persoon ook om deur die verskillende fases in die herstelnadraai te werk. Daar is geen resep vir traumaherstel nie, en elke persoon sal anders reageer. Dit gebeur egter oor die algemeen dat gemeenskappe in tye van trauma saamstaan en troos en ondersteuning bied.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vra maar net ·

Wat is die langtermyn gevolge as n persoon nie voldoende trauma betading kry nie. Ek dink aan die kinders ens wat al hierdie moorde en geweld daagliks in die swart plakkerskampe en elders ervaar, sien en beleef.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.