Dronkbestuur: Jou 12-punt-voorkomingsplan

hein-gonzales

Hein Gonzales is bestuurder van risiko en ondersteuning by AfriForum se afdeling vir gemeenskapsveiligheid. Foto: Verskaf.

Deur Hein Gonzales

Daar is dikwels ʼn verwarring tussen die misdrywe van dronkbestuur en bestuur onder die invloed van alkohol. Die Suid-Afrikaanse wetgewing is deurtrek van wetgewing teen dronkbestuur en bestuur onder die invloed. Om te voorkom dat jy ʼn slagoffer van so ʼn misdryf word, moet jy die inhoud en vereistes verstaan. Hierdie artikel is nie daarop gemik dat jy as leser die wet moet omseil nie, maar eerder deur die regte insig en agtergrondkennis verantwoordelike besluite kan neem. Onthou, een drankie te veel kan jou en/of iemand anders se lewe drasties verander en/of selfs beëindig. Wat behels dit inhoudelik?

A) Bestuur onder die invloed van alkohol of dwelmmiddels (dronkbestuur)

Kragtens art 65(1) van die Nasionale Padverkeerswet 93 van 1996 (hierin vermeld as die “wet”) is dit ʼn oortreding vir enige persoon, terwyl onder die invloed van alkohol of enige dwelmmiddel met ʼn narkotiese effek, om ’n motorvoertuig te bestuur op ʼn openbare pad, of selfs agter die stuurwiel te sit terwyl die motor se enjin aangeskakel is.

Vonnis: Boete of gevangenisstraf wat nie ses jaar oorskry nie [art 89(2)].

Indien jy ʼn eerste oortreder is, sal jy heel moontlik ʼn hewige boete opgelê word. Die tweede skuldigbevinding kan heel moontlik lei tot gevangenisstraf en die opskorting van jou bestuurderslisensie. Hierdie diskresie berus by die landdros.

Wat is die vyf elemente wat die staat moet bewys?

1) Bestuur van;
2) Motorvoertuig;
3) Op openbare pad;
4) Onder die invloed van alkohol;
5) Met skuld.

Dit is belangrik om te bewys dat die beskuldigde vrywillig agter die stuur ingeklim het. In sekere gevalle kan dronkenskap veroorsaak dat jou gedrag onwillekeurig is; wat dan? In hierdie verband sal die staat kan steun op die gemeenregtelike beginsels van actio libera in causa. In laasgenoemde sal jy aanspreeklik gehou word vir die voorafgaande nalatige handeling, meer spesifiek jou keuse om te veel te drink en agter die stuur in te klim.

Vereistes vir oortreding?

In die saak van R v Lloyd 1929 EDL 270, het die hof bevind dat die bestuurder “dronkbestuur” indien sy vaardigheid en oordeel, wat normaalweg vereis word in die bestuur van ʼn motorvoertuig, verminder of verswak is weens die alkoholinname.

Voorbeelde:

a) Jy versuim om by ʼn stopstraat te stop en/of rooi verkeerslig weens dronkenskap.
b) Jy veroorsaak ʼn ongeluk weens dronkenskap.
c) Jy ry ʼn persoon dood weens dronkenskap.
d) Jy swerf dwarsoor die pad terwyl jy bestuur.

Dit is nie nodig vir die staat om te bewys dat jy so dronk is dat jy nie meer in staat is om te bestuur nie. Die blote feit dat jou vaardigheid en oordeel verminder of verswak is, is voldoende om skuldig bevind te word. In hierdie verband sal die staat steun op die dokter se verslag om te bepaal of die alkohol jou vermoë en vaardigheid aangetas het.

Voorbeelde van toetse: Stap op ʼn reguit lyn, vertraging van jou reflekse, staan op een been, ens. [R v Spicer 1945 AD 433 at 436]

Die strikvraag in hierdie verband is of alle mense wat oor ʼn stopstraat ry of ʼn ongeluk veroorsaak dronk is. Die antwoord hierop is néé. Dit is egter een van die moeilikste misdrywe vir die staat om te bewys.

B) Bestuur met oormatige alkohol in die bloed

Kragtens art 65(2) van die Nasionale Padverkeerswet, 93 van 1996, is dit ʼn misdryf vir enige persoon om ʼn motorvoertuig op ʼn openbare pad te bestuur of agter die stuurwiel van ʼn motorvoertuig te sit terwyl die enjin aan is, terwyl die samestelling van die bloedalkoholvlak meer as 0,05 g per 100 ml is, of in die geval van ʼn professionele bestuurder, meer as 0,02 g per 100 ml is.

Vonnis: Boete of gevangenisstraf wat nie ses jaar oorskry nie [Art 89(2)].

Indien jy ʼn eerste oortreder is, sal jy heel moontlik ʼn hewige boete opgelê word. Die tweede skuldigbevinding kan heel moontlik lei tot gevangenisstraf en die opskorting van jou bestuurderslisensie. Hierdie diskresie berus by die landdros.

Wat is die vyf elemente wat die staat moet bewys?

1) Jy bestuur;
2) ʼn voertuig;
3) Op ʼn openbare pad;
4) Met meer as die minimum vereiste bloedalkoholvlak;
5) Skuld aan jou kant.

Hoe bewys die staat bogenoemde?

Die deurslaggewende bewys in hierdie verband is dat jou bloedalkoholvlak meer as 0,05 g per 100 ml is. Laasgenoemde sal bewys kan word nadat ʼn bloedmonster by jou geneem word deur ʼn distriksgeneesheer, in die teenwoordigheid van die SAPD, en daarna deur patoloë ontleed word.

Die staat het die bewyslas om te bewys dat die bloedmonster wat ontleed is deur die forensiese laboratorium wel joune (as beskuldigde) is. Verder moet die staat ook bewys dat dit, ten tye van die ontleding van die bloedmonster, in dieselfde toestand is as toe die monster by jou geneem is.

Die bewyslas rus op die staat om te bewys dat jy bo redelike twyfel skuldig is aan die misdryf, d.w.s. 75% +1. Indien daar redelike twyfel by die landdros bestaan oor jou skuld, sal jy onskuldig bevind word.

In hierdie verband rus daar ʼn swaar verpligting op die SAPD om ʼn “papierspoor” te hou vanaf die oomblik dat die beskuldigde se bloed geneem is by die hospitaal, tot dit wel ontleed is by die laboratorium. In S v Ntswayi (1991) 4 ALL SA 221 (C) het die regter die persoon onskuldig bevind aangesien die staat versuim het om die “papierspoor” te bewys en/of ketting van getuienis voor die hof te plaas.

In hierdie papierspoor moet elke lid van die SAPD wat die bloedmonster hanteer het, ʼn beëdigde verklaring aflê, asook korrekte en opeenvolgende datums, tye en forensiese saknommers inskryf. Indien jy die SAPD-dossier lees, moet dit soos ʼn storie van A tot Z lees oor wat gebeur het.

Indien die SAPD nie laasgenoemde 100% korrek doen nie, sal jy heel moontlik onskuldig bevind word, al is jou bloedalkoholvlak bo 0,05 g per 100 ml.

Uitwerking van gebruik van ontsmettingslappie tydens neem van bloedmonster?

In S v Brumpton (1976) 2 ALL SA 136 (T) was ʼn appèl suksesvol teen ʼn skuldigbevinding op grond van die feit dat die staat nie kon bewys dat die skoonmaakmiddel wat gebruik is om die arm te steriliseer tydens die neem van die bloedmonster, nie alkohol bevat het nie. ʼn Onlangse studie in Australië deur Tucker en Trethewy in 2009, het bewys indien jy die arm skoonmaak met ʼn 70%-isopropiel-alkohollappie, soos die praktyk gewoonlik is, sal dit nie die uitkoms van die spesifieke bloedalkoholvlak beïnvloed nie. [Tucker (2010) 22(1) Emerg M.Ed. Australas 9]

Jou 12-punt-dronkbestuurvoorkomingsplan

1) Indien jy saam met vriende uitgaan, maak altyd seker daar is ʼn motorbestuurder vir die aand gereël.
2) Indien jy die bestuurder is, drink slegs een bier of glas wyn.
3) Bly weg van “hardehout” en “Shooters” met hoë alkoholinhoud.
4) Die oomblik dat lede van die SAPD jou in hegtenis neem, let op die tyd. Wetgewing vereis dat jou bloed binne twee uur ná die inhegtenisneming getrek moet word. Indien dit buite hierdie tydperk is, sal die uitslag van die bloedalkoholvlak nie toelaatbaar wees nie.
5) Op die oomblik van inhegtenisneming is jy geregtig op die teenwoordigheid van jou prokureur om jou te help in die proses. Dring aan op jou telefoonoproep.
6) Gee jou samewerking aan die polisie. Jy kan nie weier dat hulle ʼn bloedalkoholmonster neem nie.
7) Jy moet geen verklarings aflê voordat jy nie met jou prokureur beraadslaag het nie.
8) Dokumenteer elke stap in die proses wat die SAPD en die distriksgeneesheer behartig.
9) Voordat jy ʼn drankie drink, eet iets sodat die alkohol stadiger geabsorbeer word in jou bloed.
10) Wees bewus van die feit dat indien jy ʼn ongeluk veroorsaak terwyl onder die invloed is, jou versekering nie jou skade sal uitbetaal nie en derhalwe jou eis repudieer.
11) Hou ʼn goeie strafregprokureur se nommer byderhand vir die noodgeval.
12) Onthou, indien jy onder die invloed van alkohol is en ʼn onskuldige voetganger raakry en die voetganger daarna sterf, kan jy aangekla en skuldig bevind word van strafbare manslag weens jou bloedalkoholstatus, en sodoende deur moontlike gevangenisstraf in die gesig gestaar word.

Bykomende bronne: Principles of Criminal law deur Prof Jonathan Burchell.

  • Hein Gonzales is bestuurder van risiko en ondersteuning by AfriForum se afdeling vir gemeenskapsveiligheid.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eish ·

Raadsame artikel baie dankie. Volstaan liefs met geen alkohol terwyl ek bestuur. Dis n nagmerrie om deur die proses te gaan.

Theresa ·

Word publieke voertuigbestuurders daagliks afgetrek en getoets? Het vanoggend weer te doen gekry met 3 taxis wat teen ‘n ongelooflike spoed oor 2 rooi robotte jaag. en natuurlik hul geliefde manier van doen, links op die sypad gejaag (tussen lamppale deur en om verskrikte voetgangers). Verseker boetes en tronkstraf waardig. Sou dink dis ‘n prioriteit vir Metro. Toets daagliks alle publieke voertuigdrywers. Die dag as hul aan alle padreëls voldoen, kan mens na die benaming vertuigbestuurder begin kyk.

Zureena ·

Ekt einde Junie mnd bydi R20 000 spandeer ony alternator, starter en battery te vervang en toe kom man onder invloed van drank en skryf my kar af…kan ek di geld van hom eis..want war my ex my n r1000 n maand gegee het tot kar premie ..nou moet ek di volle premie betaal Zureena 0611176530

Burger ·

Los die wyn heeltemal . Ons dink mos n vuur kan nie brand sonder n dop nie.

Dit vat n tydjie om van sosiale alkolisme ontslae te raak , maar daar is net voordele.
Daar was n tyd wat ek gedink het , as jy n probleem het , sort dit uit . Ek kan dit hanteer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.