Droogte en verkiesing kan regimeverandering versnel

Foto: Skymetweather.com

Foto: Skymetweather.com

In my onlangse navorsing oor die droogte, wat ek namens die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) gedoen het, het dit weer vir my duidelik geword hoeveel gewone mense, asook die georganiseerde burgerlike samelewing, sonder die regering kan regkry. Die ANC-beheerde regering het grootliks langs die spreekwoordelike kantlyn gesit en hoogstens bemoedigende gemeenplase kwytgeraak terwyl die ergste droogte in dekades die land tref en ’n ongekende en uiters negatiewe uitkring-effek in die volgende paar jaar gaan hê.

Eerder as om ten minste die erns van die droogte te erken en dalk die boere geldelik te ondersteun om sodoende die res van die land se voedselpryse bestendig te hou, hou die regering homself daarmee besig om geld te verkwis om studente (nie slegs arm verdienstelikes nie) gratis te laat studeer en rassisme tot ’n fiktiewe nasionale krisis te verhef. Maar dit is kennelik ’n verkiesingsjaar en wit boere betaal belasting, maar stem nie vir die ANC nie (politiek inkorrek!), terwyl die demografie van die land beteken dat (spesifiek swart) studente wat nie belasting betaal nie ’n voorkeur-teiken vir alle partye geword het (politiek korrek!).

Soos my gesprekke met kenners en my eie afleidings vervolgens aandui, kan hierdie strategie in die huidige ANC-faksie, maar ook die party in geheel, se gesigte ontplof. Maar eers gaan dit in ’n groter teater, naamlik die land, uitspeel. Ter wille van konteks, kom ons ondersoek eers kortliks die impak van die droogte op die land.

Invloed op die landbousektor en publiek

Dit is nou al ’n voldonge feit dat die droogte ’n wye en vernietigende uitwerking op feitlik almal in die land gaan hê. Prof. Johann Kirsten, hoof van die Departement Landbou-ekonomie aan die Universiteit van Pretoria, sê die totale gemiddelde reënval vir 2015 is die laagste sedert 1904 – 403 mm in 2015 teenoor 608 mm per jaar sedertdien. “Dit is selfs laer as in die groot droogte van 1992 en die depressie se droogtejare tussen 1930 en 1933.

“In daardie jare (veral 1992-93) was droogtehulp beskikbaar en het staatswaarborge gehelp om oorlaatskuld af te skryf en boere ʼn geleentheid vir ’n nuwe begin te gun. Hierdie is die eerste landswye droogte sedert 1994 en derhalwe die eerste een wat die nuwe regering moet hanteer.

“Daar bestaan egter geen risiko- en rampprogramme om die produksiebasis van ons landbousektor te verseker en te versterk nie.”

Prof. Johan Willemse, landbou-ekonoom aan die Universiteit van die Vrystaat, voer saam met sy kollegas in ’n onlangse verslag aan dat daar ’n negatiewe langtermyn-impak sal wees omdat Suid-Afrika nie tans ’n veiligheidsnet vir boere het nie. Hulle voer voorts aan dat boere tydens droogtejare hul eie reserwes of kapitaal gebruik om bykomende leenkapasiteit vir hul bedrywighede te hefboom om sodoende die verliese van die huidige en vorige jaar te absorbeer.

Veral veeboere word benadeel. Hulle bevind hulle in ’n situasie waar hulle hul kontant moet gebruik om voer aan te koop om sodoende hul diere reg te kry om verkoop te word. Die probleem is dat voerpryse dramaties gestyg het en die beskikbaarheid daarvan deur die droogte belemmer word, en dit lei weer tot selfs meer noodslagting of -verkoping van diere en swakker pryse vir dié boere.

Die kumulatiewe uitwerking is dat die landbousektor in die derde kwartaal van 2015 ’n afname van 12,6% aangeteken het. In die tweede kwartaal was dit -19,7%, en -18% in die eerste kwartaal. “En die ergste kom nog,” aldus Willemse.

Die impak wat die droogte op die landbousektor het, sal uiteraard die aanplant en verbouing van gewasse, waarvan baie as stapelvoedsel dien, drasties beïnvloed en derhalwe in die vorm van verhoogde voedselpryse manifesteer.

Willemse en sy kollegas skryf in hul verslag dat voedselinflasie aansienlik sal vererger en dat ʼn dubbele krisis die droogtegeteisterde Suid-Afrika met die rentekoersverhogings en wisselkoersverswakking in die gesig staar. “Verbruikers in die laerinkomstegroepe sal die impak van hoër inflasie die hardste voel, aangesien basiese voedselpryse skerp sal styg en huishoudelike inkomste dramaties sal afneem. Kortom, die bedreiging geskep deur die droogte is dat basiese voedselpryse – soos dié van mieliemeel en groente – in die afgelope jaar verdubbel het en dat die stygingskoers versnel terwyl die droogte weier om te breek.”

Graan SA het onlangs gesê Suid-Afrika sal weens die droogte moontlik tussen vyf en ses miljoen ton mielies moet invoer. Die prys van witmielies is reeds meer as R5 000/ton en  Ronald Ramabulana, uitvoerende hoof van die Nasionale Landboubemarkingsraad, sê hierdie verwikkeling kan die basiese voedselmandjie meer as 25% duurder maak.

Benewens die impak van die droogte op voedselpryse het dit ook tot waterskaarstes in veral die sentrale en noordelike dele van die land gelei. Vyf provinsies is tot rampgebiede verklaar en plekke soos Senekal in die Vrystaat is besonder hard getref.

Die publiek het in hierdie uitdagende tye ook vindingryk geraak en Water Shortage South Africa het spontaan as hulpverleningsinisiatief op Facebook ontstaan. Dit het daartoe gelei dat daar op 18 Januarie reeds 2 miljoen liter water in 20 dae aan mense in nood gelewer is.

Baie burgerlike organisasies en groeperinge soos TLU SA, die Solidariteit Beweging en Agri SA het ingespring om geldelike verligting te bring terwyl die sakesektor en veral die groot voedselkettinggroepe ’n aansienlike helpende hand verleen het.

Die maatskaplike prentjie en regime-verandering

Klaus Schwab, voorsitter van die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF), dui in sy onlangse  Wêreldrisiko 2016-verslag aan dat maatskaplike onstabiliteit Suid-Afrika se tweede grootste risiko is. Dit is daarom nodig om te bepaal watter impak die droogte hierop het en in die toekoms gaan hê.

Volgens prof. Andre Duvenhage, hoogleraar in politieke wetenskappe aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus, gaan die droogte as sodanig nie noodwendig ’n sleutelimpak op die sosio-politieke bestendigheid van Suid-Afrika hê nie.

“Die werklik impak gaan wees as dit saam met ander bestaande politieke, ekonomiese en maatskaplike faktore as ’n samehang gevoel gaan word. Saam kan hulle tot ’n kantelpunt lei en verandering meebring.”

Hy rangskik hierdie faktore in vier hoofgroeperinge. Die eerste een is die politieke konteks bestaande uit elemente soos die interne leierskapstryd binne die ANC en radikale beleidmaking; die tweede een is die verswakkende staat met swak regering op munisipale vlak, onbetroubare kragvoorsiening en powere bestuur van staatsinstellings soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens; die derde een behels die politieke ekonomie en sluit komponente soos staatsuitgawes en trae ekonomiese groei in; en laastens kom sosiale faktore soos verstedeliking, xenofobie, rassisme en ander demografiese faktore ter sprake. “Voeg ’n verkiesing en die impak van die droogte by en jy het ’n plofbare mengsel,” sê hy.

Hy voorsien egter nie ’n soort rewolusie of “volmaakte storm” nie, maar reken wel dat dit waarskynlik tot regimeverandering kan lei en dat die huidige stel omstandighede gunstig vir ’n soort Arabiese Lente is. “Ek glo nog in Jan Smuts se siening dat die ergste en die beste nooit in Suid-Afrika sal gebeur nie. Ek glo ons sal bly voortploeter en dat daar mettertyd ’n politieke herskikking sal plaasvind.

“Hierdie regimeverandering of herskikking gaan hom sowel binne as buite die drieparty-alliansie afspeel, maar grootliks binne die ANC. Die party sal aanhou om steun by die stembus te verloor, maar die groot verandering sal intra-ANC gebeur met die faksies wat wedywer om mag en invloed te bekom. En dit gaan beslis groter as ’n verandering van party wees,” sê hy.

Die ANC, en die Zuma-regering in die besonder, se skewe en miopiese prioriteite asook gebrek aan regeringsukses gaan derhalwe beteken dat veelvuldige krisisse oral ontstaan en die vure te veel raak om te blus. Ofskoon ek nie voorsien dat die ANC gou van sy mag gaan hoef afstand te doen nie, gaan hy reeds in vanjaar se plaaslike verkiesing steun bloei – veral in die metro’s – deur middel van kiesersapatie, maar ook verlore steun aan sekere opposisiepartye soos die EFF en die DA. Dit gaan net ’n kwessie van tyd wees voordat die prysskokke begin intree en met die verkiesing wat waarskynlik eers in die hartjie van die winter gehou gaan word wanneer die boere en verbruikers se ellende op hul ergste is, kan dit die natuurlike wegslyting selfs vererger.

In die skoonmaakproses om van allerlei vyande soos NUM, Zwelinzima Vavi en Julius Malema ontslae te raak, het die heersende faksie nie net steun verloor nie, maar ook meer en magtiger vyande gemaak wat nou wraaksugtig teen die drieparty-alliansie gaan wedywer. Baie invloedrykes binne die ANC is glad nie gelukkig met Zuma en Kie. se suiweringsproses en die uithol van die drieparty-alliansie nie en het selfs al met sekere eksterne groepe begin saamwerk om van hulle ontslae te raak. Vanjaar se verlore steun by die stembus, trae ekonomiese groei, werkverliese, beroerde arbeidsverhoudinge, lae sake- en beleggersvertroue, swak dienslewering op munisipale vlak, toenemende teenstand uit verskeie oorde en nou die uitwerking van ’n droogte gaan waarskynlik in die afsienbare toekoms ten minste die einde van die Zuma-kabaal se mag beteken. Mettertyd gaan die nuwe dominante ANC-faksie – bestaande uit ’n klomp gegriefdes met diverse sienswyses – se uitgediende ideologieë, onbevoegdheid en leuens onafwendbaar tot verdere agteruitgang en probleme lei en hulle nog verdere steun kos totdat die party waarskynlik dieselfde lot as die Zuma-groepering gaan ly.

Dit is ironies dat, nes sy bittere vyand van ouds, die ANC homself à la die Nasionale Party in ’n klomp doodloopstrate bevind en dieselfde foutiewe remedies oor en oor probeer totdat hy uiteindelik mag gaan verloor. Dan gaan hulle dit waarskynlik berou dat hulle nie ten minste die droogte se impak help versag het nie. Slagkrete oor rassisme en hulp aan studente wat ’n flou arbeidsmark na hul studies gaan betree en insgelyks die pyn van hoër voedselpryse en inflasie gaan voel, is selfs op die korttermyn stiksienig en gaan eenvoudig net nie vir ewig deug nie.

Die twee kernvrae sonder antwoorde bly egter oor: Gaan ’n swak ANC gevaarliker raak en die gebruiklike Afrika-roete volg om die land te ruïneer in die strewe om aan bewind en aan’t plunder te bly? En wat vervang die ANC? Ons kan tans net oor dié komplekse vrae se antwoorde bespiegel en ons deur burgerlike aksies op die ergste voorberei. Hierdie droogte het reeds gewys waartoe ons in staat – ondanks die staat – is.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

15 Kommentare

Klaas ·

Ja-nee, dit staan soos ‘n paal bo water: as FW nie in 1990 die ANC ontban het nie, sou ons nie in 2015/15 ‘n droogte gehad het nie!

Annette Beukes ·

Net soos wat ons in hierdie land ge BID het voor die 1994 verkiesing, bid Suid Afrika tans oor al die verkeerde dinge in in ons land. Veral vir uitkoms vir ons land se boere, maar ook vir die Regering. Vir die slagoffers van plaasmoorde en ook die armes in ons land. Waarom laat God toe dat al hierdie dinge gebeur? Want Hy wil sien HOE ons daarop gaan reageer. Gaan ons kla, klippe gooi, verwyt en haat? OF gaan ons vergewe, perspektief he en liefde uitdeel en BID? Hou tog op om oud Pres de Klerk te gysel. WAT anders kon daardie tyd gehelp het as probeer versoening bring? Uit ANC geledere het nie NET sleg gekom nie…dalk sou hulle beter gevaar het as MEER mense vir hulle gebid het! LUISTER nou tog een maal na wat oud Pres de Klerk gister gese het: “Kom almal in hierdie land, elkeen wat GLO dat ons in vrede KAN saamwerk en bou, en staan SAAM, ons is by verre die meerderheid. Gaan ons toelaat dat die veel kleiner minderheid van ekstremiste uit alle stande en vlakke oorneem?” (my verstaan van sy woorde.) Ek tree nie gewoonlik toe tot sulke gesprekvoeringe nie, maar vandag doen ek dit. VERGEWE mekaar in hierdie land….ALMAL! Hou OP terugkyk! Kyk OP na van waar ons hulp gaan kom en DOEN wat God van ons verwag…he mekaar lief, bid vir mekaar. en moenie staan en kritiseer nie…wees DEEL van die verandering.

HEVW ·

Glo my die vorige politisie wat verantwoordelik is vir die verraad en die wegtekening van die volk en land slaap nog alte lekker. Hulle glo steeds soos zuma hulself is belangriker as die land en sy bevolkingsgroepe. Hul lees nie eens die minste Maroela nie.

Johann Marx ·

Die bewyse is nou duidelik. ‘n Struggle-organisasie soos die ANC kan net doen waarmee hulle goed is, nl. Struggle. Hulle het oor die afgelope 20 jaar elke moontlike geleentheid gehad om ‘n suksesvolle regering te word……maar hulle het verkies om van alles eers ‘n “struggle” te maak, en dan in die meeste gevalle gefaal om hulle daar uit te “struggle”. Nou “struggle” die land om van hulle ontslae te raak…

alida ·

Genade mense los FW uit. Dit is gedane sake. Juig eerder oor die feit dat ons kon saamstaan in die droogte en hulp aangebied het waar dit die nodigste was. Die regering het, sover ek weet, nog nie ‘n druppel water of een sent geskenk vir die droogte geteisterde gebiede nie. Ons kan in ‘n krisis sonder die patete klaarkom, maar moet asb nie dink ons sal ‘n woord van dank van die regering ontvang nie.

Loeis ·

Mense moet uit hul foute leer. Gee vandag ‘n klomp dieselfde keuses en hulle sal presies dieselfde keuses maak. Om aan te beweeg beteken ook om nie jou foute te herhaal nie.

alida ·

Ons moet nooit ooit vergeet dat FW destyds met ‘n slim redelike mens onderhandel het nie. Wie het verwag dat Mnr Mandela se opvolgers soos narre en dwase alles waarvoor hy gestaan en geglo het sou vernietig deur die land te verlaag na rommelstatus en hulself te verryk nie. Dit is defnitief nie wat Mnr Mandela en/of FW de Klerk wou gehad het nie. Ons huidige President is ‘n baie groot verleentheid vir ons land en hy moet summier onthef word van sy pos.

Hein ·

Mandela is maar ook ‘n kommunis gewees. Die ANC het net gewag vir hom om uit die pad te kom. Alles het vernel daarna. In die volgende staatsrede sal dit bewys word en ons sal moet keer vur ons paaltjies. Die Eff gaan ook die volgende opposisie wees. Die DA gaan dieslfde paadjie loop as die NP. Kom on kyk. FW en Mandela praatjies gaan nou nie meer help nie. Hierdie ouens gaan groot gaan om te oorleef en die meerderheid kiesers gaan hulle nie teleurstel nie.

John ·

Afrika het nie regtig grense nie. Almal kom en gaan soos hulle wil; nog altyd. Daar is meer as 60 miljoen anderskleuriges in Suid-Afrika en sowat 4 miljoen blankes. Ons is ‘n druppel in die emmer. Mnr Mandela was president toe die blankes die land nog in ‘n groot mate in stand gehou hef. In die paar jaar wat hy president was, was hy feitlik nooit in die land nie. Ek glo nie ons het hom ooit werklik geken of gesien ‘regeer’ nie. Die meeste van dit wat ons aan hom toeskryf is wensdenkery deur beide swart en wit. Swart Afrika, met mnr Mogabe as voorbeeld van ‘n langlewende patriarg, se land is tot niet, maar gee hy enigsins toe dat hy ‘n fout gemaak het? Sy land se inwoners trek heen en weer oor ons grense en sit verarm in ons plakkerkampe. Hulle stem vir die ANC en geniet al die voorregte van die land. Hulle sal dalk ook aanspraak maak op grond want het hulle nie al jare vir sekere boere gewerk nie? Ons gaan in die’ jaar rilers beleef soos die ANC naarstiglik sy kiesers gaan probeer gelukkig hou. Ek het ‘n goeie idee hoe hulle die kiesers in die Kaap gaan probeer oorhaal. Die droogte is die laaste ding wat die regering pla. In die swart politiek is bakleiery soos in ‘n uitgebreide familie. Iemand van buite moet net nie iets oor iemand binne daardie kring se nie, dan is die duiwel los.

Loeis ·

Die skrywer is nogal optimisties oor ‘n moontlike einde aan die ANC. As mens na die vorige verkiesing kyk, het die ANC 2% van die totale steun verloor. Sal dit nie maar net weer groei wanneer Zuma met iemand anders wie meer gewild is, vervang word nie?

Mens kan verwag dat die EEF later vanjaar by die stembus ‘n happie uit die meer radikales in die ANC kan neem. Mens kan verwag dat die DA se swart sentiment en nuwe leier ‘n happie steun uit die swart middelklas gaan trek, en sommer terselftertyd wit en bruin stemme wegstoot. Maar die ANC het ‘n harnas van die beste metaal aan, en wanneer dinge verkeerd loop, beroep daardie party hom op die een ding wat nooit faal nie. Hy skreeu “Apartheid!” en die stemme rol in.

Gaan alles werklik verandering by die STEMBUS bring, of gaan ons maar net meer geweld sien? Iets soos Everything must fall!? Die nuwe Suid-Afrika eksperiment is besig om skeef te loop.

Klaas ·

Dankie Annette en Alida vir julle positiewe stemme! Van die ander ouens se kommentaar: politisie moet seker wees politici? Ek het eers gedink hy spel polisie verkeerd! En dan die ouens wat so probleme het met die wigte en teenwigte: julle het seker nog nie gehoor van enige hofsake wat Solidariteit en Afriforum en ander organisasies in die Grondwet-hof gewen het teen oortredings van die Grondwet deur die regerende party nie.

marius ·

Geen persoon het Suid-Afrika weggeteken nie. Op beskaafde wyse is ‘n nuwe demokratiese pad vir Suid Afrika gebaan, om uit die totale gemors waarin die land was te kom. Daar is ‘n wêreldklas grondwet beding om te verseker die regte van die land se burgers word beskerm. De Klerk kan nie pa staan vir die onbevoegdes wat nou die land regeer nie. Ek stem saam met Anette en klaas. Ons verlang terug na ‘n tyd wat eintlik ‘n tikkende tydbom was. Die ouens wat ‘n volkstaat wou hê kan nou nog nie ooreenkom oor waar dit moes wees nie. Die hele Suid Afrika is dan só lekker. My swart buurman is nie my vyand nie. Hy word ook deur swak dienslewering geraak. Ons moet oor ‘n wyer front saamstaan. Anderskleuriges moet sien ons is ernstig oor nasiebou. Ek is trots om ‘n Afrikaner te wees, want ek kan sien hoe dit wat ek elke dag in my werk doen die lewe van anderskleuriges positief beïnvloed. Rassisme is die ANC se veldtog. Kom ons wys die teendeel teenoor elke anderskleurigebwat ons teëkom.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.