Droogte: ‘Modder is beter as stof’

AfriForum het Donderdag 85 ton voer aan boere van die droogtegeteisterde gebied Reddersburg in die Vrystaat geskenk. Foto: Verskaf

AfriForum het al reeds meer as 300 ton voer aan boere verskaf. Foto: Verskaf

Deur Henk Maree

Op ’n plaas ontmoet ek drie geslagte wat saam boer: Oupa, Seun en Kleinseun. Hulle wys vir ons foto’s van beter jare: jare toe daar gemiddelde reënval was; ’n plaas met weiding; ’n plaas met riviere; ’n plaas met damme. En nou – nou is dit al drie reënlose jare; nou is dit net die dor, droë aarde. Soos ons ry om die skape te gaan voer gee, sien ek ’n plaas met geen weiding en geen riviere; daar waar ’n dam was, is dit net uitgedroogde klei. Kleinseun sê vir my: “Modder is beter as stof.”

Soos soveel kere vantevore skitter die ANC-regering in hul afwesigheid in dié krisistyd. En ja, dit ís ’n krisistyd. Veeboere het nie meer reserwes om voer mee aan te koop nie. Vee is boonop te maer om slagpale toe te neem, want die prys wat ’n boer vir ’n maer bees of skaap kry, is nie eens genoeg om die vragmotor se diesel te dek nie. Dit is om dié rede dat sommige boere ’n bees of skaap wat te swak is om op te staan eerder doodskiet. Wat anders staan hom te doen?

Die hartseer is die volgende: selfs al sou die hemel se sluise vandag oopgaan, sal dit ’n veeboer sewe jaar neem om sy kudde weer tot die oorspronklike grootte te herstel. Boonop het die prys van veevoer die hoogte ingeskiet omdat saaiboere totale misoeste gehad het – sommiges selfs vir ’n tweede of derde agtereenvolgende jaar. Die saaiboere sit met skuld van R6 miljoen en hoër. En die banke? Soos tannie Laurika sing: “Die man van die bank het net sy kop geskud, want my oom, ja, my oom was te diep in die skuld.”

Vir ons stadsjapies lê die tyd van betaal nog voor. Die tekens is reeds hier met melk- en mieliemeelpryse wat toegeneem het. In die komende maande gaan vleispryse ongekende hoogtes bereik. Die hartseer is dat, hoewel alle verbruikers onder dié verhoging gaan lei, die lae-inkomstegroep die swaarste daaronder gaan ly – dié mense wat tans tot 60% van hul maandelikse inkomste aan voedsel bestee.

Suid-Afrika gaan onder die ergste droogte sedert 1904 gebuk. Organisasies en landbou-unies wat regstaan om boere te help, doen ongelooflike werk. Aan TLU SA, Boere in Nood en Agri SA – daar is sovéél boere wat dankbaar is vir dit wat julle gedoen het en nog gaan doen. AfriForum het ook betrokke geraak deur ’n droogtefonds te stig waartoe die publiek R10 kan bydra. Wat as ’n klein inisiatief begin het, het reeds tot iets gegroei wat ons nie sien kom het nie. Skenkers vanuit Nederland – Woord en Daad asook Hulp bij Bijzonder Noden – het  groot bedrae geskenk, terwyl die publiek die R10-SMS laat inrol het. Tot op hede het AfriForum reeds meer as 300 ton voer aan boere verskaf – alles te danke aan die publiek en organisasies.

Die verhaal eindig egter nie hier nie. AfriForum gaan in November talle organisasies in Europa besoek wat aangedui het dat hulle die moontlikheid oorweeg om skenkings tot die droogtefonds te maak. AfriForum gaan terselfdertyd aan die 9de Sessie van die Forum vir Minderheidsaangeleenthede by die Verenigde Nasies deelneem. Met die skakeltoer hoop en vertrou ons om verdere finansiering te bekom om op dié wyse ’n daadwerklike verskil vir die boere van Suid-Afrika teweeg te bring.

Jy kan steeds ’n bydrae maak deur jou naam en die woord “Droogte” na 38312 te SMS. Dié SMS’e kos R10 elk.

  • Henk Maree is AfriForum se nasionale woordvoerder.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Daan Erasmus ·

Ek is ‘n boer wat hulp nodig het. Waar begin ek om vir hulp te vra.

John ·

Hier is boere wat Afrika-styl speletjies speel. Hulle moet oppas! Hier is ook baie van hul naaste wat in die uiterste ellende leef en oorleef van Marmite-toebroodjies en tee en saans bid vir die arme boere… wat snaaks genoeg kaartjies kan bekostig na rugby-wedstryde en verblyf in duur gastehuise. Daar is Iemand wat alles sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.