Dubbele standaarde: Die verhaal van drie ‘rassevoorvalle’

AfriForum-dubbele-standaarde-met-kallie-kriel

Lede van die burgerregte-organisasie AfriForum het Woensdag buite die Pretoria-Noordse landdroshof teen die dubbele standaarde betoog waarmee rasvoorvalle in Suid-Afrika hanteer word. Foto: Verskaf.

Daar het onlangs in een week drie voorvalle in een gebied plaasgevind waar motoriste van verskillende rasse deurgeloop het. Die feit dat net die een voorval waar wit mense oortree het aan die groot klok gehang is, getuig van dubbele standaarde rakende ras in Suid-Afrika, skryf Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

 Die Montana-omgewing aan die noorde van Pretoria het die afgelope dekade geweldige uitbreiding ondergaan. Die gebied is veral gewild vir sy warmer klimaat as die res van Pretoria.

Aan die begin van Augustus vanjaar – 3 Augustus om presies te wees – het die Montana-omgewing se bekendheid om die verkeerde rede verder gegroei. Op dié dag het daar ’n onderonsie by die plaaslike KFC se deurrylaan ontstaan. Die insittendes van drie voertuie was betrokke: een met ’n swart gesin, die Sono’s, en die ander twee met vyf wit mans. Dit wat daar plaasgevind het, sal deur alle regdenkende mense veroordeel word. Ook AfriForum veroordeel geweld soos hierdie deurlopend en sonder skroom, ongeag die ras van die oortreder of slagoffer. Die feit dat die slagoffers volgens mediaberigte swart was en die aanvallers wit, het binne reëls wat in Suid-Afrika se openbare debat geld vanselfsprekend beteken dat dit ’n rassistiese voorval was. Fikile Mbalula, die minister van polisie, die meeste media en die sogenaamde “black Twitter” het die KFC-gebeure dermate tot een van die grootste nasionale nuusgebeure verhef dat dié voorval vir ’n paar dae die hoofstorie op sosiale media was.

Slegs drie dae later het nog ’n onderonsie tussen motoriste in die Montana-omgewing plaasgevind. Dié keer was dit ’n minibustaxi wat vir Carel Kruger, wat alleen in sy voertuig gery het, van die pad af gedwing het. Twee van die taxi se insittendes het daarna vir Kruger herhaaldelik met ’n baksteen bygedam. Twee metropolisielede wat die gebeure gadegeslaan het, het geweier om Kruger te help – selfs toe die baksteenhoue direk voor hulle aangehou het om op Kruger neer te val. As Kruger nie weggehardloop het nie sou hy waarskynlik vandag dood gewees het. Kruger se groot sonde was dat hy dit durf waag het om vir ’n taxi wat op ’n gevaarlike wyse voor hom ingery het, te toet en ligte te flits.

Die feit dat die slagoffer wit was en die aanvallers, asook die twee metropolisielede wat nie wou help nie, swart was, het volgens die reëls wat in die Suid-Afrikaanse debat oor hierdie soort voorval geld dié keer gedikteer dat dit nie ’n rassevoorval was nie. Die minister van polisie, die meeste mediabronne en die sogenaamde “black Twitter” het geswyg oor dié voorval. Inteendeel, ’n Afrikaanse kommentator wat gereeld op sosiale media van hom laat hoor, het dadelik aangevoer dat dit nie ’n rassevoorval was nie, aangesien daar baie voorvalle was waar swart mense mekaar in taxi-geweld aanval. As hy eerlik was met sy kommentaar, sou hy ook oor die KFC-voorval moes erken dat daar ook gevalle sou wees waar wit mense in ’n onderonsie met ander wit mense kon wees by ’n kitskosrestaurant. Die dubbele standaarde wat oor rassevoorvalle in Suid-Afrika geld, verblind hom egter te veel om konsekwent te wees.

Slegs vier dae ná die Kruger-aanranding is Carine van Staden, ’n ongewapende wit vrou, in nog ’n padwoedevoorval in dieselfde omgewing deur ’n swart korporaal in die Suid-Afrikaanse Weermag (wie se naam nie bekend gemaak is nie) in die bors geskiet. Van Staden se long het platgeval en sy moes agt dae in die hospitaal deurbring. Gerugte het die rondte gedoen dat dae ná die voorval die polisie steeds nie ’n verklaring by Van Staden afgeneem het nie en niemand is in hegtenis geneem nie. Anders as met die KFC-voorval het Mbalula, die meeste mediabronne en “black Twitter” nie ’n woord oor dié saak gerep nie.

Benewens die genoemde voorvalle is daar nog talle ander voorbeelde van die dubbele standaarde wat geld rakende ras. So is die destyds onbekende Penny Sparrow tereg beboet vir haar onaanvaarbare uitlatings, maar die Gautengse staatsamptenaar Velaphi Khumalo het met ’n ligte tik oor die vingers weggekom oor hy gesê het wit mense moet doodgemaak word soos Hitler met die Jode gedoen het.

Hierdie dubbele standaarde wat rassevoorvalle in Suid-Afrika betref, veroorsaak net verdere polarisasie – tot nadeel van almal wat soos AfriForum glo dat wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe bevorder moet word. Aan die een kant wek die feit dat byna elke voorval waar ’n wit mens hom wangedra tot nasionale nuus verhef word, die valse indruk dat wit mense oor die algemeen geharde rassiste is. Dit lei natuurlik tot ’n uiters negatiewe beeld van wit mense onder baie swart mense. Aan die ander kant lei die eensydige hantering van rassevoorvalle tot ’n verharding van houdings onder wit mense. Die keelvolfaktor onder wit mense wat voortvloei uit die feit dat die meeste van hulle voortdurend onskuldig in die beskuldigdebank geplaas word, skep die voorwaardes vir verdere konflik.

Die tyd het aangebreek dat die stille meerderheid vanuit alle bevolkingsgroepe – wat wil toesien dat ’n samelewing bestaan met wedersydse erkenning tussen mense – hul stemme moet laat hoor teen die dubbele standaarde wat om ras bestaan.

My voorstel oor hoe dit gedoen kan word, is soos volg:

Swart mense kan wedersydse respek bevorder deur hulle nie deur “black Twitter” en mense soos Mbalula op sleeptou te laat neem nie. Natuurlik het hulle die volste reg om die KFC-voorval te veroordeel, maar dit sal ’n reusestap wees as plaasmoorde en aanvalle soos op Kruger met dieselfde ywer veroordeel kan word.

Wit mense sal (soos wat die meeste reeds doen) deur hul eie gedrag moet toesien dat voorvalle soos wat by KFC gebeur het, nie plaasvind nie. Sulke voorvalle benadeel alle wit mense. Wit mense moet geweld teenoor swart mense veroordeel en met dieselfde selfvertroue nie swyg oor die onreg wat hulle aangedoen word deur die dubbele standaarde wat geld nie. AfriForum het juis vreedsaam betoog by die hofsaak van die beskuldigdes wat Carel Kruger aangerand het, om te help dat dubbele standaarde uitgewys word en seker te maak dat geweld soos dié teen Kruger en plaasmoorde met dieselfde ywer as ander geweld veroordeel word.

Om dubbele standaarde oor ras in die kiem te smoor, is in ons almal se belang.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Kallie Kriel

Kallie Kriel is die Uitvoerende Hoof van AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

James ·

Duitsland, 1930’s. Suid Afrika, 2017. My eie Israel – NOU! Selfbeskikking vir vervolgde minderhede – dis al manier.

Al moet jy dit maar naderhand met geweld begin opeis..

Boerseun ·

James, n man met insig. Net jammer my volk probeer nog vas hou aan die idee van Suid Afrika. Moes nooit die die Unie en konsep van Suid Afrika aanvaar het nie, Zuid Afrikaanse Republiek bly regmatiglik die Boere se grond, Maar ek sal enige grond vat gee nie om waar nie.

Reinhardt ·

Goeie stuk Kallie. Hierdie dubbele standaarde maak ons almal negatief.
Hier is nog n voorstel, kom ons vat leiding, kom ons veroordeel ook die gevalle waar swart mense deur die hand van witmense ingedoen word. Dit sal swart mense laat besef ons beskerm nie net ons eie mense nie, ons veroordeel hulle wanneer hulle verkeerd trap. Lead by example.

Eish ·

Afriforum doen dit laaaaaankal reeds. Hul is uiters konsekwent in dat hul dade by hul sienings aanpas.

Eish ·

Dit en dit alleen gee my nog hoop, Afroforum se integriteit.

SARIE VAN HEERDEN ·

Reinhardt, jou mening is seker kredietwaardig, maar nadat ek nou gesien het wat met die 2 jongmanne gebeur wat betrokke was by die doodskissaak in Middelburg om ‘n dief skrik te maak wat waarskynlik herhaaldelik by hulle gesteel het en hom NIE wou vermoor nie, is my enigste raad aan witmense: Bly weg, al doen hulle wat ookal aan jou. Bly weg, hou jou mond en onthou wat met mev Sparrow en hierdie twee jong manne gebeur het. Hier kom die spreekwoordelike DRAAI DIE ANDER WANG ter sprake.

Awie Opperman ·

Hoeveel keer moet ons nog die wang draai? Jy maak jouself ook skuldig aan dubbel standaarde, want wit mense moet meer geduldig en toegewend wees en mag onder geen omstandighede kwaad word nie, ons moet net die ander wang draai. Ek het net 2 wange en is gatvol om as 2de klas burger in my eie land behandel te word. Ons geskiedenis is baie kleurvol en daar is ‘n paar voorbeelde van wat gebeur as genoeg mense soos ek voel. Die slagtersnek rebellie en die gebeure daarna kom ter sprake.

WONDER ·

Nou wonder ek net, Afriforum en Kallie Kriel, gaan daar net weer ‘n petisie oorhandig word. Ek weet nie of Afriforum nou vir ons wag om verder iets te doen nie of hoe nou. En moenie vra wat EK hieraan doen nie, ek sit nie in die posisie en word betaal nie. Hoekom bestaan Afriforum, wanneer kan AL ons blankes ook verteenwoordig word deur “high profile” prokureure of advokate? Dit wat Kallie Kriel te sê het weet ons al lankal, wat kan ons doen behalwe reg in eie hande neem.

andrea van vuren ·

As jy die reg in jou eie hande neem is jy gebrandmerk vir die res van jou lewe…

Erika ·

Ekt op vorigte berigte ook kommentaar gelewer wat verwyder is. Ek is n ouer van 1 van die KFC mans. My seun was in die voorste kar en het reeds betaal vir sy kos en net gewag daarvoor. Die DRONK sonos het vir hulle ligte geflits en toeter geblaas sodat die kar agter die sonos sê hulle moet hulle gedra. Mnr sono het intussen uitgeklim en n sekuriteitswag en sono se vrou het gevra hy moet terugklim. Iewers het geveg ontstaan maar my kind en sy maat wou doen wat julle se die oomblik toe hulle hulle kos kry. Toe pluk mev sono my kind aan sy arm en 4amd hom aan. So het haar man ook ingeklim in my kind aangerand. Ek stel nie belang oor die res nie. My kind en sy maat het gery en sinoville polisiestasie toe gegaan om n aanranding saak te maak maar kon tot nou toe nie eers n verklaring gee nie. Hulle is by die stasie summier in n sel gegooi. SO WAT WAS HIER DIE REGTE DING OM TE DOEN

Boerseun ·

Skokkend! Ons verwag van Afriforum om hierdie swart-op-wit rassisme by KFC end-uit by te beveg. Die wit seuns het NOU julle hulp nodig!!! Maar blykbaar kry Afriforum meer punte as hulle iemand van ‘n ander ras verteenwoordig.

Cassie ·

Hoekom verteenwoordig gerrie Nel en Afroforum dan nie die KFC manne nie , is daar te m,in punte vir hul om te skor.

Rupert Ashford ·

Die swart “stille meerderheid ” keur hierdie dinge goed. Dit is hoekom hulle stil is daaroor.

danie ·

Stem saam. My persoonlike gevoel is egter ook dat meeste van Maroela se lesers inderdaad geharde rassiste is as mens so oor die algemeen na kommentare kyk. So die “etiketering” is ook nie heeltemal ongeregverdig nie.

Eish ·

Sjoe, dis n wilde afleiding. Wat van die lesers wat nie kommentaar lewer nie. Die meeste negatiewe kommentare gaan oor die ongelukkighied met die dubbele standaarde en omgekeerde rassisme. Verder het MM n streng beleid oor kommentare en rassistiese opmerkings sal verseker nie geplaas word nie. Ek kan dus nie saam met jou stem oor die bewering nie.

pie in the sky ·

Danie dit vat een Rassis om ‘n ander raak te sien. Geluk!

John ·

Hierdie speletjies is godsdienstig-ideologies gefundeerd en ons sal dit weldra en te laat agterkom. Marxisme en sosialisme word onder die dekmantel van menseregte nadergetrek en die gewete geteiken vir die verkryging van mag en beheer oor almal se regte en eiendom. Ons raak paniekerig oor die simptome en sit koue kompresse op die voorkop maar die virusse woed intern voort. Die Roomse Kerk onder die Jesuiete-pous(e) is ‘n groot speler in die agtergrond wat aardse gelykmaking bevorder deur almal te paai (en selfs saam met afgode-dienaars te aanbid en die Vader se skeppingsvermoe te troef) om so weer sy magtige aardse septer te swaai in ‘n nuwe wereldorde. Wat hier gebeur moet in konteks van wereldgebeure beoordeel word… Hierdie pessiekte troef die rus en vrede op die ganske aarde ~ om dit eenvoudig te stel. Lees wat die slim Joodjie hierbo skryf… en dit wat almal wil vermy staan reeds opgeteken in ons Bybel.

Eish ·

Ek het baie respek vir die pogings van Afriforum om die omgekeerde diskriminasie aan die man te bring nasionaal en internasionaal. Op die keper beskou het die bewusmakingsveldtogte plaaslik geensins geslaag daarin om die status quo te verander nie en dit laat tog bedenkinge ontstaan oor die nut van plaaslike pogings. Ek verwys slegs na optogte en sluit die hofsake asook internasionale bewusmaking uit. Die skrywer bepleit ondersteuning van n gematigde groep uit ander bevolkingsgroepe om die omgekeerde diskriminasie ook teen te staan. Ek is bevrees daar bestaan nie so n gematigde groep nie. Nie eens wetstoepassers reageer in die voorbeeld aangehaal ten aanskoue van n misdaad nie. Die wrewel teenoor blankes loop diep en wyd en oor n paar eeue heen. Indien daar wel so n groep bestaan het, sou die optogte baie meer verteenwoordigend gewees het van die bevolking. Verder, nie eens die kerke en veral die SARK waarvan die tradisionele Afrikaanse kerke lid is, sprook n woord oor die aangeleentheid nie. Dan, soos die tyd verloop het sedert die eerste demokratiese verkiesing, versleg die situasie wat duidelik n politieke agenda toon. Selfs die regerende party se samestelling word in toenemende mate minder verteenwoordigend van die bevolking se samestelling. Ek praat onder korreksie maar van die syfers wat ek gelees het, beweer 45% van die ANC lede in die parlement is Zoeloes terwyl hul slegs 22% van die totale bevolking is. Alhoewel mens nie hoop wil verloor nie, skree die feite ten hemele. Rowwe tye .

Catoq ·

Ek stem saam met jou Reinhardt en dit is wel wat AfriForum doen. Hul beskerm almal maak nie saak of jy pienk of pers is nie! Hulle wil n verskil maak en Suid Afrika n beter en veilige plek maak. Boerseun skrik wakker, wat dink jy sal gebeur as AfriForum verkondig hul ondersteun net wit mense? Dink jy dan hulle sal so suksesvol gewees het? Alle kleure sluit aan want hul besef dat ons regering nie daar is vir ons in Suid Afrika nie. Die regering is net daar vir hul eie gewin. As almal saamstaan kan ons die stryd wen maar nee elkeen wil mos op sy eie staan en kla oor die toestand van die land maar doen niks nie! Een persoon kan niks uitgerig kry nie. Saam staan is die oplossing vir hierdie land!

Leon Stevens ·

Ek steun Afriforum 100% in hul integriteit en dit waarvoor hulle staan. Ek is ‘n trotse lid van die beweging. Hou so aan Afriforum. Julle gee ons minderhede nog hoop en maak ons trots om tóg nog as deel van Suid Afrika te wees. Shalom.

Cas ·

Soek n voorval of bewering van rassisme en maak ‘n toetssaak daarvan. Dis sal mense 2x laat dink, voordat hulle weer die woord rassisme gebruik.

Marius Harding ·

Ek is ook n ouer van een van die jongmanne.. Die skrywer van die artikel maak n bewering asof hy daar was…. of asof hulle reeds skuldig bevind is… net soos Flippie nie vinnig genoeg hulle kon veroordeel nie…. pleks loods Afriforum n behoorlike ondersoek na daardie polisiestasie… die ondersoekbeampte is n uitgesproke blanke hater… Sonoville polistasie se vangwaens kan maar dopgehou word… waar hulle patroleer word huisbrake gepleeg…. heel moontlik medipligtig…. gaan kyk of Thladi enige swartes se borg teenstaan … vra bietjie rond dan sal uitgevind word hoe korup daardie stasie is. . Gaan vergelyk Thladi se leefstyl met sy salaris en dan is daar n ander prentjie……

Juan ·

As jy gaan staan vir alles, gaan jy val vir alles – daar is n sterk saak uit te maak dat Afri-forum hierdie pad stap.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.