Duisende Australiërs stap teen plaasmoorde. Waarom nou?

Dr. Dirk Hermann. Foto: Reint Dykema

In Maart 2018 stap sowat 3 000 mense in Brisbane, Australië, teen plaasmoorde en dit word opgevolg met net soveel wat in Perth aan ʼn soortgelyke optog deelgeneem het.

Dit is vreemde gesigte wat ek nie gedink het ek ooit sou sien nie. Dit volg op die uitspraak van Australië se minister van binnelandse sake, Peter Dutton, dat wit Suid-Afrikaanse boere as vlugtelinge beskou moet word en dat hulle die hulp van ʼn beskaafde land benodig.

Byna al die hoofstroommedia in Australië het oor die minister se uitlatings en die plaasmoordekrisis in Suid-Afrika geskryf. Die dekking spoel oor na Amerika se Fox News, die New York Times, Nieu-Seeland se Otago Daily Times, asook na verskeie koerante in Nederland, België en in talle ander lande.

Plaasmoorde is al vir meer as 20 jaar met ons. Boeke is daaroor geskryf; petisies oorhandig; ʼn rolprent is vervaardig; talle gesprekke is met die regering daaroor gevoer; optogte is gehou; slagoffers se stories is vertel … maar dit was asof daar net geen deurbraak wou kom nie. Dit is ʼn drukkoker in die boeregemeenskap, maar ʼn deksel is daarop gesit.

Dit is tereg nie net ʼn wit kwessie nie, maar die wit gemeenskap, en spesifiek die Afrikaner-gemeenskap, word intens daardeur geraak.

Elkeen van ons ken êrens iemand op ʼn plaas en talle ken iemand wat aangeval of vermoor is. In my eie kring is my oom Frik aan my pa se kant doodgeskop en my oom Danie aan my ma se kant is aangeval. Hy het gemaak of hy dood is en die aanvallers het sy vrou en dogter in ʼn bagasiebak gestop en met hulle weggejaag. Al drie het dit oorleef. My vrou se neef, Renier, is agter sy slaapkamerdeur doodgeskiet en my skoolvriend, Lukas, is in sy bed geskiet.

Afgesien van die fisieke geweld teen familie en vriende wat ons moet gadeslaan, het Afrikaners steeds ʼn besondere emosionele band met grond en plaas. Al woon hulle in die stad, is daar steeds ʼn stuk plaas in hulle. Hul emosionele verbintenis met die platteland maak dat hulle hul besonder kan identifiseer met wat op die plaas gebeur.

In hul eie land word die intense belewenis van plaasmoorde egter deurlopend ontken. Al wat hulle wil hoor, is: “Ons hoor julle. Dis verskriklik. Ons treur saam. Hoe kan ons help?” Hulle hoor dit nie. Hul land ontken hulle. Die drukpot is tot barstens toe en so duur dit nou al vir meer as 20 jaar voort.

Wat het dan nou gebeur dat Maart die “internasionale maand vir plaasmoorde in Suid-Afrika” geword het?

Die antwoord lê in 27 Februarie 2018 opgesluit. Op daardie dag het die parlement besluit dat ondersoek gedoen moet word om die Grondwet te wysig om onteiening van grond sonder vergoeding moontlik te maak.

Dit het die gevaarligte in die wêreld gesneller. Privaat eienaarskap is die belangrikste pilaar van vertroue in ʼn land se ekonomie. Suid-Afrika het aan daardie pilaar begin ruk en dit het skokgolwe deur die wêreld gestuur.

Hetsy dit reg of verkeerd is, beelde van wat in ons buurland Zimbabwe gebeur het, doem op. Die wêreld van persepsies roep daardie prentjies op: boere in voetboeie voor howe; vigilante jongmense wat plase as kwansuise oorlogsveterane namens magshonger politici beset; ʼn land wat verarm; die broodmandjie van Afrika wat leeg is en mense wat verarm.

Die narratief wat deur Malema en die ANC gebruik word, laat geen twyfel nie dat daar ʼn rasseondertoon aan die gronddebat is.

Reeds in die mosie wat deur die parlement aanvaar is, word verwys na “brutal dispossession of land by the settler colonial white minority.

In die 27 Februarie-debat kom van die ergste rasseretoriek moontlik voor. Malema begin byvoorbeeld sy rede met “… a criminal by the name of Jan van Riebeeck…” en vervolg later: “Van Riebeeck lead a full-blown genocide.” Hy sê: “The time for reconciliation is over.” Diegene wat ʼn volksmoord gepleeg het, kan nie daarvoor bedank word deur hulle te betaal nie. Die ANC se Nkwinti repudieer Malema nie, maar sê die ANC se resolusie resoneer met die resolusie wat deur die EFF gelei word. Die ANC gebruik verder ook die woorde “barbaric brutality” en Agang sê dat Jesus Christus nie die gebede van dié wat die grond gesteel het, moet verhoor nie. Agang sê verder dat diegene wat die land gesteel het, dankbaar moet wees dat hulle leef. In ander lande hardloop sulke mense weg. (Hierdie stelling het luide applous ontlok).

Die debat is totaal ongenuanseerd. Dit het niks met herstel of regstelling te doen nie, maar met wrokkigheid en onderliggend selfs straf.

Eenvoudige beelde word gebruik: Wit mense het daardie grond gesteel, ʼn volksmoord gepleeg, en die grond moet teruggevat word. ʼn Hele gemeenskap word gekriminaliseer. Dele van ʼn waarheid word geneem en as die totale waarheid aangebied. Dit is die tegniek van die populis wat nie sal toelaat dat die waarheid in die pad van sy populistiese uitkoms staan nie.

Selfs al skep dit ʼn klimaat wat dit regverdig dat mense doodgemaak word.

Dit is die beelde wat die wêreld ingestuur word. Dit raak die prentjie van Suid-Afrika en resoneer met dít wat in Zimbabwe gesien is. Dit is in hierdie konteks dat plaasmoorde weer “ontdek” is. Die debat op 27 Februarie ruk die deksel op plaasmoorde af – ironies genoeg in die buiteland. Dit was ’n sameloop van heel party omstandighede. Suid-Afrika is nie meer die wonderkind van die wêreld nie. Zuma het dié beeld finaal die nekslag toegedien. Die finale strooi was onteiening sonder vergoeding en die keiser staan kaal voor die land en voor die wêreld.

Dít wat voorheen nie gesien is nie, word nou gesien.

Peter Dutton is Australië se minister van binnelandse sake. Hy is ʼn lid van die Australiese Liberal Party. Hy is kontroversieel, word as konserwatief beskou en sy kiesafdeling is Brisbane Queensland met ʼn sterk buite-metropolitaanse kiesafdeling. In Australië is die Afrikaanse lobby reeds sterk en is ʼn gevange mark.

Dutton sien wat in Suid-Afrika gebeur. Hy maak die afleiding dat wit mense in die moeilikheid is – nie oor wat hy dink nie, maar oor wat Malema sê en wat in die parlement gesê word. Dit is nie hy of die betogers wat die rassiste is nie; dit is Malema, Nkwinti, Agang en Kie. Hulle is die mense wat onverantwoordelik en ongenuanseerd met die waarheid en die geskiedenis omgaan. Dutton glo hulle bloot. Moet egter nie naïef wees nie – Dutton is ook ʼn politikus. Hy het die klimaat reg gelees en gesien dat die debat ook sy politieke agenda gaan dien. Hy is ook ʼn pragmatiese politikus en ook ongenuanseerd om sy boodskap duidelik uit te kry.

Ironies genoeg is wit Suid-Afrikaners die enigstes wat genuanseerd met plaasaanvalle omgaan. Met die samestelling van die boek, Treurgrond, het ons doodseker gemaak dat almal, wit en swart, wat op plase aangeval word se name opgeteken word en erkenning kry.

AfriForum en TLU SA doen moeite om net geverifieerde gevalle op te teken. In Ernst Roets se nuwe boek, Kill the Boer, doen hy moeite om deur goeie navorsing met geloofwaardigheid te reageer. Dit is nie wit Suid-Afrikaners wat ʼn rassebaadjie aan plaasmoorde gee nie. Dit is die konteks wat Malema en Kie. aan die debat gee.

Hoe reageer gewone Afrikaners, wat al 20 jaar stoei met die drukkoker van plaasaanvalle, op die internasionale belangstelling? Iemand hoor ons. Iemand gee om. Ons wekroepe val nie meer op dowe ore nie. Dit is wat die regering nie verstaan nie. Indien hulle die emosies oor plaasaanvalle hier ignoreer of relativeer, gaan dit êrens oorloop, en 27 Februarie het skielik ʼn golf veroorsaak wat die debat oor plaasaanvalle internasionaal laat oorspoel het. Ek dink dit is ietwat oordrewe, maar kommentators waarsku oor die diplomatieke spanning tussen Australië en Suid-Afrika as gevolg van die optogte. Indien dit so is, is dit ʼn goeie ding en moet die internasionale druk, soos deur onder meer AfriForum uitgeoefen word, voortgesit word.

Die deksel kan nie langer op die drukkoker bly nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Eish ·

Daar is net n enkele effektiewe teenvoeter vir die aanslag op blankes en dit is internasionale aktivisme. Nie bewusmaking nie, aktivisme. As onderdrukte minderheid is dit vir oorlewingsdoeleindes beter om n totale propaganda veldtog buitelands en spesifiek in die Westerse beskawing te loods.

Paul ·

Dr Dirk, terwyl Cyril en sy span in die dae sekere Britse statebondslande op sy veldtog besoek, stuur gerus hierdie inligting, asook die statistiek die afgelope paar jaar betreffende plaasmoorde en aanvalle na die Britse premier, Theresa May, die Britse konsulaat en die ander statebondslande.

Paul ·

Dr Dirk, dan wil ek by sê, ek hoop julle kry sommer die hele wêreld aan die stap teen plaasmoorde. Dit terwyl Cyril op sy veldtog is.

Therese van Schalkwyk ·

In SA word die “intense belewenis van plaasmoorde deurlopend ontken”, omdat die mense wat die ergste daardeur geraak word sélf die “deksel van die drukkoker” nou al vir langer as 20 jaar daarop hou.
Die verskeie landbou-unies kon selfs onlangs nie hul weg oopsien om almal saam ‘n massa-optog te ondersteun wat wêreldwyd ‘n opskudding sou veroorsaak nie. Brisbane en Perth het gewys wat die impak kan wees.

Dit is duidelik in die hoofstroommedia dat die grootste deel van die wit minderheidsgroep van mening is dat een groep se pyn en lyding nie bo dié van hul mede-Suid-Afrikaners uitgelig mag word nie. Enige voorstelle oor hoe ‘n mens op hierdie siening reageer, is welkom.

Laastens,Peter Dutton is beslis ‘n een-uit-‘n-miljoen-politikus, ongeag enige (verbeelde) bymotiewe.

Eish ·

Ja, dit is n goeie punt en ek deel jou siening.
Dis asof die boeregemeenskap per se, asook deur hul onderskeie unies, die hele aangeleentheid systap deur onbetrokkenheid en swye. Uitgesonderd die TLU wat so af en toe puik artikels plaas. Die VLU sê sommer reguit dis planttyd en hul het nie tyd vir nonsens nie. Dalk het hul reeds gebeurlikheidsplanne in plek en word die Burgerregte organisasies se hulp as n lastigheid beskou?
Die onlangse jongboere konferensie het TV dekking geniet en leiersfigure beaam hul positiewe ingesteldheid oor die toekoms. Een jafel merk op dat hy vir die duur van die konferensie geen negatiwiteit ervaar het nie. Hul is vol planne om te deel, mentors te wees en ander liberale idees. Ek dink nie ons is enigsins meer op dieselfde planeet nie.

Therese van Schalkwyk ·

Eish
Die prominensie wat tans in Australië aan die plaasmoord-kwessie verleen word, is hoofsaaklik te danke aan die uitstekende bewusmakingswerk van AfriForum en Solidariteit. Hierdie puik artikel van Dirk Hermann is net een voorbeeld.

Die herrie wat die Aussies veroorsaak in ANC-regeringskringe is ‘n golf wat nóú in SA deur minderheidsgroepe gery moes word. Die buiteland gaan dit nie doen nie, soos Theresa May se skenking aan Ramaphosa pas weer bewys.

Die teenoorgestelde gebeur egter in SA, soos jy ook meld. Besorgde individue en instansies word as regsgesinde opstokers verdag gemaak, en dít uit eie geledere! ‘n Hopelose situasie …

JO-Anli ·

Goeie dag. Goeie skrywe. Ek self het n suster, 2 neefs, n broer wat wreedaardig op plase vermoor is, asook self deur gewapende roof 2keer in my huis 3kapings wonderbaarlik oorleef nadat geskiet is .

Michelle ·

Vra maar net het Dirk Herman al slagoffers se name by mekaar gemaak of probeer, het hy al gestap teen plaasmoorde. Los die wat graag wil help hul probeer die verskil maak.

Jerry ·

Eish, die jafel waarna jy verwys is die Afrikaner van vandag. Hy hang geen ideologiee aan nie, ook nie wat jy noem liberale idees nie. Hy strewe nie na konflik nie, is gematig en tree regdenkend en versoenend op in beste belang van sy gesin, familie en boere gemeenskap. Dit my vriend, is die ware Afrikaner van vandag en hy is nie net in SA nie, jy kry vir hulle reg oor die wereld!

Eish ·

Uitstekende invalshoek en nugtere verklaring wat baie sin maak.
Natuurlik gefundeer in die Woord. Die liefde vir die vyand opdrag kom dadelik by my op ter aansluiting.

Natan ·

Jan van Riebeeck ‘n krimineel…Malema en kie is moordenaars. Jan het net ‘n Ultra City kom opmaak, omdat die matrose skeerbeuk opgedoen het agv gebrek aan groente en vrugte op die lang skeepstog. Toe brei die Ultra City uit. Malema stel dat die matrose maar moes doodgaan. Ultra City is uit, hoop hy stop nooit by so ‘n plek nie.

Terwyl Cyril die Statebondsberaad bywoon en geld vra beken hy dat hy trots is op ons koloniale verlede, wat ‘n ironie. Dr Verwoerd het juis Suid Afrika losgemaak hiervan.

Voorstel ·

Wat van as n platform vir groepsbevondsing gestig word om internasionaal geld in te samel om privaatsekuriteit te betaal om die platteland te beveilig?

Jerry ·

In belang en vir die Afrikaner se eie beswil moet die drukketel se deksel toebly tot tyd en wyl dat die hitte vanself wyk.

Jerry ·

Miskien het dit tyd geraak dat jy in die spieel kyk en die woorde herhaal wat jy so guldelik aan my opdra, Willem.

Willem ·

En my spieël sê, “Baie dankie Solidariteit en Afriforum vir jul onbaatsugtige omgee vir ons voortbestaan”.

Janneman ·

Dirk, is hierdie artikels wat julle skryf ook in engels beskikbaar en waar kan ons dit kry? Ek vra want as ons hierdie soort berigte ook in engels kan kry sal dit baie help om dit toegangklik te maak vir internasionale lesers waar dit op Gab.ai; Facebook en ander sosiale media gelees kan word.

Joe Hall ·

Om die aaklige werklikhede van hierdie droewe land wêreldwyd rugbaar te maak, verg onophoudelike en toegewyde werkywer. Dit is die enigste logiese roete wat ‘n bedreigde minderheid kan volg.

‘n Minderheid wie se voortbestaan en welsyn onder ernstige bedreiging verkeer weens die optredes van ‘n korrupte, onbevoegde regime wat op die keper beskou, maar net nog een van Subsahara Afrika se talle gefaalde state is.

Groot dank aan Afriforum en genote vir hul toewyding wat hopelik sal uitbrei. Wat hopelik nog meer helpers en organisasies sal inspireer om die onregte en sotlikhede wat hier plaasvind, wêreldwyd aan regerings, multi nasionale maatskappye ens ens bekend te stel.

‘n Weg wat mynsinsiens die enigste hoop op positiewe resultate bied.

Wolf ·

EN, ……..Hoekom sien ons nie die berigte op ons televisies nie. Laat almal hier, Malema en Cyril inkluis, bewus word hoekom ander lande teen die eff en anc se “sogenaamde” beleid draai en NIE hier sal bele nie. Slegs oosterse blok lande wat geld najaag en geen morele waardes het nie, sal die huidige regeringondersteun en droog melk, vra my, ek weet.

Stephanie ·

An English version of this article would be appreciated. Please email to me if possible or provide aavailability so I can share it in Australia. Arno Nel in OZ has been a major driving force behind the marches and a petition with 50 000 signatures being handed to politicians. Another march planned for Adelaide and a USA person is putting one together to the white house we where told. Yes these marches are happening in quite a few countries and is growing with the constant sharing of the attacks and threats in SA. Hold the faith we are fighting for you. Groete en sterkte Expat Booertjie in Brisbane.

lizl ·

Hoekom kan 3000 mense in Australie dit doen , en ons kan nie eens `n 1000 op `n slag opdaag by `n hofsaal waar `n blanke omie of tannie wreed vermoor is ? Gee ander mense dan meer om vir ons, as onsself ? Hoekom moet ander mense ons battles vir ons baklei? Tyd laat die agbare boervolkie wakker word en sè : Genoeg is Genoeg ! Ek sal `n tyre brand as dit dan moet. Ek sal Winnie se toi toi na `n sokkie laat lyk , mits daar 999 ander mense ook saam my gaan. Sal maar stupid lyk as net ek alleen gaan rondspring !

Gerrit Buys ·

Die res van die wêreld gee met alle eerlikheid nie om nie. Hoe kan Britanje dan miljarde in Suid Afrika belê volgens onlangse nuus artikels. Is van die produktiewe plase en industriee aan hulle belowe?

Jason Hunt ·

1. Dit is duidelik hoe SA die mense daar buite wil weghou van ons land af. Hierdie regering (en sy tjommies) is vir my soos n klein kind. Die kind sê jou voor om iets te doen want hy gooi n tantrum. En as jy doen soos hy sê, dan is hy ook kwaad want hy kry geen reaksie nie. Dis presies ons regering. Haatspraak teen die wit mense, sê ons moet doodgaan of weggaan. Toe eweskielik “nooi” Australia ons en boem, daar is die wind uit die regering se seile en hulle is dikbek. Die hele grond issue gaan nie oor geld nie, gaan nie eers eintlik oor grond of stuk land nie, dit gaan net oor trots en mag en om ‘n punt te bewys. 1D denkwyse.

2. Tannie Sisulu is kwaad omdat Dutton nie die “kanale” gevolg het oor sy uitlatings nie. Presies. Want as hy die kanale gevolg het, sou die land, ons Suid Afrika, nie eers van dit geweet het nie. Wat nog te sê van die res van die wêreld. Daardie woorde van Dutton sou net so onderuk word soos plaasmoorde op die nuus onderdruk word.

Ek dink ons het dalk ‘n nuwe vermaaklikheids genre wat Zoempies vervang het. Malema en Sisulu en kie.

Groete

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.