Duitsers gespanne oor antisemitisme

(Foto: Ina FASSBENDER/AFP)

Die geskiedenis is vol onverwagse en ironiese wendings. Dit is ook die geval met Duitsland en antisemitisme, want opnuut word dié begrip in hierdie land druk bespreek – maar dié keer is sake heel anders as vroeër.

As jy die begrip antisemitisme hoor, dink ’n mens onwillekeurig aan Duitsland. Dis immers die enigste land in die geskiedenis waarvan die bewindhebbers ’n doelbewuste poging aangewend het om álle Jode binne bereik kil en klinies op industriële skaal uit te wis. ’n Geskatte ses miljoen Jode is op dié manier uitgemoor. Antisemitisme is dus ’n begrip wat uiters gevoelig in die moderne Duitse psige is.

En tog: Tans vind daar weer betogings in groot Duitse stede plaas waar Jode uitgeskel word. Waar die woorde “Scheiss-Jude, verreck!” uitgeskreeu word. Waar die Sentrale Kantoor vir die Bestryding van Ekstremisme en Terrorisme in die deelstaat Beiere sedert sy oprigting vier jaar gelede 1 036 gevalle van antisemitisme in sy jurisdiksie ondersoek het.

Maar daar is ’n interessante verskil met die tyd van Adolf Hitler en die Nazi’s. Destyds was antisemitisme uitsluitend ’n regs-ekstremistiese verskynsel. Deesdae kom dit uit drie verskillende rigtings – fundamentalistiese Moslem-immigrante, asook regse en linkse ekstremiste.

Die katalisator vir die huidige oplewing van antisemitisme in Duitsland is die konflik tussen Israel en die Palestyne. Nie alleen bestook Israel en die fundamentalistiese Moslem-beweging Hamas mekaar in die Gasastrook nie; heftige straatgevegte woed tussen Joodse en Arabiese Israeliese burgers in verskeie stede.

In Duitsland word dit met kommer in die hart aanskou. Want dit wek ook ’n historiese vrees in dié land, gesien die Hitler-geskiedenis.

Die nuwe antisemitisme in Duitsland kom enersyds van die Moslem-immigrante wat die laaste dekades na die land getrek is. Tans leef daar sowat 5,5 miljoen Moslems in Duitsland. In 1945 was daar 6 000, in 2002 was daar 3,5 miljoen.

In die gematig-konserwatiewe koerant Welt am Sonntag skryf die hoofredakteur, Johannes Boie, dat agtereenvolgende geslagte politici duidelik nie besef het dat hulle ’n probleem in die land toelaat nie.

“In dié dae,” skryf hy, “word twee milieus sigbaar: Mense wat sedert hul kinderdae – of dit nou in Berlyn of die Westeroewer was – geleer het dat Israel gehaat moet word, dat Jode verafsku en aangeval moet word. En veral linkse politici wat dié houding negeer, wat die probleem wegredeneer en dikwels agter die skerms daarmee saamstem.”

Hy wys op Moslems wat in die stad Gelsenkirchen voor ’n sinagoge betoog en geskreeu het: “Chaibar, Chaibar, o, julle Jode – Mohammed se leër is aan die kom!” (Chaibar was ’n oase waar die profeet Mohammed in die sewende eeu ’n groot oorwinning oor ’n groep Joodse inwoners behaal het).

In die dagblad Die Welt skryf Kristian Frigelj: “By spontane byeenkomste en pro-Palestynse betogings sien baie mense duidelik ’n gunstige geleentheid om hul haat op die Jode openliker as ooit te wys.”

Die gematig-linkse parlementslid van die Groenes Cem Özdemir (self van Turkse afkoms) praat van “immigrante-antisemitisme”: “Tans sien ons ’n hoë emosionalisering en mobilisering veral by jonges van Arabiese afkoms. Daarby gaan dit beslis nie om kritiek op Israel nie. Die verbindende krammetjie is eenvoudige antisemitisme, wat ons met alle middele van die regstaat konsekwent vervolg.”

Die visekanselier, Olaf Scholz van die gematig-linkse Sosiaal-Demokratiese Party, het kliphard gesê: “Vir só iets is daar geen verskoning nie. Die oortreders moet die volle geweld van die wet voel.” Ook die seremoniële staatspresident, Wolfgang Schäuble, het gesê die beelde is “onverdraaglik”.

Maar die antisemitisme kom nie net van die Moslems nie. Ook regse ekstremiste laat waai; ’n mens lees taamlik dikwels van regses wat Jode uitskel of selfs aanrand.

’n Paar dae gelede is lede van die studentevereniging Normannia byvoorbeeld in Heidelberg aangekla dat hulle ’n medestudent aangerand het omdat dié erken het dat hy ’n Jood is. ’n Lid wat die groep verlaat het, Leon Stockmann, het aan Der Spiegel gesê “Ons is Hitler-mense, toe en nou”.

Byna elke dag is hy gegroet met ’n Heil Hitler! “Toe ek deel van Normannia was, is die woord ‘Jood’ beskou as ’n gewone vloekwoord.”

Marina Chernivsky, wat vir ’n Joodse welsynsorganisasie in Duitsland werk, het in ’n media-onderhoud gesê: “Vroeër het die samesweringsmite daarvan uitgegaan dat Jode die beleid van Europese nasionale state stuur. Vandag word die Israeliese geheime diens vir die Islamitiese terreuraanslae verantwoordelik gemaak. … Onder die banier van sogenaamde kritiek op Israel kan antisemitiese stereotipes nou volkome openlik geuiter word. Dit het normaal geword in Duitsland, word skaars afgekeur en dikwels nie eens as sodanig herken nie.”

Daar is verskeie georganiseerde regs-ekstremistiese groepe in Duitsland, maar hulle is meestal klein en sonder veel openlike invloed. Maar baie regse anti-Semiete het skuiling gevind in die regs-ekstremistiese Alternative für Deutschland, wat forméél nie antisemities is nie.

Daar is heelparty voorbeelde van antisemitiese uitlatings van AfD-leiers. Een van hulle, Björn Höcke, het die ontkenning van die Nazi-massamoord op die Jode as ’n “meningsoortreding” afgemaak en ’n monument vir die moord in Berlyn as ’n “monument van skande” bestempel.

Franz Eibl, gewese perswoordvoerder wat die party weens sy ekstremisme verlaat het, het gepraat van die “Jodehaat” in die AfD en dit as “onverdraaglik” beskryf. Denkbeelde wat vryelik die rondte in die party doen, is samesweringsteorieë oor die Joodse bankierfamilie Rothschild en die Joods-Hongaarse miljardêr George Soros.

En ’n plaaslike noord-Duitse AfD-politikus, wat onder die naam Gunnar B. op Facebook geskryf het, het gemeen geen enkele Jood is in ’n Nazi-gaskamer dood nie. Die gifgas Zyklon B, waarmee die Jode omgebring is, het eerder “vir die beskerming van lewe” gedien, het hy geskryf.

Manfred Weber, leier van die gematig-konserwatiewe Christen-Demokrate in die Europese Parlement, meen radikaal regses soos die AfD dra medeverantwoordelikheid vir die jongste reeks antisemitiese voorvalle in Europa. Hulle het haat teen die Jode aanvaarbaar gemaak, het hy in ’n radio-onderhoud gesê.

Wat aan die regterkant van die politieke spektrum voorkom, is ook aan die linkerkant sigbaar. Reeds in 2016 het ’n studie bevind dat die stereotipe dat Jode geldgierig is, voorkom by 47% van alle ekstremistiese linksgesindes. Altesame 14% van diegene wat hulself as “links-ekstremisties” klassifiseer, meen geweld teen Jode kan geregverdig word.

Die ironie is dat die drie antisemitiese groepe – die fundamentalistiese Moslems en regse en linkse ekstremiste – mekaar as doodsvyande sien. Van samewerking of koördinasie teen die Jode kan jy hulle nie verdink nie, en in byna elke opsig waaraan jy kan dink, staan hulle as teenoorgesteldes teenoor mekaar.

Maar op dié punt vind hulle mekaar: Hulle haat Jode. En, gesien die Duitse geskiedenis van die jare 1933-’45, maak dit baie gematigde Duitsers uiters senuweeagtig.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
annie

‘Gematigde’ Duitsers is dalk reeds in die minderheid. Merkel was meer soos ‘n kamma-oumatjie as ‘n leier en wou net hè almal moet vriende wees en goed doen. Sy was die een wat die landsdeure oopgegooi het vir elke janrap. Nou wil sy rustig aftree na al haar slinkse welsynswerk. Die hele Europa moet haar bedank. Herr Frau Hitler, wat sonder ‘n skoot of gaskamer die hele streek en die EU onder Duitsland se duimpie hou. Maar sy was nie slim genoeg nie. Duisland sal dit sien en voel.

Dirk Mostert

Die Jode in Europa is nie etniese Israeliete nie, maar afkomstig uit Sentraal-Asie. Hulle het weswaarts migreer, na die Afars (Slawiers) maar voor die Turke, en hulle gevestig tussen die Swart See en Kaspiese See (huidige Kazakstan). Hulle het die Joodse geloof om diplomatiese redes gekies, om neutraal te staan tussen die Rooms-Katolieke en Moslem Ryke. Daarvandaan het hulle na lande soos Rusland, Pole en Duitsland migreer. Die leiers van die kommunistiese oorname van Rusland was meestal Jode. Die naaste aan Semiete in Palestina is Arabiere en Palestyne (gedeeltelik). Anti-Joods en anti-Semities is etnies nie sinoniem nie. Slegs ‘n klein… Lees meer »

Chris

So vêr terug as wat ek kan onthou was daar struwelinge in daardie geweste. Die politiek rondom die vraagstuk word gerieflikheidshalwe uitgebuit. Die saak het drie kante. Ek wil my nie daaroor uitspreek nie. Wat my egter dronk/platslaan is die regime in die land se houding. Verbreek diplomatieke bande met Israel ten gunste van die Palistyne. Jode het ‘n ryk en omvattende geskiedenis in die land. Hulle het bygedra tot oa die ekonomie. Angasi

Vrijburger

Waarom nie eerder ‘n artikel oor die internasionale hoofstroom media se antisemitisme en anti-Israel (vs Palestina) beriggewing en beinvloeding nie?
Dan kan jy sommer die opbloei van antisemitisme van die Amerikaanse ‘Demokrate’ en linkses by trek?
Dit maak my eerder “uiters senuweeagtig”.

Therese

Nuusdekkking oor hierdie kwessie in die hoofstroom is só skreiend skeefgetrek en eensydig dat die groeiende anti-Joodse sentiment wêreldwyd vierkantig op die media se skouers gepak kan word.
Sky News Aus is ‘n welkome uitsondering.
Hoe tragies dat die moderne wêreld nie ‘n klein stukkie aarde gun vir ‘n groep hardwerkende mense, ongeag van wáár en hóé hulle daar beland het nie, en veral omdat hulle blykbaar nêrens welkom is nie.