Duitsland, Engeland en SA se konsentrasiekampe

Deur dr. Pieter Mulder

Vroue en kinders in oop trokke op ’n trein iewers heen. Die vroue swaai uitdagend die Transvaalse en Vrystaatse Republiekvlae en sing die ou Republiek se Volksliedere en ander Afrikaanse liedere.

In hierdie dae dink ek terug aan my ouma se vertellings van hoe hulle in oop steenkooltrokke tydens die Tweede Vryheidsoorlog deur die Britte na die konsentrasiekampe vervoer is. Sy het trots vertel hoe hulle die ou Transvaalse en Vrystaatse volksliedere gesing het en die ou Republieke se vlae gewaai het as hulle deur ’n stasie ry om die Engelse soldate te tart. Veral toe hulle by Majuba verbyry, was hulle weer trots op die oorwinning van die Eerste Vryheidsoorlog.

Duitsland het verlede week vir die eerste keer erken hy het volksmoord op die Herero- en Nama-mense tydens die koloniale besetting van Namibië gepleeg. Hulle belowe R18 miljard as kompensasie. Die Britte reageer verskillend.

Kitchener, die Britse opperbevelvoerder tydens die Anglo-Boereoorlog, het die Boerevroue in die konsentrasiekampe in twee kategorieë ingedeel.

Die “vlugtelinge” was die vroue en kinders waarvan die pa’s reeds oorgegee het. Die “ongewenstes” was die vroue wat nog lojaal aan die Boere-republieke was en wie se mans nog geveg het. Hierna het hy opdrag gegee dat die ongewenstes net helfte van die kosrantsoene kry. Daarmee wou hy druk op die vroue sit om hul mans te oortuig om op te hou veg. Dan kan hulle en hul kinders meer kos kry. Vandag sal dit beslis as ’n oorlogsmisdaad gesien word.

Magrietha Swart het so agt kinders tussen een en vyftien jaar oud in Standerton se konsentrasiekamp verloor. Al die kinders het aan wanvoeding gely en is binne twee weke van mekaar dood. Net Magrietha het oorleef. Sy was 35 jaar oud.

My ouma, Maria Potgieter was dertien jaar oud toe sy in die konsentrasiekamp was. Omdat haar ma dood is, was sy verantwoordelik vir haar vier kleiner boeties. My ouma het vir lang tye by ons gebly. Ek het haar stories uit hierdie tye aangeteken.

Omdat haar pa, kommandant FJ Potgieter nog geveg het, is sy en die boeties as ongewenstes verklaar. Die Britte het hierdie ongewenstes na Natal gestuur. Merebank-kamp by Durban is nuut gebou juis vir hierdie doel.

Sonder dat Maria verstaan het waarom, word sy en haar broertjies in oop steenkooltrokke gelaai. Niemand het aan haar gesê waarheen hulle gaan nie. Vir etlike dae lank was hulle in die oop trokke. Met tye het hulle papnat gereën. Met ’n rokende stoomlokomotief voor aan die trein verstik en versmoor die boeties amper elke keer as hulle deur ’n tonnel ry. Met ’n sakdoek probeer sy hulle neuse toehou in die tonnels. Daar is natuurlik geen toilet in ’n oop steenkooltrok nie. Hulle span maar ’n kombers in die een hoek van die trok as iemand ’n behoefte het. Van die kinders huil omdat hulle honger en dors is. In Merebank is haar een boetie dood. Bloedmaag, het ouma dit verduidelik – van die kos.

Soek ek geld van die Britte as kompensasie?

Nee. Dit sal vir my ’n vernedering wees om te reken ’n paar Britse pond kan die trauma van my ouma as dertienjarige regmaak. Hoe kan dit ooit vergoed vir Magrietha Swart se agt kinders?

Heiko Maas, Duitse minister van buitelandse sake, het gesê: “In die lig van die morele verpligting van Duitsland, gaan ons vergifnis van Namibië en die slagoffers se nasate vra vir die gruwels wat plaasgevind het.”

Sal dit my tevrede stel as die Britte die onreg en gruwel erken?

Dit sal help – maar waar die Duitsers verskoning vra, regverdig die Britte in 2019 nog steeds die konsentrasiekampe.

Rees-Mogg verduidelik in ’n 2019-televisieonderhoud dat die kampe daar was vir die vroue se beskerming en om hulle kos te gee.

Wat ’n wrede leuen.

Wie is Rees-Mogg? Hy is ’n senior lid van die Britse parlement en tans Leier van die Britse laerhuis. Hy spog ook met ’n graad van Oxford – nogal in Geskiedenis.

Ná die oorlog skryf Jan Smuts as Afrikaner ’n brief aan Emily Hobhouse oor sy frustrasies met die uitkoms van die oorlog.

Sy antwoord: “You think it is bad to be an Afrikander at this moment – believe me it is far worse to be an English person. Your defeat is material, ours is moral”.

Is dit vandag nog waar van die Britte?

  • Dr. Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-parlementslid en professor.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dries

Ons soek nie geld nie. Ons soek ons eie onafhanklike grond gebied

Swerwer

Dit om hierdie rede wat my man tot vandag weier om Engels te praat en nie sommer met Engelse mense meng nie.

deHAS

Dis merkwaardig hoe jy mense kan swaai met om iets te “justify”.

Elinette

Eienaardig dat diegene wat die Afrikaner so verfoei, altemaklik die Engelse taal praat. Hulle vergeet dat sowat 20 000 (geraamd) SWART mense ook tydens die ABO II gesterf het – in “kampe” waar diesulkes hoofsaaklik aan hul eie lot oorgelaat was (verál as hulle pro-Boer was). Dit was JUIS onder Engelse heerskappy (1806 – 1910) dat van die ergste kolonialisasie, ontmensing, grond-vervreemding, rassisme ens. plaasgevind het. Maar steeds word net die blanke, Afrikaanssprekende mense in die land vir alles verantwoordelik gehou.

Johanna

Ons kan nie in die verlede bly leef nie.. Brittanje is slegter daaraan af as ons, ontkenning is so goed soos erkenning.
BRITTANJE was selfs in beheer van Israel voor 1948.
Hulle het hulle hande orals in gehad waar hulle kon inpalm.