Duitsland in die ‘somergat’

mesut-ozil

Die Duitse sokkerspeler Mesut Özil. Foto: Migration Museum Project/Flickr.com

Die somermaande (in die noordelike halfrond) Julie en Augustus is die tyd waar polities min gebeur omdat die parlemente gesluit en die besluitnemers met vakansie is en alles tot stilstand kom, vergelykbaar met Desembermaand en Januarie in Suid-Afrika. Dit word die Sommerloch (die somergat) genoem omdat die media spartel om genoeg nuus te kry. Dit is in dié tyd wat onbenullighede in diepte behandel word en kunsmatig skandale geskep word om lesers se belangstelling te behou. Nuus in hierdie tyd word dan dikwels met ’n knippie sout geneem en as Sommerloch-Geschichte (somergatstories) afgemaak.

Een onderwerp wat daagliks behandel word, is die uitermatige hitte en droogte. Gewoonlik het die Duitsers ’n paar lekker somerdae, waarna hewige donderstorms en afkoeling volg, of selfs lang periodes van reën. Dié keer is dit al vir weke aaneen sonnig en besonder warm, soos in Suid-Afrika in die somer, met temperature tussen 20 en 36 grade elke dag. Die boere sukkel en daar is ’n debat oor droogtehulp of nie. Dan is daar ook ’n kunsmatige debat of Duitsland die somertyd (in die somermaande word die horlosie een uur voor die normale tyd gestel) moet afskaf of nie.

Natuurlik neem die daaglikse stories oor president Donald Trump se talle flaters en dom besluite (volgens die hoofstroommedia) nog meer ruimte in beslag as onder gewone omstandighede. Die Duitse media het ’n absolute beheptheid met Trump en het nog steeds nie verwerk dat hy die verkiesing van 2016 teen alle verwagtings en hoop van die media gewen het en dat hy ’n heeltemal ander beleid volg as sy linksgesinde voorganger, Barak Obama. Die nuutste toevoeging tot die haatfiguur Trump is nou die Italiaanse vise- eerste minister Matteo Salvini weens sy konsekwente (volgens die media hartelose en rassistiese) optrede teenoor onwettige migrante, waaroor ook breedvoerig en eensydig negatief berig word.

As teenpool vir die “onmoontlike” Trump en die “rassistiese” Salvini word dikwels wyle president Mandela na aanleiding van sy honderdste verjaardag as die blykbaar grootste staatsman en diepste denker ooit daargestel en sy gesig en sy gemeenplase versier hier en daar pleine en pronk op plakkate. Dit was veral sterk in Juliemaand, Mandela se verjaardagmaand, maar het nou weer ’n bietjie bedaar. Oor plaasmoorde soek ’n mens vergeefs enige berigte en ook die beoogde onteiening van blanke boere word hoogstens kortliks en weggesteek en in neutrale trant behandel.

Verder het Duitsland ook nou sy eie Ashwin Willemse in die vorm van die nasionale sokkerspeler Mesut Özil, saam met die storie oor rassisme in die algemeen en in sport in die besonder. Özil, ’n Turk wat in Duitsland gebore is, was vir lank die poster boy van integrasie in sport, veral met die Duitse Wêreldbeker-oorwinning in 2014. Soos dit altyd met glanspersoonlikhede gaan, word hulle buite verhouding opgehemel en kom dan tot ʼn harde val, deels deur hul eie skuld, deels deur die media wat vandag jou voete soen en jou môre in die hakskeen byt. Boris Becker is ’n ander bekende voorbeeld van iemand wat so behandel is en wat natuurlik ook sy eie aandeel daarin het.

Özil het nie lank voor die Wêreldbeker vanjaar saam met ’n ander spanmaat van Turkse herkoms die Turkse president Recep Tayyip Erdogan besoek en hom as “my president” gehuldig en geen geheim van sy bewondering vir Erdogan en sy verbondenheid met sy ouers se land van herkoms gemaak nie.

Dit het vir irritasie in die Duitse Sokkerverbond (DFB) gesorg omdat Özil eintlik vir Duitsland speel en ’n Duitse paspoort het, en dit is deur die breër publiek gekritiseer omdat Erdogan ’n outokraat is wat vrye mening onderdruk en Islam bevorder.

Ter wille van die span se aansien en eensgesindheid is die saak eers onder die mat ingevee, maar ná Duitsland se vernederende neerlaag is dit weer opgehaal, ook omdat Özil swak gespeel het. Sy onaantasbaarheid was verby en saam met die kritiek teen sy spel is dikwels ook weer sy gebrek aan (Duitse) patriotisme en sy bewondering vir Erdogan bygetrek.

Özil het (soos Willemse) sy speelgoed uit die kot uitgegooi, as nasionale speler bedank en in ’n lang brief die DFB in die besonder, en die Duitse samelewing in die algemeen, van rassisme beskuldig en kritiek teen hom gelykgestel met afkeur vir sy Turkse afkoms.

Dit is natuurlik net die halwe waarheid (indien hoegenaamd) en ironies in die aangesig van die DFB se uitgesproke veldtogte teen rassisme of wat daarvoor aangesien word (net soos in Suid-Afrika, is iemand wat krities teenoor die algemene politieke konsensus staan, dikwels, nee, outomaties ’n rassis).

Ook hier is weer duidelik dat sport en politiek ’n gevaarlike mengsel is en iets wat liefs geskei moet word. Die natuurwet dat jy sonder meriete nie kan presteer nie, geld ook in sport en ’n etnies gemengde span soos Frankryk, asook ’n etnies homogene een soos Kroasië kan presteer en wen. Die droom dat iemand soos Özil die ’nuwe, bont en multikulturele Duitsland verteenwoordig, is deur die feit dat hy volgens sy eie oortuigings in die eerste plek Turk en Moslem is, nou aan flarde geruk.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Eish ·

Dit bewys weereens die feit dat integrasie nog nooit, nêrens ter wêreld suksesvol bestuur kon word nie.
Selfs toe die Israeliete in die Ou Testamentiese tyd die beloofde land in is, het die Hemelse Vader in Sy alwysheid elke stam sy eie grondgebied gegee.
Nou leer die Duisters ook op die harde manier.

Blesh ·

@Eish, so dan is Afrikaners ook in die verkeerde land né. Ek bly vrek lekker in Duitsland, en sal nooit weer terug keer na donker donker afrika nie.

Eish ·

Bly jy geniet dit daar. Jong, Afrika is nie vir sissies nie. Ons klompie soek maar net ook n stukkie aarde waar ons in vrede kan lewe. Afrikaans en Afrikaners het hul ontstaan hier aan die Suidpunt van Afrika gehad. Meeste van ons ouer garde kan nie anker lig en trek nie en wil ook nie ons taal en kultuur prysgee nie. So ons probeer ons bes om n leefbare bestaan uit te beitel te midde van genadelose teenstand en vervolging. Hoop jy doen jou deel om ons omstandighede aan die klok te hang in Duitsland.

Fanie ·

Baie lekker gemaklike skryfstyl en lekkerlees inligting vol kennis!

Liberaal ·

Ons liberale globale supperryk heersers wil he die europese en amerikaanse middelklas moet al hulle bates en gesigheid aan hulle oordra en laeklas dienaars, geintegreer met mense van afrika en die midde ooste word. Die liberale massamedia sal vir die publiek voorskryf wat om te dink en doen om hierdie supperrykes droom waar te maak. In SA werk baie linkses onder ons flink aan die plan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.