Duitsland na verkiesing: wat nou?

Angela Merkel en Olaf Scholz. (Foto: Michael Sohn, AP)

Met groot spanning is daar op die algemene verkiesing in Duitsland se uitslag gewag. Dit was die eerste verkiesing in 16 jaar sonder Angela Merkel as kanselier en dus ook sonder die ampsbonus vir haar party, die Christen-Demokratiese Unie (CDU).

Sy self is ook nie meer partyleier nie en het net op die einde amper teësinnig voorspraak vir die CDU se kandidaat, Armin Laschet, gemaak. Die media het tydens die verkiesing taamlik eensydig op slegs drie kandidate van die groot partye gefokus: Laschet van die CDU, Olaf Scholtz van die Sosiaal-Demokratiese Party (SPD) en Annalena Baerbok van die Groenparty. Dit was nie eens op die setels in die parlement gegrond nie, maar op meningspeilings wat baie gefluktueer het.

Dit het die kleiner partye soos die AfD (tans die grootste opposisieparty), Vrye Demokrate (FDP) en die Linke-party benadeel. Daarby was al drie hoofkandidate oninspirerend, deels selfs ʼn verleentheid. Scholtz het flaters vermy deur eenvoudig niks te doen of te sê wat dalk omstrede kan wees nie en gevolglik het die media meer negatiewe aandag aan die ander twee gegee. Baerbok was eintlik aanvanklik die mediagunsteling, maar selfs húlle moes besef dat sy nie gaan vlieg nie na te veel verleenthede soos onprofessionele uitsprake en tieneragtige optrede. Dus het die media in die laaste weke voor die verkiesing hulle geld op Scholtz gesit, wat tot die skielike ommeswaai ten gunste van die SPD gelei het.

Armin Laschet. (Foto: Bernd von Jutrczenka/POOL/AFP)

Die verkiesing het toe taamlike verrassings en drama opgelewer. Die CDU en SPD het ʼn kop-aan-kop-stryd gehad, met die SPD wat toe uiteindelik eerste oor die doellyn gestorm het met 25%. Dit was wel ʼn 5%-verbetering teenoor die vorige keer, maar gemeet daaraan dat die SPD vroeër 40% gekry het, was dit ook maar nie te waffers nie. Vir die CDU, wat vir die grootste deel van Duitsland se geskiedenis sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog die kanseliersparty was, was die uitslag ʼn absolute katastrofe: 24% – 9% minder in vergelyking met die vorige keer (wat reeds nie ’n goeie uitkoms was nie).

Die Groenes was een van die wenners met 15% (+6%), maar gemeet aan die groot verwagtings, die mediasteun en die oorhoofse tema van klimaatverandering, het hulle eintlik meer verwag en was die teleurstelling ook op die gesigte van die leiers te lees. Trouens, met ʼn ander kandidaat as Baerbok sou hulle waarskynlik veel beter gevaar het. Nietemin, geen regering sal sonder hulle gevorm word nie en Duitsland se volgende regering gaan nog meer as die huidige een na die pype van die Groenes dans.

Die AfD het effens met 10% (-2%) verloor, maar gemeet aan die massiewe aanslag teen hulle uit alle oorde (hulle word doodgeswyg en geboikot, behalwe as daar negatiewe nuus is wat buite proporsie opgeblaas word) plus interne bakleiery, het hulle eintlik heel skaflik gedoen. Terwyl hulle oor die algemeen in Wes-Duitsland en die stede verloor het, het hulle hul posisie in Oos-Duitsland verstewig en selfs die grootste party in twee provinsies (Turinge en Sakse) geword. Hulle het by sowel die agteruitgang van die CDU as die Linke-party gebaat.

Annalena Baerbock. (Foto: ANNEGRET HILSE/POOL/AFP)

Die Vrye Demokrate (FDP) het ook effens beter gevaar met 12% (+1%) en sal ook deel van die regering uitmaak. Daarteenoor het die vêrlinkses, die Linke-party, ʼn katastrofe beleef. Hulle het van 9% na 5% geval. Eintlik het hulle net 4,9% gekry en sou dus onder die drumpel van 5% wees, maar omdat hulle drie direkte mandate in kiesafdelings kon wen, gaan dit tel asof hulle 5% gekry het. Hulle swaar verliese is deels die Groenes se wins, maar veral te danke aan interne bakleiery en ʼn onbekwame nuwe vroueleierskapsduo.

Daar is nou twee realistiese opsies vir koalisies, aangesien niemand met die AfD wil saamwerk nie en aangesien die SPD en CDU, wat lank saam regeer het, behoorlik siek en sat vir mekaar is en geen “groot koalisie” meer sal vorm nie. Albei opsies is kombinasies van drie, en in elke kombinasie is daar ʼn vennoot wat nie by die ander twee pas nie. Die eerste moontlikheid is die sogenaamde Ampel (verwysende na die kleure van ʼn robot – rooi, geel en groen), bestaande uit die SPD, Groenes en FDP. Eersgenoemdes se beleide stem baie ooreen, laasgenoemde is mark-liberaal en het veral in ʼn ekonomiese opsig heel ander idees. Dit sal wel ʼn koalisie van die drie wenpartye wees.

Die tweede opsie is die sogenaamde Jamaika-koalisie (verwysende na die kleure van die vlag van Jamaika – swart, groen en geel) bestaande uit die CDU, Groenes en FDP. Hier is die Groenes die party wat nie eintlik by die ander twee inpas nie. Boonop is dit vermetel dat die CDU as groot verloorder die aanspraak op kanselierskap stel en dit sal hulle dalk beter doen om eers in die opposisie te herstel en hulleself uit te sorteer na die groot skade wat Merkel se lang leierskap vir die party veroorsaak het. Laschet se posisie is na die neerlaag in die gedrang en hy moet nou die slae vat wat eintlik op Merkel gemik was.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.