Duitsland staan voor ’n verkiesing

angela merkel 3

Angela Merkel, kanselier van Duitsland. Argieffoto.

Oor ’n rapsie meer as twee weke vind ’n algemene verkiesing in Duitsland plaas. In ’n sekere sin is dit ’n vervelige en voorspelbare verkiesing. Niemand twyfel ernstig daaraan dat die kansellier weer Angela Merkel sal wees nie. Die vraag is hoogstens met watter koalisievennoot sy sal regeer. Die waarskynlikste is die voortsetting van die sogenaamde groot koalisie tussen haar Christen-Demokrate (CDU) en die Sosiaal-Demokrate (SPD).

Oorspronklik was die groot koalisie net bedoel as ’n ongemaklike, tydelike reëling omdat geen ander kombinasie moontlik was ná die verkiesing van 2005 nie – toe die toetrede van die Linksparty (die “Linke”) die gewone stelsel van twee groot partye en twee klein partye as hul aangewese koalisievennote deurmekaargekrap het. Intussen het CDU en SPD egter al so aan mekaar gewoond geraak en so inmekaar gegroei dat die verskille tussen hulle met ’n vergrootglas gesoek moet word. Om die verkiesingsveldtog enigsins interessant en relevant te laat lyk, word skyndebatte gevoer en onbenullighede tot waterskeidingsake opgeblaas.

Merkel is nou in haar derde termyn en onder haar bewind het Duitsland, ten spyte van haar nominaal sentrum-regse party, al hoe verder na links geskuif. Trouens, die SPD as juniorvennoot het eintlik baie meer van sy beleid uitgevoer as die CDU. Haar teenstander, Martin Schulz van die SPD, verskil bloedweinig in beginselsake van Merkel. Albei wil die reeds vergrotende welsynstaat uitbrei; die magte van die Europese Unie uitbrei; die instroming van vlugtelinge laat voortgaan (met hoogstens kosmetiese veranderinge); albei staan vir meer gelykheid, meer integrasie, hoë belasting en ’n sterk staat; staan ook vir ’n liberaal-demokratiese wêreldorde; albei is krities teenoor die VSA en Donald Trump; en droom van Duitsland as ’n soort middelaar tussen oos en wes.

Om dié rede sukkel Schulz ook om hond haaraf te maak en hom van Merkel te onderskei, en warm die oeroue SPD-slagspreuk van “meer sosiale geregtigheid” op in ’n land waar die welsynstaat reeds sterk gevestig is en niemand dit ernstig wil inperk nie. Die eintlike groot vraagstuk wat talle mense pla – die instroming van vlugtelinge en nagevolge soos terreur en misdaad – word doelbewus verswyg en as onwaardig vir debat geag. Ten spyte daarvan is daar ’n debat in die media (hoofstroom- en sosiale media) aan die gang oor wat die demografiese verandering vir Duitsland meebring en wat dit beteken om Duits te wees: om in die land te woon, om die taal te praat, om ’n sekere kultuur (en wat dit is) aan te hang, of om van ’n sekere afkoms en voorkoms te wees.

Behalwe vir die twee groot partye is daar vier kleiner partye wat waarskynlik almal deel van die volgende parlement sal wees. Twee van hulle, die Groenparty en die Linksparty, word reeds in die parlement verteenwoordig, twee ander, die liberaal-sentristiese Vrye Demokrate (FDP) en die redelik nuwe, regse Alternative für Deutschland (AFD) staan goeie kanse om ook verteenwoordiging te kry.

Die intog van die AFD en die vraag hoe goed hulle sal vaar is eintlik die interessantste vraagstuk van die verkiesing. Alle ander partye oortref hulleself in afkeur van en kritiek op die AFD en sluit enige samewerking met hulle uit. Dit sal die eerste keer in die ná-oorlogse Duitsland wees dat ’n party regs van die CDU in die parlement verteenwoordiging kry. Die standpunte van die AFD verskil egter eintlik nie wesenlik van dié van die CDU in die 1980’s nie – die spektrum het net so ver links geskuif dat die AFD deesdae as verregs voorkom. Die intog van die FDP en veral van die AFD sal wel die spektrum na regs skuif en vraagstukke wat die huidige parlement met sy duidelik linkse neiging vermy, sal gedebatteer moet word. Die AFD staan vir ’n debat oor nasionale identiteit en wat die langtermynplanne met die toestroming van vreemdelinge en hul integrasie in Duitsland is, en hoeveel magte die EU moet hê. Die FDP staan tradisioneel vir ’n meer vrye ekonomie en behoort tipies te druk vir belastingverlaging en die inperking van die welsynstaat.

Behalwe vir die groot koalisie is daar nog die redelik onwaarskynlike scenario van ’n volstrekte meerderheid vir die CDU, en die effens meer waarskynlike een van ’n CDU/FDP-koalisie. Selfs ’n heel nuwe en vreemde kombinasie van dié twee partye plus die Groenparty word gedebatteer en is by ’n hiper-pragmatiese en buigbare (om nie te sê beginsellose) Merkel denkbaar. Aan die linkerkant is daar drome van ’n koalisie van SPD, Groenes en die Linksparty, maar die meerderheid van die bevolking keur so iets af en volgens alle meningspeilings behoort so ’n kombinasie nie genoeg stemme te kry nie. Die CDU sal in alle geval die regerende party wees, die vraag is net saam met wie. Met Merkel as kansellier, ongeag wie haar vennoot is, behoort egter geen opwindende nuwe beleid of hervormings verwag te word nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eish ·

Met die duidelik ongebreidelde toestroming van immigrante en die liberale sienswyse van die Europese regerings daaromtrend, begin dit tog lyk of die sogenaamde “Wêreld regering ” teorie waarmee die ” Samesweringsteoretici” hul dekades reeds mee besig hou en dan ook Bybel profesie, glad nie meer so n vergesogte idee is nie. Integrasie was nog nooit suksesvol bestuur deur enige land op die lang termyn nie. Die aspekte wat nog altyd as integrasie se struikelblokke uitgestaan het, is steeds dieselfde, naamlik kultuur en godsdiensverskille. Die tafel word nou gedek om die aspekte aan te spreek noudat almal hul oral in die wêreld bevind. Die weefsel van Europa en so ook baie ander lande het reeds onomkeerbaar verander. Verstommend indien dit gaan blyk dat die voorspellings, profesieë, teorieë of raaiskote tog gaan realiseer.

JC ·

Ek wil braak as ek moet dink aan nog ‘n paar jare van merkel.

Sebastiaan ·

Teenoor Martin Schulz is Merkel nog die kleiner euwel.

Merkur ·

„Albei (Merkel en Schulz) staan vir meer gelykheid, meer integrasie, hoë belasting en ’n sterk staat; staan ook vir ’n liberaal-demokratiese wêreldorde; albei is krities teenoor die VSA en Donald Trump.“

Hier verskil ek: albei is marionette van Washington en Wallstreet en is nie krities nie. Hoe meer Trump mag inboet teenoor die werklike maghebbers in Washington, hoe minder krities word albei (veral Merkel) teenoor selfs Trump. Kon ´n mens duidelik sien in haar demonstratiewe goedkeuring van Trump se bombaderings in Syrië.

Ook verskil die standpunte van die AfD nie wesenlik van dié van die CDU in 2005! nie.

Andersins ´n goeie ontleding vind ek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.