Duitsland vra skuldvergifnis vir misdade uit koloniale era

Een van die skedels wat Duitsland in 2018 na Namibië teruggeneem het. Die skedels van meer as 300 mense wat in slagtings tydens Duitse bewind van die land omgekom het, is gerepatrieer. (Foto: John Macdougall/AFP)

Die Duitse regering het ná jare lange onderhandelinge met die Namibiese regering verlede week vir die eerste erken hy het volksmoord tydens die koloniale besetting van Namibië gepleeg.

Duitsland het ingestem om die strafveldtog teen die opstandige Herero en Nama, wat in die koloniale era aan die begin van die 20ste eeu deur Duitse troepe gepleeg is en waarin sowat 60 000 tot 80 000 mense dood is, as volksmoord te erken, vergifnis te vra en om boonop €1,1 miljard vir die ontwikkeling van die land in die volgende dekades te betaal. Die ooreenkoms tussen die Duitse en Namibiese regerings moet wel nog deur die Duitse parlement goedgekeur word, maar dit is bloot ’n formaliteit.

In beginsel is dit goed as volke en state mekaar se skuld bely en vergewe en saam ’n heelwordingsproses begin. So iets begin egter kort ná ’n oorlog, nie 113 jaar later nie. Boonop het Duitsland en Namibië lankal goeie verhoudinge en was die volksmoord nie ’n sentrale kwessie nie en is betreklik onlangs weer uitgegrawe. Daar is in die Duitse verklaring van ’n voortdurende proses en juis nie van ’n finale streep gepraat nie. Ook die Namibiese regering praat van ’n “eerste stap in die regte rigting”, wat beteken dat dit van nou af die sentrale tema in die verhoudinge tussen die twee lande gaan wees.

Alhoewel die Duitse regering daarop klem lê dat die erkenning van die koloniale oorlog as volksmoord nie die regsaanspraak op vergoedingseise beteken nie en die enorme som geld nie as vergoeding gesien moet word nie, maar eerder ’n soort versoeningsgebaar, sal die skuldbekentenis en vra vir vergifnis die deur oopmaak vir oneindige eise – nie net vanuit Namibië nie, maar uit elke gebied waar Duitsland ‘n koloniale moondheid was. Die hele Afrika-narratief is een van wit onderdrukking en swart slagofferskap, en dit word toenemend in die Weste as die waarheid aanvaar, ten spyte daarvan dat die koloniale era betreklik kort was en sy impak nie naastenby so groot was soos dit vandag gemaak word nie, en ook nie uitsluitlik negatief nie.

Ook vir Namibië is daar sekere implikasies met die erkenning en kompensasie wat rede vir nuwe ongelukkigheid is. Vir die regering is dit ’n gulde geleentheid om die aandag van sy eie onvermoë af te lei. Die betrokke volke, die Nama en Herero, voel dat hulle die geld van Duitsland direk moet ontvang as vergoeding en dat dit nie as ontwikkelingshulp vir die land as geheel gegee moet word nie. Hulle soek ook grond. Een van die Herero’s se leiers het die ooreenkoms as ‘n publisiteitsfoefie beskryf en kort ná die ooreenkoms het betogings daarteen deur Herero-drukgroepe plaasgevind.

Die vraag is of dit regverdig is dat die Namibiese regering die onderhandelinge lei en die verdeling van die geld bepaal, met die moontlikheid van korrupsie. Namibië was immers geen politieke eenheid wat deur Duitsland verower is en ’n regering gehad het nie, maar het uit verskeie wydverspreide stamme met hul hoofmanne bestaan. Die Herero’s en Namas word egter ook nie deur een organisasie nie, maar deur talle wat in kompetisie met mekaar is, verteenwoordig. Net enkele organisasies was deel van die onderhandelinge.

Die huidige regering word gedomineer deur die Ovambo, wat niks met die koloniale oorloë te doen gehad het nie. Volgens die Duitse regering gaan die geld egter hoofsaaklik in die gebiede van die betrokke twee volke aangewend word. In watter mate die Ovambo’s, wat die land domineer, egter vir hul tradisionele vyande, die Herero, geld sal toedeel, is ’n ope vraag. Wie Afrika se werkinge ken, sal nie te veel verwag nie.

Die onomwonde skulderkenning en om vergifnis vra vir misdade van die verlede maak die situasie vir die klein Duitse minderheid nie makliker nie. Hulle word nou by implikasie deur hul moederland as nakomelinge van volksmoordenaars uitgekryt, wat nuwe stukrag aan grondeise en aanvalle deur radikale groepe in Namibië gee.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Baardman

Die Britte kan ons ook maar om vergifnis vra, maar hou maar die geld want dit gaan in die verkeerde sakke beland

Rian

Ek sal kompensasie in britse pond aanvaar.

Michael

Hoeveel Hereros en Namas het voor die oorlog van 1904 -1907 in die destydtse Suidwes gebly. En hoe weet U hoeveel van daardie mens deur die duitsers omgekom het. Daardie syfers wor vandag genoem sonder om te vra of daardie sysfers korrek is.

Stephan

Duitsland se agteruitgang onder die leiding (en lyding) van Angela Merkel is sigbaar. Voordat Duitsland nie ‘n leier met ruggraat kry nie, kan mens enigiets soos hierdie snert verwag.
Maar die wiel draai teen Merkel, sy sal nog haar eie woorde sluk.

Kokerboom

Die erkenning gaan )en doen reeds) ‘n massiewe presedent in Namibië skep. Die bakhandstaan en slagoffer mentaliteit gaan bloots gery word tot die koeie huistoe kom. Dit skep ‘n ideale geleentheid vir eisers om nie hand uit die sak te haal en net te verwag sonder teenprestasie. Tyd sal leer.