Duterte Harry se Nazi-oplossing vir die Filippyne

Rodrigo-Duterte-Wikipedia-800x430

Die Filippynse president Rodrigo Duterte. Foto: En.wikipedia.org

Die Filippynse president, Rodrigo Duterte, het die wêreld laat regop sit met sy uitspraak verlede week dat hy bereid is om drie miljoen dwelmverslaafdes dood te maak… net soos die Nazi-leier, Adolf Hitler, in die vorige eeu drie miljoen Jode laat doodmaak het. (Terloops: volgens historici het die Nazi’s ses miljoen Jode uitgewis). Duterte het verklaar die doodmaak van drie miljoen dwelmverslaafdes sal toekomstige generasies in die Filippyne van die dwelm-euwel verlos.

Dit is nie seker hoe ernstig Duterte was oor sy aanspraak dat hy drie miljoen van sy eie burgers sal laat uitwis nie. Dit is dalk om sy mening te illustreer oor die skynheiligheid van die Weste, wat volg nadat Westerse wêreldleiers en menseregte-aktiviste teen die nuutverkose Filippynse staatsman uitgevaar het nadat sowat 3,000 dwelmhandelaars blykbaar in die laaste klompie maande óf deur vigilante groepe óf deur die Filippynse geregsdienaars afgemaai is.

Duterte het hier dalk ʼn punt beet. Terwyl die Weste gereeld mond uitspoel oor menseregtevergrype wêreldwyd, is die Weste in konflikte betrokke in plekke soos Sirië, Jemen en Afganistan en word burgerlikes byna daagliks deur Westerse bomme of hommeltuie vermink of doodgemaak. Maar kom ons laat dit daar.

Wilde uitsprake

Die Filippynse president het basies, nadat hy die amp in Julie betree het, dié land met sy aweregse standpunte en optredes begin verander. Sy grootste impak is ongetwyfeld dat hy oorlog verklaar het teen dwelmhandelaars en -verslaafdes in sy land.

Duterte kan nou nie juis daarvan beskuldig word dat hy diplomaties optree nie. Sedert sy opspraakwekkende verkiesingsveldtog, wat hy vanjaar met ʼn klinkende oorwinning by die stembus gevier het, het hy ʼn reeks opspraakwekkende uitsprake gemaak. Selfs voor die voormalige burgemeester van Davao Stad as president ingesweer is, het hy reeds wilde uitsprake gemaak. Hier is ʼn paar:

  • Alle misdadigers sal doodgemaak en misdaad binne ses maande na sy verkiesing uitgewis word.
  • Hy sal self ʼn Filippynse vlag gaan plant op ʼn mensgemaakte eiland wat China onlangs in die betwiste Suid-Chinese See gebou het.
  • Hy noem die VSA se president, Barack Obama, die “seun van ʼn teef”, nadat Obama Duterte wou aanspreek oor sy swak menseregterekord.
  • Hy het (letterlik) vir die EU die middelvinger gewys en gevloek nadat die EU ook iets oor Duterte se menseregtevergrype wou uiter.
  • Toe ʼn Verenigde Nasies-kundige oor menseregte aangedui het Duterte se aandrang om dwelmhandelaars te laat doodmaak is ʼn misdaad teenoor internasionale gereg, het Duterte gedreig die VN te verlaat.
  • Hy verwys gevolglik na die VN se sekretaris-generaal, Ban Ki-moon, as ʼn idioot.
  • Hy beloof etniese Indiërs sal verhoed word om voort te gaan om arm Filippyne met mikrolenings uit te buit.
  • Na ernstige verkeersknope toe die Roomse pous die baie Katolieke Filippyne besoek het, het Duterte gesê die “seun van ʼn teef” (blykbaar sy gunsteling belediging) moet huis toe gaan.

Duterte beskou homself as ʼn eieregtige cowboy wat al die probleme in die Filippyne met geweld gaan oplos. Sy bynaam is dus nie verniet Duterte Harry, na aanleiding van Dirty Harry, ʼn filmkarakter wat deur die akteur, Clint Eastwood, gespeel is in die 1970’s nie. Dirty Harry het misdadigers in die fliek na willekeur afgemaai.

Die vraag is natuurlik hoekom Duterte so gewild is in die Filippyne en maklik verkies is ten spyte van sulke vreemde uitsprake. Die Filippyne is ʼn geroesemoes van oor die 7,000 eilande, met verskillende etniese groepe en tale en die 13de grootste bevolking in die wêreld (102 miljoen).

Opeenvolgende Filippynse regerings (beide diktators en demokrate) was nog altyd pro-Amerikaans en seker die VSA se sterkste bondgenoot in Suidoos-Asië. Wie onthou nog hoe die Filippynse diktator, Ferdinand Marcos, in 1986 tot ʼn val gekom het? Sy vrou, Imelda, was veral berug vanweë haar versameling duisende duur skoene. Ongelukkig het 30 jaar van demokrasie nie veel vir die gemiddelde Filippyn verander nie.

Ewige armoede

Soos maar tipies in ontwikkelende lande gebeur, word die elite bevoordeel deur korrupsie en deur kontakte en omkopery word ongekende rykdom verkry, terwyl die oorgrote meerderheid van die bevolking erg armlastig bly. Daar is min hoop vir enige noemenswaardige verandering in hul daaglikse stryd om oorlewing. Meer as 25% van die bevolking leef onder die broodlyn.

Veral in die suidelike deel van de Filippyne, waar Duterte vandaan kom, Mindanao, was daar vir jare lank ʼn gewapende Moslem-opstand teen die regering (meer as 80% van die bevolking is Rooms-Katoliek).

Vanweë hierdie probleme het ʼn aansienlike aantal Filippyne elders ʼn heenkome gaan soek as veral bediendes en hande-arbeiders, waar hulle gesog is in huise van die VSA tot die rykes in die Midde-Ooste en Asië. Ander werk as matrose in haglike omstandighede om hul families by die huis te onderhou.

Daar was die afgelope tyd wel vooruitgang met ekonomiese groei na ekonomiese krisisse in die laat 1990’s en 2000’s. Onder die vorige president (Benigno Aquino) het die Filippyne ʼn groeikoers van 6% gehandhaaf, direkte buitelandse beleggings vervierdubbel en vier miljoen nuwe werksgeleenthede geskep. Dit het die klein, maar groeiende, middelklas bevoordeel, maar nie veel vir die massas armes beteken nie.

Die vooruitgang is ongelukkig ook gekoppel aan korrupsie en omkopery. Dit blyk dat byna 80% van Filippynse wetgewers gekoppel word aan politieke dinastieë met gevestigde belange. Dus: ʼn handvol families beheer byna die hele land se rykdom. Dit is nie uniek aan ʼn ontwikkelende land soos die Filippyne nie. Dit gebeur van Brasilië tot Indië, China tot Suid-Afrika. Natuurlik net in verskillende vorms en grade.

Daarom was dit seker nie ʼn verrassing dat Duterte verkies is nie. Iemand wat ernstige veranderinge belowe en misdaad wil uitwis, sal seker ongekwalifiseerde steun kry. Dis nou ten spyte daarvan dat daar baie vrae is rondom Duterte se metodes om vigilante groepe te gebruik om misdadigers in Davao Stad, waar hy jare die burgemeester was, uit te delg.

Nie dat sy metodes juis misdaad uitgewis het nie.

Ten spyte van sy optrede, word Davao beskou as die stad in die Filippyne met die vierde hoogste misdaadsyfer in die land.

Terloops, ten spyte van sogenaamde dwelm-oorloë en hardhandige optrede wat verskeie administrasies in lande soos Mexiko en Colombië reeds voorheen teen dwelmhandelaars in hul lande gebruik het, het hulle nooit daarin geslaag om ʼn groot impak te maak om die dwelmprobleem te beheer of die dwelmbaronne uit te skakel nie. Dit is dus te betwyfel of Duterte wel suksesvol gaan wees.

Misdaad en dwelmverbruik is ook nie altyd die wortel van alle probleme nie. In baie opsigte is dit eerder simptome van groter sosiale probleme. Genesing is dalk eerder geleë in die uitwis van armoede deur die skepping van gelyke geleenthede. Gelyke geleenthede word grootliks bevorder deur werkskepping, die verbetering van onderwys, die verbetering van die ekonomie en sosiale samehorigheid. Dit is ʼn lang en moeisame proses vir die meeste lande wat kitsoplossings soek. Kitsoplossings is grootliks onsuksesvol, soos in ons eie land blyk waar te wees.

Nietemin is die mense van die Filippyne desperaat en hoop Duterte sal antwoorde bring en hul daaglikse armoedige bestaan en uitlewering aan misdadigers beëindig.

Wat bied ʼn Duterte-regering dus vir die Filippyne? Miskien hoop, maar hoop wat vinnig verplaas kan word as meer armes en burgerlikes deur vigilante groepe en veiligheidsdienste uitgewis word in die oorlog teen misdaad. Minder vertroue en swakker ekonomiese groei in die Filippyne, wat weer tot groter werkloosheid gaan lei. Met ander woorde, groter onstabiliteit en ʼn dreigende diktatuur.

China word bevoordeel

Op die koop toe het die Fillipyne ʼn slegter verhoudinge met die VSA, die “ouboet”van die Filippyne. Duterte het reeds verlede week aangedui die jaarlikse militêre oefeninge van die Filippynse en Amerikaanse weermagte, wat tans plaasvind, gaan die laaste wees. Duterte sien eerder, soos baie ontwikkelende lande, sy heil in beter betrekking met China.

Die vorige Aquino-regering het na vore getree as een van China se vernaamste kritici, veral in die dispuut oor die beheer van die mineraalryke Suid-Chinese See. In die proses het Aquino China beskuldig van besetting van groot dele van die Suid-Chinese See in Filippynse gebiedswaters en die geskil na die internasionale geregshof geneem.

Duterte het wel die Chinese gewaarsku, maar terselfdertyd gewys op die noodsaak van dialoog en sterkter politieke bande met China.

Ons kan natuurlik ook vra wat is die relevansie van die optrede van ʼn sterkman iewers op ʼn hoop eilande in Suidoos-Asië vir Suid-Afrika. Op die oog af, nie veel nie. Ons behoort nie deur Filippynse vlugtelinge toegesak te word as daar onstabiliteit in daardie wêreldstreek is nie. Lande soos Australië kan dalk minder gelukkig wees. Ons het natuurlik ons eie probleme: ʼn duisternis hoopvolles wat uit elke uithoek van Afrika en selfs Pakistan/Bangladesh die landsgrense na willekeur oorspoel.

Nietemin kan die bewind van Duterte ʼn presedent of voorbeeld stel vir wat ons in Suid-Afrika dalk eendag kan beleef. ʼn Dirty Harry-politikus, wat beloof om misdaad vas te vat, die rykes se houvas op die ekonomie te verbreek en die Amerikaners bloedneus te gee. Selfs onder wit Suid-Afrikaners sal so ʼn populêre hardegatbeleid aanvaarbaar wees. Die impak en gevolge is egter ʼn ander storie.

Duterte se bewind is skaars ʼn paar maande oud en gaan nog vir ses jaar duur. Niemand kan hom beskuldig daarvan dat hy ʼn vervelige president is nie. Nietemin kan die langtermyngevolge van sy bewind onstabiliteit in die Filippyne meebring en die magsewewig in China se guns swaai in Suidoos-Asië.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Slap ·

Hierdie man DOEN darm iets. Dis van te veel toleransie van misdadigers dat ons sit waar ons sit.

John ·

Wat uit die geskiedenis duidelik is, en vandag ook, as na lande regoor die wereld gekyk word, is dat die bestuurswyses van die Weste nie net so oorgeplant kan word elders nie. Verder kan mense nie glo dat die Weste, wat deur die eeue soveel sterftes veroorsaak het, Suid-Afrika inkluis, hierdie verhewe idee het dat net hulle weet hoe en met reg ander bevolkingsgroepe kan bestuur of oor hul lewenslot mag besluit. Die Filippyne se groot bevolking en armoede is ‘n uitvloeisel van die Katolieke Kerk se verbod op ‘onnatuurlike’ geboortebeperking. Wat doen die Kerk aan die gevolge?

Perdekrag ·

Mnr Duterte as jy wil kan jy sommer hier in SA bietjie kom skoonmaak.

gatiep ·

Mooi man as jy klaar is met jou land kom help sommer die een ook regkry ons soek so persoon soos jy hier.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.