Duur lesse vir minderhede uit wat in Nagorno-Karabach gebeur

‘n Kaart en vlag van Nagorno-Karabach. Dié onerkende republiek is ‘n produk van dispuut tussen Azerbeidjan en Armeniërs. Dit word histories deur Armeniërs beset, maar is by Azerbeidjan ingesluit ná die ineenstorting van die Sowjetunie. Nagorno-Karabach is vandag ‘n de facto-onafhanklike staat, maar word nie deur enige ander party erken nie. (Foto: Dominika Zarzycka/NurPhoto)

Die afgelope weke is die oggendtemperatuur in Nagorno-Karabach ver onder vriespunt. Bedags raak dit skaars bo vriespunt. In hierdie enklawe in die Suid-Kaukasiese berge, tussen Armenië en Azerbaidjan, word van die ergste swaarkry en lyding tans beleef. Tog hoor ons niks hiervan in die internasionale media nie.

Sedert 12 Desember verlede jaar blokkeer die regering van Azerbaidjan die Lachin-korridor, wat die enigste toevoerroete vir noodsaaklike items soos voedsel- en mediese voorrade aan Nagorno-Karabach is. Die gastoevoer na hierdie afgeleë, onherbergsame streek met sy 150 000 inwoners is ook ʼn paar weke gelede deur Azerbaidjan afgesny.

Nagorno-Karabach word reeds vir meer as 2 000 jaar deur die Armeense Christene bewoon. In die jaar 180 voor Christus het die streek een van die vyftien provinsies van die Armeense Koninkryk geword. Vandag is 90% van die inwoners van Nagorno-Karabach steeds etniese Christen-Armeniërs.

Die Armeniërs is een van die volkere wat sekerlik die afgelope eeu die swaarste deurgeloop het onder die voortdurende oorloë in Wes-Asië. As Christene is die Armeniërs deur talle volksmoorde, wat veral deur die Ottomane uitgevoer is, verpletter.

Die enklawe van Nagorno-Karabach was oor die eeue heen deel van Armenië, maar in die 1920’s, ná die Sowjetisering van Armenië en Azerbeidjan as ʼn outonome streek, is dit binne Azerbaidjan ingedeel. Vanaf die 1920’s tot laat 1980’s kon die Armeniërs in Nagorno-Karabach grootliks oor hulself regeer en hul eie kultuur, tradisies en Christelike geloof in stand hou.

Met die verbrokkeling van die Sowjetunie het die bevolking van Nagorno-Karabach gevra dat hulle streek by Armenië ingelyf moes word. Azerbaidjan het dit geweier en ʼn oorlog het uitgebreek. Uiteindelik kon Armenië die gebied in die vroeë 1990’s suksesvol beset en kon die Armeniërs se regte beskerm word.

Intussen het Azerbaidjan egter, veral met hulp van Turkye en uit olie- en gasverkope, sy weermag drasties uitgebrei. Twee jaar gelede het Azerbaidjan die Armeniërs met ʼn brutale aanval verras, en binne weke is duisende Armeense soldate dood, is dorpies beset waar Armeniërs reeds meer as 2 000 jaar woon, en is huise, kerke en ander infrastruktuur verwoes.

Met die uitbreek van oorlog in Oekraïne en talle ander internasionale politieke, ekonomiese en veiligheidsuitdagings het instellings soos die Verenigde Nasies en die Europese Unie egter hul oë gesluit vir die ernstige menseregtevergrype wat Azerbaidjan in Nagorno-Karabach pleeg.

Die diktator wat Azerbaidjan regeer, Ilham Aliyev, het ʼn uitstalling met die skedels van Armeense soldate geopen en het met sy suksesvolle oorlogspoging gespog. Sy voorneme is om die etniese Armeniërs uit hulle tuiste van 2 000 jaar te verdryf.

Tog het die Europese Unie verlede jaar in Julie ʼn nuwe ooreenkoms om gas uit Azerbaidjan in te voer, met Aliyev onderteken. Die oorlogsmisdade wat deur Azerbaidjan gepleeg is en die onderdrukking van die menseregte en selfbeskikkingstrewe van die Armeense volk, word bloot geïgnoreer. Die Armeniërs bevind hulself, soos dikwels in die verlede, alleen en op hulle eie.

Die afgelope tyd se gebeure in Nagorno-Karabach en die internasionale gemeenskap, veral Westerse lande, se onvermoë om die Armeense bevolking te beskerm en hulle regte te erken, behoort ʼn ernstige waarskuwing aan elke minderheidsvolk, insluitend die Afrikaners, te wees dat oorlewing oor die langtermyn sal afhang van ons eie vermoë om pro-aktief te bou en te beskerm, eerder as wat dit op hoop op internasionale verdrae en internasionale organisasies se toepassing daarvan sal berus.

Hierdie nuuskommentaar is deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Treurwilger ·

Interessant.
En verdere bevestiging van my lae dunk en gebrek aan agting vir die VN, die EU, NAVO en ander nuttelose instansies met dubbele standaarde.

groenboer ·

Dié spreekwoord word aan verskeie mense toegeskryf, maar wie dit ook al gesê het, het ‘n punt beetgehad: Lande het nie vriende nie, net belange.

Die EU is afhanklik van ingevoerde gas. Daarsonder gaan hulle ten gronde. Geen land op aarde sal homself opoffer ter wille van een of ander obskure nasie in die middel van nêrens nie.

Net soos enige ander moondheid, is die EU nou maar so moreel as wat hy voel hy kan bekostig om te wees. Wat sou ons van EU-leiers dink as hulle sou toelaat dat EU-burgers in die winter doodvries, ten einde die Armeniërs te beskerm? Ons wil ons eie regering aan die naaste boom ophang omdat hulle elektrisiteit (sonder beurtkrag!) uitvoer na ons buurlande terwyl ons self in die donker sit.

Maar daar is inderdaad lesse daaruit te leer. Ek hoop die Oraniërs lees hierdie artikel en leer daaruit. Hulle sit ook in ‘n binnelandse strokie, wat maklik deur hul vyande van die buitewêreld afgsny kan word. Miskien maar tyd vir hawe bou aan die weskus…

Martin ·

Treurwilger jy moet ni so van vn en ander praat ni dit is mos solidariteit se god hul gaan ons mos red plaas dat hul al daai ver spulde geld gebruik om ons wittes te bemagtig word daar gebuig voor di buiteland ñ volk red hom self ons is alleen

Harley Davidson ·

Ek het so gedink die waarheid is nie vir swakkelinge nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.