Een goeie ding in Gauteng se provinsiale rede

David Makhura, Gautengse premier. (Foto: Simphiwe Mbokazi/ANA)

Deur Daniel du Plessis

Dit is moeilik om doekies om te draai as mens probeer sin maak van die provinsiale rede van David Makhura, Gauteng se premier, wat hy verlede week gelewer het. Dit blyk dat, soos president Ramaphosa, die premier ook ly aan ‘n unieke vorm van tsetsevlieg-slaapsiekte – een wat gepaardgaan met talle drome en min planne.

Afgesien van hierdie en legio ander probleme, is daar egter een silwer randjie te vind in hierdie toespraak. In kontras met hoe talle ander provisies tradisioneel deur die ANC regeer word, was hierdie toespraak plek-plek deurspek met die idee van Gauteng-spesifieke belange wat aandag sal moet kry deur Gauteng-spesifieke ekonomiese en sosiale beleid.

Interessant genoeg is dit nie soseer vervat in dit wat die premier self gekies het om te sê nie, maar eerder in daardie dinge wat hy genoop was om te sê vanweë sy provinsie se unieke omstandighede.

Gauteng maak slegs ongeveer 1,5% van Suid-Afrika se grondoppervlakte uit, maar lewer ongeveer 35% van sy bruto binnelandse produk (BBP). Een uit elke vier Suid-Afrikaners woon in Gauteng, met lewenstandaarde vergelykbaar met dié van die Wes-Kaap. Persentasiegewys is Gautengers, van alle Suid-Afrikaners, ook die mins waarskynlike om maatskaplike toelae te ontvang.

Wat sou mens verwag van ʼn bevolking wat so verskil van dié in die ander provinsies? Soos in die geval van die Wes-Kaap, is dit te verwagte dat daar mettertyd ‘n duidelike onderskeid sal ontstaan tussen dit wat vir Gauteng voordelig is, en dit wat vir die res van die provinsies tot voordeel sal strek.

So ʼn onderskeid is fataal vir die strategie waarmee die ANC tot op hede sy provinsies regeer het, wat staatmaak op ʼn nasionale agenda, nasionale belange en – belangrik – fondse wat nasionaal beheer en toegedeel word.

Dit is veral laasgenoemde – nasionale fondse – wat verantwoordelik is vir talle van die ANC se beleidsflaters. Nadelige beleide kan uitgevoer word omdat politici gebruik kon maak van een van die oudste truuks in die boek: sigbare voordele wat onsigbare kostes dra.

Hoeveel kos ‘n R800-toelaag vir ‘n individuele belastingbetaler, byvoorbeeld? Aan die een kant van die vergelyking is ‘n kieser wat duidelik kan sien dat die regering vir hom geld in die hand gee – en aan die ander kant is honderde belastingbetalers wat nie eens die addisionele las in hul belastingsopgaaf kan bespeur nie.

ʼn Sterker onderskeid tussen Gauteng se belange en dié van ander provinsies, versteur egter hierdie briljante strategie. Hier word dit toenemend duidelik dat ʼn klein geografiese gebied moet pa staan vir groter gebiede se finansies.

Hierdie verskynsel is baie sigbaar in die E-tol verskynsel. Gauteng subsidieer talle ander provinsies se paaie – maar moet nou ekstra betaal vir sy eie.

Hoewel hierdie belowend, sou dit voortydig wees hieroor oor-optimisties te wees – dit is geensins duidelik dat die Premier só aan Gauteng se situasie dink nie. So ook is dit nie duidelik dat sy kiesers onder daardie indruk verkeer nie.

Ons sien egter reeds skadu’s van hierdie impuls selfs in Premier Makhura se provinsiale rede, ‘n toespraak wat in alle ander opsigte – Karl Marx aanhalings inkluis – heeltemal binne die ANC se ideologiese kraal inpas.

Dit beteken allermins dat die ANC skielik gaan oorslaan na sinvolle ekonomiese beleid in Gauteng  – maar dit is ‘n saadjie wat, met politieke stabiliteit en versigtige sorg, dalk mettertyd kan groei en vrugte dra.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Gaan lees weer die laaste paragraaf en besef………..alles wat jy NA die “maar” skryf, kanselleer ALLES wat VOOR die “maar” staan…..Shame man.

Jerry ·

Die saadjie is ideologies besmet en die realistiese vooruitskatting en verwagting is dus dat dit vrot vrugte sal dra!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.