Een ras-swaeltjie maak nie ʼn somer

rassisme mnn_com

Grafika: Mnn.com

Deur Connie Mulder

 “Is Penny Sparrow ʼn nuwe reeks op M-Net,” vra ek my vrou toe ons terug in die kar klim. Dis 4 Januarie 2016 en ons is op pad terug van vakansie af. Terwyl ons brandstof ingooi het ek vlugtig op my foon na Twitter gekyk en gesien hoe die rassisme-vonke begin spat.

ʼn Paar uur later het me. Sparrow die digitale wêreld aan die brand gesteek.

Sparrow se uitlatings lui die jaar van die Facebook-rassis in. Met skokkende reëlmaat vlam ʼn nuwe herrie oor rassisme telkens op sosiale media op. Elke keer is dit meer histeries. Elke keer word fisieke geweld vinniger en erger teen die oortreder aangehits. Ons raak ʼn samelewing waarin gesit en wag word dat die volgende sosialemediastorm ontketen word.

Tog is daar iets wat pla aan die gesprekke. Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge bevind dat Suid-Afrikaners van verskillende rasse goed met mekaar oor die weg kom. Op voetsoolvlak vind ons mekaar oor rasgrense heen, net om die aand op die nuus uit te vind dat ons eintlik mekaar haat.

ʼn Meer steurende ondertoon is dat die rassiste wat deur die media aan die groot klok gehang word amper altyd wit is. As Afrikaner begin ek ernstig wonder oor my vriende en familie? Is ons almal dan eintlik rassiste, wat net een ongelukkige insident weg is van Facebook-faam?

My vermoede is dat daar ʼn dubbele standaard heers: Daar is meer as genoeg Facebook-rassiste van ander rasse wat nie die seweuur nuus haal nie.

Suid-Afrika se rassediskoers is nie gesond nie

By Solidariteit onderneem ons toe om uit te vind of daar ʼn dubbele standaard is rondom rassisme in Suid-Afrika. Die twee bevindings wat ons dieper laat ondersoek instel is eerstens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge se bevinding dat die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners geen rassisme op ʼn dag-tot-dag basis ervaar nie.

Lynreg teen die bevinding staan die media wat ons probeer oortuig dat elke Suid-Afrikaner konstant met rassisme te doen het.

Eers identifiseer ons verskeie hoëprofielgevalle waarin rassisme en rassiste lugtyd gekry het. Ons gevallestudies wissel. Ons ondersoek Julius Malema wat tydens ʼn EFF-vergadering in Newcastle gesê het dat hy nog nie nou vra vir die slagting van witmense nie. Ook kyk ons na Justin van Vuuren, ʼn kleinsake-eienaar wat in die Penny Sparrow-tydperk aanstootlike uitlatings teenoor swartmense op Durban se strande gemaak het.

Ons begin deur te kyk hoeveel mediaberigte op elke rassistiese insident gevolg het. Penny Sparrow is kop en skouers die voorloper met 4 501 mediaberigte. Die kroonprins van rassisme, Julius Malema, se “slagting van witmense” opmerking genereer slegs 163 mediaberigte.

Mabel Jansen se verwysing na swart mans se geweldskultuur genereer 840 mediaberigte. Jonathan Jansen se opmerkings tydens ʼn Kovsie-raadsvergadering in Augustus 2016, waarin hy na Afrikanermans se opvoeding as gebrekkig verwys, genereer slegs 10 mediaberigte.

Die somtotaal van die bevindinge is besonders onrusbarend; indien die rassis wit is – is die gemiddelde hoeveelheid mediaberigte 643,6 sonder Me. Sparrow.

Indien die rassis swart is – is die gemiddelde hoeveelheid mediaberigte 66,4.

Inteendeel – Justin van Vuuren met 251 mediaberigte kry amper 100 meer mediaberigte as Julius Malema met 163 mediaberigte.

Die bevindings toon dat Suid-Afrika se rassediskoers nie gesond is nie. In ʼn heterogene land is dit van kernbelang om sensitiewe kwessies soos rassisme met ongelooflike omsigtigheid te benader en te hanteer.

ʼn Mens kan nie rassisme beveg deur rassisme te pleeg nie.

Onafwendbaar het hierdie mediavooroordeel ʼn invloed op die alledaagse lewe. Dit vergiftig die atmosfeer rondom alle rasseverhoudinge in Suid-Afrika.
Dit is in hierdie atmosfeer waarin die Huffington Post dit aanvaarbaar vind om ʼn rubriek te publiseer wat stel dat wit mans stemreg moet verloor.

Dit is in hierdie atmosfeer waarin Mzwandile Masina, Ekurhuleni se burgemeester, stel dat wit mense nie die regering moet teëgaan nie, anders gaan dit baie rof vir wit mense gaan.

Dit is in hierdie atmosfeer waarin Coligny in vlamme kan opgaan nadat Supra Mahumapelo, die premier van Noordwes, ʼn anti-wit toespraak afsteek.

Hierdie atmosfeer maak dit onmoontlik om oplossings te vind vir die komplekse probleme waarmee mense van alle rasse elke dag in Suid-Afrika stoei.

Hoe takel ons die probleme?

As Afrikaners is die eerste stap om ten alle tye ons kant skoon te hou. Om ons te onttrek aan die gesprek rondom rasseverhoudinge en rassisme gaan geen oplossings bied nie. Al waarheen dit lei is gesprekke oor ons, maar sonder ons.

Ons moet die gesprek beïnvloed deur die bestaan van hierdie dubbele standaard uit te wys. Sodoende kan ons poog om kalmte en matigheid te bring na ʼn diskoers rondom ras in Suid-Afrika wat dreig om soos ʼn wegholvragtrein te ontspoor.

Behalwe vir die plaaslike debat rondom ras waar ons betrokke moet bly, loods Solidariteit ʼn veldtog teen dubbele standaarde rondom rassisme. Dit word besonder goed ondersteun deur meer as 180 000 mense.

Dié besonderse ondersteuning stel ons in staat om ons bevindings internasionaal te deel. Ons het voorleggings by die internasionale menseregtekommissie, die internasionale arbeidsorganisasie en die komitee vir die uitskakeling van rassediskriminasie gemaak.

Die ontvangs was ongelooflik positief gewees, met ʼn diep begrip vir ons situasie as minderheid.

Hoewel ons nie ons hoop op die internasionale gemeenskap moet plaas nie, is internasionale druk een van vele wapens in minderhede wêreldwyd se arsenaal. Elke denkbare opsie tot ons beskikking moet aangewend word om vir ons kinders ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms te verseker in Suid-Afrika.

Ten spyte van die media se rassediskoers kom Suid-Afrikaners van alle rasse in die breë nog merendeels goed met mekaar oor die weg. Dit is van kernbelang dat ons onthou daar is nog goeie mense in alle rasse wat oplossings vir probleme soek.

Volgende keer as histeriese beriggewing oor rassisme plaasvind, moet ons onsself voortdurend herinner – een ras-swaeltjie maak nie ʼn somer nie.

Connie Mulder is die hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Leendert ·

Dit klop met:
1) Die siening wat Zuma oor wit mense huldig en hulle weg wens, verwens.
2) Hul siening dat swart mense (gerieflikheidshalwe en as regverdiging vir hul uitsprake) nie rassiste kan wees nie. Hieroor kan hulle nogal agressief raak as mens hulle daaroor konfronteer. Jy mag nie die wind uit hul siele vat nie.
3) Uitsprake van sekere regters betreffende Afrikaans as onderrig taal op sekere universiteite, help ook nie persepsies van bevooroordeling nie.

Die probleem is dus die ingesteldheid van hierdie mense, al maak hulle nie rassitiese uitsprake nie, bly hulle in wese maar rassiste. Daardeur blaas hulle rassekonflik aan, onverdraagsaamheid, hulle stel die een teen die ander op.

laat mens wonder? ·

Staling se program was sosiale ingeneuring
Hitler se program was sosiale ingeneuring
Die huidige regering se swartbemagtiging en eensydige anti rassistiese program is ook sosaile ingeneuring. Laat mens wonder?

Hendrik ·

Hierdie swaeltjie wonder nie meer nie. Ons groepeer voor hierdie winter en het alreeds saam vertrek waar ons soort swaetjies bymekaar is.

Jakobus ·

Vandag versaak die ANC die minderhede se belange:

Die swart mense s’n omdat hulle faksievorming en versplintering in etniese groepe wil verhoed en almal saam in die ANC mobiliseer.

Met antagonisme, teësinnig en skop daarteen om gelykberegtiging toe te pas, minagtend teenoor die wit mense, omdat hulle die wit mense verag oor die verlede. Ongeag daarvan dat Zuma sê hy haat nie wit mense nie. ‘n Jakkals verander van hare, maar nie van streke nie.

Marius ·

Kom ons vergeet nie dat daar ‘n stil klomp mense is wat ‘n baie groot komponent van ons samelewing uitmaak nie. Hierdie groep mense gaan elke dag aan met die besigheid van burger wees op verantwoordelike wyse. Dit bestaan uit mense van alle rasse. Hulle hou hulle nie so besig met die radikaal gelaaide rassistiese uitlatings nie. Daar is twee kampe aan die regter en likerkant. Dis waar, maar moenie die fout maak om almal in kampe te plaas nie. Daardie “swaeltjies” verkie dit so om saam te werk en bou aan hierdie land. Dis hulle wat die gemors gaan moet regmaak as die regses en linkses mekaar beetgekry het en groot skade gemaak het. Ek verfoei wat Penny Sparrow en Malema sê en ek wil nie vir een van hulle opkom nie.

John ·

Die grootste tragedie van alles is dat ons rondom die waarheid praat selfs hakkel, maar dit nie by name kan of mag noem nie wat beteken dat die vyand in sy doel geslaag het. Raka is in die kraal en Koki probeer met hom redeneer want sy koker is hom ontneem. Doen so voort… se hom sleg, paai hom met kos, lewer ‘n orasie in goeie Afrikaans of Engels, spuit hom met doom of Versace se duurste, bou nog ‘n mooi kraal en reel ‘n rietdans… e… e… maar moet hom net nie op sy naam noem nie, want… dan roep ons die mega-visoen tot lewe waarmee Dias 5 eeue gelede gedurende sy seereis om die Kaap gewaarsku is… Dis die tragedie en voel presies soos om saam met ‘n swart mamba in jou bed te moet slaap… Jy kan nie roer nie… en dit nie bykom nie…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.