Een taal verhoed vooruitgang

Panyazy Lesufi. Foto: Twitter

Deur Merlyn van der Rheede, die Afrikaanse Taalraad se noordelike projekbestuurder

Die gaping tussen ryk en arm word vergroot deur ’n eentalige bestel op alle landsburgers af te forseer.

Die een oomblik word Nomantu Nkomo-Ralehoko as die nuwe LUR vir onderwys in Gauteng aangewys, en almal is opgewonde en het verwagtinge dat sy alle tale goedgesind gaan wees.

Ek het verlede Woensdag, met die aankondiging van Nkomo-Ralehoko se aanwysing in die onderwysportefeulje, ’n vlaag van opgewondenheid beleef en gehoop dat dit ʼn stap in die regte rigting sou wees – dat sy die waarde van moedertaalonderrig sal besef en dit sal predik. Die euforie was egter van korte duur, want net die volgende dag is Panyaza Lesufi terug in sy pos.

Volgens die Gautengse premier, David Makhura, en Angie Motshekga (minister van basiese onderwys), het Lesufi baie goeie werk gedoen en daarom is hy terug in sy pos as Gautengse LUR vir onderwys, ondanks sy omstrede uitlating van twee weke gelede: “Waarom nog veg vir Afrikaans?”.

Soos ek talle male genoem het, moet die veralgemening dat Afrikaans aan ʼn sekere ras behoort, asook die voortgesette etikettering van Afrikaans as die taal van apartheid – vandaar die aanvalle teen Afrikaans – stopgesit word. Volgens Statistieke SA se Algemene Huishoudelike Opname (AHO)-verslag 2018, is meer as driekwart (77,4%) van bruin individue se huistaal Afrikaans, terwyl 20,1% Engels as huistaal het. Meer as drie vyfdes (61,2%) van wit Suid-Afrikaners praat Afrikaans tuis en 36,3% het Engels as huistaal. Hierdie individue kan nie die reg ontsê word om moedertaalonderrig te ontvang nie, daarom sal ons veg vir Afrikaans en al die ander inheemse tale.

Merlyn van der Rheede van die ATR. (Foto verskaf)

Dit is wêreldwyd bewys dat mense se optimale potensiaal deur moedertaalonderrig ontsluit word. Die ANC roem hom daarop dat SA ‘n ontwikkelende land is en tog word duisende landburgers van hul moedertaal, hul sleutel tot ontwikkeling, ontsê. Hierdie teenstrydighede gaan die regering nog duur te staan kom, want die gaping tussen die elite wat Engels verkies en die massas wat in hul moedertaal ’n bestaan voer, word deur hierdie kortsigtigheid net nog verder vergroot. Die voorheen benadeeldes word nou die teenswoordig benadeeldes! Diegene vir wie die toekoms maar bleek lyk, moet bewus gemaak word van die ontsluiting van die mensepotensiaal deur Afrikaans en die ander inheemse tale. ’n Groot ophef word gemaak van dekolonisasie, maar alles word voor die voet verengels, asof Engels nie ’n koloniale taal is nie. Dit help beslis nie die massas wat in haglike omstandighede leef nie; inteendeel, hulle word verder benadeel.

Ek doen daarom ’n beroep op mnr. Panyaza Lesufi dat hy sy siening oor Afrikaans sal verander en eerder sal fokus op die mensepotensiaal wat Afrikaans en die ander gemarginaliseerde inheemse tale kan ontsluit – in belang van die opvoedkundige en ekonomiese voordele vir ons land. Die Afrikaanse taalgemeenskap en die ander taalgemeenskappe móét in gesprek tree met mnr. Lesufi.

Ons kan nie langer toelaat dat die opvoedkundige, ekonomiese, sosiale, kulturele en spirituele waarde wat in die inheemse tale opgesluit lê, deur persoonlike politieke agendas ondermyn word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

sweis ·

Ek stem saam gaan kyk eerder hoekom afrikaanse skole so goed doen sonder finansiële hulp van die regering en pas dié prinsiepe toe in ander skole .Daar moet ook skole gebou word sodat kinders in hulle moedertaal kan onderrig kry,en hou op afbreek bou eerder op.

Gert ·

Ek lees die situasie so: Lesufi se aksies is nie gebaseer op enige wetenskaplike beginsels nie, maar op rou haat vir ‘n sekere groep wat deurgaans beter presteer as die res. Die plan is om hulle af te trek deur moedertaalonderrig weg te neem. Hy gaan dus nooit self afsien van sy veldtog nie.

Santie ·

Ek sien dit presies ook so. Lesufi weet goéd dat moedertaalonderrig die beste elke leerlin in die land. (Soos in die artikel uitgewys is). Hy beny wat Afrikaanse skole het, maar sal nie kopgee dat moedertaalonderrig die verskil maak nie. Hy het ‘n punt om te bewys en daarom teiken hy Afrikaanse skole. Wat hy egter nié weet nie, is dat ons al honderde jare vir ons moedertaal veg. Al moet ons van ander maniere as staatskole gebruik maak, sal ons ons kinders in hul moedertaal laat onderrig. Die Tegnologie kan ons deesdae baie help hiermee.

sweis ·

Onthou mense ,regerings doen aan jou wat jy hulle toelaat al is die rede dat jy bang is of oningelig moet jy sterk staan en seker maak jy kry die beste vir jou kinders.

Andreas ·

As dit nie vir Lesufi se eenmanvete teen Afrikaans was nie, die goedkeuring van die onderwysminister en Cyril van hoe hy sake hanteer nie, sou dit tien teen een nie nou nodig gewees het vir Solidariteit om die massiewe taalplan vir Afrikaans van stapel te stuur nie, dan kon daar baie energie in gegaan het in onderwys en welwillendheid in die algemeen waarvan almal positief kon aftap.

Maar nee, met kortsigtigheid dryf hulle Afrikaanssprekendes weg wat hulle met geen ander alternatief laat om met planne soos Solidariteit vorendag te kom en te implementeer nie. As dit dan so is dat die eerste en derde wêreld se aspirasies mekaar nie kan vind nie, laat dit so wees, ook as daar nie geleer wil word by die insette en kundigheid van die eerste wêreld nie, maar hulle eerder marginaliseer.

Andreas ·

In my geestesoog sien ek ‘n kleuter wat weerbarstig is, teen die prikkels skop, die ma wat hom aan die hand beet het en agter haar aansleep.

barend v d westhuizen ·

die anc regering bly krap waar dit nie jik nie en op n dag gaan hy te ver gaan en dan sal die hel los wees

Willie Maree ·

Uitstekende artikel. As Afrikaanssprekendes het ons ook n taak om Afrikaans so inklusief as moontlik te maak deur ook die res van ons bevolking bewus te maak van die waarde van Afrikaans in opleiding en in beroepslewe.

Eddie ·

Dankie Solidariteit ,ons gaan die stryd wen , Afrikaans het hom lankal reeds bewys as ‘n trotse Akademiese taal en die tegnologie is daar !!!

LHS ·

Gaan nie vir Lesefu oor Afrikaans nie, nog minder gaan dit vir hom oor onderwys, Al waaroor dit vir hom gaan is om alle staatsbeheerde skole waar onderrig en opvoeding nog in n mate funksioneel plaasvind op dieselfde vlak te kry as die res van sy skole waar min tot niks werklik funksioneer. Hy haat dit om skole te sien waar die leerdertal nie oorwegend swart is nie en uit die aard daarvan engels dan die enigste onderrigtaal is nie. Die meeste swart leerders landswyd word net so erg deur nie moedertaal onderrig te ontvang nie geraak. Dit is n prakties nie uitvoerbare gedagte weens die groot hoeveelheid verskillende etniese tale. Indien Lesefu dit nog as rede aangevoer het was sy denke miskien nog te verstane maar sy optrede dui slegs op polities gemotiveerde denke om alles wat blank en veral Afrikaans is te vernietig. Onderwys is vir die man net n bysaak en verseker nie op sy prioriteitslysie nie.

Dirk Breytenbach ·

Merlyn vir Minister van onderwys! Dankie vir jou gelanseerde artikel. Feite en die waarheid sal die toekoms bepaal, nie iemand se haat en onnoselheid nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.