Eensydige of gebalanseerde geskiedenis?

Dr. Pieter Mulder se reaksie op eensydige artikels oor Jan van Riebeeck.

Jy kan nie geskiedenisfeite verander nie. Dit is ʼn geskiedkundige feit dat Jan van Riebeeck op 6 April 1652 in Tafelbaai geland het. Dit is ʼn geskiedkundige feit dat Van Riebeeck Autshumao, wat hy Herrie die Strandloper genoem het, en sy mense in Tafelbaai gekry het.

Waarom verskil ons dan so dikwels oor geskiedenis? Omdat mense geskiedenisfeite verskillend interpreteer. Ook omdat sommige mense die geskiedenis misbruik om ander mense te mobiliseer. So probeer mense hul eie doelwitte bereik in die huidige tyd. Mense kies geskiedenisfeite wat hulle pas en laat ander ongemaklike feite weg. En daarmee skep mense geskiedenismites wat gedeeltelik waar is – maar nie die geskiedenis volledig en gebalanseerd weergee nie. Die mites uit die geskiedenis wat só geskep word, vertel meer van die tyd waarin die mite ontstaan en van onsself as van die tyd waaroor dit gaan.

Dan Brown skryf in sy boek The Da Vinci Code:

“History is always written by the winners. When two cultures clash, the loser is obliterated, and the winner writes the history books – books which glorify their own cause and disparage the conquered foe. As Napoleon once said: ‘What is history, but a fable agreed upon?’ By its very nature, history is always a one-sided account.”

Tans word die Suid-Afrikaanse geskiedenis weer uit nuwe hoeke ontleed en herskryf, veral deur die ANC wat hulself as die oorwinnaars ná 1994 sien. Wat ek jammer vind is dat presies dieselfde foute as in die verlede gemaak word. In die nuwe weergawe van die geskiedenis is die Afrikaner en witmense altyd net sleg en swart, bruin, Khoisan en die ander mense altyd net goed en onskuldig. Mense en die geskiedenis is nooit só eenvoudig nie.

Pres. Nelson Mandela het in die parlement met die tiende herdenking van sy inhuldiging (10 Mei 2004) gesê ʼn rigtinggewende beginsel vir hom was nog altyd “that there are good men and women to be found in all groups and from all sectors of society, and that in an open and free society those South Africans will come together to jointly and co-operatively realise the common good”.

Dit is ook my probleem met artikels soos “The Eight Years of Jan van Riebeeck” (http://www.thejournalist.org.za/spotlight/the-eight-years-of-jan-van-riebeeck).

Volgens hierdie artikel is Autshumao en sy volgelinge net goed en onskuldig met goeie bedoelings. Van Riebeeck en sy volgelinge is net sleg en gemeen met kwade bedoelings. Die geskiedenis van daardie tyd is veel ingewikkelder en daar was goeie en slegte mense aan albei kante.

As die geskiedenis gesien word uit die oogpunt van die KhoeKhoen of Khoi-Khoi, soos Herrie se mense genoem is, is die artikelskrywer reg dat Van Riebeeck die Khoi-Khoi se lewe ontwrig en verander het. Baie van hulle is later in strafekspedisies gedood en die groot pokke- epidemies van 1713, 1755 en 1767 het sommige stamme totaal uitgewis. Die Khoi en San is die binneland in geforseer net soos hulle baie jare tevore deur die Nguni-stamme uit die huidige KwaZulu-Natal suid gedwing is. Net hulle rotstekeninge het in die Drakensberge oorgebly.

Maar hoe lyk die feite uit die Hollandse oogpunt gesien? Feite wat die skrywer weglaat?

Volgens die artikelskrywer het die plaaslike Khoi-inwoners ten alle tye vriendelik (cordial) teenoor Europeërs opgetree. Die dagboeke van die vroeë seevaarders verskil daarvan.

In 1510 word Francisco d’Almeida, ʼn Portugese onderkoning, in Tafelbaai gedood ná ʼn botsing met plaaslike inwoners. Die Portugese seevaarders het daarna opdrag gekry om landings aan die Suid-Afrikaanse kus te probeer vermy. Dit help verklaar waarom Suid-Afrika nie ʼn Portugese kolonie soos Angola en Mosambiek geword het nie.

Die Hollandse seevaarders skryf oor die vriendelikheid of vyandigheid van die plaaslike inwoners aan die Kaap dat hulle, hulle “onvoorspelbaar” vind. So is die Hollandse koopman Cornelis Specx en 14 van sy bemanningslede in 1638 in Tafelbaai vermoor toe hulle dit te ver van hul skepe gewaag het.

Met Van Riebeeck se koms in 1652 het hy spesifieke opdragte van die Here XVII gehad. Hy moes ʼn fort bou vir beveiliging maar het ook streng opdrag gekry om in vrede en goeie verhoudinge met die plaaslike bevolking te lewe. Die doel was beslis nie om hul lewe te ontwrig of hulle uit te wis soos die artikel dit stel nie. Sonder goeie verhoudinge met die Khoi was dit nie moontlik om met hulle handel te dryf nie ten einde genoeg beeste en skape te ruil om die vlote wat by die Kaap aan doen van vleis te voorsien.

Daarvoor was ʼn tolk vir kommunikasie nodig. Autshumao (Herrie die Strandloper), sy susterskind Krotoa (Eva) en Doman het as tolke opgetree. Krotoa het deel van Van Riebeeck se familie geword en by hulle gewoon. Sy het ʼn Christen geword wat gedoop is en het met ʼn Hollander, Pieter van Meerhof, getrou. Uit die huwelik is drie kinders gebore wat deel van die Hollandse gemeenskap geword het. Dit toon aan hoe die aanvanklike verdelings nie op ras gegrond was nie maar op geloof. Ras sou eers in die 18de eeu ʼn belangrike verdelingsfaktor word.

Van Riebeeck skryf oor hoe hy sukkel om sy opdragte uit te voer omdat die verskillende Khoi groepe onderling verdeeld was en mekaar gewantrou het. Hulle wou ook nie altyd handel dryf en vee ruil nie. Van die groepe of stamme waarmee hy gesukkel het, was die Goringhaiconas (die Strandlopers van Autshumao) en die Goringhaiquas (die Kaapmans onder Gogosoa). Hy skryf wel positief oor die Saldanha wat meer bereid was tot handeldryf.

Vir meer as ʼn jaar ná 1652 gaan dit goed. Dan op 19 Oktober 1653 steel Autshumao en sy volgelinge byna al die vee van die Kompanjie. Hulle maak ook die veewagter David Jansz dood.

Van Riebeeck skryf hoe geskok hy is dat “die tolk Herrij, die doorgaens van onse taeffel als een groot vrunt alle dagen is gespijst met Hollandse cleederen gecleet, so iets kon doen. (Hoe die tolk Herrie, wat deurgaans as ʼn vriend gereeld aan ons tafel saam met ons geëet het en Hollandse klere gedra het, so iets kon doen.)

Later vind hulle uit hoe Doman, die ander tolk, die Goringhaiquas (die Kaapmans) aanraai om tydens reënweer nog vee te steel aangesien Van Riebeeck se mense dan met klam lonte en kruit nie hul pangewere kan gebruik nie.

In Julie 1659 word die veewagter Sijmon in’t Velt doodgesteek en ʼn verdere 68 beeste en 67 skape weggevoer. Hierop word besluit om die heining te bou waarna in die artikel verwys word. Konflik tussen die Hollanders en die plaaslike bevolking volg tot in April 1660. Ná gesprekke tussen die groepe word in Mei 1660 vrede met die leiers van die verskillende groepe gesluit en word die versoeningsbeleid hervat.

Die finale gebalanseerde geskiedenis van daardie tyd sal nog geskryf moet word. Dit sal iewers tussen die Khoi en Hollandse perspektiewe lê. Dit sal verduidelik hoe twee verskillende kultuur-benaderings aan die Kaap gebots het. Die Hollanders wat uit Europa kom waar individuele- en privaateiendomsreg van grond die gebruik is teenoor die Khoi wat geglo het die grond behoort aan almal om te gebruik. Die Khoi wat vee aanhou net vir eie gebruik teenoor die Hollanders wat handel dryf om wins te maak en om gereed te wees om groot Hollandse vlote van vleis te voorsien.

As uit vandag se perspektief daaroor geskryf word, moet die vraag gevra word of Suid-Afrika ʼn beter plek sou wees as Van Riebeeck nooit na die Kaap gekom het nie? Dit is tog vandag se debat. Sou die snelweë breër, die hospitale groter en die TV beter gewees het sonder Van Riebeeck en sy nakomelinge se bydrae?

Tans is Suid-Afrika ʼn ekonomiese reus in Afrika. Amper die helfte van alle geteerde paaie in Afrika kom in Suid-Afrika voor, hier is die grootste hospitale in die Suidelike Halfrond en daar is meer selfone in Suid-Afrika as wat daar volwasse inwoners is. Ook die nageslagte van Autshumao gebruik vandag hierdie hospitale, paaie, televisie en selfone.

Wat is die gevaar van geskiedenismites wat vir hedendaagse mobilisering gebruik word? Een voorbeeld:

In Rwanda skep die Hutu-leiers geskiedenismites om aan te toon dat die land se probleme deur die Tutsi’s en nie deur hulle veroorsaak is nie. Toe die probleme nie verdwyn nie begin die gewone Hutu’s die Tutsi’s “kakkerlakke” noem en besluit op ʼn dag om van die “kakkerlakke” ontslae te raak. Soveel as ʼn miljoen Tutsi’s is in 100 dae vermoor.

Aan die begin van hierdie jaar praat pres. Jacob Zuma oor Suid-Afrika se geskiedenis. Waar kom Suid-Afrika se probleme vandaan? Die agbare president sê: “A man called Jan van Riebeek arrived here and that was the start of the trouble in this country.” Ek kan aantoon hoe die president verkeerd is deurdat hy die swart-op-swart oorloë of die swart-en-Khoi botsings voor 1652 verswyg. Die vraag is egter: Wat presies sê hy in gewone taal? Hy sê toe die witmense hier aankom, het die moeilikheid begin.

Met die herdenking van die ANC se 103de verjaardag vanjaar in die Kaapse stadion, verwys die prys- en gebedsvoorganger Ockert Lewies na Zuma se opmerkings oor Van Riebeeck. In sy pryssang sê hy aan die 40 000 mense in die stadion dat hy eers Van Riebeeck se bose gees moet uitdryf ten einde die stadion skoon te kry voordat die president kan praat. Terloops, Van Riebeeck is in Batavia dood en begrawe – nie in Kaapstad nie.

Wat verstaan die gewone ANC-ondersteuner van die president en die pryssanger se opmerkings? Hy verstaan dat witmense vir die probleme in die land verantwoordelik is. As jy dus van die witmense ontslae raak, dan is die probleme weg. Dryf die “kakkerlakke” uit, dan is die probleme weg. Dit is hoekom mites so gevaarlik is en nie net so gelaat kan word nie.

ʼn Ou Afrika-gesegde lui dat solank as wat die leeus nie kan praat en hulle nie hul eie storievertellers aanstel nie, die jagters altyd die beste daarvan sal afkom. Kom ons beywer ons vir gebalanseerde Suid-Afrikaanse geskiedskrywing en politieke debat deur die leeus én die jagters, juis omdat ons die gevare van eensydige geskiedskrywing en mites besef.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

anet ·

Dr. Pieter Mulder,
Dankie vir hierdie wonderlike terugvoer oor ons Geskiedenis.
Ons kan nie veel van Zuma verwag dat hy enigsins die werklike geskiedenis van Jan van Riebeecksal ken nie. Die man het net gevorder tot en met standerd 3. Ek glo ook dat hy nie selfs sy eie geskiedenis en ware kultuur ken nie.

Gwen ·

Kyk hier is nou ’n man na wie ’n mens maar gerus kan luister. Hy is sonder twyfel die man met die meeste integriteit in die sirkus van ’n parlement. Dr. Mulder, ek salueer u en wil u hartlik bedank vir wat u vir die volk beteken. U is ’n stem van rustigheid en rede in onstuimige tye. Mag die VF+ van krag tot krag gaan.

Henry ·

Ek sekondeer!!!
Ons is trots op Afrikaners soos jy Dr Mulder.

Frik Lotz ·

Baie goeie artikel deur dr. Pieter Mulder. Die ANC kan die geskiedenis probeer verdraai en aanpas nes hul wil, maar die waarheid is in elke Afrikaner se hart en dít sal nooit uitgewis word nie! Dis tyd dat ons begin saamstaan as Afrikaners en n goeie begin sal wees om mense soos dr. Mulder te ondersteun en hul hande sterker te maak. Doen so voort dr. Mulder.

Chris Diedericks ·

Dankie Pieter vir jou gebalanseerde siening. Hou so aan! Al lees min mense wat jy sê, is dit vir baie ander van veel waarde om ook op hierdie wyse kennis te neem van die waarheid. Ons kan net vorentoe beweeg en saamwerk as ons die gekiedenis feite behoorlik be-oordeel en elkeen se bydrae erken en respekteer! ‘n Eensydige siening waarborg mislukking . Altyd!

Arrie de Beer ·

Dit mag wees dat die Here VII nou nie vir mekaar reguit per notule gese het: Kom ons gaan ontwrig die mense in die Kaap se lewe nie, maar hul lewe is mos ontwrig, of wat sal ‘n mens die pokke-epidemie en die jag op die Koi byvoorbeeld noem?

Arrie de Beer ·

Dit mag wees dat die Here VII nou nie vir mekaar reguit per notule gese het: Kom ons gaan ontwrig die mense in die Kaap se lewe nie, maar dit het mos gebeur of wat sal ‘n mens die pokke-epidemie en die jag op die Koi byvoorbeeld noem?

Olivier Henning ·

Moet Dr Pieter se artikel nie wyer in die Naspers media versprei word nie – as hulle dit sou dra, want Naspers is die Afrikanersaak en eerlike beriggewing nie altyd so goedgesind nie. Maar mens moet minstens probeer.

Jan Venter ·

Zuma is maar net besig om die doelwitte van PaxAmericana te verwesenlik. Kry ‘n swart meerderheidsregering aan bewind, wis die blanke Afrikaner uit (eers sy taal en godsdiens waarop die aanslag tans gefokus is) en daarna moet die strewe na ‘n Verenigde State van Afrika met ‘n swart regering wat deur die Amerikaners en hul medewerkers – al die lande wat betrokke was by die sogenaamde sanksies teen die Apartheidsregering, soos pionne gebruik word, verwesentlik word. Dit gaan vir hulle nie oor opheffing in Afrika nie, maar oor die minerale rykdom en niks of niemand sal ontsien word nie. Wat doen ons blanke Afrikaners – ons koop ons aartsvyande se produkte want dit is mos die in ding om ‘n Ford, Jaguar, Chev, Volvo, Peugeot, Renault, Land Rover e.d.m. te ry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.