Eerlikheid oor die verlede nou belangriker as ooit

Tainted heroes foto

Foto: AfriForum/Facebook

Maroela Media publiseer Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, se formele reaksie op die kritiek van die dokumentêre rolprent Tainted Heroes uit die pen van Pieter du Toit, nuushoof van Netwerk24.

Pieter du Toit en Max du Preez se ontledings van Tainted Heroes is voorspelbaar, maar tog fassinerend. Netwerk24 se nasionale nuushoof en die politieke kommentator is duidelik erg ontsteld oor die film. ’n Mens kan nie help om te wonder nie: Indien die film regtig so lui, swak en propagandisties is soos hulle die lesers probeer oortuig dit is, waarom ontstel dit hulle dan so? Die antwoord lê in hul eie ideologiese oorloggie.

Tainted Heroes vertel die geskiedenis van die Soweto-opstande van 1976 tot en met die inhuldiging van Nelson Mandela as staatspresident in 1994. Die dokumentêr fokus op die donker kolle van die ANC se geskiedenis: die ANC se beleid dat sagte teikens vermoor mag word, asook die halssnoermoorde, die manipulering van die media en natuurlik die sogenaamde people’s war wat teen swart mededingende organisasies gevoer is.

Tydens die vervaardiging van Tainted Heroes het ons so ewe voorspel dat die Netwerk24-elite en hul vriendekring – wie se agenda geen geheim is nie – woedend sal wees oor die film en waarskynlik ’n poging sal aanwend om dit te diskrediteer. Du Toit sal onthou dat ek sy kritiek reeds in my toespraak by die première voorspel het. Natuurlik kan die feite in die film nie betwis word nie, maar dit blyk dat sommige ideologies gedrewe kommentators hulle nie deur feite van stryk laat bring nie. Wat ons egter nie voorsien het nie, was dat Max du Preez só gretig sou wees dat hy uitgebreide kommentaar lewer nog vóór hy die film gekyk het!

Du Preez het by geleentheid self geskryf dat dit ’n tradisie onder liberale kommentators is om oor sekere probleme te swyg as dit sou blyk dat bespreking daarvan die argumente van die “reaksionêres” of die “regses” sal versterk.

Die reaksie is verstaanbaar. In haar boek The Liberal Slideaway skryf Jill Wentzel, ’n leidende figuur van die Black Sash, dat liberale kommentators wat destyds omgekrap was oor die ANC se gruweldade al hoe meer onder druk verkeer het om enige kritiek op die ANC met ’n uitgebreide relaas oor die boosheid van apartheid vooraf te gaan. Sy skryf dat iemand in daardie kringe eers 20 sinne aan apartheid moes wy voordat twee sinne oor die ANC se gruweldade gesê kon word. “Dit was soos om te bid voor jy eet. As jy dit nie gedoen het nie, sou iemand vir jou ’n lesing gee,” skryf sy. Hierdie beginsel, wat Wentzel die twintig-tot-twee-reël noem, is vandag nog in die skrywes van die Netwerk24-elite sigbaar. Die inhoud van Tainted Heroes kan nie bevraagteken word nie, maar tog is die film taboe nog voor dit verskyn, omdat dit nie 20 sinne oor apartheid vir elke twee sinne oor die ANC bevat nie.

Du Toit se eie rassistiese onderrok hang ook uit: Tainted Heroes wys beeldmateriaal van die onluste vanuit die nuusargiewe – en dan kies Du Toit die woord “barbarisme” om dit te beskryf. Hy insinueer ook dat die swart akteur – wat, terloops, besonder trots is op die flim – seker nie geweet het waaraan hy deelneem nie. Hy ignoreer verder die feit dat swart kykers dit ná die première as die mees gebalanseerde dokumentêr nóg oor die struggle beskryf het.

Die werklikheid is dat die Suid-Afrikaanse rassekrisis grootliks toegeskryf kan word aan die manier hoe daar met die verlede omgegaan word. Vir die ANC is geskiedenis nie die studie van historiese gebeure soos die woordeboek sê nie; dit is eerder ’n verklaring van historiese gebeure. In Suid-Afrika word ’n gefabriseerde – of minstens eensydige – weergawe van die geskiedenis op elke denkbare platform deur die ANC gepropageer. Ons hoor dit in die parlement, ons vier dit op openbare vakansiedae, ons sien dit op SAUK-programme (waarvan baie deur Du Preez aangebied word), ons lees dit in Du Toit se berigte en ons leer dit in die skool.

Dit is natuurlik ’n geskiedenisbeeld van dubbele standaarde. Dit verdeel die samelewing in twee groepe: swart slagoffers en wit oortreders. Dit is juis hierdie narratief oor die verlede wat ’n propagandabeeld is. Op grond hiervan word beledigende politieke uitsprake geregverdig. Politieke beleid word op grond hiervan geskryf en dit dien as grondslag vir die opstel van wetgewing. Selfs die Grondwet word op ’n spesifieke manier vertolk, juis as gevolg hiervan: Wanneer die Grondwet byvoorbeeld van die “ongeregtighede van die verlede” praat, weet ons mos dat daar nie verwys word na die ANC se martelkampe of die Shell House-bloedbad nie, maar eerder na ’n spesifieke perspektief van en blik op die verlede. Of dit is ten minste hoe dit vertolk word.

Dit is juis daarom dat die debat oor die geskiedenis nou belangriker is as ooit tevore. Tainted Heroes sal help om perspektief te bring.

  • Besonderhede oor Tainted Heroes se verspreiding sal in Februarie aangekondig word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Maddox ·

Dit is baie eenvoudig, die liberale gaan soos besetenes tekere omdat die waarheid seer maak. Hulle wil vir almal die fee- verhaal voorhou van hoe goed die ANC is/ was en hoe sleg die blankes nog altyd was. Mens noem dit self haat. Ongelukkig ly alle wit liberale aan die siekte, en daar is geen geneesmiddel op die mark nie.
Die waarheid vir hulle is soos om lewendig in ‘n tand in te boor. Hulle kan dit nie hanteer nie, dus hoekom hulle so tekere gaan.
Ek wil net dankie se vir Afriforum, vir die vervaardiging van die film. Die mensdom moet die waarheid geleer word , en nie die fee-verhaal stories wat die liberale media wil voorhou nie.

Henry ·

Beste Ernst
Dankie vir die skitterende werk wat jy en Afriforum verrig gedurende baie moeilike tye.
Dankie dat julle nie op ‘n hoop loop sit en onder mekaar kerm oor die ongeregtighede wat teen die Afrikaner gepleeg word nie.
Dankie dat julle in hierdie tye die moderne middele wat tot almal se beskikking is, aanwend om ook die ander kant van die saak te stel – onbeskroomd, eerlik en korrek.
Dankie dat daar mense soos jyself in hierdie organisasie is, wat op beleefde en beskaafde wyse ons saak klinkklaar en vreesloos stel.
Dankie dat julle nie van die spoor van die waarheid sal afwyk nie, selfs al gaan die gewone ou lotjie hul beste uithaal om ons saak te ontspoor.
Groetnis en la’ waai!!!

Gerhardt ·

Ek het aanstoot oor Pieter du Toit se skrywe geneem. Hoekom nie die feite aanval nie? Want hy kan nie, nou speel hy maar die man. Ek hoop regtig die film word versprei en ek will graag ook die dvd koop om eendag vir my kinders te wys. Goeie werk Afriforum.

Brian ·

Ernst, jy doen puik werk! My respek vir jou groei op n daaglikse basis. Ons jonger generasie is moeg daarvoor om die las van die verlede op ons skouers te dra, ten spyte van die feit dat ons geen betrokkenheid daarby gehad het nie. Dankie vir jou harde en doelgerigte werk.

Sampie ·

Ek kan nie wag om die film te sien nie. Die teenkanting sover is iets om te aanskou. Het nou die oggend Max du Preez se kommentaar daaroor (ja, voor hy die film gesien het) op RSG/Monitor gehoor – hy gee sy eie “game” weg deur so tekere te gegaan het oor iets wat hy nog nie gesien het nie. Alles oor die wittes en apartheid word gekriminaliseer – probeer iets positief (lees in perspektief sien) daaroor skryf, dan kyk jy die tirade wat volg. Dit is ‘n verskerpte aanval op die wit verlede wat tans in die land aan die gang is – hierdie film sal hulle laat hik oor die wrede swart verlede. Dankie daarvoor. Ernst en sy manne is ware helde wat tog net die waarheid ontbloot en aanwend tot die liberale se frustrasie!

Winston ·

Kan nie wag om dit te sien nie. Vir n slag feite nie versinsels nie. Dankie Ernst

Melt Olckers ·

Sal dit graag wil sien. Ek het Anthea Jefery se boek gelees waarop die dokumenter gebasseer is. Het die boek ook vir ‘n vriend geleen, wat nou erken dat hy dit vir ‘n tweede keer lees.

Marius ·

Baie goeie werk deur Afriforum, as hulle dit nie doen nie wie sal dit doen?
En dan glo almal, dat die ANC ook maar net “gestruggel” het, maar die Film vertel die WARE verhaal, wat hulle met hulle eie mense gedoen het. Ek was nog op skool toe meeste van die goed plaas gevind het in Newcastle Noord Natal. Maar was bewus gemaak van wat aangaan en om so iets voor jou te sien gebeur, sal altyd in jou agter kop bly om iemand anders te sien lewendig te brand, en ander staan om jou en skree en slaan jou met stokke, gooi jou met klippe, bakstene ens. Dit is in my meening geensins menslik nie.

Basil ·

Perspektief is belangrik, maar dan moet dit n middeweg skets. Sal graag die dokumenter wil sien … Propoganda is n skrikwekkende instrument in die verkeerde hande, dit het die ANC bewys! Met indoktrinasie en bygelowe breinspoel hulle SA se mense erg. Shaka Zulu het self sy onderlinge gemoor as hy nie samewerking kry of hulle nie saamstem/speel nie. Maar sien, dis nie rassisme nie, dis moord… so rassisme word dan erger as moord! In SA se huidige penarie is dit juis daardie perspektief wat heeltemal verloor is. Moord is ‘n “lesser evil” as rassisme. Maak verdomp nie sin nie! Dis alles propoganda om die “nasionale beursie” te plunder tot dit dolleeg is…

Vixie ·

Amen en amen op al die kommentare. Ek stem volmondig saam met alles wat kwytgeraak is en kan ook nie wag om die fliek te gaan sien en die dvd vir die nageslag aan te skaf nie. Baie trots om lid van Afriforum te wees en moedig mense sover ek kan aan om ook aan te sluit.

Freddie van wyk ·

Uitstekend gedoen Ernst en jou span dit is hoogtyd dat die waarheid seevier ,die liberales wou nooit die anderkant glo nie en hulle is diegenes wat nou deur die anc verwerp word ,dis tyd dat du preez en sy makkers die waarheid besef hulle goed vat en loop uit die land.

Dr. Amari ·

Ek stem saam met die gebeure. Dit is tog algemene kennis dat die situasie in Suider-Afrika met die val van die portugese kolonies gedurende 1974 verander het, omdat die kolonies in Marxistiese state omskep is. Dit was nie ‘n verrassing toe die Soweto-opstande op 16 Junie 1976 plaasgevind het nie.
Daar is selfs deur die teenstanders van apartheid aanvaar dat Suid-Afrika se bestaande orde deur ‘n buitelandse inval en ‘n binnelandse opstand bevry moes word. (T. Lodge. Black politics in South Africa since 1945, p.305.) Dit het beslis nie op ‘n vreedsame wyse geskied nie.

Niek ·

Solank daar by die feite gehou word behoort daar geen probleem te wees nie. Feite is feite, maar dan voel ek ook dat die ander kant van die destydse bewind vertel moet word. Was apartheid sodanig gedefinieer en ge-implementeer met die uitsluitlike doel om te onderdruk of was dit eerder dat die afdwinging van afsonderlike ontwikkeling tot wreedhede gelei het?

Net ‘n vraag? Waar kom die woord apartheid vandaan? Wie het dit begin gebruik? Ek het as kind die woord nooit gehoor. Die eerste keer was in 1976.

Daar het verkeerde goed gebeur, sonder twyfel. Word die res van wat gebeur het dan net bloot ge-ignoreer?

‘n Gebalanseerde vertelling is nodig. Ek hoop van harte so iets kom nog. Beide kante se verhale.

Wessel Pieters ·

Die konteks van die “wrede Apartheid” en onderdrukking le m. i in die feit van die Koue Oorlog ook in Angola and Mozambiek en Namibia plaasgeving het soos in die Sowjet Unie se pogings met die Kubaanse krisis amper kernoorlog. Die Mandela ANC het dit goed gedink om by die Sowjet Unie kommuniste deek te wees van die Koue Oorlg en het voorsien om SA effektief in ‘n burgeroorlog te dompel. Dit het ontaard on a terroriste aanslag enSwart op Swart moorde en stamoorloee Inkata vs Moskou proksies nl die damaalse ANC. Let op: toe die USSR ontbing was die ANC ook verpletter – geen big brother meer. Toe begin hy vrede dink en de Klerk se hande was los om vrede te praat. In 1953 kon Mandela besluit om met die NP te praat en die klipkoppe het nie die lus gehad om te luister nie totdat Verwoerd op die toneel verskyn maar toe was die ANC reeds te vasgevang in die USSR kloue – vgl JZ se lofsange.
Grondliggend le die problem by die Ubuntu kultuur en lewensbeskouing wat in 1000 jaar nie getransformeer het na die Nuwe Wereld orde nie.
Die Ubuntu kultuur in sy suiwer vorm le ortogonaal aan die moderne wereld & lewensbeskouing. Dis verwarring van die du Toit & du Preez le in die feit dat hulle nie weet waarvan ek praat nie; en so ook 99% van die leierskap in SA.

Ben de Wet ·

Afriforum kom in die werklikheid baie naby aan wat Superman in die wêreld van fiksie doen. Gee elke beskaafde,gebalanseerde, regverdige SUID Afrikaner sommer hoop vir die toekoms. Daar kan geen beter getuigskrif vir “Tainted Heroes” wees as Max dP en Pieter dT se afskiet daarvan nie. Baie geluk Afriforum, julle is Sterre!

Jakoba ·

hoop dit word in die buiteland, veral in Brittanje, Amerika versprei as ook in Australia en NZ en onder die Nederlanders sommer oor die wereld

Bart Vosloo ·

Daar kan nie deesdae meer veel aandag aan Max du Preez se kommentaar geheg word nie. Hy draai sy mantel na die wind. Wat hy se kan jy maar net van bitterbekke
verwag. Ag fooitog wat die ander joernalis aanbetref wonder n mens wat het oor sy lewe geloop dat hy so anti-afrikaner is.

Zirk ·

Ek sien uit om “Tainted Heroes’ te sien, en hoop daar’s ‘n opvolg. Vir 21 jaar hoor en sien ons net “struggle heroes”. Waarvan sommeges net gewone moordenaars, rowers en verkragters was. Ek hoop hulle wys ook waar Thabo Mbeki en sy Pa ‘n besoek aan Quatro opleidingskamp in Angola bring en ‘n ry lyke wat aan hul nekke hang om dat hulle dit durf waak het om die ANC teen te gaan. Lees Ben Turoc se boek. Die ANC gaan hierdie feitelike fliek op alle maniere denkbaar diskrediteer. En ondanks Max du Preez se kritiek, is hierdie fliek baie tydig. Die Afrikaner is siek en sat om vir 21 jaar gemoerak te word terwyl hy dit goed bedoel vir hierdie mooi land. Wat moet gebeur, moet nou maar gebeur.!

Gerhard Otto ·

Vanaf 1970 tot nou was medie 24 en sy moeder nog nooit aan die Afrikaner se kant nie. Afbrekend ja. Misleiding ja. Grotendeels verdelend. Ou Max; Ja hy kom al n langpad in die duister. Die anderkant se liefling. Van vrye weekblad se dae af. Ons sal hom maar moet verdra tot beter dae.

Santie ·

Jammer ek klink nou so dom. Maar as kind het ek nie veel in die geskiedenis belang gestel nie, nou tot my bittere spyt ken en weet ek nie veel nie. Nou wonder ek of iemand my kan help en se waar en watter boeke ek kan lees oor die geskiedenis wat nou ons land so treiter en in n gemors het. Wie is nou eintlik die skuldige party en hoekom haat die swart mense ons so. Ek sal baie graag meer wil lees omtrent al hierdie dinge. Hoop iemand kan my help. Xxxx

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.