Eers Katalonië, nou kom Venesië en Lombardye aan die beurt

Foto: AP Photo/Manu Fernandez

Die afloop van die Katalaanse referendum wat heel moontlik op ’n eensydige onafhanklikheidsverklaring sal uitloop, en die Spaanse regering se gewelddadige reaksie op die referendum self, het Europese politieke filosowe aan die herbesin oor wat die woord “demokrasie” beteken.

Alexandra van Ditmars, ’n vryskutjoernalis met meestersgrade in sowel die joernalistiek as filosofie, neem in ’n artikel onder meer die volgende vraag onder die loep: “Wat maak ’n handeling demokraties?”

Dit is na aanleiding daarvan dat die Spaanse regering die Katalaanse referendum as ondemokraties verwerp het. Intussen het die Spaanse grondwetlike hof selfs die bespreking van die referendum in die Katalaanse streeksparlement verbied.

Kan die Spaanse optrede werklik met die begrip “demokrasie” versoen word? Dit klink al te veel of Spanje, en daarmee stilswyend saam, ander Europese lande, in pas is met die ANC wat demokrasie en die diktatuur van die meerderheid gelyk stel. Of dan minstens wat minderheidsregte betref, soos vervat in die internasionale reg, en waar Wes-Europa eens die voortou geneem het.

Die mate waarin die winde van verandering begin waai het, was reeds duidelik met die Skotse onafhanklikheidsreferendum te siene. Die referendum was ’n regstreekse uitvloeisel van ’n bepaling in die Europese Unie se grondwet dat lidlande selfregering aan minderheidsgroepe moet toestaan. Toe dit blyk die Britte stuur op Brexit af, terwyl Skotland as lid van die Unie wil aanbly, het die Skotte in geen onduidelike taal nie die koue skouer gekry. Trouens, om lid van die Europese Unie te word moes Spanje selfregering aan die Katalane en Baske toestaan. Die Spaanse grondwetlike hof, wie se koppe erg imperialisties dink, het in 2010 die stelsel van variërende outonomie as ongrondwetlik verklaar. Nou is dit ’n byna voldonge feit dat enigiets wat die Katalaanse regering aanvang wat die Spaanse regering polities nie aanstaan nie, as sogenaamd ongrondwetlik aan die ban gedoen kan word.

En dit dan ewe pikant demokrasie te noem.

Die Europese Unie se reaksie was uiters koel teenoor die Katalane en wat demokrasie veronderstel is om vir hulle in te hou. En hierdie gedrag in reaksie op Spanje se gewelddadige en hardhandige optrede, het politieke filosowe uit hul gemaksone geruk.

En hulle gaan nog meer uit dié gemaksone geruk word. Binnekort, op 22 Oktober, gaan die streek om Venesië en ook Lombardye na die stembus. Die regeringsleiers van beide streekregerings is lid van Lega Nord, wat onafhanklikheid van Italië se noorde van die res van die land voorstaan. Nou kry die bevolkings van beide streke die geleentheid om hul menings hieroor in referendums uit te druk.

Dit is nie die eerste poging om die bevolking se gevoel te toets nie, maar met vorige geleenthede het die Italiaanse regering baie soortgelyk opgetree as wat die Spaanse regering nou opgetree het, net sonder die geweld.

Die ironie – en moontlik is daarin ’n les te leer – is dat die afskeidingsdruk nie nou van Suid-Tirool en Sardinië kom nie. Suid-Tirool se regte om sy oorwegend Duitssprekende karakter en kultuur te behou word gereeld gebruik as voorbeeld van hoe minderheidsregte in die praktyk kan werk.

Met België se groeiende etniese federalisme wat in die praktyk neerslag vind, het stemme oor Vlaamse onafhanklikheid stiller geword. ’n Voorstel van die grootste Vlaamse party, die N-VA, dat konfederalisme vir bespreking op die tafel geplaas word, is oor die algemeen nie goed ontvang nie.

Erken minstens sinvolle minderheidsregte, en bekyk dan die kat uit die boom.

Maar minderheidsregte vir die Afrikaner is reeds deur Gwede Mantashe en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma as buite orde gereël.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Gerhard ·

Ek sit nou en dink en kan nie aan enige regte dink wat Afrikaners het as ‘n minderheid nie. Miskien moet hulle eerder na ander oplossings soek as om vir minderheidsregte wat hulle in elk geval nie het nie probeer veg.

JC ·

Gerhard, natuurlik beskik ons daaroor, ons met dit net begin uitoefen, niks verhoed ons nie.
Watter oplossings stel jy voor in elk geval?

Gerhard ·

Hou op om geld en tyd te mors om Jacob Zuma se land in stand te hou en te keer dat dit plat val. Spandeer daardie geld en tyd om teritoriale selfbeskikking tot stand te bring. Die tyd daarvoor raak min en as dit verby is dan is daar geen oplossing meer nie.

werk maak hiervan ·

Gerhard is reg. ons moet begin praat met die regering vir eie land.

Hendrik ·

So wat daarvan as mantashe en mini-zuma minderheidsregte buite orde reel? Niks verhoed dat daar nie voortgegaan word om nie ons eiegebied te ontwikkel nie.

Gerhard ·

Ek sit nou en dink en ek kan nie aan enige regte dink wat Afrikaners as ‘n minderheid het nie. Miskien moet hulle na ander oplossings begin kyk.

lollie ·

Vreemde groepie die wat so op sy eie ashopie wil gaan sit. Ek vra my vraag af hoekom en waar kom die twak vandaan? Die sg. Kleurlinge (wat tans meer as die blankes in SA en baie meer as die sg. wit Afrikaners is) stel nie belang in hierdie ding van selfverskrikking nie – so ook nie die blanke Engelssprekendes nie (wat minder as die wit Afrikaanssprekendes maar tog). Ek vra my af, wie is die sg. Afrikaners wat so op sy eie ashopie wil gaan sit? Dit blyk duidelik uit verkiesings dat dit ‘n baie klein minderheid moet wees as mens so na die uitslae van die VF+ oor die jare kyk. En dis die probleem vir aanhangers van die selfverskrikkingsteorie, die meerderheid wit Afrikaners WIL NIE SELFVERSKRIK NIE.

'Wat? ·

So jy kan nie ‘n debat voer met enige syfers of logika of sonder om die Afrikaner wat anders dink as jy sleg te sê nie. Onthou net die BLF en EFF skreeu “one settler one bullet”, hulle onderskei nie tussen Engelse en Afrikaanses nie, hulle onderskei ook nie tussen VF+ en DA ondersteuners nie. Jou verwysing na verskrikking is regtig baie oppervlakkig, maar wat kan mens anders van ‘n LOLLIE verwag?

Boerseun ·

Ons Boere was nog altyd in die minderheid. Nie alle Aftikaaners was deel van ons nie en ook nie vandag nie en het nie na stlfbeskikking gehunker nie. Ons geveg kom nou al honderde jare nie net nou nie. Die helfte van die kaap kleurlinge is deur slawe uit malasia en het met die koi en ander kleurling groepe met jare ingemeng so het nooit n hunker na selfbeskikking gehad nie. Die qriekwa groepe is anders en het wel onlangs na vore gekom in n roep vir selfbeskikking. So ook die Kooning van Zulu wat Zulu land onafhaklik wil he. Die groot trek en Twee oorloe is baklei sonder die kaap en natal so ons sal weer van ons ashopie n land bou. Ken jou veite as jy wil slim raak

Petrus ·

Ja jong! Gaan sê sommer vir die Duitsers in Duitsland en die Franse in Frankryk hulle moet ophou om op hulle eie ashopie te sit. Laat hulle hulle grondgebied ondmiddelik by Sjina inlyf!

Afrikaners se kultuur verskil daadwerklik van ander Afrika-groepe. Dit maak net sin dat Afrikaners hul eie onafhanklike grondgebied moet verkry.

Gert ·

Ek weet nie wat die punt is daarvan om die Katalane te bly voorhou nie. Dis ‘n welvarende gebied in Spanje en die mense daar wil onafhanklik wees. Ek het nie ‘n idee hoe dit enigsins iets met Afrikaners te doene het nie. Van die Kaap tot in Limpopo woon en werk Afrikaners saam met mense van alle rasse. Hulle het veyheid om te doen wat hulle wil. Ek dink die wat in Orania wil wees is lankal daar en die wat in Suid-Afrika wil wees leef daar. Herman, neem al die mense wat wil woon in Orania saam met jou en dan is almal mos gelukkig.

Chris ·

Ag Gert, Afrikaners woon inderdaad van die Kaap tot Komatipoort, maar dit beteken nie dat enige vorm van eie minderheidsregte ontsê kan word nie. In talle lande het minderhede wat wyd verspreid is nie-territoriale minderheidsregte, soos Aboriginals in Australië. Dit is ook Solidariteit se strategie om nie-territoriale regte af te dwing deur ‘n werklikheid te skep waar Afrikaners dit gewoonweg self gerealiseer het.

Wat betref Orania, dalk sal jy ‘n bietjie daar moet gaan kyk – of iets daaroor lees – voordat jy nonsens uitkraam.

As jy nie aan een van die strategieë wil deelneem nie, is jy vry. Wees gelukkig in jou eie wêreldjie. Maar moenie soos ‘n diktator klink nie en ander sy regte ontsê nie.

Eish ·

Daar gaan die volkie alweer. Dwars, skuins en hoekig teen die wind in. Lees nuutste Afriforum tydskrif en raak nugter.

Gerhard ·

In die geskiedenis van die mensdom het geen Volk wat n verspreide minderheid was dit nog ooit reg gekry on homself instant te hou nie. Die rede is dit is onmoontlik. Dit sluit selfs die Jode in. As die mense wat dit glo net eenmal kan aarde toe kom en op te hou met nonsens sal dit dalk beter gaan.

lollie ·

Ek wag nog vir ‘n definisie van Afrikaner. Wie val onder die groep?

Gerhard ·

Dit is net so belaglik om so vraag te vra dat niemand antwoord nie. Wat is die definisie van ‘ n Zoeloe, ‘ n Japanese, ‘n Indier.

lollie ·

Maar hoe kan ons ons aansprake op selfbeskikking regverdig as ons nie die term “Afrikaner” behoorlik kan definieer nie.. Dis nie belaglik nie maar inderdaad noodsaaklik.

Reinhardt ·

Afrikaner, in my opinie, is almal wat Afrikaanssprekend en westers is. So eenvoudig. As jy die taal praat en westerse ideale nastreef, dan is jy n Afrikaner. Klaar.

…en die volk het gemurmureer.

Petrus ·

Ja jou ou asjas. As Duitsers eers moes definiëer wat ‘n Duitser is voordat Duitsland kon ontstaan sou daar nogsteeds nie ‘n Duitsland gewees het nie.

rassie ·

Lollie,

Jy gaan lank wag op ‘n definisie.

Benewens die geforseerde korset definisie wat tydens die hoogty van Afrikaner nasionalisme aan die ideaal-tipiese Afrikaner toegedig was, was daar nog nooit ‘n algemeen aanvaarde definisie van die Afrikaner nie. Tans is dit nog minder moontlik.

Daardie Afrikaners wat nie totaal apaties geword het of reeds geassimileer het nie, bevind hulself nou in verskillende ideologiese groeperings waarvan elke groep sy eie identiteitskriteria vir Afrikanerskap en ook ‘n eie toekomsvisie het. Die meningsveskille ten opsigte van die republikeinse selfbeskikkingsideaal, godsdiens in skole en die uiteenlopende interpretasie van die Afrikaner se geskiedenis is voorbeelde hiervan. Taal blyk die enigste gemene deler te wees. Selfs ten opsigte van taal bestaan daar egter verskil in mening oor of Afrikaans inklusief of eksklusief moet wees.

Van “die Afrikaner” is daar dus geen sprake nie. Slegs van Afrikaanssprekende subgroepe, elk met eie gesellekteerde aspekte van die ou Afrikaner definisie van destyds as identiteitskriteria.

Intussen het terme soos idealisme, konserwativisme en liberalisme ook totaal ander betekenis gekry as destyds. Tans blyk egoistiese eiebelang en realisme ook sterk na vore te tree.

Die gevolg is dat die ideaal van republikeinse selfbeskikking nie noodwendig die ideaal van “die Afrikaner” is nie, maar wel ‘n ideaal van ‘n groepering binne die geledere van Afrikaners. Om die ideaal egter af te maak met woorde soos “selfverskrikking” is na my mening beslis on van pas.

Gerhard ·

Ek kan nie onthou dat dit ooit nodig was vir die Jode om hulself te defineer nie, of die Koerde nie, ook nie die Skotte nie, ens, ens. Dit is net Afrikaners wat klaarbleiklik daardie probleem het. Net oor ‘n honderd jaar gelede het die Boere oorlog gevoer met die Britte. Het die Engels ‘n definiese nodig gehad om te weet wie hulle moets skiet en wie nie. Ek glo nie. Dit is net Afrikaners wat vir hulself probleme uitdink wat nie bestaan nie.

Marius ·

Afrikaners is westerlinge wat Afrikaans praat. Dis waarom hulle redelik maklik in ander lande aanpas. Ek sê redelik maklik. Net soos wat ons Europese voorouers toentertyd maar moes aanpas hier kan hulle dit elders ook doen. As jy moet dan moet jy

Herman Goosen ·

Daar was niks “demokraties” daaraan toe katalonie eeue gelede verenig was in een koninkryk onder Isabella en Ferdinand nie. Daardie Bourbon koning wat Spanje nou regeer se voorouers het Frankryk in die grond in bestuur en hy doen nou dieselfde met Spanje. Net soos wat demokraise niks te make gehad het met die kataloniers se verloor van selfbeskikking nie, net so het dit niks te make met hulle strewe om oor hulle eie regering en leierskap te besluit nie. “Demokrasie” is ‘n word wat misbruik word en dit is duidelik dat Spanje se regering geen idee het wat die word beteken nie. Die “Demokrasie” in Katalonie het gepraat Spanje: Laat hulle gaan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.