Eerste verkiesing in Somaliland in 15 jaar

Kinders in Somalië.  (Foto: Verskaf)

Somaliland het vroeër vanjaar sy eerste verkiesing in 15 jaar gehou. Dié land of gebied het in 1991 onafhanklikheid van Somalië verklaar, maar word tot vandag toe deur geen enkele land ter wêreld as ʼn onafhanklike land erken nie. Sonder erkenning, sonder toegang tot buitelandse fondse en skuld en met ʼn verarmde bevolking wat in een van die hardste woestyngebiede van Afrika woon, het Somaliland verstommend genoeg die afgelope jare een van die mees stabiele en vreedsame plekke in die Horing van Afrika geword.

Tot 1960 was die gebied wat vandag as Somaliland bekend staan, ʼn Britse kolonie. Suid daarvan was die sogenaamde Italiaans-Somaliland, ʼn Italiaanse kolonie. In 1960, met die einde van kolonialisme in die gebied, is die twee gebiede saamgevoeg. Dit het tot ʼn groot stryd aanleiding gegee.

Tussen 1987 en 1989 is ʼn volksmoord op die Isaaq-stam, die grootste stam van die hedendaagse Somaliland, deur die militêre diktator van Somalië, Siad Barre, uitgevoer. Dit het die drang na onafhanklikheid verder laat toeneem en Barre is uiteindelik in die burgeroorlog verslaan. Hoewel Somaliland onafhanklikheid verklaar het, het die burgeroorlog in die res van Somalië voortgeduur en Somalië is vandag nog net so onstabiel soos dit die afgelope paar dekades was.

Kaart van Somalië. Grafika: CIA World Fact Book/Vertaling deur Danielm by die Afrikaanse Wikipedia.

Somaliland se hoofstad, Hargeisa, is tydens die burgeroorlog van die laat 1980’s grootliks verwoes en minder as 10% van die geboue het teen 1991, na enorme lugaanvalle, oorgebly. Die regering wat in Somaliland gevorm is, het byna geen begroting gehad nie en moes ʼn land, wat geen erkenning en hulp uit die buiteland ontvang het nie, heropbou.

Sedert 1991 is Somaliland stelselmatig heropgebou en hoewel die gebied steeds baie arm is, is dit ook ʼn vreedsame gebied met bitter min misdaad. Die afgelope paar jaar het Taiwan, die Verenigde Arabiese Emirate en Katar, sonder om Somaliland te erken, wesenlike beleggings daar begin maak. Die regering van Somaliland het geweier om aan China se eise dat Taiwan se diplomatieke kantoor in Hargeisa gesluit moet word, toe te gee, en die president van Somaliland het geweier om China se ambassadeur in Kenia te ontmoet. Vandag doen verskeie Taiwannese maatskappye sake in Somaliland.

Hoewel die mense van Somaliland en Somalië byna almal Soenniete Moslems is en dieselfde taal praat, behoort hulle aan verskillende stamme wat groot diversiteit meebring. Die 3,5 miljoen mense van Somaliland voel dat hulle min gemeen het met die mense van Somalië, en die strewe na onafhanklikheid is iets waaroor almal in Somaliland eens is en wat hulle saambind.

Volgens die leiers van Somaliland beskou die mense van dié streek hulself as vry, en hulle wag lankal nie meer vir erkenning van ander lande nie. Somaliland is vir alle praktiese doeleindes vry en die gebied word soos ʼn soewereine land bestuur en regeer.

Terwyl Somalië aan hulle suidekant deur Al-Shabaab-terroriste en voortdurende interne stryd gedestabiliseer word, ervaar Ethiopië aan hulle noordekant ook toenemende interne konflik. Daarteenoor is daar geen konflik in Somaliland nie en is die gebied tans die mees stabiele plek in die hele Horing van Afrika.

 

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Harley Davidson ·

Die land van die see rowers, daar is nou so baie Somalië vlugtelinge in pretoria wes dat hulle hul eie verkiesing daar kan hou.

Hendrik ·

Is daar nie ook Somaliese vlugtelinge/immigrante in SA nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.