EFF misbruik spraakvryheid om demokratiese vryhede te vernietig

EFF-leier Julius Malema. (Foto: Maroela Media)

Die EFF het daarin geslaag om die mediadebat oor hul ontwrigtende optrede in die parlement te swaai na ’n debat oor FW de Klerk en of apartheid ’n misdaad teen die mensdom is. Dit is ’n regstegniese debat vir die FW de Klerk stigting en oor die verlede.

Die EFF kan egter nie toegelaat word om met hul aandagsoekende en moedswillige optrede in die parlement weg te kom nie. Is die parlement werklik so magteloos dat hierdie optrede net as nóg ’n voorval ongestraf sal verbygaan? As dit die geval is, moet ons ons regmaak vir nog baie sulke sirkusse voor die wêreld se kritiese oë. Die EFF het reeds kennis gegee dat hulle voortaan, telkens wanneer president Ramaphosa en minister Gordhan in die parlement is, so gaan optree.

Die vraag is: Mag jy die parlement en sy reëls misbruik om dieselfde parlement en sy reëls te vernietig?

Met hul verkiesing tot die parlement het die EFF verklaar dat hulle die rewolusie na die parlement bring. Ook dat hulle hulle nie deur die parlement se reëls sal laat bind nie.

Dit is presies wat hulle tans doen.

Artikel 16 van die Wet op die Verkiesingskommissie stel riglyne waaraan ’n politieke party moet voldoen om geregistreer te kan word. Dr. Pieter Groenewald van die VF het die EFF se eie dokumente gebruik om aan te toon hoe hulle meeste van hierdie riglyne oortree. Met hierdie argumente het die VF Plus beswaar gemaak teen die registrasie van die EFF as politieke party. Waar die VF Plus geslaag het om Andile Mngxitama se BLF (Black First Land First)-registrasie as politieke party te stop, is die EFF se registrasie egter deur die Verkiesingskommissie goedgekeur.

’n Sterker manier om dieselfde vraag as hierbo te stel, is: Mag jy demokratiese vryhede soos spraakvryheid misbruik, om presies daardie selfde demokratiese vryhede te vernietig?

Dit is wat Hitler in Duitsland gedoen het. Ná ’n demokratiese verkiesing in 1933 is Hitler as kanselier van Duitsland ingesweer. Met ’n noodtoestand as verskoning is die Magtigingswet van 1933 aanvaar. Daarmee het hy die Duitse demokrasie vernietig en alle mag gegryp.

Verstaan my reg, ons is nog nie by ’n Hitler-situasie nie. Maar die vraag bly geldig.

Soek die meerderheid kiesers werklik ’n EFF-tipe Suid-Afrika?

Ontleed die EFF-beleid. Hulle wil elke beleidsfout wat in Zimbabwe, Venezuela en die Sowjetunie misluk het, hier kom herhaal.

Soek ons sulke leiers in Suid-Afrika?

Malema, as EFF-leier en Ndlozi, as voormalige EFF-woordvoerder, is tans in die hof omdat hulle ’n senior polisieman in uniform aangerand het.

Marshall Dlamini, nuwe EFF sekretaris-generaal, is in die hof omdat hy ’n polisieman in die parlement aangerand het.

Floyd Shivambu, adjunkpresident van die EFF, is in die hof omdat hy ’n joernalis by die parlement aangerand het.

Voeg by die korrupsie en ander klagtes teen die EFF-leierskap. Waar trek die ondersoek na Malema en VBS Mutual Bank? Die Ratanang-familietrust van Malema en On Point Engineering word ook weer ondersoek.

My parlementêre kantoor was op die vyfde vloer. Die EFF-kantore op die vierde vloer. Ons kry mekaar gereeld in die hysbak. Dan vra ek: “Wie is julle sprekers in vandag se belangrike debat?”

Hulle antwoord: “Die TV-kameras en die president is hier. Ons het niemand aangewys nie, want ons beplan om vanmiddag uitgegooi te word.”

Dié middag tart hulle die speaker tot die withemde ingeroep word om hulle uit te gooi.

Ek hoor die withemde vra aan die EFF-lede: “Maak dit asseblief vir ons almal maklik en verlaat saam met ons die saal?”

Die EFF-lede weier en gebruik eerste geweld – want hulle het dit “nodig vir die TV,” verduidelik een ná die tyd.

As ek daarna by hul kantore verbystap, staan hulle voor die televisie en kyk tevrede na die mediadekking. Hulle reken dit is baie goeie mediadekking vir nóg meer verkiesingstemme.

Ek is kort daarna in Holland en by die Verenigde Nasies in Genève. Van die Hollandse en VN-sakemanne en leiers is altyd baie simpatiek teenoor “Mandela en Mandela se Suid-Afrika”. Vir die eerste keer hoor ek hierdie buitelandse leiers negatief reageer. “Ons kyk na julle parlement. Ons wil belê, maar nie nou nie.”

“Ons het nooit gedink Suid-Afrika sal dieselfde pad as so baie ander Afrikalande stap nie, maar nou wil dit al meer so lyk,” verduidelik een sakeman aan my.

Die EFF herhaal gereeld hierdie ontwrigtende optrede omdat die parlementêre reëls nie werklike strafmaatreëls het nie.

Die parlement het in die verlede hofsake verloor omdat almal van ’n sekere politieke party uitgegooi is, terwyl slegs enkele lede van die betrokke party die speaker getart het. Daarom misbruik die EFF-lede dit. As dit duidelik is dat die speaker op die punt is om iemand uit te gooi, wys die EFF-lid met ’n handgebaar na die volgende lid wat die ordepunte voortsit.

Hierdie voorval is ’n belangrike toets vir die nuwe speaker, Thandi Modise. Sy het aangedui dat sy ongedissiplineerdheid gaan vasvat. Haar eerste toets verlede week het sy loshande gedruip. Dit is dringend nodig dat die parlement se reëls só gewysig word, dat daar hard teen sulke kinderagtige en berekende ontwrigting opgetree kan word en teen ’n hele party as dit nodig is. Die speaker sal so ’n proses van nuwe reëls moet aanvoor.

Die EFF sal beslis sulke nuwe reëls as onregverdig beskou en na die howe vir ’n beslissing neem. Hulle beroep hulle graag op vryheid van spraak net om vryheid van spraak vir almal, behalwe vir hulleself, te vernietig. Die hoofregter en ander regters, wat teenwoordig was, het met irritasie die hele skouspel dopgehou. Hopelik sal gesonde verstand wen as die saak voor die howe kom.

Geen land kan toelaat dat sy parlement se reëls misbruik word, om die parlement se werking te vernietig nie.

Geen land kan toelaat dat demokratiese vryhede soos spraakvryheid misbruik word, om presies daardie vryhede te vernietig nie.

Totdat daar duidelikheid oor hierdie sake en sake soos onteiening van grond sonder vergoeding kom, sal president Ramaphosa verniet buitelandse beleggers vra om hier te kom belê.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Johan Venter ·

Dr Mulder, dan kan mens ook verder vra, in hoe verre spoel hierdie optrede en voorbeeld wat Julius en die EFF in die parlement stel oor na buite, al synde van die publiek dit ervaar dat dit deur die ANC speaker verdra word, al is dit nou langtand.

Johan Venter ·

Dan voeg ek graag by, diegene wat dit ten sterkste veroordeel moet in hul spore trap in hul uitsprake of daar is moeilikheid.

Ook hier beskaam die hoop seker dat Cyril sal voorstap. Ek meen Julius daag die mense sommer vooraf uit en draai nie doekies daaroor om nie, het die ANC nie vooraf plan gemaak nie? Hulle en veral die president moet mos bewus wees van wat DR Mulder hier bo skryf, of gaan hy met oogklappe deur die lewe?

Dalk hoop hy die kruis in die huis sal self weggaan of iemand anders sal dit laat verdwyn.

lollapot ·

Die oorryp tamaties word gebruik om die regerende party beter te laat vertoon!

Porseleintjie ·

Het Julius dan nie self gesê hyt hle almal aan die ‘kort hare’ beet nie? Lê die rede bloot agter sy arrogansie en malema sal van alle krag ontneem word. Baie blaf en geen byt nie. Lagwekkende feit is dat hy operate in wat hy toegelaat word. Laat enige ander politieke party doen wat hy doen en dan sal almal die waarheid van my stelling sien.

Nette ·

Dit is lankal nie meer vryheid van spraak nie, maar wel vryheid van haat.

jinny jualinda ·

Hy is verwaand en hopeloos te groot vir sy skoene, dink hy is onaantasbaar.

Johan Venter ·

En moet nie vergeet nie, sekere mense is ongelooflik geseënd, hulle het van kleintyd af gewys hulle sal eendag die wêreld aan die voete hê met innovasie en as entrepreneur, later ontpop as politikus wat alle wysheid in pag het, die president in die parlement kan vasvat, om hom daar voor almal se oê daarvan te beskuldig dat hy sy voormalige vrou geslaan het, nie lank nie ook as meester in die regstegniese uitgeblink wat in die parlement uit die vuis kan praat en vir almal daar vir ‘n uur kan besig hou oor sy filosofie betreffende Gordhan se teenwoordigheid en FW.

Dit terwyl die president sy beste voetjie wil voorsit, probeer om die land wat in rommelstatus verkeer te bemark, en die wêreld te oortuig waarom hulle in die land moet belê.

Vervolg …

Johan Venter ·

Vervolg van vorige kommentaar:

Maar hierdie man wat so geseënd is dra Gucci in die openbaar en as hy uitgaan, hy is met presidente bevriend, soos Zuma (gewese president) en Cyril, ook was hy met oorlede Mugabe bevriend en is tussen hulle in sy element, hy ry ‘n groot viertrek voertuig. Hy het wagte om hom te beskerm. As hy sy volgelinge in stadions toespreek of waar hy en sy party in die parlement is, dra hulle net oranje oorpakke, baie nederig dié man.

Die Zondo kommissie is tans besig met onderhoude oor Staatskaping, waarby hierdie man natuurlik nie betrek is nie, maar wie sal met my verskil as ek dink hy het met behulp van al die blootstelling wat die media hom bied die land en die parlement gekaap?

Hy is President en ‘Commander in Chief’ van die EFF.

Jan ·

Malema is die regering se spreekbuis om hul beleid aan die gepeupel oor te dra. Om die “ongemaklike” dinge te se, sonder dat n vinger na die ANC gewys kan word. EFF is maar net ANC+

Frik ·

Dr. Pieter, weereens n puik artikel deur jou. Alles feite en mooi uiteengesit. Ja, die parlement is nie meer n plek van respek, orde en dissipline nie. Dit het ontaard in n sirkus en is n verleentheid vir die land agv partye soos die EFF. Dankie aan partye soos die VF Plus wat nog met waardigheid en respek optree.

Chris ·

Baie goeie bydrae van dr Mulder. Ek is net effens bekommerd oor mense wat glo dat ons in ‘n werklike demokratiese bestel lewe/funksioneer. Dit is nie snaaks nie, die geskiedenis is geneig om homself te herhaal. Die regerende party gebruik die EFF as weerligafleier. Die EFF word deur iemand befonds, want ek weet regtig nie hoe die bende nog kan funksioneer nie. Die westerse demokratiese model is net eenvoudig nie in Afrika haalbaar nie. Nêrens het dit nog gewerk nie. Dit gaan ook nie in die toekoms werk nie. Die Afrika politiek is ‘n verdagmakery, rugstekery, skinder partytjie, onderduimsheid en bevoordeling van ‘n enkele bende/groep.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.