EFF moet eerder leer by Rupert

(Foto: EFF/Twitter)

Die EFF se publisiteitspolitiek het nou weer onverdiende vrugte afgewerp. Die party het oorvloedige dekking gekry toe ʼn handvol rooies ʼn optog by Johann Rupert se wynplaas gehou het. Dele van die media speel heerlik saam met Malema-politiek. Feitlik elke hoesie en kuggie van die “Commander” beland op die voorblad of in hoofnuus asof dit werklike nuuswaardig is.

Die Nobelprys-ekonoom, Milton Friedman, het die ekonomiese kennis van partye soos die EFF goed saamgevat met sy stelling: “As sosialiste iets van die ekonomie af geweet het, sou hulle nie sosialiste gewees het nie.”

Rupert word aangeval en venynig beswadder omdat hy ryk en suksesvol is, met die valse beskuldiging dat sy grond en rykdom onregmatig bekom is deur armes uit te buit. Marxiste glo alle sukses is te wyte aan die benadeling van ander, en is in die praktyk bewys as ʼn ideologie van mislukking. Dis dalk nodig om net weer vinnig te kyk hoe die Rupert-familie aan hulle fortuin gekom het, en dan te kyk hoe dit ander mense raak.

Afrikaneropkoms

Afrikaners was in 1954 sowat 58% van die kieserskorps, maar het toe net 1% van die mynbedryf, 6% van vervaardiging en konstruksie, en 10% van die finansiële sektor beheer. Dr. Anton Rupert, Johann Rupert se pa, het in 1945 die eerste Afrikaanse maatskappy op die Johannesburgse aandelebeurs noteer. Afrikaner-sakeleiers van die tyd was gekant teen enige kwotastelsel wat hulle teenoor Engelssprekendes sou bevoordeel. Hulle wou nie deur die staat of Engelse sakelui “bemagtig” word nie, omdat dit nie op verdienste sou wees nie. Rupert en ander Afrikaner-ondernemers het gemeen dat hulle net gelyk teenoor hulle welvarende Engelse landgenote sou wees, as hulle op meriete en sonder staatsteun sukses behaal.

Afrikaner-sakeleiers het wel sterk gevoel dat Afrikaners se aandeel in die ekonomie vergroot moes word. Hulle het geglo dat ʼn groep se aandeel in die ekonomie bepaal word deur sy bydrae tot die ekonomie. Daarom het hierdie geslag ondernemers ʼn hele reeks besighede tot stand gebring, en so hulle mense se bydrae en daarmee saam hul aandeel in die ekonomie vergroot. Hulle het besef dat ekonomiese vryheid die vryheid om te produseer beteken, en nie die “vryheid” om te gebruik of te vat wat ander produseer nie.

Rol van sakelui

Sakelui wat ʼn besigheid begin, produseer die dienste en produkte wat hul medemens nodig het. In die proses skep hulle werk, betaal belasting en ontwikkel die land. Pensioenfondse belê in suksesvolle besighede wat kapitaal nodig het, en hulle lede verdien dan ʼn opbrengs waarmee hulle op hul oudag versorg kan word. Op besoek aan Kanada, was ek getref toe ek ʼn winkel van ʼn filiaal van die Rupert-groep sien en besef dat hierdie winkel een van duisende ter wêreld is wat geld vanaf die buiteland na Suid-Afrika kanaliseer.

Een mens, een werk

Dr. Rupert het sy lewe lank die belangrikheid van “een mens, een werk” beklemtoon, en het talle projekte begin om ondernemerskap onder alle gemeenskappe te bevorder – ook in ander Afrikalande. Hy het geweet dat politieke mag alleen vir niemand kos op die tafel gaan sit nie. Mense moes die kans kry om te werk vir ʼn lewe, omdat politieke beloftes dat kiesers net hoef te “stem vir ʼn lewe” onhaalbare lugkastele is. Dr. Rupert het nie net sy sakeryk wêreldwyd uitgebrei nie, maar het ruimskoots in die land en sy mense belê. Hierdie beleggings is onder meer in nasionale parke, erfenisbewaring, onderwys en opleiding, kuns en musiek, en die bevordering van ondernemerskap. Johann Rupert het na sy pa se aftrede die besigheid verder uitgebou, en wêreldwyd liefdadigheidsprojekte aangepak. Die Rupert-familie is nou al vir baie jare die grootste belastingbetalers in die land, en hulle voorbeeld het geslagte sakelui begeester om ook ʼn verskil in die land te maak. In die begin van die Covid-krisis het Johann Rupert R1 miljard geskenk om die land se ekonomie aan die gang te help hou.

Redes vir voorspoed

Johann Rupert (Foto: Richemont)

ʼn Belangrike rede vir die Ruperts en ander sakelui se sukses is dat hulle op die redes vir voorspoed, eerder as die oorsake vir armoede fokus. Dr. Rupert het alle rede gehad om bitter teenoor die Britte te wees, wie se Verskroeide Aarde-beleid sowat 70% van Afrikaners se eiendom verwoes het.

Desondanks het hulle eerder ʼn studie van die oorsake van voorspoed gemaak, en welvaart opgebou deur veel meer te produseer as wat hulle verbruik het. As van hulle projekte misluk het, het hulle nie gevra “wie het dit aan ons gedoen en wat moet ons nou aan hulle doen nie”. Hulle het weer opgestaan deur te vra: “wat het ons verkeerd gedoen en wat moet ons nou reg doen”. Wie hierdie sukseslesse by die Afrikaners van daardie geslag leer, in plaas van hulle net kritiseer, sal weet wat dit verg om ʼn land te kan opbou. Partye soos die EFF, wat hulle kiesers op ʼn politieke hongerdieet voer, probeer hul eie politieke probleme oplos, maar laat beland hul kiesers in nog erger ekonomiese krissise.

Rewolusie van die rykes

Malema en kie dreig gereeld met die “rewolusie van die armes”, en gebruik dit om die “rykes” af te pers om geld vir hulle as die armes se leiers te gee. So misbruik hulle die armoede van die massas om hulself te “bemagtig”. In die praktyk is hierdie soort bemagtiging ʼn proses van herverdeling van arm na ryk: daar word gevat van arm werkendes, en herverdeel na reeds ryk bemagtigtingsmagnate.

Die “rewolusie van die rykes” is veel gevaarliker as ʼn rewolusie van die armes. Dit gebeur as “ryk” mense landuit trek, en hulle geld, kundigheid en toekomstige belasting saamneem. Dit gebeur ook as mense hier bly, maar hulle geld oorsee in veliger bestemmings belê en daar werk skep en belasting betaal. Dit geld ook vir sakelui se besluit om nie hulle besighede uit te brei nie, wat minder werksgeleenthede, belastinginkomste en dienste en produkte beteken. As Suid-Afrika nie so ʼn groot uitvoerder was van opgeleide kundiges nie, was die land se ekonomie seker al 25% groter, met baie meer werksgeleenthede, minder armoede en groter belastinginkomste.

Van skepe na vliegtuie

Malema is lief om te sê dat witmense nie grond saam op die skepe van Europa af gebring het nie. Dit is waar. Maar sy voorsate het ook nie kommersiële plase saamgebring toe hulle uit die noorde na Suider-Afrika getrek het nie. Zimbabwe het die les geleer dat daar ʼn groot verskil is tussen produktiewe plase en onbewerkte grond wat by suksesvolle boere gesteel is. Mense het dus nie grond op die skepe saamgebring nie, maar wel die kundigheid om grond in plase te omskep.

Sosialiste moet hulself eerder afvra of die land en sy mense regtig beter daaraan toe sou wees as die skepe wat mense soos mnr. Rupert se voorouers na Suid-Afrika gebring het, verby die Kaap na ʼn ander land gevaar het?  Die grootste krisis wat almal in die land bedreig, is as die afstammelinge van diegene wat op skepe hier aangekom het, nou met vliegtuie terugvlieg Europa toe “waar hul vandaan kom” – soos Malema graag skreeu.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Chris dupreez

Stem heeltemal saam met die berig. En ook dat Malema heeltemal media dekking kry vir sy belaglike uitsprake en haatsprake en dit is die media se skuld.

Pieter9

Weereens goeie bydrae; die media hou EFF ‘relevant’ deur lugtyd te gee aan die belaglikhede wat hulle kwytraak. Mens wil nie kommentaar lewer op bv wat die EFF oor die Ruperts se nie want dan daal jy na ‘n vlak wat ten beste ‘n verleenthied is. En sommige media geniet hulself in dié spasie.

MARTIE

Uitstekende artikel. Net jammer die wat sal baat daarby vind om dit te lees sal dit nie kan of wil lees nie.

minnie muis

presies …hy is terrorrist en enige ander land sou die wetter al in tronk gewees het

Nommer 7

Ja, betoog dat daar nie vanoggend ‘n bus is nie, want die bus was met gister se betoging aan die brand gesteek.