Eiendomsreg is swart en wit, en die woordspeling is aspris

Paul Mashatile, ANC-tesourier, Omri van Zyl, uitvoerende hoof van Agri SA, Maite Nkoana-Mashabane, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, David Mabuza, adjunkpresident, en Dan Kriek, president van Agri SA. Foto: Twitter via @AgriSAOfficial

Een van die verlede week se groot nuusgebeure is die aankondiging deur Agri SA dat die ANC toegewyd is om eiendomsreg te beskerm en dat die regerende party die impak wat grondonteiening sonder vergoeding op die ekonomie en beleggersvertroue sal hê, besef.

Hierdie aankondiging kom nadat Agri SA en die ANC, wat onderskeidelik in 1904 en 1912 gestig is, hierdie week ontmoet het om grondonteiening te bespreek.

Na aanleiding van hierdie vergadering het die ANC onderneem om onwettige grondgrype teen te staan en dat grondonteiening nie voedselsekerheid of die ekonomie gaan bedreig nie. Die ANC het verder gesê dat grondonteiening slegs gaan fokus op braak landbougrond. Agri SA glo dat hierdie ondernemings deur die Ramaphosa-regering onderstreep dat die ANC toegewyd is om eiendomsreg te beskerm.

Die ironie van hierdie stelling is egter lagwekkend.

Eiendomsreg kan nie as ’n relatiewe beginsel gesien word nie maar is egter redelik swart en wit.  Dit is op hierdie punt dat talle regskenners sal sê dat eiendomsreg nie absoluut is nie, en dat eiendomsreg onderworpe kan wees aan vele beperkings, soos dit die geval is met enige ander reg.

Daar is egter ’n belangrike, maar deurslaggewende verskil. Eiendomsreg is absoluut tot die mate dat elkeen die reg het om self oor hul eiendom te besluit. Eiendomsreg word eers relatief wanneer die eienaar of individu self en vrywillig hul eie eiendomsreg oor hul eie besittings beperk.

Om dus te sê dat die ANC eiendomsreg sal eerbiedig terwyl die organisasie dreig met ’n ingrypende staatsbeleid, wat die staat by magte maak om eiendom na eie goeddunk te ontneem en te versprei, is blatant oneerlik.

Dit is gelykstaande aan om te sê dat die reg tot lewe beskerm word ten spyte van die regering wat dreig met wetgewing wat die staat in staat stel om te besluit wie mag lewe en wie mag nie. Om almal dan gerus te stel tydens hierdie hipotetiese scenario, sê die regering dat moorde deur die publiek glad nie geduld sal word nie en dat slegs lewens wat nie tans ’n bydra lewer nie, deur die staat ontneem sal word. Die feit dat hierdie so ontstellend klink, beklemtoon hoe ontstellend die aanslag op eiendomsreg in Suid-Afrika is.

Die konsep van natuurlike regte behels in die eerste plek beskerming teen die staat wat daardie regte wil ontneem. Wat elke individu verder met hul regte maak en hoe hulle dit vrywillig dalk beperk, is elkeen se eie saak.

Eiendomsreg en die bewaring daarvan teen die staat, word eenvoudig óf beskerm óf nie. In die sin is eiendomsreg soos swangerskap ’n binêre konsep. Dit is of dit is nie. Daar is ongelukkig nie ’n Gouelokkies-middeweg in hierdie debat nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Daniël Eloff

Meer oor die skrywer: Daniël Eloff

Daniël Eloff werk by Hurter Spies Ing., ʼn regsfirma wat spesialiseer in openbare belang-litigasie en is tans besig met sy meestersgraad in publiekreg. Hy is ook ʼn direkteur van AGENDA, ʼn nie-winsgewende organisasie wat hulself beywer vir die ontwikkeling van debat in Afrikaans in Suid-Afrikaanse skole en op ons land se tersiêre kampusse.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

37 Kommentare

jongste oudste gewildste
tamboti

Jy het ń hamer en spyker en plank en duim en kop……… Jy slaan jou duim raak, jy slaan jou naam met ń plank, of jy slaan die spyker op sy kop! Soos Daniël hierbo, mooi so!

Flip Raath

Waar is TLU se Louis Meintjies.

Paul

CR kapittel mos vir Julius verlede week in die parlement en sê vir hom swart mense is trots op hul eiendom en sal dit nie afstaan nie. (Dis nou toe Julius nasionalisering voorstaan.) Nou wil ek vir CR vra, is die blankes dan nie ook trots op hul eiendom/plase nie? Waarom sê hy dan vir die blanke boere hulle moenie aan die grond vasklou nie?

Gerhard

Vraag: Is C.R. teen grondonteiening sonder vergoeding gekant?

Antwoord: Nie so dat jy dit sal agterkom nie.

Jerry

Die manne en vroue van AgriSA verdien om n kans gegee te word om te wys dat deur die regte dinge reg te doen en met die regte benadering, dat wit en swart se eiendomreg steeds gewaarborg en beskerm word. Diegene wat die wa voor die osse inspan en n geraas maak gun hulle gematigde mede Afrikaners nie n kans nie en tree uiters onbeskof en bevooroordeeld op wat n wanindruk skep. Julle optredes laat n swak smaak in die mond by alle wit en swart Suid Afrikaners en meer so nou by mense in die buiteland aan wie Afri-Forum… Lees meer »