Einde van ʼn pad met Universiteit van die Vrystaat

universiteit van die vrystaat 3

Hoofgebou op die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat Foto: UV Facebook

Deur Dr. Heinrich Matthee, ‘n voormalige navorsingsgenoot aan die Universiteit van die Vrystaat.

Geagte prof. Jansen

Bedanking as navorsingsgenoot

Ek werk en woon tans in Nederland as politieke ontleder vir verskeie instansies in die bedryf asook as akademikus. Ek is op die oomblik onder meer ʼn navorsingsgenoot aan die Universiteit van Amsterdam sowel as aan die Universiteit van die Vrystaat.

Die meeste van my werk in die buiteland is in Nederlands of Engels. Die Universiteit van die Vrystaat se voormalige taalbeleid het beteken dat ek graag die klein deel van my akademiese navorsing wat in Afrikaans gedoen is daaraan wou koppel.

Ek was juis besig om stukke wat ek verlede jaar kon plaas in die Al-Jazeera Centre for Studies of die Nederlandse Gasunie aan te pas en by te werk vir moontlike publikasie in Afrikaans. Ek het intussen ook in beleidspublikasies in Engels my band met die Universiteit van Vrystaat vermeld, die laaste keer in die South African Monitor se “Zuma’s Hybrid Regime, the Economy and Sustainable Communities” (2015).

Die nuwe taalbeleid wat op 11 Maart 2016 goedgekeur is, maak nou Engels die hooftaal van opvoeding en administrasie, en skaal Afrikaans se posisie af. Ek kan my nie vereenselwig met hierdie voorbeeld van politieke onderdanigheid deur ’n universiteit wat akademiese outonomie behoort te handhaaf nie. Ek kan my ook nie vereenselwig met die benadeling en verontregting van ’n gevestigde Afrika-taal soos Afrikaans en sy sprekers nie.

Ek bedank hiermee as navorsingsgenoot aan die Universiteit van die Vrystaat. Ek beëindig hiermee ook enige navorsingsuitsette of bemarking ten bate van die Universiteit van die Vrystaat. Dit is ongelukkig die sterkste manier om my afkeur oor hierdie beleid te toon.

Politieke agterryers

Die nuwe taalbeleid is ’n duidelike voetval voor die eenparty-dominante politiek van die dag. Akademiese outonomie en ’n klem op goeie opvoeding en navorsing moes hier tweede viool speel. Enigeen wat in akademiese instellings werk, weet dat die effek van groepdruk, kantoorpolitiek, selfsensuur en hernieude politieke inmenging dan akademiese vryheid verder sal uithol. Van akademiese outonomie op tweede viool is dit ’n kortpad na akademiese gehalte op die tweede rang. Die uitbou van akademiese outonomie by universiteite en die opbou van ’n Afrika-taal tot akademiese taal is in meeste Afrika-lande seldsaam, indien nie afwesig nie. Albei hierdie seldsame prestasies in Suid-Afrika word deur die nuwe taalbeleid eenvoudig weggedruk. Wat sal in die plek daarvan kom?

Kulturele- en taaldiskriminasie

Benewens my hoofbeswaar is daar uiteraard ook andere: Die taalbeleid sal jong Afrikaanssprekende studente en akademici benadeel. Hul grondwetlike reg op opvoeding in hul moedertaal, gelees binne die konteks van artikels 29 tot 31 van die grondwet, word aangetas.

Die kultuurdomein waaruit die Universiteit van die Vrystaat oor jare van sy beste akademici en bydraes ontvang het, word na die hoek geskuif. ʼn Mens kom op kongresse van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, in Tydskrif vir Geesteswetenskappe, of Litnet Akademies uitstekende navorsing teë. Die Universiteit sou dit moes koester, maar verkies om die water na daardie voedingsbodem geleidelik af te sny.

Die medepligtigheid van sommige Afrikaanssprekende akademici aan hierdie aantasting is iets wat hulle voor ernstige gewetenskwessies stel. In die naam van veeltaligheid word een taal, Engels, tot hooftaal verhef, ook al beteken dit dat die meerderheid studente die voordele van moedertaalopvoeding moet ontbeer.

Die hele gees van die taalbeleid weerspreek goed-gedokumenteerde internasionale beste praktyke en regte rondom diversiteit en moedertaalopvoeding by universiteite. Onder die vaandel van brugbou verswak dit die een bewese akademiese brug tussen Afrika en Wes-Europa, naamlik die brug van Afrikaans.

Ek sou kon byvoeg oor Afrikaanse filosowe wat in Nederland in hul moedertaal gewoon die gesprek met Nederlandse filosowe in ʼn vereniging kon voortsit. Ek sou kon verwys na seminare aan die Universiteit van Leuven in Vlaandere oor politiek en die sakelewe, waar al die verrigtinge in Nederlands en Afrikaans kon plaasvind. Of na die bande van kuns en kultuur.

Na akademiese agterryers ?

Maar dan: Die hoofoorwegings by hierdie beleid was nie gekoppel aan akademiese vryheid en gehalte, pedagogiese wysheid of kulturele waardering nie; dit was politiek gedrewe. Met ʼn blik op die toekoms, kan ʼn mens eintlik die “Free” laat val en maar bly by die “State University”.

Suid-Afrika se eenparty-oorheersde staat word egter nie gekenmerk deur ’n respek vir pluralisme nie, hetsy polities of akademies. Sien my Zuma-studie hierbo, en onlangse artikels hieroor deur dr. Theuns Eloff en prof. André Duvenhage op Litnet. Die regering se rekord oor skoon administrasie of dienslewering raak verbysterend sleg.

By só ’n State University wat oop is vir politieke inmenging stry dan later enkele eilande van uitnemendheid voort; telkens ontstaan egter weer spreidende moerasse van laer gehalte en ʼn broeierige kampuskultuur. Daaruit word weer allerlei nie-akademiese verskynsels gebore.
Buitelandse akademici ken ongelukkig talle soortgelyke voorbeelde in Afrika. Dalk ontwikkel die toekoms anders, maar dit lyk tans na die waarskynlikste toekomsscenario vir die Universiteit van die Vrystaat. Tot onnodige nadeel van Afrikane, ook die Afrikaanstaliges en Afrikaners onder hulle. En tot verdriet van almal, ook myself, wat die mense van Suid-Afrika veel beter gun.

Nuwe ligpunte

My advies aan alle Afrikaanstaliges is nou om sover moontlik te help bou aan ander opvoedingsinstellings waar akademiese vryheid weer eendag in Afrikaans kan blom, soos Akademia.

Vir van hulle sal dit nie moontlik wees nie. Maar, in een van daardie ironieë van die geskiedenis, sal juis die naam “Vrystaat” in die Universiteit van die Vrystaat mense bly herinner aan vryheidsidees wat bestaan.

Ook dít is deel van die geskiedenis van Afrika, en veral van die geskiedenis van die Vrystaat: Mense wie se individuele, akademiese, kulturele of ander vorme van vryheid afgeskaal of misken word, sal dit elders weer gestalte gee. Soms selfs beter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Dr. Heinrich Matthee,

Dis ‘n kwade dag in die verloop van ons alma mater se geskiedenis, maar ek het groot respek vir sulke beginselvaste optrede. Was daar maar meer akademici van u kaliber. Alle voorspoed vorentoe.

Alle volbloed oud-Kovsies se harte bloei vir daardie instelling. Dit blyk egter dat groot getalle Afrikaanssprekende akademici en studente al tot so ‘n mate beïnvloed is dat hulle Engels verkies, of bloot nie genoeg omgee nie.

JC ·

Geagte Dr,
Dankie vir u artikel, dis uitnemend!Die geveg vir Afrikaans se voortbestaan by UV is egter nog laaank nie verby nie. Afrikaanses SAL hul grondwetlike taalregte moet afdwing in die Vrystaat Hoe Hof, en moontlik in die HHA en die KH. “watch this space”. Indien daar dan howe toe gegaan moet word om ons saak te laat hoor en ons taal te vindikeer; by gebrek aan beskerming van minderheidsregte (waarvan Afr deel van is) binne die konteks van meerderheidsregering wat tans heers; SAL ons dit dan doen. Enigiets vir ONS TAAL! Die allermooiste taal in die wereld! MOET NOOIT OPHOU VEG NIE!! MOET NOOIT TERUGSTAAN NIE!

JC ·

Geagte Dr,
Dankie vir u artikel, dis uitnemend!Die geveg vir Afrikaans se voortbestaan by UV is egter nog lank nie verby nie. Afrikaanses SAL hul grondwetlike taalregte moet afdwing in die Vrystaat Hoe Hof, en moontlik in die HHA en die KH. “watch this space”. Indien daar dan howe toe gegaan moet word om ons saak te laat hoor en ons taal te vindikeer; by gebrek aan beskerming van minderheidsregte (waarvan Afr deel van is) binne die konteks van meerderheidsregering wat tans heers; SAL ons dit dan doen. Enigiets vir ONS TAAL! Die allermooiste taal in die wereld! Moet nooit ophou veg nie! Moet nooit terugstaan en ingee NIE!

Wynand ·

Baie baie dankie vir hierdie skrywe! Dit gee weer hoop en ek hoop die mense wat Afrikaans probeer afskaal lees dit en verstaan die skade wat hulle berokken. maar ons sal weer uitstyg soos wat U tereg gese het – en met vlieende vaandels oor die volgende hekkie kom.
baie dankie!

Johann Marx ·

Jonathan Jansen klap hande hieroor….net NOG ‘n Afrikaanssprekende wat hy nie hoef uit te staan nie. Hy voel ‘n veer vir Afrikaans….want dis nie sy taal of sy kultuur nie. So, wat soek hy in daardie amp? Dieselfde by PUK. Dan Kgwadi word aangestel….en dan word hy aangeval omdat hy nie die Afrikaanssprekendes se taal en kultuur beskerm nie? Waarom sal hy? Dis nie sy taal of sy kultuur nie? Die grootste probleem by Kovsies en Puk is nie die taal of die kultuur nie….dis die persone wat in amps-posisies sit wat daarop uit is om Afrikaans en Afrikaanse kultuur te vernietig.

ALWYN BEETGE ·

Wees stil daar gaan n man verby….
Dr Matthee jy doen die regte ding. Ongelukkig is daar heelwat Afrikaanssprekende sikofante/ agterryers wat Afrikaans in die rug steek met allerhande verskonings wat getuig van beginselloosheid en ruggraatloosheid. Om hierdie skade reg te stel sal n reuse poging verg.

andries ·

Jy is so reg Alwyn.Een van die voorlopers is Wim de Villiers by Stellenbosch en De la Rey in Pretoria. Hulle is nie bereid om vir enige-iets goed te staan nie.Sal eerder saam met ander Afrikaans afbreek.Ek hoop hulle sak hulle koppe in skaamte en ook hulle medekolegas wat saam met hulle nie n dag se rugraat het nie.Almal het reeds alle respek vir hulle verloor enJansen is nou ook deel van daardie ruglaatlose groep.

Dup du Plessis ·

….en ironies verwag hierdie keisers sonder klere dat Afrikaanssprekendes hul studiegelde moet betaal om in ‘n taal te onderrig word (tien teen een deur Afrikaanssprekende dosente ens) waarin hul nie onderrig wil word nie…..geld, fondsinsamelings op groot skaal is wat nou deur belanghebendes van Afrikaans gedoen moet word om Akademia so gou as moontlik op groot skaal te kan vestig……..as ons wil en glo kan dit gedoen word……

Frik Lotz ·

Dis onaanvaarbaar dat Afrikaans so uitgerangeer word. Gaan ons dit maar toelaat en niks daaraan doen nie? Gaan ons aanhou toelaat dat daar op Afrikaans getrap word en ons regte vertrap word? Dis tyd dat ons opstaan vir ons regte en veg vir reg en geregtigheid. Dit kan mos nie so aangaan nie!

Jan maak n Plan ·

Geagte dr. Matthee, ek het aandagtig u hele brief gelees en sou seker presies dieselfde as u gedoen het sou ek in u skoene gestaan het. Daar is egter eending wat u vergeet het. Dit is dat die sogenaamde nuwe Suid Afrika se “Leiers” nie ‘n dooie duit omgee oor enige wit persoon se doen en late nie solank dit hulle, persoonlik geen geld kos nie. ‘n Ander aangewese ding wat u kan doen is, om al die Europese regerings op te sweep om die ANC beheerde regering soveel moeilikheid te gee, soos hulle voor 1994 die ou Nasionale Regering gegee het. Hierdie kan dinge straks dalk net effens terug bring na normaal toe. Ons kyk uit na u volgende skuif.

Sarie ·

Dr Matthee, ek haal my hoed vir jou af! Soveel van ons nasie staan maar hoed in die hand en wag dat die volgende houe uitgedeel word. Mense, ons moet opstaan en baklei vir ons TAAL!! Dankie vir dié wat die guts het om hul menings te lig en op te staan vir onse taal, AFRIKAANS!
Dankie Liewe Vader dat my kind hierdie jaar graad vang – vir hierdie gemors sien ek nie langer kans nie!

MCS ·

Wat stel julle voor Sarie, Frik Lotz en ander wat hier skryf, moet ons doen? Skiet , veg, oorlog verklaar of toy-toy gaan glad nie help! Wit Suid Afrikaaners kon nog nooit saam met mekaar staan! Elkeen dink hul is meer belangrik as die ander, plaas van saamstaan en een politieke party stig is daar twee of drie, was al die jare so! So wat doen ons ,is die vraag? Skrif is aandie muur, ons word stadig maar seker uitgemoor en op die stadium al stem al die blankes VF+ weet ek nie of dit sal en ons gaan help! EFF is al sterker as die ANC! Die aarde is net ons tydelike woning!

Tweetie ·

MSC, ek verstaan jou frustasie, maar ons kan nie net op n hopie gaan sit en wag om uitgedelg te word nie. Die wapen opneem gaan ons ook nie help nie, want die ‘vyande’ is n oormag, en baie van ons eie mense kan jy nie vertrou nie. Ek hou vas aan die belofte wat die Here gegee het vir Siener v Rensburg, dat as ons ons bekeer van die sonde, en weer terugkeer na Hom sal Hy ons red uit die benarde situasie. Die toekoms lyk duister, maar steeds is daar nie’ massas’ mense wat hulle tot die Here keer nie, en ook is daar nie massas mense wat biddae hou nie. Ja, daar is duisende Suid-Afrikaners wat glad nie glo nie, en sterk gekant is teen godsdiens , want volgens hulle is dit n fabel. Hulle vra ook waar is die Here as die mense so vermoor word; ongelukkig is daar nie antwoorde op daardie vrae nie. Ons is n sondige nasie, net soos enige ander, kyk bv. na al die huwelike wat opbreek agv egbreuk, maar die Afrikaners is n betreklike ‘nuwe’ nasie met n taal wat jy net hier kry… ons nog n doel volgens Siener. Was dit nie vir daardie belofte nie, dan het ek ook op n hopie gaan sit en wag vir die onvermydelike. As die tyd reg is, dan sal die land heel word.

Poplap ·

Gelukkig is ek en my mense nie van jou ‘antwoord’ afhanklik nie!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.