Einde van WOI beteken begin van WOII

woi-montageDie kanonne swyg na miljoene dooies

Vandag, 98 jaar gelede, het die kanonne uiteindelik geswyg en het die Groot Oorlog tot ʼn einde gekom. Die Eerste Wêreldoorlog was ongekend in sy omvang, verwoesting, sterftes, tydsduur, gruwels en gevolge. Hierdie “oorlog om alle oorloë te beëindig”, het op 28 Julie 1914 uitgebreek, en 9 miljoen uit die 70 miljoen deelnemende soldate het gesterf voordat die wapenstilstand op 11 November 1918 gesluit is.

Die redes vir die oorlog is kompleks, maar die Britse Generaal Bernard Montgomery het dit goed opgesom met sy stelling dat die “gewig van hul weermagte die groot moondhede in ʼn oorlog ingetrek het”. Sy opsomming was dat die oorlog ontstaan het omdat niemand dit hard genoeg probeer keer het nie, en dat die Duitsers dit verloor het eerder as wat die Geallieerdes dit gewen het. Die vuurhoutjie in die kruitvat was die moord op die Kroonprins van die Oostenryk-Hongaarse ryk deur ʼn Serwiese sluipmoordenaar. Die netwerk van alliansies tussen die groot moondhede van die tyd het gelei tot ʼn ketting van gebeure wat naderhand die hele wêreld aan die brand gesteek het.

ʼn Geslag dooies

Dit was die eerste oorlog wat op ʼn industriële skaal en met industriële wapens gevoer is. Hele nasies het teen mekaar geveg, en nie net leërs nie. Teen die tyd wat die wapenstilstand gesluit is, was ʼn hele geslag jong mans dood of lewenslank vermink. Hele kontinente was die slagvelde, en op see het vlote mekaar oor al die Oseane gepak. Die oorlog het gou die naam “die Groot Oorlog” gekry, omdat dit miljoene soldate, ontsaglike hulpbronne, totale bevolkings, en bykans die hele wêreld betrek het.

Die ongekende massa-sterftes en verminking is veroorsaak deur ʼn hele nuwe geslag wapens. Dit was die eerste oorlog waar masjiengewere, gifgas, massa grofgeskut en swaar kanonnades, tenks, vliegtuie, duikbote, vlamwerpers, loopgrawe en slagskepe op groot skaal aangewend is. Die monsteragtige verskynsel van etniese suiwering het ook sy verskyning gemaak met die Turkse volksmoord op Christen-Armeniërs, terwyl burgerlikes op ʼn ongekende skaal onder die gruwels van oorlog gelei het.

Hitler se opkoms

Die oorlog het Duitsland se grootste vrees bewaarheid, naamlik ʼn “driefront” geveg aan sy Weste teen veral Frankryk en Brittanje, aan sy Ooste teen Rusland, en aan sy suide teen Italië. Die Duitse bevolking is besonder swaar deur die oorlog getref, omdat die land se hawens vir vyf jaar deur die Britse vloot blokkeer is, wat tot groot hongersnood onder die burgerlike bevolking gelei het. Hierdie blokkade is vir sowat ʼn jaar na die oorlog steeds volgehou, en bykans ʼn miljoen babas is voor geboorte tydens swangerskap dood weens die ma’s se broodgebrek. Dit het tot ʼn geweldige wrewel onder die Duitsers aanleiding gegee, wat die klimaat vir die opkoms van Adolf Hitler help skep het.

Die oorlog het die wêreld verander – en het die begraafplaas van groot ryke soos die Oostenryk-Hongaarse ryk, die Duitse ryk, die Russiese ryk en die Ottomaanse ryk geword. Die verwoesting van hierdie eeue-oue ryke en hul politieke en ekonomiese stelsels het op uiters onstabiele en gedwonge demokrasieë soos die Duitse Weimar Republiek uitgeloop. Hierdie nuwe stelsels kon nie die onstuimige na-oorlogse krisisse weerstaan nie, wat grootliks tot die volgende wêreldoorlog aanleiding gegee het. Die “Vrede van Versailles” was ʼn verdrukkende verdrag waarin Duitsland die alleen-skuld vir die oorlog gekry het en vir dekades lank oorlogskuld moes betaal. Dit het die Duitse ekonomie vernietig en tot die Groot Depressie aanleiding gegee. Die waarskuwings van staatsmanne soos Winston Churchill, die VSA se President Wilson en selfs China se latere leier Mao Zedong, dat dit tot ʼn volgende oorlog kan lei is in die wind geslaan. Daarom kan die einde van die Eerste Wêreldoorlog met reg as die begin van die tweede Wêreldoorlog beskou word.

Beoordeling

Die grootste tragedie van die Eerste Wêreldoorlog was dat dit tot nog ʼn Wêreldoorlog gelei het. Die vraag is hoekom die mensdom nie uit die eerste bloedbad geleer het nie? Die antwoord lê moontlik in die ideologiese wesensaard en uitkoms van die oorlog. Die Eerste Wêreldoorlog was die groot skeidslyn van die moderne geskiedenis. Dit het die Weste omskep vanaf Koningshuise en Monargistiese wêreldryke na demokratiese republieke as die oorheersende regeringsvorm. Waar daar in 1914 net die drie demokratiese republieke van Frankryk, Switserland en Portugal was en Brittanje met sy parlementêre stelsel, het al die Monargieë in 1918 geval en het Europa en later die wêreld die era van demokratiese Republieke betree. Dit het tragies genoeg nie tot vrede aanleiding gegee nie, maar grootliks tot die volgende bloedbad gelei.

Soos die meeste oorloë, het die oorspronklike ontstaansrede en doelwitte gou verander, en het die Eerste Wêreldoorlog met Amerika se toetrede die eerste ideologiese oorlog in die geskiedenis geword. President Wilson het met sy land se toetrede die oorlog ʼn ideologiese missie gegee, naamlik om die “wêreld veilig vir demokrasie” te maak, en dus van Koningshuise ontslae te raak.

Heilige Oorlog

Hierdie ideologiese dimensie het die Oorlog op ʼn glybaan na “totale oorlog” geplaas, en het kompromieë op grond van vrede en nasionale belang onmoontlik gemaak. ʼn Ideologiese oorlog is byna soos ʼn “heilige oorlog”, het nie plek vir kompromie nie, maar moet geveg word tot die vyand uitgewis, verneder en gestraf is. Daar is in so oorlog net plek vir een (af)god. Hierdie “totale oorwinning” het in Duitsland gelei tot die geroep om wraak, waarna Adolf Hitler geluister en die Duitsers en die wêreld oor nog ʼn afgrond laat stort het. Die afgedwingde demokratiese stelsels in Duitsland en Italië het in duie gestort, en die oorlog het Lenin se Bolsjewistiese Kommuniste aan bewind gebring in Rusland. Die uiteinde van die VSA se inmenging was dus nie vrede en demokrasie nie, maar Nazisme, Fascisme en Kommunisme.

Indien die VSA uit die Europese oorlog gebly het, sou die oorlog weens wedersydse uitputting en skaakmat hoogs waarskynlik teen die einde van 1916 of vroeg 1917 tot stilstand geknars het. Maar, meer belangrik, dit sou ʼn wedersydse skikking behels het wat al die partye die ruimte sou gee om met eer uit die stryd te tree. Dit is so dat die tradisionele Duitse-, Oostenryks-Hongaarse en Russiese Koningshuise nog vir ʼn tyd sou voortbestaan. Maar hierdie lande sou aan die ander kant nie omskep word in kortstondige demokrasieë wat onderskeidelik Hitler, Lenin en Mussolini aan bewind sou bring net om nog ʼn oorlog te veg nie. Dit sou miljoene mense se lewens spaar, die dekadelange Kommunistiese oorheersing van Oos-Europa verhoed, die Koue Oorlog met sy kernwapens keer, die Westerse Christendom in stand gehou en die wêreld veel veiliger en voorspoediger gelaat het. Maar die oorwinnaars het die geskiedenis geskryf, en daarvolgens was die Amerikaners en demokrasie die helde van die verhaal.

WO1

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

John ·

Insiggewend. Wat mense laat vra: En wat van WW111? Navo is duidelik slaggereed en opgepomp met alles wat die ergste oorlog in menseheugenis sal ontketen. Die vrese bestaan dat sekere invloedryke groepe reeds planne gereed het om hul wil te laat geld en dat Trump, wat duidelik die vredesvlag liewer het as die swaard, hulle gaan teestaan. Gaan hulle nie skoor soek in die komende dae om sy aanstelling voor te spring nie en die wereld dompel in ongekende wanorde en ellende nie? Hulle het gehoop op Clinton wat haarself reeds as uiters onverantwoordelik bewys het… en sy gaan sekerlik aanhou om Trump te ondergrawe…

Valie ·

Vandag is Poppy dag, aan al die manne wat makkers in ‘n oorlog verloor het, ons onthou hulle nog.
“At the going down of the sun, and in the morning, we shall remember them”
Dit is waarom ons in uniform met vlaghysing en vlagstryking salueer het.
Die laaste taptoe (the last post) is die laaste posisie wat die soldaat sou beman, sy graf.

Pietman ·

dankie goeie inligting. Die groot finansiers is basies die NWO. Hulle trek die toutjies agter die skerms veral noudat die groot banke ook die media beheer. Dit moet altyd winsgewend wees om oorlog te maak. In SA destyds as dit goud, in die midde-ooste gewoonlik olie.

Paul Chinchen ·

Eerstens. Stem nie saam nie. as dit nie vir Amerika was nie sou die Duitsers Frankryk gewen het in 1917 en Engeland uitgeskop uit uit Frankryk uit. Ek dink nie dat dire mense van Frankryk sal daarvan hou om deur die Duitsers regeer te word. Tweedens, die Amerikaanse het niks gedoen het met die geboorte van Hitler, Mussolini en Stalin – dit so nogsteeds gebeur het of die Amerikaanse betroke of nie was met die Eerste Wereld Oorlog. Ons moet onthou altyd dat ‘History’ is presies dit ‘His Story’ – God die Vader, Seun en Heilige gees is die wat in beheer is an altyd sal so wees. Baie dankei.

Karma1 ·

Aag, tog, Paul, hier gaat ons alweer met godsdiens by als intrek …..

Sulet Linde ·

Het die twee Wêreldoorloë nie ook ‘n groot impak op die kolonisasie van Afrika-lande gehad nie? Ek het iewers gelees dat die lande in kompetisie was met mekaar: almal wou die grootste vloot, grootste leër en die meeste lande besit.

Dirk Bosman ·

Generaal Louis Botha was die enigste staatsman wat die verteenwoordigers by die vredesverdrag gewaarsku het dat hulle die saaad van n verdere wereldoorlog skep deur Diutsland te vergruis.

Flip Nöthling ·

Goed en duidelik geargumenteer en geskryf, soos gewoonlik.

Leopold Scholtz ·

Ek lees altyd lekker aan Flip se stukke. Goed beredeneer en deurdink. Net twee opmerkings:
1. Moenie vergeet dat ons eie genl. Jan Smuts herhaaldelik teen die vernedering van die Duitsers in 1919 gewaarsku het nie. Hy het te kenne gegee dat ‘n tweede oorlog binne 20 jaar kan uitbreek. Hy was reg.
2. Die Amerikaners het eers in April 1917 oorlog teen Duitsland verklaar. Dat hulle in of uit die oorlog was, sou in 1916 en begin 1917 dus geen invloed op die oorlog gehad het nie. Maar dis regtig ‘n ondergeskikte puntjie.
Ek sien uit na Flip se volgende artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.