Eindig enting vryheid?

(Foto: Unsplash)

Die laaste week of twee was daar groot betogings, onder meer in Parys en Amsterdam, teen die inentings vir die koronavirus. Die tekste op die plakkate en baniere was uiteenlopend, maar daar was één woord wat telkens voorgekom het – “Vrijheid!”, “Freedom!”, “Liberté!”

Hierdie ongelukkigheid dui op die oortuiging van talle betogers dat die pandemie deur gewetenlose owerhede gebruik word om die bevolkings se vryheid te beperk, om hulle onder te hou, en selfs om mini-robotjies in mense in te spuit om hulle tot willose slawe te reduseer.

Die groot vraag waartoe dié soort oortuigings aanleiding gee, is “Waar lê die grense van vryheid?”

’n Voorbeeld wat regsgeleerdes dikwels gebruik, is die volgende: Kan jy in ’n volgepakte teater “brand, brand!” skreeu en jou dan ná die paniek op die vryheid van spraak beroep?

Verlede week het president Emmanuel Macron van Frankryk ’n soortgelyke redenasie aangevoer. Tydens ’n besoek aan ’n hospitaal het hy retories gevra: “Wat is u vryheid werd as u aan my sê ‘ek wil nie ingeënt word nie’, terwyl u vader en moeder my môre besmet?”

Hy het burgers tot “eenheid” opgeroep: “Daar is mense wat ’n irrasionele, dikwels siniese manipulatiewe mobilisering bedryf.” Hy het bygevoeg: “Elke mens is vry om homself kalm uit te druk terwyl hy ander respekteer, behalwe dat dié virus nie deur proteste ondergekry sal word nie. Sover ek die siekte se werkswyse verstaan, dink ek nie dis baie effektief om daarteen te protesteer nie.”

Teen dié agtergrond het die Franse regering burgers se vryheid om nié ingeënt te word nie, pas beperk. Inentingsbewyse of bewyse van negatiewe Covid-19-toetse is voortaan verpligtend vir mense wat sekere beroepe wil uitoefen, wat sekere kulturele en ontspanningsruimtes (museums, konsertsale, popmusiek-uitvoerings) wil betree, of wat wil reis.

Italië het in die laaste dae ook ’n “groen pas” goedgekeur wat ingeënte mense moet wys as hulle toegang tot sekere openbare ruimtes wil kry.

Helge Braun, woordvoerder van Angela Merkel, Duitse bondskanselier, het te kenne gegee dat Duitsland moontlik die Franse voorbeeld sal volg as die aantal koronabesmettings verder styg. “Dié wat ingeënt is, sal beslis meer vryheid hê as diegene wat nié ingeënt is nie,” het sy aan Bild am Sonntag gesê.

Frank-Walter Steinmeier, Duitse seremoniële staatshoof en hoogs gerespekteerde president, het ook die begrip vryheid as metafoor gebruik toe hy vroeër vandeesmaand ’n dringende beroep op sy mense gedoen het om hulle te laat inent: “Elke dag, met elke inenting bevry ons onsself ’n bietjie meer uit die greep van die pandemie en kry ons weer ons lewens terug. Wees verantwoordelik, ter wille van jouself en van ander. Laat jou inent!”

Nou ja, ondanks die betogings kry die “vryheidsliewendes” nie die steun van die meerderheid nie. In Nederland het byna 80% van die mense al minstens die eerste prik ontvang; in Brittanje, Malta, Denemarke, België, Spanje, Portugal en Hongarye gaan dit selfs beter. Die meeste ander Europese lande volg kort op hul hakke.

Dus, nogmaals: Hoe ver strek vryheid? Het Macron en ander Europese leiers reg, of gaan hy te ver?

Kom ons begin hiér: Ongebreidelde vryheid – vryheid sonder hoegenaamd enige perke – is geen egte vryheid nie. Dis chaos. In chaos, kan ’n mens maar weet, is dit onvermydelik die sterkste, gemeenste en die mees gewetenlose party wat wen. Dié wat verloor is gewoonlik die ordentlike mense, soos die gemiddelde leser van dié artikel.

In enige beskaafde gemeenskap móét daar algemeen aanvaarde reëls wees. Dit is waarop die hele konsep van demokrasie en die regstaat gebaseer is, byvoorbeeld: Jy mag nie steel nie; jy mag nie doodslaan nie; jy mag nie lieg nie – reëls wat al in die Tien Gebooie voorkom. Maar dis wel beperkings op jou “vryheid”.

’n Mens kan dit ook anders stel: Mý vryheid eindig waar jóú vryheid begin. Of mý vryheid word deur jóú vryheid begrens. Ek kan byvoorbeeld besluit om my bure se rustige Sondagmiddag te versondig deur my radio se luidsprekers in die tuin te plaas en klipharde musiek oor die hele buurt te laat bulder. Daardeur beperk ek egter die vryheid van die mense in die omgewing om ’n rustige middag tuis deur te bring.

Nog erger: Ek kan besluit om ’n bank te beroof en ’n werknemer wat my probeer keer deur die kop te skiet. Absurd? Natuurlik! Maar dít is wat gebeur in ’n gemeenskap wat volledig vry wil wees en afstand van alle reëls gedoen het.

Die kwessie van inentings is natuurlik nie hééltemal dieselfde nie, maar daar is wel ooreenkomste.

As ek my vryheid om nié ingeënt te word nie as die belangrikste beskou, beteken dit wel dat ek met die koronavirus besmet kan word. Nou ja, sou jy sê, dis jou eie besluit, en dan moet jy maar self die gevolge – ligte of ernstige siekte, of selfs die dood – van daardie besluit dra.

Maar dis nie só eenvoudig nie. Jy kan ánder aansteek. Dan is jy verantwoordelik vir ánder se siekte of dalk selfs dood, veral waar dit met oues van dae met ’n swak immuunstelsel verband hou. Weeg jou persoonlike vryheid teen daardie morele verantwoordelikheid op?

Nou is daar mense wat allerlei pseudo-wetenskaplike besware opper. Die inentingsmiddels is nie behoorlik getoets nie; jy weet nie wat die langtermyngevolge gaan wees nie, of nog erger: jy gaan dood van die inentings. Sommiges reken dat die Nuwe Wêreldorde jou nou deur radioseine, dikwels vanuit satelliete in die ruimte, tot willose zombies kan omskep. Ja, regtig!

Ek is geen immunoloog nie, en ek kan geen gesaghebbende mening oor die wetenskaplike aspekte van die entstof waag nie. Ek het wel ’n gesonde verstand, en die statistieke laat eenvoudig geen ander gevolgtrekking toe nie: Die risiko van die inentingstowwe bestaan, ja, maar dit is absoluut minimaal, en vele miljoene male kleiner as om nié ingeënt te word nie.

Aangesien ons in ’n demokrasie leef, is ons almal vry. Maar ons vryheid sluit nie die reg in om ánder te benadeel of hul vryheid aan te tas nie.

Ek onthou in die jare sestig, toe ek ’n student op Stellenbosch was, het ’n dosent gesê dis misleidend om te praat oor vryheid ván … wat ook al. Dit moet eerder wees vryheid tót … Dít is die houding van iemand wat sy vryheid met verantwoordelikheid gepaard laat gaan.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Anna-Marie ·

Wat van as iemand kan bewys dat hulle reeds Covid gehad het en nou natuurlike antiliggame teen Covid het? Kry hulle ook dieselfde vryhede as ingeëntes?

Maroela ·

Nee, daarvan kan jy maar vergeet. Almal sal uiteindelik die half jaarlikse inspuitings getrou moet kry of jy word uit die samelewing verwerp.

Kobus ·

Die mediese navorsing toon dat die antiliggame hou nie lank nie en is nie bestand teen die ander variante waaraan jy blootgestel word nie, derhalve is die vaksien nodig.

Heinrich ·

Ja Kobus, en die vaksien hou net so lank en jy hoef ook nie vir optoppers daarvan te gaan nie né…

Kobus ·

Heinrich, Ek het haar vraag geantwoord, gesteun op mediese en wetenskaplike feite . Die onkunde en fopnuus is juis wat die virus so gevaarlike maak. Ek stel voor jy gaan praat met n dokter of iemand wat meer weet en lig jouself in van die feite. Jy vergelyk eenvoudig nie apples met apples nie..

Kobus ·

Heinrich, my kommentaar was in antwoord op haar vraag en gegrond op die mediese en wetenskaplike feite dat teen liggaampies nie lank in jou sisteem bly om jou te beskerm nie en veral jou nie beskerm teen die ander variante waaraan jy nie blootgestel was nie. Ek stel voor jy raadpleeg n mediese persoon om jouself te vergewis van die feite – dit is juis die onkunde en fopnuus wat die verspreiding van die virus so gevaarlike maak…

Johan ·

Netsó is daar dan die wat vry is om te glo, dat die aarde plat is.

Piet ·

“Daar is mense wat ’n irrasionele, dikwels siniese manipulatiewe mobilisering bedryf.” – soos politici???
En hy wat die media beheer, beheer die denkwyses van ander.

Cryptogruppe ·

Die strategie is tog duidelik. Positief en negatief. Julle en ons. Skep verdeeldheid. Goed versus sleg. Ingespuit en nie ingespuit. Diegene met pasboek en die sonder pasboek. So sal die heersers altyd die kiesers teen mekaar afspeel en ons met sinlose debatte besig hou . Makron speel met sy mense- stel eise wat nie haalbaar is nie, neem maksimum vryhede weg , dan net om EFFENSE toegewings te maak- maar gaan nooit terug na die vorige stand nie. Sien dit en pas daarteen aan. Ons word almal gespeel soos ‘n viool

JohanCzu ·

Baie goed geskryf. Nes jy jou vryheid om nie in te ent nie kan gebruik, kan die wie nie saam met mense wil geriewe gebruik wie nie ingeent is nie, ook hulle vryheid eis. Of jou werkgewer kan sy reg tot vryheid gebruik om mense sonder inenting die werkplek te verbied.

Johan ·

Wat my verstand te bowe gaan is dat sowat sewe en negentig persent van alle persone wat Covid opdoen, gesond word. Waarom dan die beheptheid met die forsering van inentings?
Hondsdolheid wat basies honderd persent mortaliteit het, polio en soortgelyke siektes wat hoë mortaliteite het en ernstige lewenslange gevolge vir die oorlewendes van die siekte het, daar maak entstowwe sin.
Die effektiwiteit asook die langtermyn newe effekte van die Covid entstowwe is nog nie behoorlik uitgeklaar nie, maar mense moet nie die reg hê om vir hulleself te kies oor die wysheid daarvan om die entstof te neem aldaar nie. Dan het mens stellig nie eers die opsie om eise in te stel indien die entstof wel jou gesondheid negatief beinvloed nie.

G3R! ·

Aangesien die entstof NIE verhoed dat jy steeds siek word nie en ook NIE verhoed dat jy die siekte oordra nie maar slegs kan voorkom dat jy ernstig siek word en hospitalisasie benodig gaan die besluit minder oor ander se veiligheid as oor jou eie. Of jy die entstof neem of nie jy gaan steeds die virus opdoen en dit steeds oordra (volgens o.a die WGO). Dan lyk die prentjie mos baie anders. Dan gaan inenting en beperkings vir die wat daarteen kies mos oor iets anders. Terloops, die straf vir oortreders van die tien gebooie was steniging. Dit nadat God vir Adam en Eva die vrye wil gegee het om die vrug te eet as hulle so sou kies. Daar val Leopold se argument plat. Ook is die argument oor anargie en totale wetteloosheid vir my sinneloos. Dit is nie anargie om te kies wat aan jou eie liggaam gedoen mag word nie. As ons inentings verpligtend maak kan ons nie net sowel verkragting goedkeur nie?

Hendrik ·

Nee wat ek swig nie sommer onder druk nie. Dit is nie sonder rede nie en uit goeie feite ,weersprekende medici kan jy goeie besluite neem. Ja daar is soveel senarios met elkeen se gesondheid dat jy ‘n besluit moet maak vir jou eie liggaam. Net ‘n voorbeeld wat niks of alles te doen het met ons sekerheid. Indien jy sien dat die demokrasie nie reg is nie, gaan jy nog stem vir dit of gaan jy vir alternatiewe? Dieselfde geld hier is dat die onsekerheid wat die owerhede in mense se gemoed geplaas het is jy regtig onseker of hierdie inenting wat net 65% werk regtig nie ander uitvalle gaan he nie. Indien ek al reeds teenliggaampies het as gevolg van Covid is daar weer berigte uit Israel dat die medici hoop dat die inenting dieselfde kwaliteit teenliggaampies kan produseer as wat jy so kry as wanneer jy Covid gehad het. Nou swem jy hier tussen al die feite en ‘n swak regering se jy moet gaan inent?

Marthie ·

Mense wat nie ent nie kyk vas in die klein risikos wat inenting mag meebring soos bv. allergiese reaksie of bloedklonte, wat neerkom op 1 of 2 uit ‘n miljoen gevalle. Een uit ‘n duisend mense wat vlieg kry bloedklonte. So ook een uit twee duisend vroue wat op voorbehoed pille is, kry bloedklonte. Tog dink mense nie twee keer om die pilletjie te sluk of om op ‘n vliegtuig te klim nie…

Ian ·

Hoe kan “u vader en moeder my môre besmet” indien jy sogenaamd inge-ent is? Met ander woorde jy erken dat die uiters gevaarlike eksperimentele entstof nie werk nie! Belaglike polities gedrewe agendas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.