Eindstryd All Blacks s’n (skeidsregter buite rekening gelaat)

Die internasionale rugbykalender is besig om uit te loop en die grootse rugbyskouspel staan voor die eindstryd.

Met die hulp van Bryce Lawrence is die Wallabies toe deur na die semi-finaal waar presies gebeur wat elke rugbykenner voorspel het. Kry ʼn skeidsregter wat die reëls toepas en Pocock se effektiwiteit word met die helfte verminder omdat hy nou binne die reëls moet speel. Die Wallabies se 80 minute van verdediging verlede week teen die Bokke het toe inderwaarheid sy tol geëis en hulle kon nie naastenby dieselfde vertoning op verdediging as verlede week bied nie. As Piri Wheepo sy skopskoene aangehad het, was die wedstryd in die eerste helfte al buite die Wallabies se bereik.

Wat die ander halfeindstryd betref het Alain Rolland gesorg dat die wedstryd as skouspel in die 18de minuut beëindig is toe Warburton, vuurvreter flank van die Drake, met ʼn rooikaart van die veld gestuur is. Die kykweer het gewys dat hy die speler nie in die grond geboor het nie, maar laat los het. Dit bly egter ʼn gevaarlike duikslag, maar ʼn geelkaart sou ʼn beter straf gewees het en dan was die Franse nie in die eindstryd nie.

Dat die Franse met 9-8 kon wen teen sleg 14 man wys dat daar nie hoop is dat hulle volgende week die All Blacks in die eindstryd kan klop nie. Ek het van die begin af gesê dat die Franse die verrassingspakkie gaan wees, maar met die gehalte van die spel soos teen Wallis tentoongestel sien ek swarigheid vir die Hane in die eindstryd.

Die druk is nou vierkantig op die All Blacks se skouers want die Franse het telkens in die verlede bewys dat hy die Silwer Varing kan breek. Op die huidige spelpeil is ek egter seker dat die All Blacks gemaklik koning sal kraai. Vier en twintig jaar is ʼn lang tyd om die Wêreldbeker vir die tweede keer omhoog te hou en ek gun hulle die vreugde. (Indien die All Blacks wen dan het die Suidelike halfrond se spanne elk die beker reeds twee keer verower, met net die Engelse as Noordelike halfrondspan wat dit in 2003 verower het.)

Of die eindstryd as skouspel onthou sal word, sal afhang van wie die skeidsregter is. Baie sal nog gesê word oor die gehalte van sommige van die skeidsregters wat beslis ʼn rol gespeel het in wie sal deurgaan na die volgende rondte en wie nie.

Paddy O’Brien wonder seker wat om te doen om die kontroversie rondom die skeidsregters te minimaliseer. Gelukkig het Craig Joubert gisteroggend getoon wat ʼn goeie skeidsregter kan vermag. Blaas binne die reëls en wees konsekwent en almal geniet die wedstryd.

Wat die Curriebeker betref is dit nou ook in die maak- of breekfase. Die Leeus is wel bo-aan die punteleër, maar of hulle die wedstrydtemperament het om te wen as dit saakmaak moet maar wag om gesien te word. My voorspelling is dat die eindstryd tussen die Sharks en die WP sal wees.

Tot volgende week.

Rubygroete
Bloubul

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Polla Roux

Polla Roux is 'n oud-Westransvaler. Na draaie in die onderwys en korporatiewe wêreld, het hy vroeër vanjaar as Organisasiesekretaris by Solidariteit uitgetree.Hy het net meer as honderd Carlton-wedstryde agter die blad (1966-1976), het vir Noord-Transvaal gespeel en is na Springbokproewe genooi, maar sy loopbaan is deur 'n skouerbesering kortgeknip. Hy het gereeld as eerste liga-skeidsregter opgetree en was vanaf 1995 tot 1998 senior bestuurder by die Noordtransvaalse Rugby-unie en betrokke by die skep van die Bloubul-lied saam met Steve Hofmeyr.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.