Ek en my gesin trek vandag swart aan en dit is hoekom

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit (Foto verskaf aan Maroela Media)

Ek en my gesin trek vandag swart aan en ons dink aan my vrou Elsha se neef Reinier – hy is deur ʼn toe deur doodgeskiet; my vriend Lukas is in die bed doodgeskiet; en my oom Frik is doodgeskop.

By oom Frik se begrafnis het die buurman van die plaas langsaan, toe die kis in die grond afsak, gesê: “Die grond treur.”

Vandag treur ons saam met die grond. Ons treur saam met duisende mense wie se pa’s, ma’s, kinders, familie, vriende en gemeenskapslede vermoor is. Met ʼn plaasaanval treur plase saam met die families, die werkers, die wilgers, die diere en die grond.

Ons treur vandag saam want ons wil vir dié wat agterbly, wys hulle is nie alleen nie. Ons het julle nie vergeet nie. Ons dink aan julle en ons gedenk jul geliefdes saam met julle. Mag hulle wat vermoor is nooit bloot statistiek word nie. Mag ons hul name onthou.

Om swart te dra is geen oplossing nie, maar dit hou die saak op die agenda. So wys ons dat ons nie gaan stilbly nie. Ons wys ons gaan nie toelaat dat dit die norm word nie. Die dra van swart vandag is simbolies en het krag, maar dit kan nie al wees wat ons doen nie. Daar moet meer gedoen word.

Ons betoon vandag solidariteit. Ons staan saam. Ons berus ons nie by ons lot nie. Ons sê vir die staat julle versaak jul burgers, maar ons doen ook ʼn beroep op die land se burgers om self verantwoordelikheid te aanvaar.

Vandag wil ek, in swart, my saak stel. My protes is in die vorm van tien stellings:

1. Die wreedheid en frekwensie van moorde in die plaasgemeenskap is, gemeet aan enige internasionale norm, skrikwekkend.
2. Alle misdaad is verwerplik en moet beveg word. Indien die moorde en aanvalle op lede van ʼn spesifieke segment van die samelewing besonder wreed is en met marteling gepaardgaan, moet daar ʼn besondere fokus wees.
3. Die regering se stilte oor die moorde en gebrek aan die wil om iets daaromtrent te doen, is skokkend.
4. Politieke korrektheid het so siek geword dat jy nie, omdat die meerderheid wit is, spesifiek op boere mag fokus nie.
5. Die ANC se ideologiese blindekol is so groot dat marteling en moorde van burgers geregverdig word. Volgens hul politieke logika voel hulle die boere verdien dit eintlik. Leiers met gesag, soos Malema, sê dit. Misdadigers doen dit.
6. Die politieke simbool wat van boere gemaak is, verblind die ANC só dat hulle bereid is om voedselvoorsieners te laat vermoor. Die moord van ʼn boer is die dood van voedselsekerheid.
7. Weens die regerende party se rassebeheptheid kan hulle nie sien dat slagoffers nie net wit boere is nie, maar dat ook swart boere, plaaswerkers, plaasgemeenskappe en gewone Suid-Afrikaners van alle rasse onder die slagoffers tel.
8. As ʼn boer vermoor word, word ʼn plaas vermoor. As ʼn plaas vermoor word, word ʼn gemeenskap vermoor. Plaasmoorde is nie net die boere se probleem nie, maar is elke Suid-Afrikaner sʼn want almal word daardeur geraak.
9. Die reaksie van die internasionale gemeenskap, wat kennelik hul oë hieroor sluit, is kommerwekkend en teleurstellend.
10. Veiligheid is ʼn basiese pilaar waarop goeie regering rus. In Suid-Afrika het misdaad buite beheer geraak en op plase het dit ʼn krisis geword. Plaasmoorde is tekenend van ʼn regering wat misluk.

In die lig van bogenoemde stellings, wil ek die volgende sê:
1. Mag daar nooit stilgebly word oor plaasaanvalle nie.
2. Mag daar nooit toegelaat word dat dit as norm aanvaar word nie.
3. Politieke idees en aksies wat regverdiging daarvoor skep, moet beveg word.
4. Haatspraak wat ʼn klimaat daarvoor skep, durf nooit geduld te word nie.
5. Die druk op die regering om hul plig teenoor die land en die burgers hieromtrent na te kom, moet verhoog totdat plaasaanvalle as prioriteit erken en hanteer word.
6. Internasionale steunwerwing moet vergroot word.
7. Gemeenskapsbeveiliging moet radikaal uitgebrei word. Daar kan nie op die regering gewag word nie.
8. ʼn Radikale beveiligingsplan moet ontwikkel en geïmplementeer word.
9. Boere en die gemeenskap moet ondersteun, bemagtig en toegerus word om meer waaksaam te wees en om hulself na behore te beskerm.
10. Almal moet besef dat aanvalle op plase almal van ons raak en dat almal betrokke moet raak by en na oplossings moet soek.

Ons moet saam treur, saam staan, nooit berus nie, nie moedeloos raak nie, nie stilbly nie en nooit ons wil om te veg vir dít wat reg is, verloor nie.

Dit is wat my swart vandag sê.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.