Ek hóórt hier

Deur ds. Johan Schütte

(Foto: Wikimedia Commons)

“Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon”, so word dit in die aanhef tot Die Grondwet gestel.

My ervaring is egter dat ek ʼn tweederangse burger van hierdie land is, bloot op grond van my afkoms en die veronderstelde historiese optrede van my voorouers. Ek word beskou as iemand wat ʼn geskiedenis van onregverdige bevoordeling gehad het en daarom moet ek nou aan die ontvangkant van “geregverdigde” benadeling wees. Die gevolg is dat my vriende en familie hul vaderland verlaat het om iewers anders burgers te gaan word. Daar is so baie van hulle dat as ek ʼn paar dae by elkeen gaan kuier, ek langer in die buiteland gaan wees as wat enige visum toelaat. Ek verkwalik hulle ook nie. Ek verstaan hul redes, omdat daar ook al in die middel van die nag ʼn pistool teen my kop gedruk is. Ek lees hul verhale, hul redes waarmee hulle besluite geregverdig word en dit resoneer met my. En tog, in ʼn stryd tussen my hart en my verstand, het ek besluit om te bly.

Op een of ander manier is die Afrikagrond en my bloed met mekaar vermeng en hier is ek tuis. Ja, mens kan seker oral aanpas en inpas, maar om tuis te wees, gaan oor iets anders.

Sien, my probleem is nie met die plek nie. Dit is nie met daardie deeltjie op die wêreldkaart aan die onderste punt van Afrika wat Suid-Afrika genoem word nie. My probleem is met hoe ander wil hê hierdie deeltjie moet lyk. En dit is juis my lojaliteit aan hierdie deeltjie van die aarde, wat die Here aan my as rentmeester toevertrou het, wat maak dat ek opstandig word oor wat ander besig is om daarmee te doen.

Die redes waarom hierdie stukkie van die aarde vir my kosbaar is, oortref my vermoë om my lojaliteit te beskryf of te verduidelik. Dit gaan oor gedeelde stories, hoop en liefde. Dit gaan oor gebruike en gewoontes, emosionele oomblikke, gedeelde seer en vreugde. Dit gaan oor God se voorsienigheid gedurende eeue van stryd. Wonderbaarlike uitkoms en onbeskryflike genade. Om uit die as te kon opstaan, was kenmerkend aan my voorouers en dit bruis ook deur my are.

Daar is sekere plekke en gebeure wat vir my met spesiale betekenis gelaai is. Natuurlik nie vir almal nie, daarom dat hulle dit wil afbreek en vernietig. Die feit is dat ek hier op hierdie deeltjie van die aarde tuis is, al word daar baie hard probeer om my ontuis te laat voel.

Om tuis te wees, is om te wees waar dinge bekend is. Daar waar ons geken en herken word. Dit is vir my kosbaar en onvervangbaar. Hier is rykdom en potensiaal vir almal wat hier woon en bereid is om te werk, maar dit word bedreig deur ʼn valse idee van wat hierdie deeltjie van die aarde is.

Die Nuwe Suid-Afrika is in ons keelgate afgedruk, maar in werklikheid is dit die Valse Suid-Afrika. Die mislukte oorblyfsel van kolonialisering. Dit wat aan ons voorgehou word as die hoogtepunt van ons historiese ontwikkeling, beteken eintlik dat jou tuiste onteien word. Dié Valse Suid-Afrika met sy eensydige oordrywing en skeeftrekking van vroeëre deugde, is blind vir sy eie sonde en tekortkominge. Dié Valse Suid-Afrika eien homself die alleenreg toe om ʼn karikatuur van die verlede op ʼn eensydige manier en met selfvoldaanheid te propageer.

In dié Valse Suid-Afrika word daar ʼn skuldgevoel by die tweederangse burgers geskep sodat hulle maar daarmee verlief moet neem om eerder weeskinders sonder ʼn tuiste te wees, as om trots op hul geskiedenis te wees. Dié Valse Suid-Afrika roem hom daarop om ʼn gemeenskap te wees wat verenig is ten spyte van ons verskeidenheid – maar in werklikheid is daar geen gemeenskap, geen eenheid en geen verskeidenheid nie. Met ’n multikulturele toekoms is daar toe al die tyd ʼn monokulturele toekoms bedoel. In plaas van verskeidenheid word daar eerder gestreef na eenvormigheid – en ek pas nie in die vorm nie!

Dié Valse Suid-Afrika is ʼn groter bedreiging vir ons toekoms as enige virus of tuimelende ekonomie.

Die voorstanders van die Valse Suid-Afrika is betower deur die bygeloof van onvermydelike vooruitgang. Hulle sien hulself as die hoogtepunt van evolusionêre ontwikkeling. Hulle veronderstel dat die geskiedenis aan hul kant is. Hulle het hulself reeds as die uiteindelike oorwinnaars gekroon. Hierdie valse geloof maak hulle arrogant en veragtelik. Hulle toon geen begrip vir die gebreke in die volklose en kultuurlose “gemeenskap” wat hulle wil bou nie.

Verder ignoreer hulle die ware bronne van medemenslikheid waarop hulle, net soos ek, roem om te waardeer. Hulle ignoreer en weerspreek selfs die Christelike wortels wat daarvoor nodig is. Maar hulle is tog so versigtig om nie die Moslems te ontstel nie en om ag te slaan op Isis se dreigemente, so asof Isis hul sekulêre en monokulturele oortuigings goedsmoeds sal aanvaar.

Die Valse Suid-Afrika is bedwelm deur onkunde en bygeloof wat aangeblaas is deur ʼn selfbevredigende utopiese droom wat glad nie met die geskepte werklikheid rekening hou nie. Uiteindelik is die Valse Suid-Afrika ʼn tirannieke droomwêreld wat daarvan hou om met die woorde “vryheid en verdraagsaamheid” te speel, nadat hulle van enige betekenis gestroop is.

Hierdie Valse Suid-Afrika is in ʼn doodloopstraat. Tans is die grootste bedreiging vir ons toekoms nie die onbevoegde ANC, die Chinese of die Moslems nie. Ons word bedreig deur die versmorende greep waarmee die Valse Suid-Afrika ons verbeelding en toekomsdrome aan bande lê. Ons is die getuies van een van die grootste volksmoorde in die geskiedenis waar daar tans gepoog word om al die volke hier aan die Suidpunt van Afrika te vernietig. Ons volke en elkeen se kultuur word vervang met ʼn illusie van wat Suid-Afrika is en moet wees.

Word wakker. Hou op om die knie te buig en staan vir ʼn slag op teen hierdie bedreiging van ons toekoms. Dit is tyd om die Ware Suid-Afrika te verdedig, te ondersteun en te bevorder. ʼn Suid-Afrika wat behoort aan almal wat werklik hier hoort. Ja, anders as wat die aanhef tot die Grondwet sê. Ek woon nie net hier nie. Ek hoort hier!

Hierdie artikel is met die vergunning van die AP Kerk geplaas.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kanjynoumeer ·

Ek hóórt ook hier. Ons hóórt hier.
Helaas dink baie landsburgers nie so nie daarom die verskriklike marteling van Afrikaners, plaasaanvalle en plaasmoorde op die wreedste maniere!

Vrystater ·

Die goedkeuring vir Christus se doodstraf is gegee deur die konserwatiewe Kajafas, hoëpriester van die tradisionele Joodse kerk, wat sy politieke invloed wou laat geld. Dit is in die aard van die politiek om deurspek te wees met valshede. Ook wanneer kerke daarby betrokke is. Dit vind ons genoegsaam in die Bybel, en die geskiedenis van die Rooms Katolieke en die Mohammedane.

Die politiek en aanbidding van ons inheemse volke, met Tsjaka aan die voorpunt, was en is nie minder vals nie.

En, ten spyte van die valshede in die Afrikaner se eie politiek, het Suid-Afrika een van die suksesvolste en veiligste lande in die wêreld geword. Baie goeie en regte, maar soms ook swak besluite is geneem. Groot projekte is uitgevoer.

En, jy is reg, ons toekoms is in ons eie hande. Ons strategie, beplanning, kundigheid, hardwerkendheid, doelgerigtheid en deursettingsvermoë om die valshede van die huidige politiek te oorkom, sal ons toekoms verseker, want God plaas geen beperking op harde werk nie.

Leon ·

oenie die nuwe BLM geloof vergeet nie. Hulle aanbid nou die BLM ook.

JJ ·

“Hulle ignoreer en weerspreek selfs die Christelike wortels wat daarvoor nodig is” . Jy kry geskiedenis en geskiedenis. Jou opvatting is gebaseer op die geskiedenis en waardes wat in jou keel afgedruk is op skool deur ‘n indoktrinasie. Ek plaas die gedeelte bo in aanhalingstekens, want die wyse waarop Christelike waardes deur die koloniale leiers na Afrika gebring is, was redelike brutaal. In die Kongo bestaan daar foto’s van sendelinge wat mense se hande afkap indien hulle nie die Katolieke geloof wou aanvaar nie. Sendingwerk was uiteraard ‘n lonende proposisie toe. Watter geskiedenisboek sal jou hierdie waarhede vertel?

Miskruier ·

JJ daar is n groot verskil tussen Christenskap en religie. Ek glo dat Jesus vir almal wat in hom glo na die aarde toe gekom het, nie in groot doop, klein doop, Sabbath of Sondag . Ja daar is verskriklike dinge toegelaat in religie en daar gebeur nog steeds. Geen Jesus volgeling sou n ander se hand afkap nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.