‘Ek is die ANC – ek het ’n ekonomiese probleem’

ekonomie-finansies

Foto: Pixabay.com

Die afgelope naweek het minister Tito Mboweni, minister van finansies, sy ekonomiese groeiplan aan die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) gaan probeer verkoop. Verskillende weergawes van oor hoe suksesvol hy was, verskyn tans in die media.

Blykbaar moet die topleierskap van die ANC hierná nog met die regerende party se alliansievennote, naamlik die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty (SAKP) en die vakbondfederasie Cosatu, sowel as die Suid-Afrikaanse Nasionale Burgerorganisasie (Sanco) oor die plan vergader. Die alliansievennote was (en is nou nog) almal heftig teen die plan gekant.

Volgens die ANC moet die alliansievennote in hierdie komende vergadering die plan “verryk”.

“Verryk” klink heeltemal te veel na polities korrekte taal vir om die plan af te water. Suid-Afrika is ekonomies so diep in die moeilikheid dat daar nie meer plek is vir versuikerde of afgewaterde planne nie. Ons kort radikale veranderinge aan die ANC se ekonomiese beleid. ’n Ekonomiese beleid wat tot vandag nie werk geskep het nie, wat nie die ekonomiese groeikoers kon lig nie en wat tot miljarde rand se skuld by staatsentiteite soos Eskom, Denel en SAL gelei het.

Wat is die eerste stap wat ’n verslaafde moet doen as hyof sy wil ophou?

Hy moet erken dat hy ’n probleem het.

Daarom die bekende sin: “Ek is John en ek is ’n verslaafde.”

Die alliansievennote en baie ANC-leiers weier om die land se ernstige ekonomiese probleme te erken. Daarom kan hulle nie die probleme oplos nie.

Denel, die SAUK en SAL is bankrot en kan nie hul verpligtinge nakom nie.

Eskom skuld R450 miljard. Eskom het jaarliks tot R70 miljard nodig om net sy skuld te dek. Sy bedryfsinkomste hierdie jaar is skaars helfte daarvan.

Mboweni besef die probleem. In sy plan sê hy: “Die huidige ekonomiese rigting is nie volhoubaar nie – ingrypende aanpassings is nodig.”

Hopelik besef president Cyril Ramaphosa ook die krisis as hy sê: “Die staat se geld is op.”

Luister na die ANC se alliansievennote; luister na sommige ANC-parlementslede en NUK-lede; luister na die Luthuli-huiskliek van Ace Magashule as hulle oor die ekonomie praat.

Hulle wil soos altyd voortgaan. Besigheid soos gewoonlik. Geen veranderinge nie.

In die ANC se NUK-vergaderings sit Zuma en Zwane dikmond links agter. Hulle hou toesig dat die ekonomies onuitvoerbare besluite van die ANC se 2017-konferensie oor grond, oor die Reserwebank en oor die gesondheidstelsel wel uitgevoer moet word.

Dit is nie wat ons ekonomies nou in Suid-Afrika nodig het nie. Ons kort ingrypende veranderinge van die ANC se mislukte ekonomiese beleid. Hul arbeidsbeleid, hul regstellende beleid en hul oordrewe klem op staatsinmenging moet verander. Ons kan nie meer maande wag vir gesprekke en vergaderings nie.

Hoekom kort ons dringend in die volgende twee maande drastiese ekonomiese ingryping?

Omdat Pravin Gordhan nou sy reddingsplan vir Eskom moet bekendmaak. Omdat Mboweni sy kleinbegroting in Oktober lewer. Die ekonomiese boodskap daarin is belangriker as die latere hoofbegroting omdat Moody’s, as graderingsagentskap, dit met valkoë dophou. Moody’s besluit in November of hulle Suid-Afrika finaal na rommelstatus gaan afgradeer.

Om ’n probleem te ontken, is ’n bekende verdedigingsmeganisme. Maar as jy nie jou probleem erken nie, sal jy niks doen om dit reg te stel nie. Tot nadeel van Suid-Afrika skiet hierdie ANC-leiers en alliansievennote tans Mboweni en ander ingrypende planne af. Is dit omdat hulle nie die ekonomiese krisis besef nie?

Ramaphosa en Mboweni moet begin om die ANC-leierskorps van die erns van die ekonomiese krisis te oortuig. Moenie opposisieparlementslede of die burgerlike samelewing daarvan probeer oortuig nie. Hulle ís oortuig.

Baie ministers glo nog die krisis is nie so erg nie. Laat hulle skrik vir al die feite van Eskom se skuld. Verduidelik wat gebeur as die regering skielik geforseer word om miljarde rande te betaal vir die waarborge wat hulle vir Eskom, SAL en andere geteken het. Dan stop alle staatsdienssalarisse – ook ministers se salarisse!

Ek was in ’n kabinetsvergadering, reeds tien jaar gelede, toe ’n minister gesê het sy wil nie in die kabinet wees die dag as die regering nie meer staatstoelaes aan 17 miljoen mense kan uitbetaal nie. As Eskom, SAL, SAUK en Denel in duie stort en Moody’s ons na rommelstatus afgradeer, dan is ons daar.

Ons het planne nodig wat beduidend verskil van die huidige ANC se ekonomiese beleid. Sonder begrip vir ons ekonomiese krisis gaan die ANC-leierskorps nie Mboweni- of enige ander drastiese planne aanvaar nie.

Ons wag vir ’n eerlike sin vanaf die ANC: “Ek is Cyril. Ek erken ons huidige ekonomiese beleid werk nie.”

Of gaan dit namens die ANC wees? “Ek is Ace Magashule. Ek gee nie om dat ons soveel staatskuld het nie.”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

George in Bloem ·

Dankie vir ‘n puik en maklik lees en verstaanbare artikel Dr Mulder. Ek is egter bevrees die ANC sal weereens gaan met dit wat u laaste paragraaf noem naamlik die rampspoedige Magashule opsie want hulle is soos ‘n volslae onrehabiliteerbare alkoholis wat reeds verby “the point of no return is” en op pad is om homself finaal dood te drink. Die mag en die geld en die eie ek is soos ons almal weet,vir hierdie spul soveel belangriker as wat verantwoordelikheid aan kiesers en landsbelang ooit kan wees. Hoe tragies is dit nie? In ‘n land met soveel wonderlike potensiaal………

Dr Phil ·

Die dilemma waar in die aaensee sit, is dat hulle nie durf om te doen wat die skrywer hier voorstel nie: eerstens klink dit te veel na blanke/westerse denke, tweedens sal dit die alliansie in gevaar stel, derdens is dit nie in die aard van meeste swartmense om enige fout te erken nie en laastens sal dit beteken dat die soustrein sal moet stop.
Dink jouself in die chaos wat sal uitbreek as die regering Sou-whe! – tou se krag afskakel, ophou toelaes betaal, kabinetsalarisse verklein/stop, taxi’s begin vasvat en misdaad begin hokslaan.
Alles dinge wat die stemgepeupel direk raak – omdat dit deel vorm van die onvolhoubare verkiesingsbeloftes voor 1994…
O ja, dan praat ek nie eens van die tronke wat (in teorie) oorvol korrupte politico sou wees nie…

JohanL ·

Die ongelukkige realiteit vir ons land, is dat daar in die ANC en sy alliansie vennote bitter min kundigheid (indien nie geen nie) is om die probleme aan te spreek. Maar tog weier die ANC om hulp by die kundiges te kry. Hulle sal eerder aanvoeter op eie stoom en die land oor die afgrond laat val.

Deon ·

Ontkenning was nog altyd die probleem in Afrika. Die tragiese is dat die probleme in SA betreklik vinnig opgelos kan word. Die uiteinde? Wanneer die land finaal knak en toelaes nie betaal kan word nie sal die gelapte weermag ‘n staatsgreep probeer uitvoer. Dit sal so swak wees dat misdaadsindikate beheer sal oorneem. Dan is dit die era van ons eie veghere. Van hulle het reeds mag. Dink maar aan Mabuza, Magashule, dwelmbase en onwettige tabakbaronne.

AB ·

Baie goeie artikel! Ons moet egter besef dat ons regering nie dom of onkundig is soos wat mense dink nie. Hulle weet presies wat om te doen om die land se ekonomie te red. Dit is egter duidelik dat hulle dit nie wil of sal doen nie. Die proses wat gevolg word om ons land tot in die “twilight zone” in te regeer kom reg uit die handboek van kommunisme. Hoekom dink julle is hulle hand om die blaas met die SAKP? Die SAKP is die ouens wat die land regeer en die ANC is maar net hulle “puppet”. Enige iemand wat dink dat die ANC regering hierdie land op die regte pad wil hê moet ‘n kopdokter gaan sien.

Ray ·

Die plasing hier bo het ek per e-pos ontvang. Dit is vir my baie interessant hoe sulke kompetisies kan werk? Eerstens word belasting betaler geld hiervoor gebruik. Die deel wat ek interessant vind is die laaste paragraaf. Dit dui duidelik daarop dat slegs SEB maatskappy wat 100% eienaarskap het tot ekonomiese groei en werkskepping bydra.

Kan die oogklappe werklik so dik wees?

Vra maar net

Dolf ·

Die ANC probeer alle volgelinge tevrede hou. Dit is nie volhoubaar nie en sal later tot ‘n skeuring lei. Een groep sal sosialisme/Marxisme aanhang, en dan saamsmelt met die EFF. Die ander groep sal ‘n vrye mark ekonomie propageer en saamsmelt met partye soos die DA en IFP. Die twee groot partye sal die politiek oorheers, met koalisies aan beide flanke.

Tino ·

Hoe gouer ons by die dag kom waar die toelaas en die salarisse nie betaal word nie, hoe beter!

Dit is al wat radikale verandering gaan bring.

Klink my dat al die ministers wat nie weet hoe sleg sake staan nie, in weelde en rykdom lewe so alles is kwaai!

Boy van die Suburbs ·

Alles wat U sê is 100% waar en in die kol dr. Mulder! Volgens die Universele Wet van Gemiddeldes sal die meerderheid altyd oor die minderheid heers! En, dit op die meerderheid se terme en volgens hulle voorwaardes en Idelogieë……….

Jerry ·

Die ANC het nie n ekonomiese probleem nie, dit is die belastingbetalers wat die ekonomiese probleem het, want na staatskaping se geplunder van belastingbetalers se belasting is die ANC finansieel verryk. Nou paai die ANC se Mbowenis die belastingbetalers (gyselaars) om hul swaarverdiende spaargeld in die ANC staat vir die ANC te bele. Die ANC het dus nie n ekonomiese probleem nie, want dit is die ANC wat doelbewus die rand (ekonomie) laat val het met staatskaping sodat die koei se spaargeld in fondse, nou na staatskaping heeltemal leeg gemelk kan word sonder die streng voorwaardes van die IMF. Wanneer dit gedoen is en die koei is leeg en die ANC finansieel nog sterker, dan gaan die ANC die rand (ekonomie) optel vir die ANC met n lening van die IMF en beleggings van China, wat gewaarborg is dat die rand (ekonomie) onder streng voorwaardes van die IMF, sal herstel vir die ANC. Die feit dat ontleders reken die ANC het n ekonomiese probleem terwyl dit Jan en Alleman is wat die ekonomiese probleem het, voorspel groot hartseer en trauma vir Jan en Alleman!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.