‘Ek is een van die min Suid-Afrikaners wat as diplomaat uit Brittanje geskop is’

tienie-fourie

Tienie Fourie. Foto: Verskaf.

Rusland en die Weste was die afgelope tyd weer kwaai haaks oor beskuldigings dat die Russe verantwoordelik is vir die vergiftiging van ’n oud-spioen en sy dogter in Engeland. Sergei Skripal is steeds in die hospitaal en sy dogter Yulia is pas ontslaan, maar 23 Russiese diplomate is uit Brittanje gegooi. Die Russe het weerwraak geneem deur dieselfde te doen en ander Westerse lande het die Britte se voorbeeld gevolg. Sommige kommentators bestempel dit as die begin van ’n nuwe Koue Oorlog.

Die Engelse sê dis “hoogs waarskynlik” dat die Russe die gif gebruik het; Rusland sê “bring die bewyse”. Tot dusver het die Britte dit nog nie gedoen nie en wil hulle ook nie die Russe toelaat om met Yulia te praat nie.

Hoe dit ook al sy, die hele petalje het my gedagtes teruggevoer na die dag toe ek as diplomaat uit Brittanje gegooi is, een van die min Suid-Afrikaners vir wie so ’n “eer” beskore was.

Dit was ’n sonnige Vrydagmiddag laat in Mei 1989 toe ek op pad was na die boonste verdieping van Suid-Afrika-Huis in Londen. In my hand was ’n lys van wyne wat ek uit Suid-Afrika wou bestel vir ʼn beplande onthaal. Dit was nog in die dae dat KWV se Roodeberg die kersie op die koek was.

Op die trappe het ek gesien dat ek twee onpas swart skoene aan het. ʼn Mens moes soms in die donker aantrek omdat jy baie vroeg ʼn trein moes haal …

Toe kom ek die ambassadeur, Ray Killen, teë. Hy ontbied my met ʼn ernstige gesig na sy kantoor. My kollega Jan Castelyn was reeds daar. ’n Rukkie later kom die oorblywende lid van die SA Weermag in Londen, ’n sersant, die vertrek binne.

Toe hy sit, sê Killen: “Ek het slegte nuus vir julle: julle moet al drie voor volgende Donderdagaand uit die land wees. Julle word uitgeskop! Maar julle is nie persona non grata nie; julle sal later weer in die land toegelaat word. Julle word as ’n diplomatieke gebaar uitgeskop.”

My eerste reaksie was ongeloof. Toe skeur ek die wynlys op (jammer KWV) en sê vir die ambassadeur dis onmoontlik om Donderdagaand te ry, maar Vrydag is reg. Later kom hy terug om te sê die Britte gee toestemming dat ek nog een dag langer kan bly.

Terwyl ek egter by hom sit, lui die telefoon: dis Niel van Heerden, toe direkteur-generaal van buitelandse sake, wat wil weet of ek op ʼn ander plek ʼn diplomatieke pos wil hê. Toe ek bevestigend antwoord vra hy of New York reg is. Ja, sê ek.

Toe gaan bel ek my vrou. “Sit jy?” vra ek. “Ek het goeie en slegte nuus. Die slegte nuus is dat ons volgende Vrydag landuit moet wees. Die goeie nuus is dat ons nog Donderdagaand na The Phantom of the Opera kan gaan kyk.” Ons moes amper ʼn jaar vantevore kaartjies koop om die opvoering te kon bywoon – nou weet die Britte ook waarom ek ’n dag langer wou bly!

Die vraag is egter waarom ek en my gesin spesifiek uit Brittanje geboender is. Maar miskien moet ek die storie by die begin gaan haal, na waarom ek eintlik daarheen is. En waarom dit vandag nog relevant is en waarom die ANC nie die Britte se geheime dienste vertrou nie.

Drie jaar vantevore is ek deur die Suid-Afrikaanse regering Londen toe gestuur om daar met Afrika-leiers kontak te maak, iets wat hulle gesukkel het om te doen. Ek het heelwat kontak gemaak toe ek as joernalis in Zimbabwe gewerk het.

Ons moes inderhaas begin oppak. Intussen het die vriende wat ons in Londen gemaak het, skielik opgedroog. Een van my vrou se goeie vriendinne, ʼn Rus met die naam Ludmilla, het gebel en gesê haar Britse man wil hê sy moet kontak verbreek. Die Britse media het ook soos ’n trop honger wolwe op my toegesak. Dit het nie saak gemaak dat die Britse regering ons onskuldig verklaar het nie; hulle het bloed geëis.

Die saak het so gestaan: In Parys, Frankryk, het drie amptenare van Krygkor, die Suid-Afrikaanse wapenvervaardiger, probeer om die ontwerp van die sogenaamde “blow pipe”-missiel by Short Brothers, ʼn Noord-Ierse maatskappy, te koop. Die Franse het daarvan uitgevind en summier die drie uitgegooi. Margaret Thatcher het dadelik eksepsie geneem en PW Botha voor stok gekry daaroor. Daar was immers ʼn internasionale wapenboikot teen Suid-Afrika.

Die Groot Krokodil, soos ons hom geken het, sou nie vir lief neem om deur Thatcher uitgetrap te word nie. Hy het figuurlik die middelvinger gewys. Die Ystervrou het egter haar bynaam gestand gedoen en beveel drie Suid-Afrikaanse diplomate moes die deur gewys word. Uiteindelik is ek en my twee kollegas summier uitgegooi.

Maar terug na die Britse pers. The Independent was voor op die wa, en een van hul verslaggewers het my gebel. Wanneer was jy in Noord-Ierland, was sy eerste vraag. Ek het verduidelik dat ek nog nooit daar was nie, maar in 1970 die Republiek van Ierland as rugbyskrywer saam met die Springbokke besoek het. Die volgende dag was my foto in die koerant met die woorde: “He served in 1970 in Northern Ireland”. Ek is ook beskryf as “the eyes and ears of the South African embassy”. Google bied dit steeds as die waarheid aan.

Klaarblyklik het iemand in die Suid-Afrikaanse departement van buitelandse sake of nasionale intelligensie (NI), die drie Krygkor-amptenare by die Franse geheime polisie verklik en hulle is op heterdaad betrap. Toe het Thatcher besluit om drie Suid-Afrikaners uit Londen te skop.

Nietemin, my besittings en motor is direk van Londen na New York gestuur, en ek en my jongste dogter Paula het die Vrydag die vliegtuig gehaal en die res van die gesin het die grasie van ’n week langer benut. Saterdag is ek deur ʼn horde fotograwe op Jan Smuts ingewag. Min van hulle wou glo dat ek nooit in Noord-Ierland was nie.

By die kantoor in Pretoria die volgende week wou een van my base dadelik my bedanking hê. Hy het gesê daar is mense wat tou staan om my pos te kry. Soveel vir lojaliteit!

Het ek toe die vertoning van The Phantom of the Opera geniet? Nie eintlik nie, want my eie Phantom het op my skouer gesit.

Hoekom die keuse juis op my geval het om uitgegooi te word? Dis ʼn ander verhaal.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Tienie Fourie

Meer oor die skrywer: Tienie Fourie

Tienie Fourie is ʼn oud-joernalis wat Suid-Afrika ook as diplomaat in Londen, New York en Wene verteenwoordig het. Hy het ook in Zimbabwe en China gewerk.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Ina

Ek het hierdie skryfstuk geniet! Sal graag nog staaltjies wil hoor, ek is seker hy het baie om te vertel (net nie seker of hy alles mag vertel nie!)

Patrys

Hierdie is so interessant! Vertel ons meer!!

Linda

Goeiemiddag
Wil graag weet hoekom Mnr Fourie een van die keuses was wat sonder verdere omhaal of diplomatieke status Brittanje moes verlaat — kom dalk ook neer op waaghalsigheid van ander waarvoor hy toe moes boet — werk mos maar so!

ex diplomaat

goeie ou diplomatieke jare en SA Huis

Adele

Baie intressante stuk, ek sal graag ook die rede vir hulle keuse om u uittegooi wil lees.