Ek is ʼn bevryde Afrikaner

Gupta

Pres. Zuma (foto: Flickr/GovernmentZA- en die drie Gupta-broers (foto’s: who’s Who).

Die hele Gupta-sage en die feit dat die familie deur vroeë en waarskynlik onregmatige naturalisasie burgerskap in Suid-Afrika ontvang het, laat ʼn wrang smaak. Klasse of grade van burgerskap is ʼn nou reeds bekende feit en die onlangse mynbou-handves klassifiseer nou ook ʼn “swart persoon” as swart, bruin en Indiër, en diegene in die groepe wat deur naturalisasie burgerskap ontvang het.  Dit sluit wit mense uit.

Iemand van die reeds bevoordeelde Gupta-familie ontvang dus nou ook die geleentheid om te deel in Suid-Afrika se myne en gepaardgaande rykdom bo ʼn wit Suid-Afrikaner wat al reeds vir geslagte lank in die land woon.

Die vraag is dus: Hang ‘n mens se identiteit en burgerskap af van iemand anders se politieke nukke of grille?  As ʼn Afrikaner is jy onlosmaaklik deel van die groter Suid-Afrikaanse samelewing.  Afrikaners is al lankal bevry  van die verlede wat soos ‘n albatros om ons nek gehang word. Andere mag ons dalk beskou as tweedeklas-burgers en ons deur wetgewing en ander maatreëls ontneem van die voordele van burgerskap.

Ons is al vantevore deur soortgelyke onderdrukte en vernederende maatreëls. Die Afrikanergemeenskap het uit die as van die Tweede Vryheidsoorlog opgestaan en het homself ekonomies en later ook polities bemagtig.  Afrikaners het nie gewag dat die staat aalmoese uitdeel nie en ons is nie verryk deur staatstenders, bedrog en korrupsie nie. Vanuit Afrikaner-geledere is armoede aangespreek en het die Afrikaner besef dat opheffing slegs sal slaag as onderwys ʼn prioriteit is. Groot hoeveelhede geld is ingesamel om aan Afrikaners kwaliteit-onderwys te besorg. Later het skole en later universiteite gevolg.

Daarom moet ons vra waar is die swart sakemanne wat so mildelik voordeel trek uit swart ekonomiese bemagtiging se bydraes tot hul gemeenskappe? Waar is die onderwysfondse uit swart privaat inisiatief om kwaliteit-Venda, -Xhosa en -Sotho-onderrig te verseker? Die staat kan nie ‘n al hoe groter welsynstaat word en die privaat inisiatief ontbreek nie.

Die  toekenning van burgerskap aan die Guptas het onomwonde gewys dat wanbestuur en korrupsie prioriteit geniet bo die belange van Suid-Afrikaners wat deur harde werk ʼn bestaan probeer maak. Transformasie, ondeurdagte beleide, gebrekkige dienslewering, die verval in infrastruktuur, verswakking in onderwysstandaarde, korrupsie, onvermoë om misdaad vas te vat, xenofobie en vele meer voorbeelde van wanbestuur ken nie meer kleur nie. Dit raak elke Suid-Afrikaner. Maar dit is asof ons regering lankal lojaliteit aan sy eie burgers versaak het. Geld praat hard en dit koop nou enige iets wat enige politikus te koop kan aanbied. Burgerskap is maar net een ding. Mark Twain het by geleentheid  gesê: “Wees altyd lojaal aan jou land, wees egter lojaal aan die regering wanneer dit verdien word.” Dit wat rondom die Guptas en die koop van burgerskap gebeur, toets hierdie stelling tot sy uiterste. Net soos ander Suid-Afrikaners wil ons deel wees van ʼn Suid-Afrika waarin daar goeie regering is, gebaseer op die sleuteleienskappe vir goeie regering wat die VN se kommissie oor menseregte geïdentifiseer het, naamlik deursigtigheid, verantwoordelikheid, aanspreeklikheid, deelname en responsiwiteit teenoor die behoeftes van die mense. Hierdie elemente het met tyd begin vervaag of heeltemal verdwyn.

 Wit mense in die algemeen en Afrikaners in die besonder hoef nie meer skuldig te wees oor die verlede nie. Ons skuld is lankal betaal. Met dit in gedagte weet ons dat ons volledig Suid-Afrikaners is, lojaal is en daarom ons regte kan opeis as Suid-Afrikaners. Ons hoef die regte nie te koop nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Jan Bosman

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

14 Kommentare

JC ·

Dankie Bles, ONS.SAL.NIE.’N.TREE. TERUGSTAAN.NIE. Hierdie is ONS Vaderland en ons is AFRIKANERS, KINDERS VAN SUID-AFRIKA!

B-man ·

Gebore in die nuwe Suid Afrika, voel soms asof die see my nie kan skoon was nie. Moeg daarvoor om te voel asof my taal ‘n vloek is, my velkleur ‘n sonde en my geloof ‘n grap. Dit is nie! Ek weier om te aanvaar dat ek moet skuldig voel en sal ‘n trotse Afrikaner Afrikaan bly!

Jakobus ·

Jy moes in die ou SA gebore gewees het, dit is veral daardie mense wat met die toe en die nou te doene gekry het en met vrede in hul hart leef, vry soos ‘n vlinder.

Selfrespek Bosvark ·

Uitstekende artikel Jan.
Hierdie lewe is ‘n stryd tussen reg en onreg, tussen die selfgesentreerde maghebbers en die plebs, tussen die hette en die nie-hette. Baie Suid-Afrikaners ly aan ‘n minderwaardigheidskompleks om nie eens van ‘n swak selfbeeld en selfrespek te praat nie. En baie Suid-Afrikaners is slawe van politici, maghebbers, sindikate, geldgierigheid, slagspreuke, ideologië, leë beloftes en die verlede. Tragies. Dit is ‘n resep vir sosiale onrus soos wat ons in vele lede sien ontvou. Die massas soek uitlaatkleppe vir hul frustrasies.

Ek is ek ook ‘n bevryde vrydenkende Afrikaner Bosvark. My lewe is kortstondig en moet ek fokus op die bevordering van reg en geregtigheid. Kom bevryde vrydenkende Afrikaners, kom vat hande en bou aan ‘n alternatiewe toekoms gebaseer op geregtigheid teenoor alle mense.

John ·

Hierdie skoon-was-en-skulde-betaal-storie is eintlik sonde ooreenkomstig die Hervorming wat juis daarop gemik was om mense te bevry van die Roomse Kerk se gelowe oa die van boetedoening deur weldade wat vergifnis van sonde sou bewerk en hemelse straf sou kon afweer… (soos groot skenkings aan die kerk of armes~ ‘n verkeerde konsep wat ook die huidige lewensuitkyk en die politiek bestel binnegesluip het). Welsynswerk en geld vir goeie doeleindes dien dus as vergifnis van ‘sondes’ wat Christus se vrywillige eens-en-vir-altyd-boetedoening vervang. Natuurlik is dit mettertyd deur ander slinkes opgeraap om skuldgevoelens te kweek en boetedoening af te dwing. Die Britse Setlaar het orals die konsep gebruik om hul vergrype verby hul gewete te smokkel… en ook op ons Afrikaners af te dwing om hul uit te dryf ~ via die ou sg ‘opulence’- hetsy selfverrykingswette. So waarvoor moet ons Afrikaners nou eintlik boete doen?

Lou ·

Sjoe daar is erger dinge in Suid Afrika aan die gang as die blanke se uitsluiting by myne en gepaardgaande rykdom.

Koopkrag ·

Ons moet saamstaan deur om n webwerf te begin waar ons eie mense adverteer en ons by ons eie mense koop. Anders gaan ons net verder krag verloor.

DJ Krummelpap ·

So vêr ek weet, is ‘n Afrikaner ‘n tipe bees…

Dries Theunissen ·

Ek is ‘n Boer en trots daarop, ek glo in God en in die Woord van God en ek bid dat die Here on volkie weer sal genadig wees. Ek voel nie skuldig nie en is trots op my taal en trots om ‘n aaaafrikaner te wees.

Veritas ·

Jan, sover dit my aangaan, het die Afrikaner, as volk , reeds hierdie stryd gewonne gegee. Die ouer garde het óf ge-emigreer óf lê laag en maak die beste van ‘n slegte saak terwyl hulle wag om die tydelike met die ewige te verwissel. Die nuwe generasie Afrikaner se gedagtegang het verbaster met dít wat die vyand aan hom voorskryf. Afrikanerwaardes tel nie meer vir die nuwe geslag nie. Jongmense het nie meer die durf en moed om op te staan vir dít wat vir die Afrikaner dierbaar behoort te wees nie. Die oormag lyk vir hulle te groot en uit eie geledere word die ‘behoudenes’ afgemaak as ‘regs’ of verkramp. Min jongmense vereenselwig hulle vandag met Afrikanerskap en die skuld hiervoor moet vierkantig voor die deur van die ouer geslag gelê word. Die Afrikaner se kapitulasie tydens die tagtigs en negentigs is die oorsaak dat ons jeug vandag nie meer die fut het om op te staan vir Afrikanerskap nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.